Vinnige feite

  • Die Mark Twain House in Hartford, Connecticut, is ’n toeristeaantreklikheid en historiese landmerk. 1
  • Die Mark Twain-prys vir Amerikaanse Humor – die toptoekenning vir komedie – word sedert 1998 toegeken. In 2023 was die wenner Adam Sandler, die bekende Amerikaanse akteur en komediant. 9
  • Die karakter Huckleberry Finn is gebaseer op Tom Blankenship, ’n seun van Hannibal wat vier jaar ouer as Twain was. Twain het van hom gesê: “In Huckleberry Finn het ek vir Tom geskets presies soos hy was. Hy was onkundig, vuil en ondervoed; maar hy het ’n hart so goed soos enige seun wat ek al ooit ontmoet het gehad.” 10
  • Mark Twain het baie pittige sêgoed gehad, soos: “Moet nie rondloop en sê die wêreld skuld jou iets nie. Die wêreld skuld jou niks. Dit was eerste hier.” 11
  • Twain het sy eie dood voorspel. Die jaar voor sy dood het hy gesê: “Ek het saam met Halley se komeet in 1835 gekom. Dit kom weer volgende jaar, en ek glo ek sal daarmee saam uitgaan. Dit sal die grootste teleurstelling van my lewe wees indien ek nie met Halley se komeet uitgaan nie. Die Allerhoogste het seker gesê: ‘Hier is twee onverklaarbare fratse; hulle het saam ingekom, en hulle moet saam uitgaan’.” Hy is op 21 April dood, dae ná Halley se komeet op sy helderste geskyn het. 12

Mark Twain, wat deur talle mense as een van die grootste Amerikaanse skrywers van alle tye beskou word, was die skepper van twee van die mees geliefde karakters in Amerikaanse fiksie, Tom Sawyer en Huckleberry Finn. Twain het met fyn humor boeke, artikels en opstelle oor die samelewing, politiek en die mens se natuur geskryf. Hy was egter nie net ’n skrywer nie, maar ook ‘n rivierbootloods, verslaggewer, spreker en entrepreneur.

Grootwordjare

Mark Twain is op 30 November 1835 in Florida, ’n baie klein dorpie in Missouri in die Verenigde State van Amerika (VSA), gebore. Sy geboortenaam was Samuel Langhorne Clemens. Toe hy vier was, het die familie na Hannibal, ’n effens groter dorp, getrek, waar hy sou woon tot hy 17 jaar oud was. 1 Twain is vroeg gebore en was vir die eerste 10 jaar van sy lewe gereeld siek. 2

Twain was die sesde van sewe kinders van John en Jane Clemens. 3 Sy pa was ’n winkeleienaar en magistraat. Pa John was baie stug, en volgens oorlewering het Twain nooit sy pa sien lag nie. Sy ma, aan die ander kant, was prettig en saggeaard. Sy het graag vir die kinders stories vertel. 1 Twain het waarskynlik sy skryftalent en sin vir humor by sy ma geërf. 2

Die Mark Twain-hotel.

Toe Twain 11 jaar oud was, het sy pa gesterf. Die familie was hierna vir jare brandarm. 3

Twain se kinderjare in Hannibal was terselfdertyd opwindend, onstuimig én vervelig. Hannibal was in daardie tyd ’n lewendige dorpie langs die Mississippi-rivier. Die stoomskepe wat op en af met die rivier handel gedryf het, het drie keer per dag daar gestop. Daar was ’n mengelmoes van mense, en straatmusikante, winkeliers en ambagsmanne het hul werk net so op straat gedoen. 1 Die dorpie was aan die een kant bedrywig en romanties, maar aan die ander kant arm, met heelwat geweld. 4 Twain het, byvoorbeeld, toe hy daar gewoon het, gesien hoe iemand op straat doodgeslaan word. 1

Mark Twain-riverboot by Disneyland.

Hannibal was die inspirasie vir die dorpie St. Petersburg in The Adventures of Tom Sawyer (1876) en The Adventures of Huckleberry Finn (1884). 1

Slawerny was deel van die 19de-eeuse wêreld. Voor sy pa se dood het Twain se familie ’n slaaf gehad, en as kind het hy baie tyd op sy oom se plaas deurgebring, waar daar ook slawe was. Hy het graag na hul stories en volksliedjies geluister. Die slaaf in Huckleberry Finn, Jim, is op hierdie interaksies gegrond. 3

Vroeë werksjare

Twain moes op 12-jarige ouderdom skool verlaat omdat sy ma hom nie meer kon onderhou nie. 1 Vir die volgende ses jaar het hy as winkelklerk, bode, leerlingsetter, drukker en skrywer gewerk. 4 Hierdie verskillende soorte werk het baie swak betaal: as leerlingsetter is hy byvoorbeeld slegs met kos betaal. Toe hy 15 was, het sy broer, Orion, vir hom ’n pos as drukker by sy koerant, Hannibal Western Union, gegee. Twain het ook vir hom artikels geskryf, 1 en dis hier waar hy die eerste keer besef het dat hy van skryf hou. 5

Toe Twain 18 was, het hy na New York City en Philadelphia gereis, waar hy by ’n paar koerante as drukker gewerk het. 3

In 1857, toe hy 21 jaar oud was, het een van sy groot drome waar geword: hy het geleer om ’n stoomboot op die Mississippi-rivier te bestuur. Teen 1859 was hy ’n gelisensieerde loods. 1

Twain was in sy element: die werk was opwindend en het goed betaal, en loodse het hoë status geniet. Sy ervarings op die rivier was deel van die inspirasie vir ’n reisboek wat dekades later verskyn het, Life on the Mississippi (1883). 5

Dit was in hierdie tyd dat hy sy naam verander het na Mark Twain. Die woord “twain” beteken letterlik “twee”. As ’n rivierbootloods sou Sam Clemens die hoofbootman gereeld “Mark twain!” hoor roep het –  ’n ou term wat deur bootloodse gebruik is om te sê dat die boot nou in veilige water is. Dit het beteken die water was twee vaam (12 voet, oftewel sowat 3,6 meter) diep. 6

In 1861 het die Amerikaanse Burgeroorlog uitgebreek en die bote kon nie op die rivier vaar nie. Twain het as vrywilliger aan die Konfederasie se kant aangesluit, 1 maar binne twee weke gedros. 3

Twain trek wes

Twain het besluit om sy fortuin te gaan soek in die Amerikaanse state Nevada en Kalifornië in die Amerikaanse Weste. Hy sou vir die volgende vyf jaar daar woon. 1

Op pad het hy ’n klomp nuwe mense ontmoet, onder meer inheemse Amerikaners. Hierdie mense en sy ander ervarings het later deel gevorm van Roughing It, ’n semioutobiografiese reisboek wat in 1872 gepubliseer is. 3

Twain wou sy familie uit armoede lig en het gehoop om geld te maak as prospekteerder. Teen die middel van 1862 kon hy egter sien dat dit nie so sou uitwerk nie, en hy was heeltemal platsak. 1

Hy het ’n pos as verslaggewer by die Territorial Enterprise, ’n koerant in Virginia City, Nevada, aanvaar. 1 In 1864 het Twain nog verder wes getrek, hierdie keer Kalifornië toe. 7

Roem

Twain het gou een van die bekendste storievertellers in die Weste geword. Hy het ’n kenmerkende vertelstyl gehad: vriendelik, snaaks, en ook soms oneerbiedig en satiries. 1

In 1865 het hy sy eerste groot deurbraak gehad: ’n mynstaaltjie wat hy neergeskryf het, getiteld Jim Smiley and His Jumping Frog, 1 ook bekend as The Celebrated Jumping Frog of Calaveras County. Hierdie staaltjie is in koerante en tydskrifte landwyd gepubliseer. 4

In 1865 is hy deur die Union, ’n koerant in Sacramento, Kalifornië, gehuur om die Sandwich-eilande (vandag se Hawaii) te besoek en reisartikels daaroor te skryf. 3 Sy artikels was só gewild dat hy ná sy terugkeer ’n suksesvolle sprekerstoer gedoen het. 8 Hierdie artikels en praatjies is jare ná sy dood gepubliseer as Letters from the Sandwich Islands (1938) en Letters from Honolulu (1939). 4

In 1867 is hy op ’n vyf maande lange bootrit deur die Middellandse See gestuur. 1 Sy reisbriewe en artikels daaroor is propvol skitterende beskrywings en skerp waarnemings. Dit was só gewild dat dit in 1860 gepubliseer is as The Innocents Abroad, 3 ’n boek wat ’n topverkoper geword het. 1

Twain saam met John T. Raymond, die akteur wat kolonel Sellers gespeel het in die verhoogproduksie van Twain se “The Gilded Age”.

Twain was nou ’n gevestigde skrywer, en een van die gewildste skrywers in die VSA. 1

Roughing Up, die boek oor sy reis wes, is in 1872 gepubliseer, 4 en The Gilded Age in 1873. Laasgenoemde is ’n satiriese roman oor die korrupsie en gretigheid van ryk mense. 3

Dit is ironies dat Twain ’n satire oor ryk mense geskryf het, want hy het in hierdie stadium self in daardie sirkels begin beweeg. 8 Gedurende dieselfde tyd het die Twain-gesin in ’n groot, duur huis ingetrek. 3

Die Hartford-jare

Twain het in 1871 na Hartford getrek en in die volgende klompie jare van sy bekendste boeke geskryf.

The Adventures of Tom Sawyer is in 1876 gepubliseer. Dit was die eerste van drie boeke wat uit sy Mississippi-dae gekom het. Hoewel hy kort ná Tom Sawyer met Huckleberry Finn begin het, het dit lank geneem om te voltooi – hy het dit gereeld opsygesit. Life on the Mississippi is in 1883 gepubliseer. 1

Vyftig mans staan ​​op die massiewe stomp van die Mark Twain-boom.

Huckleberry Finn is uiteindelik in 1885 gepubliseer. 2 Huckleberry Finn speel af op die rivier, en is ’n boek wat slawerny en die swak behandeling van swart mense in die VSA aanpak. 3

Sy ander boeke wat in hierdie tyd gepubliseer is, bevat ook kritiek op die samelewing: in The Prince and the Pauper (1881) word verhoudings tussen mense van verskillende klasse onder die loep geneem, en A Connecticut Yankee in King Arthur’s Court (1899) kritiseer onderdrukking. 4

Geldelike probleme en openbare eer

Twain se boeke het goed verkoop. Hy het egter swak besluite ten opsigte van sy finansies geneem en was gereeld in die knyp as dit by geld kom. 3

Hy het byvoorbeeld ’n uitgewersfirma begin, wat onder andere die oorlede Amerikaanse president Ulysses S. Grant se memoire gepubliseer het. Sy sakebedrywighede het egter nie wins gemaak nie, 1 en Twain is in 1894 bankrot verklaar. 3

Tussen 1895 en 1896 het hy ’n sprekerstoer in Europa gedoen om geld in te samel om sy skuld af te betaal. 1

Mark Twain by lede van die Laerhuis.

Hy het steeds geskryf, soos die roman The Tragedy of Pudd’nhead Wilson (1894), asook kortverhale en opstelle. 1 In sy skryfwerk het hy homself skerp uitgespreek oor sake van die dag, soos anti-Semitisme, imperialisme en slawerny. 2 [Lees hier oor imperialisme.]

Vir sy skryfwerk het hy in die laaste 15 jaar van sy lewe baie hulde ontvang. Hy het byvoorbeeld eredoktorsgrade ontvang van die Oxford-Universiteit in Brittanje en die Yale-Universiteit in die VSA. 1

Twain was waarskynlik die beroemdste Amerikaner van die laat 19de eeu. Oral waar hy gegaan het, selfs oorsee, wou mense van hom foto’s neem en het skares hom toegejuig. 1

Persoonlike lewe

Twain was ’n aantreklike rooikopman, met ’n vriendelike, innemende persoonlikheid. Hy kon egter ook uitgeslape en selfsugtig wees. 1

In 1867 was hy op reis toe hy sy toekomstige swaer, Charles Langdon, ontmoet. Langdon het vir hom ’n foto van sy suster Olivia (Livy), gewys, en Twain het op die foto verlief geraak. Hy en Livy het in 1868 begin uitgaan en in 1870 getrou. 3

Twain was baie ingenome met sy nuwe vrou. Die Langdons was ’n ryk, statige familie en Livy was vroom en deftig. 1

Twain is in 1870 met Olivia Langden Clemens getroud.

Ná die troue het hulle eers in Buffalo, New York, gewoon, en in 1871 na Hartford, Connecticut, getrek. 3

Hulle het vier kinders gehad, maar tragedie het sy gesin dikwels getref. Sy oudste seun, Langdon, het in 1872 aan witseerkeel gesterf, toe hy net 19 maande oud was. Sy oudste dogter en Twain se gunsteling, Susy, het in 1896 op 24-jarige ouderdom aan meningitis gesterf. Haar dood het hom diep getref, ook omdat hy landuit was toe dit gebeur het. Sy jongste dogter, Jean, het aan ernstige epilepsie gely en in 1909 op 24-jarige ouderdom aan ’n hartaanval gesterf. Twain en sy middelste dogter, Clara, se verhouding was swak en hulle het gereeld rusie gemaak. 1

Mark Twain se vrou, Livy, en hul drie dogters.

Livy het in 1904, ná ’n lang siekbed, gesterf. Hulle was vir 34 jaar getroud. Historici is verdeeld oor hoe sterk hul verhouding was. Hy het wel baie tyd weg van haar af spandeer, maar daar is ook bewyse dat hy wel vir haar lief was. 1

Laaste jare

Twain se finansiële probleme ná 1894 het hom baie pessimisties gelaat. 1 Sy skryfwerk het al hoe meer oor negatiewe sake gehandel, onder meer hoe gretig en wreed mense was. Hy het graag die foute van bekende openbare figure uitgewys en die regering gekritiseer. 3

As openbare figuur was hy gaaf en vriendelik, maar hy was kortaf met sy vriende en geliefdes. Hy het wel baie geskryf, maar het gesukkel om enigiets te voltooi. Sy geheue het ook swakker geword. 1

In sy laaste jare het hy woedebuie gehad en was met tye erg paranoïes. Tussenin is hy deur stadiums van traagheid en depressie lamgelê. Hy het vir ure lank niks gedoen het nie, of wou net in die bed lê en lees of kaartspeel. 1

Ná Livy se dood het hy eers New York toe getrek, en toe in 1908 na Redding, Connecticut. 3 Hy het op 21 April 1910, in die ouderdom van 74, aan ’n hartaanval gesterf. 1

Mark Twain (middel), saam met George Alfred Townsend (links), en David Gray, redakteur van die Buffalo Courier.

Lys van Mark Twain se boeke

’n Paar van Mark Twain se bekendste boeke sluit in:

  • The Innocents Abroad (1869)
  • Roughing It (1872)
  • The Gilded Age (1873)
  • Tom Sawyer (1876)
  • Life on the Mississippi (1883)
  • Huckleberry Finn (1884)
  • A Connecticut Yankee in King Arthur’s Court (1889)
  • The Tragedy of Pudd’nhead Wilson and Those Extraordinary Twins (1894).

Nalatenskap

Soos alle goeie skrywers het Mark Twain die skitterende vermoë gehad om mense dop te hou en dan oor sy waarnemings te skryf. Hy het geskryf oor die goeie en die slegte, die romantiese en die werklike, en die sterk en swakpunte van ’n gemeenskap in ’n 19de-eeuse wêreld wat baie vinnig verander het. 3

Twain was ’n baanbreker. Hy het in mense se gewone omgangstaal geskryf, en was moontlik die eerste groot skrywer in die VSA wat gewone mense op ’n duidelike, realistiese manier uitgebeeld het. 1

Die grafte van Olivia Langdon Clemens en Mark Twain.

Hy is vandag steeds die bekendste Amerikaanse skrywer van die laaste helfte van die 19de eeu, en hy het diegene wat ná hom gekom het, geïnspireer. Ernest Hemingway, nóg ’n beroemde Amerikaanse skrywer, het na sy invloed verwys toe hy in 1935 gesê het: “Alle moderne Amerikaanse letterkunde begin by een boek van Twain, genaamd Huckleberry Finn.1

Die Mark Twain House in Hartford, Connecticut, is ’n toeristeaantreklikheid en historiese landmerk.

Woordbank

anti-Semitisme Om Joodse mense te haat.
bankrot Wanneer ʼn persoon of maatskappy nie meer sy/haar skuld kan betaal nie, word dit/die persoon bankrot verklaar.
brandarm Om baie arm te wees.
bode Boodskapper.
depressie Terneergedruktheid van die gemoed; ernstige bedruktheid/neerslagtigheid wat iemand laat dink daar is geen hoop vir die toekoms nie.
entrepreneur Iemand wat sy of haar eie besigheid/onderneming begin.

 

epilepsie ʼn Beensiekte waar die elektroniese impulse van die brein onreëlmatig is en dit tot aanvalle lei waar die lyf gewoonlik onbeheersd ruk.
eredoktorsgrade ’n Mens kry ’n eredoktorsgraad vir uitsonderlike prestasies, maar jy hoef nie ’n eksamen af te lê nie.
fiksie Literatuur, veral prosa, wat ʼn beskrywing van denkbeeldige mense, dinge en gebeure gee; denkbeeldige voorstelling; verdigsel; versinsel (het dus nie regtig gebeur nie, die mense en plekke bestaan nie werklik nie).
fortuin (te gaan) soek Om iewers heen te reis in die hoop om rykdom en sukses te behaal.
gedros Sonder toestemming wegloop, veral uit die weermag.
imperialisme Die politieke beleid van ’n staat om ander gebiede onder sy mag en invloed te bring.
in die knyp In die moeilikheid.
in sy element Om op ’n plek te wees waar jy heeltemal tuis voel en werk doen waarvoor jy lus het en bekwaam is om te doen.
innemende Lief en vriendelik.
interaksies Wisselwerking, aksie en reaksie tussen mense; gedrag, optrede, houding teenoor mekaar; direkte kontak van aangesig tot aangesig.
ironies Wanneer die teenoorgestelde gesê word van wat bedoel word.
Konfederasie Die elf state in die suide van Amerika wat teen die noordelike state geveg het in die Amerikaanse Burgeroorlog (1861-1865).
korrupsie Oneerlike optrede om jouself of ’n ander te bevoordeel; die gebruikmaak van omkoping of die meedoen daaraan.
leerlingsetter Iemand wat leer hoe die letters en simbole geplaas moet word voor ’n dokument gedruk word.
magistraat Iemand, gewoonlik ʼn regsgeleerde (prokureur/advokaat), wat in ʼn plaaslike hof as regter werk en uitspraak oor minder ernstige misdade en regsake gee.
memoire Lewensverhaal.
mengelmoes Verskeidenheid, allerlei, versameling.
meningitis Ontsteking van die harsing- en rugmurgvlies.
onder die loep geneem Iets noukeurig ondersoek.
onderdrukking ʼn Groep mense onregverdig of wreed behandel en hulle nie dieselfde regte gun as wat ander mense in die gemeenskap het nie.
paranoïes Die abnormale neiging om ander te wantrou.
pittige Snaaks, humoristies, amusant of vermaaklik.
platsak Sonder geld.
prospekteerder Iemand wat (as beroep) oral op plekke en in die aardlae rondsoek na ertse, minerale of edelgesteentes.
rivierbootloods Die bestuurder van ’n skip.
roman ’n Lang prosaverhaal met karakteruitbeelding en omgewingsbeskrywing wat uitvoerig en indringend geskied.
satire Om mense se probleme en dwaashede op ’n spottende manier voor te stel.
semi-outobiografiese ’n Boek waarvan groot dele, maar nie alles nie, oor die skrywer se lewe handel.
slawerny Handel in slawe; gebruik van slawearbeid.
staaltjie ’n Grappige verhaal.
stug Nors, stug, strak, stroef, stuurs.
uitgeslape Slim en slinks.
uitgewersfirma Firma wat boeke en tydskrifte publiseer en versprei.
verslaggewer Iemand wat vir ʼn koerant/tydskrif/radiostasie/TV-kanaal/webblad nuusverslae skryf; verslaggewer.
vroom Godsdienstig; onskuldig.
witseerkeel Kwaadaardige, aansteeklike keelsiekte wat ook in die neus, oog en slukderm voorkom.

Lees dié artikels om meer te leer

Video’s om jou kennis te verryk

Die lewe van Mark Twain 

Mark Twain, die vader van humor 

Die storie van Huckleberry Finn

The Adventures of Tom Sawyer (volledige rolprent – 1938)

The Adventures of Tom Sawyer (volledige rolprent – nuwe weergawe)

Mark Twain was bekend vir sy pittige en wyse sêgoed

Gepubliseer op: 21 November 2023 | Bygewerk op 14 Februarie 2024