Vinnige feite

  • Meer as 27 000 Boeremanskappe is as krygsgevangenes aangehou.
  • Die Boerekrygsgevangenes is in kampe in die buiteland aangehou.
  • Hulle is goed bewaak en baie min kon ontsnap.
  • Die eerste krygsgevangenes het in 1900 in die kampe aangekom.
  • Die krygsgevangenes het eers ná die Vrede van Vereeniging in 1902 teruggekom Suid-Afrika toe.
  • Krygsgevangenes moes eers trou sweer aan die Britse Kroon voor hulle toegelaat is om terug te kom.

Stel jou voor: Dit is 1899. Daar is nie elektrisiteit of teerpaaie nie, en daar is nie TV of internet waar ’n mens inligting kan kry, of selfone waarmee ’n mens kan hoor hoe dit met ander mense gaan nie. En dis oorlog. Brittanje het die Zuid-Afrikaansche Republiek (die ou Transvaal) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat geannekseer (in besit geneem), en die Boere (die burgers van die twee republieke) verklaar oorlog. Daar vertrek jou oupa, jou pa en jou broer te perd om te gaan veg, en niemand weet wat van hulle geword het en of hulle ooit gaan terugkom nie.

Dan hoor jy: Die Boeremanskappe is deur die Britte krygsgevange geneem! Wat gaan nou met jou mense gebeur?

Die woord krygsgevangene beteken volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) “iemand wat gedurende ’n … oorlog gevange geneem is, veral iemand van die gewapende magte”. 1

Krygsgevangenes is met ander woorde hoofsaaklik soldate (krygers) wat deur die vyand gevange geneem en aangehou word.

In ons eie geskiedenis is die manskappe wat tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) deur Britse magte gevange geneem is, as krygsgevangenes aangehou. Daar word beraam (geskat) dat meer as 27 000 Boeremanskappe krygsgevangenes was. 2

Die oorsprong van die idee van krygsgevangenes

In antieke tye en selfs nog tydens die Middeleeue is soldate wat tydens ’n oorlog gevange geneem is, doodgemaak of deur die oorwinnaar as slawe gebruik. Van die 18de eeu af het filosowe (wysgere of denkers), soos Montesquieu en Jean-Jacques Rousseau, egter begin sê dat dit onmenslik (wreed) is en dat soldate wat gevange geneem is, die reg het om te bly leef. Hulle moet net verhoed (gekeer) word om verder aan die oorlog deel te neem. 3

Brittanje se Boerekrygsgevangenes

Brittanje het die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) verloor. Die grootste rede vir die Britte se nederlaag (om te verloor) in dié oorlog, was dat die Boere die land beter geken het en mekaar op die grond beter kon ondersteun.

Tydens die Anglo-Boereoorlog het die Britte seker gemaak die Boere kry nie weer die oorhand (om te wen) met hul guerillaoorlogstaktiek nie (die plan om in klein groepies te veg en die vyand onverhoeds te betrap). 4

Een manier om die Boeremagte lam te lê, was deur Lord Kitchener se sogenaamde verskroeideaardebeleid, waardeur die Boere se plase verwoes is en Boerevroue en -kinders in konsentrasiekampe aangehou is sodat hulle nie die Boerekommando’s kon help nie. 5

Horatio Kitchener

Die ander manier was om Boeremanskappe gevange te neem en hulle so goed te bewaak dat hulle nie verder aan die oorlog kon deelneem nie.

Die eerste Boere word krygsgevange geneem

Tydens die Slag van Elandslaagte op 21 Oktober 1899 is die eerste 188 Boere gevange geneem. Die Britte het nie betyds beplan wat hulle met die krygsgevangenes gaan maak nie, en die manskappe is aan die begin onder andere in Simonstad aan boord van oorlogskepe aangehou. Maar soos die getal gevange manskappe toegeneem het, moes die Britse regering ’n ander plan maak. 6

Boere wat by Elandslaagte gevange geneem is word deur Britse soldate na gevangeneskap gelei
Elandslaagte: Generaal Jan Kock en sy offisiere voor die geveg
Elandslaagte: Boere voor die trein wat deur hulle buitgemaak is

Krygsgevangenes na die buiteland

Die Britte was bang dat die krygsgevangenes deur hul makkers ontset (bevry) sou word, of dat hulle self sou ontsnap en weer by die oorlog aansluit. Daarom is die gevange manskappe na ander kolonies, wat deel was van die Britse Ryk, gestuur omdat hulle daar makliker beheer kon word en van die oorlog weggehou kon word. 7

Sint Helena

Sint Helena is ’n eiland in die Atlantiese Oseaan (dieselfde eiland waarop Napoleon Bonaparte dood is).

Krygsgevangenes veg teen die vlooie

Die eerste Boere het in April 1900 hier opgedaag, en is met hul aankoms na Deadwood Plain gemarsjeer – ’n windverwaaide en onherbergsame (moeilik of onmoontlik om te bewoon) deel van die eiland waar hulle in ’n kamp in seiltente moes bly. Die krygsgevangenes het later vir hulself blikhutte gebou uit die koekblikke wat deel was van hul rantsoen (afgemete hoeveelheid kos). 8 Stel jou voor hoe lank dit moes neem om ’n gebou van koekblikke te maak!

Teen die einde van die oorlog was daar amper 6 000 man op die eiland en, benewens die kamp by Deadwood Plain, is daar ook ’n kamp opgerig by Broad Bottom, een van die natste dele op die eiland.

Die belangrikste krygsgevangenes wat hier gehuisves is, was generaal Cronjé wat saam met sy vrou gevange gehou is, en generaal Ben Viljoen, wat na aan die einde van die oorlog in ’n hinderlaag (lokval) gelei en gevange geneem is.

Generaal Piet Cronje met ‘n sweep in sy hand voor die Long Tom buite Mafeking

Ceylon

Ceylon (deesdae Sri Lanka) is ook ’n eiland en was destyds ook ’n Britse kolonie. Die eerste krygsgevangenes het in Augustus 1900 hier aangekom.

Daar was verskeie kampe op Ceylon, naamlik Ragama, Urugasmanhandiya, Hambantota en Mount Lavinia, die hospitaalkamp.

Die grootste kamp was by Diyatalawa, ’n Britse weermagopleidingsbasis in die heuwels in die suidelike deel van die eiland. Hierdie kamp is afgesper deur ’n diep loopgraaf (sloot) vol doringdraad, en het onder die plaaslike inwoners as “Boer Town” bekendgestaan. Die krygsgevangenes uit die Transvaal het in die een deel van die kamp gewoon en dit “Krugersdorp” genoem (na hul president, Paul Kruger), en dié uit die Oranje-Vrystaat het hul deel “Steynsburg” genoem (na hul president, M.T. Steyn). 9

Die krygsgevangenes in Diyatalawa kon wel werk en geld verdien. In vergelyking met die toestande in ander krygsgevangenekampe was Diyatalawa nie te sleg nie, tog was daar steeds verskeie pogings van krygsgevangenes om te ontsnap.

Sportbyeenkoms in die krygsgevangekamp by Diyatalawa, Ceylon

Vyf gevangenes het dit reggekry en ’n stoomskip in Colombo se hawe bereik waarmee hulle na die Krim-skiereiland gevaar het. Van daar af is hulle na Sint Petersburg waar hulle deur die Russe wat die Boere se saak ondersteun het, ontvang is. Op pad terug na Suid-Afrika het hulle in Nederland by president Paul Kruger aangedoen. 10

Teen die einde van die oorlog was daar meer as 5 000 Boerekrygsgevangenes in Ceylon. Altesaam 133 is dood en hier begrawe. 11

Indië

Altesaam 9 131 Boerekrygsgevangenes is na Indië gestuur, waar hulle ook in verskeie kampe gevange gehou is.

Brittanje het Indië – een van sy grootste kolonies – behoorlik tydens die Anglo-Boereoorlog gebruik. Duisende lede van sy Indiese magte is opgeroep (deur die regering beveel om te gaan veg), waarvan ongeveer 9 000 Indiërs was. Hulle het hoofsaaklik as ondersteuningspersoneel vir die berede troepe (soldate te perd) gewerk.

Dietlof: Van Warmelo in middel met boek as krygsgevangene

Maar Indië is ook gebruik as aanhouplek vir die krygsgevangenes. Ongeveer 20 militêre kampe is in aanhoudingsterreine vir die krygsgevangenes omskep, waar hulle agter doringdraad in barakke (blyplek vir soldate) en tente aangehou is.

Dietlof, Van Warmelo, staande verste regs as krygsgevangene

Die toestande in die Indiese kampe was beter as in die konsentrasiekampe in Suid-Afrika, maar die manskappe het steeds siek geword. In 1902 het pokke (’n dodelike, aansteeklike siekte met swere) byvoorbeeld die lewe van twee Boere in die Bellamy-kamp geëis, en uiteindelik is ongeveer 140 Boere hier dood. 12

Bermuda

Die vierde gebied waar die Britte kampe opgerig het, was in Bermuda, ’n groep Karibiese eilande wat ook deel gevorm het van die Britse Ryk.

Van die bykans 5 000 gevangenes op die eilande was 850 jonger as 19. Die oudste gevangene was 78 jaar oud en die jongste was ses! Om te dink dat kinders ook krygsgevangenes kon wees, laat mens yskoud word.

Daar is ’n rekord van twee gevangenes wat uit die kampe op Bermuda ontsnap het. David Stephen du Plooy, ’n jong Boer wat onder generaal Cronjé geveg het, het New York op 10 Julie 1901 as verstekeling (wegkruiper) op die stoomskip Trinidad bereik. Die ander was W.J. Pienaar wat twee myl (3,22 km) ver die see in geswem het waar ’n Nederlandse seilskip hom opgepik en na Amerika geneem het. 13

Vyf en dertig man is op Bermuda dood en ses is op pad soontoe tydens die seereis oorlede. Hulle is ter see begrawe.

Burger Moolman by sy seun se graf
Boerekrygsgevangenes stap oor die brug na Long eiland, Bermuda
Skoolkinders
Skoolmeester Bester en sy twee aangenome seuns

Portugal

Meer as 1 000 Boere is in Portugal geïnterneer (in ’n kamp aangehou). Hul situasie was anders as die res van die krygsgevangenes s’n, want hulle is nie deur Brittanje gevange geneem nie, maar deur die Portugese regering aangekeer en gevange gehou.

Hierdie manskappe het naamlik deur Mosambiek na Delagoabaai (deesdae Maputo) gevlug, en hulle is daar in hegtenis geneem en Portugal toe gestuur. Die gewone Portugese was mal oor die Boere en het die volksliedere van die Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek tydig en ontydig gespeel, tot groot konsternasie van die Portugese regering wat Brittanje as ’n bondgenoot gehad het. 14

Die gevangenes het in barakke en kloosters (verblyfplek van monnike en nonne) gewoon, en het in Portugal gebly tot aan die einde van die oorlog.

Boerevernuf in die kampe

Die krygsgevangenes het hulle besig gehou deur sportdae en konserte te hou, maar ook deur allerhande kunswerke en gebruiksartikels te skep uit wat hulle ook al in die hande kon kry. Dit was nie net ’n manier om die verveling te besweer (verdryf) nie, maar ook ’n manier om deur middel van verkope of ruilhandel geld te maak. 15 Met ruilhandel kan jy een produk of diens vir ’n ander ruil, sonder om geld te gebruik.

Krygsgevangene maak aandenkings vir sy geliefdes

Hulle het voorwerpe gemaak soos speelgoed, eenvoudige juwele, papiermesse, servetringe, portretrame, kieries, juwelekissies, naaldekokers (buisvormige houertjies vir naalde) en ander houertjies.

Die materiaal wat hulle die meeste gebruik het om voorwerpe mee te maak, was die plaaslike hout, maar hulle het ook blik, lap en been gebruik om allerhande produkte mee te vervaardig. Baie van hierdie voorwerpe is kunstig versier, of soms is die wapens van die Oranje-Vrystaat of die Zuid-Afrikaansche Republiek daarop uitgekerf. Die naam van die gevangene, die kamp se naam en die datum is gewoonlik op die artikels uitgekerf of gegraveer.

Aanvanklik was die belangrikste stuk gereedskap wat hulle gehad het ’n knipmes, want elke Boer het so ’n mes in sy sak gehad, maar hulle het later ook sae en beitels gebruik. Dit blyk dat hulle baie van hierdie gereedskap self gemaak of aangepas het uit die gereedskap wat hulle by plaaslike inwoners gekoop het. 16

Besoekers aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Museum van Militêre Geskiedenis in Johannesburg en die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein kan vandag van hierdie kunswerke sien wat deur afstammelinge en families van die krygsgevangenes aan die museums geskenk is.

Winston Churchill (regs) as gevangene van die Transvaalse magte

Die terugkeer van die krygsgevangenes

Op 31 Mei 1902 het die Vrede van Vereeniging ’n einde aan die Anglo-Boereoorlog gemaak. Die vredesooreenkoms het bepaal dat die Boere hul wapens moes neerlê en trou aan die Britse Kroon (toe Edward VII) sweer. Vir die meeste Boere was dit ’n swaar stryd, maar die verliese wat hulle gely het, en veral die lot van die vroue en kinders in die konsentrasiekampe, het hulle laat besef dat hulle geen ander keuse het nie. 17

’n Maand later is die besluit oor krygsgevangenes aangekondig: Burgers van die Republiek van die Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek kon dadelik terugkeer huis toe as hulle self vir die reis kon betaal, of hulle kon wag totdat reëlings vir hul repatriasie (terugstuur huis toe) getref kon word. Alle gevangenes moes trou aan die Britse Kroon sweer voordat hulle vrygelaat sou word.

Die meeste krygsgevangenes het hierdie voorwaarde aanvaar, maar daar was in Diyatalawa en in Bermuda die sogenaamde Bittereinders wat nie Britse oorheersing wou aanvaar nie. Sowat 300 Bittereinders het op Bermuda agtergebly, en die laaste Bittereinder is in 1927 daar oorlede. 18

In Diyatalawa is die laaste vyf Bittereinders reeds in 1903 vrygelaat op voorwaarde dat hulle nie na Suid-Afrika sou terugkeer nie. Een van hulle, Henry Engelbrecht, het die eerste hoofbewaarder geword van Sri Lanka se gewildste en bekendste bewaringsgebied, die Yala Nasionale Park, wat hy 21 jaar lank met groot toewyding (aandag aan sy werk) bestuur het. Hy is in 1928 oorlede en in die kerkhof in Hambantota begrawe.

Woordbank

barakke Blyplek vir soldate; baie soos ’n koshuis.
beraam Geskat.
berede troepe Soldate wat op perde ry.
besweer Keer dat iets gebeur.
bewaak Wagte gebruik om gevangenes op te pas.
filosowe Iemand wat oor die lewe dink, die gedagtes neerskryf en aan ander mense leer.
geïnterneer In ’n kamp aanhou, gewoonlik tydens ‘n oorlog.
guerillaoorlogstaktiek ‘n Oorlog waarin klein groepies soldate die vyand verras en oorrompel.
hinderlaag Lokval, strik.
huisves Blyplek gee.
kerkhof Begraafplaas.
kloosters Blyplek vir nonne/monnike.
loopgraaf Sloot wat in ‘n oorlog gebruik word om manskappe te beskerm of om te keer dat die vyand maklik kan beweeg.
naaldekoker ’n Lang, dun houertjie wat kan toemaak en waarin naalde gebêre word.
nederlaag Die toestand om te verloor.
onherbergsame Onaangenaam of onmoontlik om te bewoon.
onmenslik Wreed, gevoelloos.
ontset ’n Gevangene of ’n plek uit die vyand se beheer laat vrykom; bevry.
oorhand Om te wen; die meeste mag hê.
oorlogstaktiek Die plan waarvolgens die oorlog gevoer word.
pokke Dodelike soort aansteeklike siekte met swere.
rantsoen Afgemete hoeveelhede basiese benodigdhede, veral kos, wat vir soldate en gevangenes gegee word.
repatriasie Die terugstuur van ’n persoon na sy of haar geboorteland.
ruilhandel Handel waar een produk vir ‘n ander geruil word en daar nie geld gebruik word nie.
slagveld Gevegsterrein; daar waar oorlog gevoer word.
toewyding Om met groot aandag en jou hele hart aan iets te werk.
verhoed Keer.
vernuf Slimmigheid, handigheid; talent om iets te doen/maak.
verstekeling Iemand wat op ’n voertuig soos ’n bus, trein of skip wegkruip en nie vir die reis betaal nie.

Lees meer

Kyk hier

Kyk na hierdie oorspronklike beeldmateriaal van die krygsgevangenes op Sint Helena (argiefmateriaal – draai die klank gerus harder!)

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 29 November 2022 | Bygewerk op 22 Februarie 2024