Vinnige feite

  • Theiler was die eerste mens wat in Afrika gebore is, wat ’n Nobel-prys gewen het.
  • Toe Theiler gevra is wat hy met sy Nobel-prysgeld sou doen, het hy gesê dat hy ’n kas Skotse whiskey sou koop en gaan kyk hoe die Brooklyn Dodgers bofbal speel.
  • Theiler het in Augustus 1955 ereburgerskap van die dorp Hasle in Switserland ontvang. Sy familie kom van daar af.
  • Hy het ook baie artikels in joernale gepubliseer, die meeste het in die The American Journal of Tropical Medicineen Annals of Tropical Medicine and Parasitology verskyn. Hy het ook hoofstukke in twee boeke, Viral and Rickettsial Infections of Man (1948) en Yellow Fever (1951) gelewer.
  • As ’n mens die geelkoorsentstof neem, is jy vir die res van jou lewe teen die siekte beskerm.
  • Teen 2023 was daar 34 lande in Afrika en 13 lande in Suid-Amerika wat endemies is of wat endemiese gebiede het vir geelkoors. 7
Foto: iStock

Suid-Afrika het al baie slim en talentvolle mense opgelewer en een daarvan is die mikrobioloog, dr. Max Theiler (1899-1972). Hy is eintlik van Switserse afkoms en het die grootste gedeelte van sy lewe in Amerika gebly, maar hy is in Pretoria gebore en dus mag ons maar trots wees op dit wat hy vermag het.

Hy het ’n Nobel-prys gewen omdat hy die eerste entstof teen geelkoors ontwikkel het. Geelkoors is ’n siekte wat endemies in sommige tropiese dele van die wêreld voorkom. Dit word deur ’n virus wat deur muskiete oorgedra word, veroorsaak. Mense wat geelkoors opdoen, kry ook geelsug en daarom die naam geelkoors.

Kinder- en studiejare

Max Theiler is op 30 Januarie 1899 in Pretoria, Suid-Afrika, gebore. Sy pa was sir Arnold Theiler en sy ma se naam was Emma Theiler (née Jegge). Max was die jongste van vier kinders. Die ander kinders was Hans (wat ’n veearts geword het), Margaret (wat ’n onderwyseres geword het) en Gertrud (wat ’n parasitoloog geword het). 1

Sy pa, Arnold, word as die vader van veeartsenykunde in Suid-Afrika beskou. Sy pa het van Switserland af na Suid-Afrika gekom en is as die staatsveearts vir die Zuid-Afrikaansche Republiek aangestel. Hy het die bekende Onderstepoort-veeartsenyinstituut in Pretoria en die eerste fakulteit vir veeartsenykunde in Suid-Afrika begin. Hy het ook saam met sy navorsingspan entstowwe teen runderpes ontwikkel.

Arnold Theiler

Theiler en sy sibbe is van kleins af aangemoedig om tyd in die natuur deur te bring en om dinge waar te neem. Hulle het plantjies en insekte gesoek en versamel.

Theiler het aanvanklik by die Loreto-klooster skoolgegaan en was ook in Pretoria Boys High School. Hy het ook ’n jaar lank in Switserland skoolgegaan. Hy het ná skool medies aan onder meer die Rhodes-Universiteitskollege (nou net Rhodes-Universiteit genoem) en die Universiteit van Kaapstad studeer. Hy is daarna verder by die St. Thomas-hospitaal in Londen en die London School of Hygiene & Tropical Medicine opgelei. Hy het in 1922 sy mediese graad verwerf en het in dieselfde jaar ’n lid van die Royal College of Surgeons geword. 2

Universiteit van Kaapstad

Loopbaan

Theiler was baie geïnteresseerd in tropiese siektes en het by die departement van tropiese medisyne by die Harvard Mediese Skool in Boston, Amerika, gaan werk. Hy het daar op amebiese disenterie gefokus, maar hy het gou in geelkoors geïnteresseerd geraak. Hy het van 1926 tot 1927 ’n Harvard-ekspedisie na die Belgiese Kongo, die Republiek van Liberië, Uganda en Kenia meegemaak.

Harvard Mediese Skool, Boston

Hy het daarna sy aandag op geelkoors gefokus en het bewys dat die oorsaak van die siekte nie ’n bakterie was, soos aanvanklik gedink is nie, maar eerder ’n virus wat deur muskiete gedra word. Die simptome sluit koors, hoofpyn, braking, en geelsug in. Dis die geelsug wat die vel en oë geel maak. 3

Theiler het in 1930 by die Internasionale Gesondheidsafdeling van die Rockefeller-stigting begin werk. Hy het 30 jaar daar gewerk.

Een van sy groot bydraes was om te demonstreer dat die geelkoorsvirus baie maklik na muise oorgedra kon word. Voor sy bevinding, is daar op ape geëksperimenteer, maar die beskikbaarheid van muise het kostes verlaag en die doeltreffendheid van toetse verhoog. Hy het ook ’n toets ontwikkel om geelkoorsteenliggaampies te ontdek.

Theiler het ook ontdek dat as die siekte van muis tot muis oorgedra word, verswak dit die virus. Dit het daartoe gelei dat hy en sy span twee entstowwe ontwikkel het.

Hulle het in die jare dertig die eerste verswakte voorbeeld van die virus ontwikkel. Dit is in die jare dertig in ’n entstof deur die Franse regering gebruik om Franse burgers in Wes-Afrika te beskerm. Verdere studies het gelei tot die ontwikkeling van die verbeterde 17D-entstof. Hierdie een is in hoender-embrio’s gekweek. Dit was baie doeltreffender en ook maklik om op groot skaal te vervaardig. Die nuwe entstof is in 1938 in Brasilië van stapel gestuur en was baie suksesvol.

Die Rockefeller-stigting het binne ’n paar jaar miljoene entstowwe vir mense in endemiese gebiede voorsien. In die 16 jaar wat gevolg het, is meer as 400 miljoen dosisse van die 17D-virusentstof toegedien. 4

Ander werk en navorsing

Sy bydrae tot medisyne is nie tot geelkoors beperk nie, hy het navorsing oor siektes, soos Weil se siekte, denguekoors en Japannese enkefalitis, gedoen.

Hy het ook baie in polio belanggestel en hy het ’n amper identiese siekte in laboratoriummuise gevind. Dit word nou Theiler se siekte (enkefalomiëlitis) genoem.

Hy het in 1964 by die Rockefeller-stigting afgetree en toe ’n professor van epidemiologie en mikrobiologie by Yale-Universiteit geword. Hy het tot in 1967 in die pos gebly. 5

Bekronings

Theiler is in 1937 vir die eerste keer vir ’n Nobel-prys in fisiologie of medisyne benoem. Hy het egter eers 14 jaar later, in 1951, die Nobel-prys gewen.

Hy het ook in die jaar wat hy die Nobel-prys gewen het, die direkteur van laboratoriums van die Rockefeller-stigting se afdeling vir medisyne en openbare gesondheid geword.

Theiler is ook bekroon met onder meer die Chalmers Medal of the Royal Society of Tropical Medicine and Hygiene (1939), die Flattery-medalje (1945) en die Lasker-toekenning (1949). 4

Persoonlike lewe

Daar is nie baie bekend oor Theiler se persoonlike lewe nie. Hy het in 1923 na Amerika gegaan en het vir die res van sy lewe daar gebly. Ons weet dat hy in 1928 met die mediese navorser Lillian Graham getroud is. Hul seun, Arnold, is in 1929 gebore, maar hy is ongelukkig in 1937 in ’n motorongeluk oorlede. Hulle het in 1939 ’n dogter, Elizabeth, gehad.

Max Theiler is op 11 Augustus 1972 aan longkanker oorlede. Hy was 73 jaar oud. 6

Woordbank

amebiese disenterie Disenterie is ’n ontsteking van die ingewande wat bloederige diarree veroorsaak. Amebies dui daarop dat dit deur amebe veroorsaak word. Amebe is enige amebeagtige sel of liggaampie wat in ’n dier se bloed of in die dier se liggaam voorkom.
bakterie Klein organisme wat infeksie en besmetlike siekte veroorsaak.
denguekoors Ook sonkoors genoem. Dis ’n virussiekte wat deur muskiete oorgedra word en wat ’n hoë koors en gewrigspyne tot gevolg het.
direkteur Persoon wat bestuur of beheer uitoefen, veral een van ʼn groep persone (die direksie) wat die sake van ’n bedryf/maatskappy bestuur.
dosisse Voorgeskrewe hoeveelhede medisyne om op een keer of vir ’n bepaalde tyd in te neem.
ekspedisie ’n Lang reis wat deeglik beplan is, veral na ’n onbekende en gevaarlike plek.
embrio’s Die begin van ontwikkeling.
endemies Beperk tot ʼn bepaalde streek of gebied. ʼn Siekte kom dus in ʼn bepaalde gebied voor.
epidemiologie Wetenskaplike studie van siektes of kwale wat in epidemies voorkom.
enkefalomiëlitis Ontsteking van die harsings en rugmurg.
entstof Preparaat van ʼn mikroörganisme/virus wat in die liggaam opgeneem word om die produksie van antiliggame te stimuleer sodat die liggaam onvatbaar (immuun) kan word vir besmetting; vaksien.
fakulteit ’n Hoof- akademiese afdeling waarin ’n universiteit verdeel word.
fisiologie Studie van die natuurlike lewensverskynsels van mens, dier en plant.
geëksperimenteer Om iets uit te toets; ’n proefneming te doen.
geelkoors ’n Gevaarlike, aansteeklike koorssiekte wat lei tot skade aan organe in die liggaam, dikwels as gevolg van erge bloeding. Die lewer word ook aangetas, wat uiteindelik lei tot geelsug, die simptoom waarop die siekte se naam gegrond is.
geelsug Virussiekte waarby die weefsels van die liggaam geel gekleur is deur die aanwesigheid van ‘n groot hoeveelheid galkleurstof in die bloed.
identiese Dieselfde.
Japannese enkefalitis Japannese enkefalitis is ’n virussiekte, soortgelyk aan denguekoors en geelkoors en word deur muskiete versprei. Daar is ongeveer 68 000 gevalle wat jaarliks in Asië voorkom.
mikrobiologie Studie van mikroörganismes, of mikrobes, ’n diverse groep van klein eenvoudige lewensvorme wat onder meer bakterieë en virusse insluit.
mikrobioloog ’n Kenner van die wetenskap van mikroörganismes en hul uitwerking op ander lewende organismes.
navorsing ʼn Onderwerp deeglik bestudeer en nuwe inligting daaroor inwin.
op groot skaal Baie op een slag; ʼn groot klomp.
organisme Enige lewende wese.
parasitoloog ’n Kenner van parasitologie (wetenskap van parasiete).
polio Akute rugmurgontsteking wat verlamming tot gevolg het.
preparaat ʼn Middel wat voorberei is.
professor Dosent van die hoogste rang aan ʼn universiteit of ander tersiêre inrigting/opleidingsinstelling; hoogleraar.
runderpes Hoogs aansteeklike koorssiekte, veral onder beeste, maar ook by skape en bokke.
sibbe Broers en susters.
teenliggaampies Stowwe wat die werking van ’n ander (dikwels skadelike stof) teengaan.
tropiese siektes Siekte wat in tropiese gebiede (tipiese warm omgewings naby die ewenaar) voorkom.
van stapel gestuur Iets begin, aan die gang sit.
veeartsenykunde Die geneeskunde van diere.
vermag Regkry, om iets te kan doen.
virus ’n Baie klein organisme wat sekere siektes kan veroorsaak.
Weil se siekte ’n Siekte wat bloeding en geelsug tot gevolg het.

Lees hierdie artikels oor Theiler se bydrae tot aansteeklike siektes

Kyk na hierdie video om meer oor Theiler te leer

Wat is geelkoors?

Max Theiler en die 17D-entstof

 

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 14 Maart 2024 | Bygewerk op 16 April 2024