Vinnige feite

 

Pres. Kruger en Genl. Joubert
  • Celliers se pa is tydens die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) in hegtenis geneem weens sy verset teen die Britse bewind.
  • Die Anglo-Boereoorlog het vanaf Oktober 1899 tot Mei 1902 geduur. Dit word ook die Suid-Afrikaanse oorlog, die Tweede Vryheidsoorlog of die Driejarige Oorlog genoem. 7
  • Die Engelse soldate is Kakies genoem as gevolg van hul uniforms. Nog ʼn naam is Rooinekke as gevolg van die kleur van hul nekke met al die tyd wat hulle in die warm Afrika-son deurgebring het. 7
  • Die Erasmuskasteel is Pretoria se enigste kasteel. 4
  • Baie vroue het tydens die oorlog as spioene vir die kommando’s opgetree. 10
  • Celliers het vir drie maande, nadat die Britse troepe Pretoria ingeneem het, onder die vloerplanke van sy huis in Sunnyside geskuil. Hy ontsnap uiteindelik danksy ʼn plan wat die Kappiekommando gemaak het – Jan is as ʼn vrou vermom. 1
  • Toe ʼn luik in die vloerplanke in sy huis in Pretoria 55 jaar later verwyder is, is die volgende woorde aan die onderkant ontdek: “Hier het ek weggekruip, Augustus 1900. Jan F.E. Celliers.” Vandag kan hierdie luik, asook ʼn borsbeeld gemaak deur Celliers se swaer Anton van Wouw, by die Jan Celliers-skool in Johannesburg gesien word. 11
  • Die bekende Laerskool Jan Celliers by die Dieretuinmeer in Johannesburg is na hom genoem asook die Jan Celliers-park in Groenkloof, Pretoria.
  • Die woorde van sy gedig “Komaan” is reeds vir meer as ʼn eeu lank deel van die skoollied van die Helpmekaar Kollege in Johannesburg.
  • Hy was die bekende beeldhouer Anton van Wouw se swaer. Sy suster Sannie en Van Wouw was getroud. 1
  • Selfs al het hy niks van wiskunde gehou nie, het hy tog ʼn studierigting as landmeter met wiskunde as hoofvak gekies. “Ek kry nou nog ʼn soort van rilling as ek net ʼn koperinstrument sien!” het Celliers gesê. Dit was ʼn duur prys vir iemand wat bestem was vir die letterkunde, maar hy het later gesê hy is dankbaar daarvoor, omdat wiskunde so onmisbaar is in die letterkunde. 1

Jan F.E. Celliers word as een van ons land se eerste ernstige digters beskou. Celliers het deur sy hartstogtelike liefde vir die natuur en eerstehandse ervaring van die Anglo-Boereoorlog (ABO) ʼn groot bydrae tot die Afrikaanse literatuurskat gelewer. Met die uitbreek van die ABO verruil hy sy pen vir ʼn mauser en vermom homself in ʼn stadium selfs as ʼn vrou om uit die kloue van die vyandelike linies in Pretoria te ontsnap!

Celliers se gedigte is boordensvol kommentaar oor die Suid-Afrikaanse samelewing van sy tyd, en as kampvegter vir Afrikaans is hy, onder meer, daarvoor verantwoordelik dat Afrikaans as ʼn amptelike taal erken word. Sy persoonlike lewe was egter vol tragedie: van sy eie doofheid wat hom ʼn eensame siel maak, tot sy vrou wat skielik sterf en ʼn kleinkind wat hy aan die dood afstaan. Hy is emosioneel só diep hierdeur geraak dat hy vir die laaste veertien jaar van sy lewe glad nie meer geskryf het nie. Celliers vorm saam met C. Louis Leipoldt en Totius (J.D. du Toit) deel van die sogenaamde Tweede Afrikaanse Beweging.

Jan F.E. Celliers

Europese wortels

Jan François Elias Celliers (later bekend as Jan F.E. Celliers) is op 12 Januarie 1865 op die plaas Wagenmakersvallei in Wellington gebore. Sy gesin het sterk Franse bande gehad. Celliers se ma, Magdalena Bisseaux, was die dogter van Isaac Bisseaux, ʼn sendeling van die Paryse Sendinggenootskap, wat in 1829 na Suid-Afrika gekom het.

Celliers se pa, die joernalis en politikus Johannes François Celliers (hy is ook Jan Volkstem genoem), is ʼn afstammeling van die Franse Hugenote Josué Sellier (ʼn ou spelling van Celliers) en Elisabeth Couvret.

Jan F.E. Celliers was die oudste van vier kinders. Hy het ʼn broer, Isaac Bisseaux, en drie susters, Susanna Wilhelmina (Sannie), Anna Sibella Magdalena en Hester Maria, gehad. Sannie is later met die bekende beeldhouer Anton van Wouw getroud. 1

Anton van Wouw

Kinderjare en skoolopleiding

Celliers se liefde vir die wêreld van taal en woorde kan waarskynlik daaraan toegeskryf word dat hy reeds van kleins af aan verskeie tale blootgestel was. Hy het Frans met sy oupa gepraat en ʼn groot deel van sy skool- en universiteitsopleiding in Engels en Nederlands ontvang. 2

Ná sy derde verjaarsdag verhuis die gesin na Kaapstad waar sy pa as subredakteur vir die koerant Het Volksblad werk. Hier woon hy ʼn Skotse kerkskool by waar hy in Engels moet leer. Ses jaar later, in 1874, verhuis die gesin na Pretoria waar sy pa die koerant Het Volkstem begin. Die Celliers-huis was deel van die perseel waar ʼn mens vandag die Pretoriase dieretuin in Boomstraat aantref. Tussen die ouderdomme van nege en 12 jaar woon hy aanvanklik meester (meneer) Dely se skooltjie op die Kerkplein in Pretoria by, en later ontvang hy vir die eerste keer Nederlandse onderrig toe Cornelis J. van Boeschoten sy leermeester word. 3

Toe Engeland die eertydse Transvaal in 1877 oorneem, sluit die skool en die twaalfjarige Celliers gaan werk vir twee jaar vir sy pa by die koerant. Hierna vertrek hy na die Kaapkolonie en woon eers Gimnasium Stellenbosch by en later die Jongenskool in Wellington (vandag bekend as Hugenote Hoërskool). In 1883 keer hy terug na Pretoria en matrikuleer uiteindelik hier. Hy lê ook die teoretiese landmeterseksamen af onder leiding van ene meester Louis wat hom nauurs met sy studies gehelp het. 3

Celliers skryf in 1884 as negentienjarige sy eerste Nederlandse gedig, maar ten spyte van sy belangstelling in die letterkunde vertrek hy in 1887 na Nederland waar hy in Delft en Leiden studeer en in 1890 as landmeter kwalifiseer. Met sy terugkeer van Nederland werk hy vir ʼn jaar as landmeter in die Bosveld, maar vind die veld eensaam en besef dat dit nie is wat hy met sy lewe wil doen nie. 1

Hy kry ʼn werk as amptenaar van die onderwysdepartement en word in 1894 as staatsbibliotekaris aangestel. In dieselfde jaar trou hy met Susanna Jacoba Dürr, in daardie stadium ʼn goewernante vir melaatse kinders by die Erasmuskasteel in Pretoria. 4

Erasmuskasteel, Pretoria

Anglo-Boereoorlog (ABO)

Met die uitbreek van die ABO in 1899 het Suid-Afrika uit vier provinsies bestaan: die Kaapkolonie (vandag se Oos-, Wes– en Noord-Kaap), Natal (vandag KwaZulu-Natal), Transvaal (vandag se Gauteng, Noordwes, Mpumalanga en Limpopo) en die Oranje-Vrystaat (vandag die Vrystaat). Die Kaapkolonie en Natal was onder beheer van Engeland. Transvaal en die Oranje-Vrystaat was onafhanklike Boererepublieke en nie onder beheer van Engeland nie. 7

Die 34-jarige Celliers gaan veg eers naby Colesberg in die Kaap, van waar sy kommando na Kroonstad vertrek om veldmaarskalk Frederick Sleigh Roberts se opmars na die Republieke te stuit. 1

Frederick Roberts

Toe dié plan misluk, is hulle terug na Pretoria. Daar aangekom, beveel generaal Louis Botha die burgers (die soldate wat aan die kant van die Boererepublieke geveg het) om die dorp te verlaat omdat die Engelse soldate op pad was. Terwyl Celliers nog op ʼn perd gewag het, het die Engelse Pretoria reeds geannekseer. 1

Hy het drie opsies gehad: Lê ʼn eed van getrouheid aan Engeland af waarin jy ʼn onderdaan van die koning van Engeland word en nie verder aan die oorlog deelneem nie; word geskiet; óf word as ʼn krygsgevangene na ʼn eiland gestuur. Nie een van hierdie opsies was vir hom ʼn uitweg nie en hy besluit om eerder vir die Engelse soldate in sy huis in Sunnyside, Pretoria weg te kruip en later weer by die kommando’s aan te sluit. 1

Celliers het van agtjarige ouderdom af geleidelik doof begin word weens ʼn aangebore gebrek. Tussen Junie en Augustus 1900 – die tyd wat hy in sy huis geskuil het – het sy doofheid al erger geword. In die donkerte het hy nie geweet wat om hom aangaan nie. 1

Genl. Louis Botha

Die donker het wel ook bietjie verligting gebring: “Welkom aand en donker: my tyd van die dag om eindelik ʼn bietjie buitentoe te gaan,” het hy geskryf. In die agterplaas onder “my beskermende sipresse” het hy oefeninge gedoen: “Gespring, gehardloop, voor- en agtertoe gebuig, gewigte opgetel, om my stramme lede – van heeldag sit – los te maak.” 1

Sy uiteindelike ontsnapping op 24 Augustus 1900 word deur Drienie Joubert – vrou van Piet Joubert kommandant-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) – saam met haar dogter gereël. Die plan was dat Drienie se dogter en haar twee seuntjies met ʼn perdekar, waarmee sy groente na Pretoria aangery het, Celliers by sy huis sou gaan oplaai. Celliers beskryf in sy Oorlogsdagboek van Jan F.E. Cilliers, wat hy van 28 Oktober 1899 tot 17 Julie 1902 byhou, die ontsnapping: “Ek het ʼn rok aan. Oor my skouers ʼn mantel met hoë opgeslaande kraag om my kort hare van agter toe te maak; op my hoof ʼn reguit-rand strooihoed, met ʼn sware sluier oor my gesig; ʼn paar handskoene aan, my voete gewring in ʼn paar uitgetrapte dameskoene, met taamlike hoë hakke. 1

Generaal Piet Joubert

“By die tuinhekkie loop ʼn Kakie by ons verby. ʼn Ent verder hou nog een sy hand op, soos later blyk net om die verkeer te reël. By Leeubrug gaan ons eers my swaer verby wat die dames beleef groet omdat hy nie in die geheim ingelaat is nie, en toe weer sy skoonsuster wat nie durf groet nie omdat sy weet wat aangaan.” 1

By die Kerkplein hou hulle stil by die huis van ds. H.S. Bosman, ook ingelig, waar hy oorstap op ʼn trolliewaentjie met osse bespan. Sy metgeselle is die twee seuntjies van 12 en 13 jaar oud wat hulle “suster” na die plaas vergesel … Hulle reis veilig verby ʼn groot kamp van Engelse soldate, deur Wonderboompoort waar hulle nog ʼn wagpos verbygaan, en van daar agter die Magaliesberg weswaarts tot hulle teen sononder die huis van die Malans (Piet en Drienie Joubert se dogter) bereik. 1

Dit is eers maande later wat hy hom weer in die veld by die kommando aansluit. Hy is egter nooit deel van die skermutselings nie. Sy werk was om die perde te versorg, kos te maak en allerhande takies in die kamp te doen. Tussen al hierdie ontberinge skryf hy ʼn paar kommandogedigte. 2

Tyd in die buiteland ná die oorlog

Toe Celliers op 9 Junie 1902 (ná die oorlog) terugkeer na Pretoria, vind hy uit dat hy sy werk as staatsbibliotekaris verloor het. Voor die oorlog het hy ʼn klomp Krugerrande in sy agtertuin begrawe en as bittereinder wat nooit die eed van getrouheid wou aflê nie, besluit die gesin om eerder in Switserland te gaan woon. Hy en sy vrou, asook hul twee oudste kinders, Maria Elizabeth (Marie) en Johannes François (Johan), vertrek na Switserland. Die twee jongste seuns, Henri Josua en Albert Couvret, is in Switserland gebore. 1

In hierdie tydperk gebruik hy die geleentheid om letterkunde te studeer. Die gesin woon naby Clarens, waar die oud-ZAR-president Paul Kruger en ander Boere-vlugtelinge ook gewoon het. Trouens, hy was teenwoordig toe Kruger in Clarens gesterf het. 3

President Paul Kruger

Celliers het later gesê as hy nie die paar jaar in Switserland vry was van alle sleurwerk en tot inkeer kon kom nie, sou hy seker nooit geskryf het nie. “Die paar vrye jare in Switserland, en veral ook die nege maande in Nederland daarna, was van baie betekenis vir my geestelike en letterkundige vorming.” Die meeste gedigte in sy Die vlakte en ander gedigte-bundel (1908) kom uit sy tyd in Switserland. 5

Terugkeer na Suid-Afrika

Met die gesin se terugkeer na Suid-Afrika in 1907 word hy ʼn bestuurslid van die pas gestigte Afrikaans-Hollandse Toneelvereniging (AHTV) en ʼn stigterslid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dit is eers ʼn ruk later dat hy werk as ʼn liasseerder en vertaler by die departement van binnelandse sake kry. Hierna word hy oorgeplaas na die departement van landbou waar hy tekste van pluimveevoer tot resepte vir varkkos moes vertaal. Hy begin egter ook om al meer kreatiewe werk te skryf. Sy bundel Die vlakte en ander gedigte verskyn in 1908 en Martjie in 1911. Die titelgedig in Martjie word beskou as Afrikaans se eerste verhalende gedig. 3

Gustav Preller

In 1910 stig hy en medeskrywer Gustav S. Preller Die Brandwag, ʼn Afrikaanse tydskrif. Hy dien vir tien jaar op die redaksie en word later ʼn medewerker vir die tydskrif Die Boervrou. Dit is egter sy vertaalwerk wat steeds vir die gesin se brood en botter sorg. 6

In 1919 word hy by die Universiteit Stellenbosch as buitengewone professor aangestel, danksy die aandrang van C.J. Langenhoven. Uiteindelik kon hy sy tyd net aan Afrikaans en skryfkuns wy. 7 Weens onder meer gebrekkige kommunikasie met sy studente as gevolg van sy doofheid, word sy lesings baie swak bygewoon. In Januarie 1922 keer hy terug na Pretoria en reis hierna een maand per jaar na Stellenbosch om sy doseerwerk af te handel. 8

Hoofgebou van die Universiteit van Stellenbosch

Tragedie op tragedie

In 1926 sterf sy vrou Susanna baie onverwags. As gevolg van sy toenemende doofheid was sy Celliers se enigste skakel met die buitewêreld. Die tragedies wat sy gesin hierna tref, raak hom emosioneel baie diep: Sy eerste kleindogter, Marietjie, sterf op ʼn baie jong ouderdom. Sy oudste seun, Johan, wat tien jaar as skilder in Parys gewerk het, keer in 1929 terug na Suid-Afrika en leef as ʼn absolute kluisenaar op ʼn plaas buite Johannesburg. Sy jongste seun, Albert, was van ʼn baie jong ouderdom blind en trou nooit nie. Sy seun, Henri, het klavier in Europa studeer en trou later met ʼn Tsjeggiese pianis. Henri was egter nie baie suksesvol as ʼn musikant nie. Met sy terugkeer na Suid-Afrika word hy ʼn belowende akteur, maar neem uiteindelik sy eie lewe. 4 Hierna skryf Celliers nooit weer kreatief nie. 3

In 1927 vertrek Celliers na Europa om hulp vir sy doofheid in te win, maar sonder sukses. Hy verlaat dieselfde jaar Pretoria en gaan woon ʼn ruk lank in Harrismith. Daarna gaan woon hy by die skilder Johan Esterhuizen en sy vrou in Tamboerskloof in Kaapstad. In 1940 sterf hy op 75-jarige ouderdom tydens ʼn besoek aan sy dogter in Johannesburg. Hy word in die Heldeakker van die ou Pretoria-kerkhof begrawe. 3

C.L Leipoldt en Jan Celliers

Bydrae tot die Afrikaanse letterkunde

Hoewel Celliers reeds voor die oorlog begin skryf het, is dit veral sy werk wat ná die oorlog verskyn het, wat ʼn noemenswaardige plek in die Afrikaanse letterkunde beklee. Hy word saam met die digters C. Louis Leipoldt en Totius (Jacob Daniël du Toit) beskou as die Digters van die Tweede Geslag. 2

Die Eerste Afrikaanse Beweging was hoofsaaklik geografies beperk tot die Paarl en omgewing en het gedraai om een figuur, S.J. du Toit, een vereniging (die Genootskap van Regte Afrikaners) en een publikasie Die Patriot. Die Tweede Beweging, waarvan Celliers saam met Leipoldt en Totius deel was, was op sy beurt ʼn landwye beweging wat verskillende hooffigure, publikasies en verenigings in die onderskeie provinsies gehad het. Ná die ABO moes die Afrikaner nie net weer sy land materieel opbou nie, maar homself ook geestelik meer weerbaar maak. In vergelyking met die Eerste Beweging was die Tweede Beweging se strewe nie slegs om leesbare rympies te skryf of om die volk op te voed nie, maar om uiting te gee aan die grootste behoeftes en die diepste wese van die Afrikanervolk. 8

Celliers se eerste werk lewer kommentaar op die oorlog. Sy bekendste oorlogvers is waarskynlik die eenvoudige, maar kragtige “Dis al” wat die indrukke weergee van ʼn Boer wat ná die oorlog as krygsgevangene terugkeer en die verwoesting aanskou: “Dis die blond,/ dis die blou:/ dis die veld,/ dis die lug;/ en ʼn voël draai bowe in eensame vlug – /dis al./ Dis ʼn balling gekom/ oor die oseaan,/ dis ʼn graf in die gras,/ dis ʼn vallende traan –/ dis al.”

In 1920, ses jaar ná die Rebellie, verskyn “Jopie Fourie”, ʼn heldedig oor die marteldood van hierdie rebel wat met die hand oorgeskryf en versprei is. Sy gedig “Die vlakte” word saam met Eugène Marais se “Winternag” as die eerste landskapuitbeelding in die Afrikaanse digkuns beskou. 3

Jopie Fourie

Celliers se werk is weens die verouderde woordgebruik, verstegniek en rymdwang egter nie so gewild soos sy tydgenote s’n nie. Net soos Leipoldt is Celliers werklik in sy element wanneer hy met al sy sintuie ingespan buite kan ronddwaal om na die natuur te kyk en te ervaar. Leipoldt gesels graag met die dinge wat hy daar raakloop, maar Celliers laat die dinge self “praat”. 5

Celliers se oeuvre was wyd en hy het ʼn groot bydrae gelewer om nuwe Afrikaanse literatuur in alle genres te verskaf en uit te bou. In teenstelling met sy oorloggedigte is daar gedigte wat baie “huislik” is en na die gesin se huis in Pretoria verwys, byvoorbeeld “Prinsie” (die gesin se “mooi-lelike hondjie”) en ook die skets “Ons pampoen” wat een keer ná ʼn goeie reënjaar “die hele wêreld volgerank het”. Daar was ook selfs kindergedigte soos “Ma en Pietjie” en “Klein ondeug” oor sy jongste seun. 2

Celliers kom in sy gedigte oor as ʼn vrome, stil-beskeie, stoere werker, met ʼn oop hart vir dít wat goed en mooi is in die lewe, met ʼn onwrikbare geloof in die toekoms van sy volk en vaderland. 5

Uiteindelik verskyn daar 16 publikasies uit sy pen. Hy word in 1930 as erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aangewys. In 1935 ontvang hy ook die Besondere Erepenning vir Afrikaanse Letterkunde. 6

Woordbank

afstammeling Iemand/iets wat van iemand/iets afstam; nakomeling. 9
Anglo-Boereoorlog Oorlog tussen die twee Boererepublieke, die Zuid-Afrikaansche Republiek (ou Transvaal) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat, en die Britse Ryk wat van Oktober 1899 tot Mei 1902 in Suid-Afrika geveg is.
annekseer Besit neem van; ʼn gebied inlyf.
bittereinder Iemand wat tot die bitter end/einde volhou, veral ʼn soldaat wat so lank moontlik voortveg.
genres Soort; tipe; veral, literatuur- of kunssoort.
goewernante    Private onderwyseres vir die kind/kinders van ʼn gesin.
inkeer Nadenke oor eie optrede; selfondersoek.
kampvegter Iemand wat die voortou neem in of stry vir ʼn saak waarvoor hy hom of sy haar beywer.
Kappiekommando Groep vroue wat as spioene in die Anglo-Boereoorlog opgetree het.
kluisenaar Iemand wat alleen woon en hom/haar van ander mense afsonder.
kommando Gewapende mag, op die been gebring deur die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog.
krygsgevangene Soldaat/ens. wat tydens ʼn oorlog in die vyand se hande geval het en gewoonlik in ʼn kamp opgesluit word.
landmeter Persoon wie se werk dit is om ’n stuk land te meet en op ʼn kaart uit te beeld.
leermeester Persoon van wie ʼn mens iets leer.
linie Lyn; verdedigingslyn.
literêr   Wat met literatuur/letterkunde verband hou.
mauser Duitse grendelgeweer (die 1895-model) deur die Boererepublieke in die Anglo-Boereoorlog gebruik.
materieel Wat met iemand se liggaamlike behoeftes (geld, besittings, ens.) te make het eerder as intellektuele of geestelike sake.
oeuvre  Al die werk van ʼn kunstenaar/geleerde.
onwrikbare Baie vas; onomstootlik; wat baie stewig vassit; wat nie losgewikkel kan word nie.
sendeling Iemand wat in vreemde lande nie-Christene tot die Christelike geloof probeer bekeer.
sleurwerk Werk uit gewoonte, volgens sleur verrig, wat geen intellektuele eise stel nie (en gevolglik oninteressant en onpersoonlik word).
stilbeskeie Bedees; terughoudend.
stoere Gehard; lewenskragtig; moedig; vasberade; onverstoorbaar; onversetlik; onvermoeibaar.
verset Weerstand/teenstand/opstand teen.
vroom Godsdienstig; onskuldig.

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer oor Jan F.E. Celliers se gedigte

“Die vlakte” wat hy tydens sy tyd in Switserland geskryf het

ʼn Voorlesing van “Die Ossewa”

Meer oor Jopie Fourie en ʼn voorlesing van die gedig

Die pragtige, eenvoudige gedig “Dis al”

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 1 Junie 2022 | Bygewerk op 20 Februarie 2024