Vinnige feite

  • Die dorp Steynsrus is vernoem na die familie van Paul Kruger se ma, Elsie Steyn. 2
  • In Pretoria is ’n voorstad – Gezina – wat na Kruger se tweede vrou genoem is.
  • Daar is ’n President Kruger-kinderhuis in Pretoria.
  • Paul Kruger was een van die eerste lidmate van die nuwe Gereformeerde Kerk wat in 1859 ontstaan het. 1
  • Kruger word in Mei 1898 vir die vierde keer tot president verkies. 1
  • Voor die begin van die Eerste Vryheidsoorlog het Kruger op 14 Desember 1880 versoek dat elke burger wat bereid was om te veg tot die land weer vry is, ’n klip op ’n stapel moet pak. 5
  • Die Jameson-inval: Ná die ontdekking van goud aan die Witwatersrand, het baie uitlanders (mense van ander lande) na Johannesburg en die ZAR gekom. Hulle wou naderhand allerhande regte hê soos, onder meer, stemreg, al was hulle nie burgers van die ZAR nie. Brittanje het die griewe (ontevredenheid) van die uitlanders gebruik om in die ZAR in te meng. Cecil John Rhodes het ’n inval help organiseer en dr. Leander Starr Jameson (administrateur van Rhodesië – vandag Zimbabwe) sou die leier daarvan wees. Op 29 Desember 1895 het Jameson die inval begin. Dit was swak georganiseer en hy het glad nie genoeg soldate gehad nie. Op 2 Januarie 1896 is die groep deur generaal Cronjé se mag (groep soldate) aangeval en die hele inval het misluk. 6
  • Paul Kruger se eerste plaas se naam was Waterval en sy tweede plaas was Boekenhoutfontein. Albei plase is in die Rustenburgdistrik. 4
  • Wat is Krugerrande? Krugerrande is goue munte (geldstukke) wat in 1967 deur die Republiek van Suid-Afrika gemunt is om te help om Suid-Afrikaanse goud aan die internasionale markte te bevorder en om dit vir individue moontlik te maak om goud te besit. Krugerrande is een van die goue munte wat die meeste verhandel word op die wêreldmark.
Foto: iStock

Sou dit vir jou lekker wees om vir maande lank saam met maats in die veld te leef en te speel? Natuurlik! Vir die Voortrekkerkinders in die 19de eeu was dit hoe hulle elke dag geleef het en hulle het dit sekerlik geniet. Maar, dieselfde kinders moes ook veeleisende dinge doen en groot gevare in moeilike omstandighede trotseer terwyl hulle nog baie jonk was – party van hulle moes selfs help oorlog maak terwyl hulle nog kinders was!

So ’n seun was Paul Kruger ook.

Wie was Paul Kruger?

Stephanus Johannes Paulus (Paul) Kruger is op 10 Oktober 1825 op die plaas Bulhoek, naby die dorp Steynsburg gebore.

Paul se pa was Casper Jan Hendrik Kruger en sy ma Elsie Francina Steyn. Daar is sewe kinders uit die huwelik gebore en Paul was hul derde kind.

Die stamvader van die Krugers in Suid-Afrika was Jacob Krüger wat in 1713 vanaf Duitsland in die land aangekom het. 1

Paul se oupa was Gerrit Kruger en van hom het Paul die lewensles van “leef en laat leef” geleer. Sy oupa het, byvoorbeeld, die probleem met konflik oor veediefstal tussen die San-mense (Boesmans) en die Boere in die Sneeubergdistrik opgelos. [Lees meer hier oor konflik.] Hy het voorgestel dat hulle vir die San-volk die verskil leer tussen wilde diere wat gejag mag word en mak diere wat mens nie jag nie, soos skape. Hy het 283 skape bymekaargemaak en aan die San-mense geskenk – ’n paar van hulle het later goeie skaapwagters geword. 2

Beeld van Kruger in ballingskap

Die jong Paul Kruger

Paul se ouers was trekboere wat taamlik geld gehad het. Paul het van kleins af die veld goed leer ken en het selfs skape in die veld begin oppas toe hy nog baie jonk was.

Paul was ’n uitmuntende atleet wat almal in resies gewen het en hy kon ook goed swem en duik. Daarby was hy ’n goeie perderuiter en ’n uitstekende skutter.

Paul se ma is dood toe hy nog baie jonk was. In daardie tyd was dit meestal die ma’s wat die kinders geleer het omdat daar nie juis skole was soos ons dit vandag ken nie. Dit was baie belangrik dat kinders geleer is om te lees sodat hulle die Bybel kon lees, maar om te kon skryf was ook belangrik. Paul het vir net drie maande skoolopleiding by ’n onderwyser gekry wat rondgereis het. 2

Paul Kruger, 1855

Die seun en die Groot Trek

Paul se ouers het nie aanvanklik daaraan gedink om saam met die Groot Trek uit die Kaapkolonie weg te trek nie. Maar toe het die Trek van Andries Hendrik Potgieter in 1835 by hulle verbygekom… Daar was heelwat mense in die Trekgroep wat Paul se pa geken het en hulle het toe besluit om saam te trek.

Daar was ook ’n gesin met die van du Plessis wat saam in die trek was. Paul het later met een van die du Plessis-dogters getrou.

Die Trek was aan die begin vir die jong seuns soos ’n heerlike vakansie. Hulle het soos gewoonlik steeds vee in die veld opgepas en baie kans gekry om te jag. Tog, Paul was nog nie 11 jaar oud nie toe hulle in Oktober 1836 by Vegkop deur Mzilikazi se Zoeloekrygers aangeval is. Almal moes hul deel bydra en die kinders is aangesê om gewere te laai en vir die grootmense aan te gee.

In Februarie 1838 was die jong Paul ook deel van die Trekkers wat by Bloukrans in Natal deur die Zoeloes aangeval is. Al het hy oorleef, was die wrede manier waarop baie van die Trekkers doodgemaak is, vir hom en baie ander geweldig traumaties en hy het dit vir die res van sy lewe onthou. Paul het ook aan ’n strafekspedisie teen die Matabele van Mzilikazi deelgeneem nog voor hy 14 jaar oud was. 2

Paul se gesin

In 1842 is hy getroud met Maria du Plessis wat deel van sy eie Trekgroep was. Hy was 17 en sy was slegs 14 toe hulle getroud is. Dit was in daardie jare nie vreemd dat mense so jonk getrou het nie.

Ongelukkig sterf Maria vier jaar later in 1846. In 1847 trou Paul met haar niggie. Dié niggie het sommer vier name gehad – Gezina Susanna Frederika Wilhelmina du Plessis – en hulle het sestien kinders gehad. Van hul kinders is oorlede terwyl hulle nog jonk was. Terloops, in daardie jare het dit baie gebeur dat kinders jonk dood is omdat die lewe nie so maklik was soos ons dit vandag beleef nie – daar was byvoorbeeld nie soveel dokters en medisyne soos in vandag se tye nie.

Tussen 1870 en 1873 sukkel die Kruger-gesin gedurig met gesondheidsprobleme omdat Paul se vrou en kinders malaria het. 1

Mev. Kruger saam met haar dogter, kleindogter en agterkleindogter
Mev. Kruger en kleindogter

’n Baie jong leier

Nie alleen was hy reeds van jongs af fisiek sterk en behendig nie, maar sy persoonlikheid het hom ook in enige geselskap laat uitstaan (mense het hom opgemerk). Hy was diep godsdienstig, maar hy was ook vrolik en het ’n goeie sin vir humor gehad.

Paul was net 17 jaar oud toe hy assistent-veldkornet geword het en in 1851 was hy veldkornet en militêre aanvoerder van die kommando’s wat teen die swart stamme rondom die Trekkers opgetree het.

Hy het vroeg reeds in politiek belanggestel en was teenwoordig by die Sandrivierkonvensie in 1852 waar die Transvaalse Trekkers met Brittanje oor hul onafhanklikheid onderhandel het.

Die ander Trekkers het gou agtergekom dat hulle op hierdie jong, onverskrokke soldaat kon staatmaak as dinge skeefloop. Meer as een keer tydens gevegte het hy sy eie lewe in gevaar gestel, soos toe hy in 1854 die liggaam van kommandant-generaal Piet Potgieter naby die vyand gaan haal en weggedra het nadat hy gesneuwel het. 1

Hier is nog ’n bewys van hoe manhaftig hy was: Daar was een keer ’n skietongeluk waarin sy duim raakgeskiet is. Omdat daar nie ’n dokter naby was nie en die duim natuurlik baie gebloei het, het hy sy eie duim met ’n knipmes afgesny en behoorlik toegedraai om die bloed te stop en infeksie te voorkom. Deur dit te doen, het hy waarskynlik sy eie lewe gered. 3

Hy was van die begin af baie lojaal aan die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) – ook bekend as die Republiek van Transvaal – en hy het ook die president, M.W. Pretorius, gesteun. 1

Krugerhuis

Kruger was ’n baie gewilde leier onder sy mense, waarskynlik omdat hy nie aanstellerig was nie en verkies het om as gewone burger tussen sy mense te bly. Hy en sy vrou het op ’n groot erf langs Kerkstraat gewoon waar hulle ’n groot groentetuin gehad het en waar Kruger se vrou elke dag hul koeie gemelk het. President Kruger het in die oggend vroeg opgestaan en op die stoep gesit en pyp rook. Mense wat daar verbygestap het, was altyd welkom om met hom te kom gesels.

Een van die dinge wat president Kruger vir Suid-Afrika gedoen het wat van groot belang was, was om die planne te begin optrek om ’n deel van Oos-Transvaal (vandag Mpumalanga) vir natuurbewaring uit te hou. Hierdie grond sou later die Nasionale Krugerwildtuin word. 3

Paul Kruger wuif na ondersteuners van die balkon van die Hotel des Indes, Den Haag

Kruger veg vir die onafhanklikheid van sy land

Op 8 Maart 1877 word Kruger as visepresident gekies. Kort daarna annekseer Brittanje Transvaal en Kruger reis twee keer saam met ander leiers na Brittanje om beswaar te maak teen die anneksasie. Hulle besoek ook Nederland om seker te maak dat die Nederlandse regering weet wat met Transvaal gebeur het.

Gedurende die Eerste Vryheidsoorlog wat in 1881 uitbreek, wys Kruger watter goeie leier en diplomaat hy is. Hy kry dit reg om die Republiek (ZAR) weer te herstel, al was dit nou onder Britse susereiniteit. In 1872 word Kruger tot president van die ZAR verkies. Op sy derde reis na Brittanje, slaag Kruger en sy afvaardiging daarin dat die Britse susereiniteit afgeskaf word. 1

Die Anglo-Boereoorlog

Ná afloop van die Jameson-inval sorg Kruger dat die Republiek moderne kanonne kry en hy laat ook tienduisend Mauser-gewere uit Europa invoer.

In September 1898 ontmoet Kruger vir president Steyn van die Oranje-Vrystaat in Pretoria en die twee presidente kom ooreen om mekaar te help as een van die republieke aangeval word. Kruger stel in hierdie tyd ook Afrikaners soos F.W. Reitz en J.C. Smuts in belangrike regeringsposte aan.

Die Britse lord Alfred Milner gebruik die verskille oor stemreg vir uitlanders om Kruger te dwing om aan sy eise toe te gee. Op ’n konferensie wat president Steyn in Bloemfontein reël om oorlog te probeer voorkom, roep Kruger in ’n stadium moedeloos uit dat Milner nie regtig stemreg vir uitlanders wil hê nie, maar eerder Kruger se land wil hê.

Pres. F.W. Reitz en pres. Paul Kruger voor die presidentswoning, Bloemfontein

Die twee presidente het hard probeer om die oorlog te keer, maar Brittanje het elke keer nuwe eise aan die ZAR en aan president Kruger gestel. Brittanje het al hoe meer soldate na die grense van die ZAR en die Republiek van die Oranje-Vrystaat gestuur. Uiteindelik het die twee republieke op 9 Oktober 1899 ’n ultimatum aan Brittanje gestel dat die soldate onttrek moet word, anders sou die republieke oorlog teen Brittanje verklaar. Toe Brittanje hom nie aan die ultimatum steur nie, breek die oorlog op 11 Oktober 1899 uit.

President Kruger se huis word deur die Britse magte oorgeneem

In die eerste paar maande van die oorlog het president Kruger ’n paar keer na die front gegaan en ’n betekenisvolle rol gespeel ten opsigte van strategiese besluite en taktiese oorlogvoering.

Hy het die Volksraad op 7 Mei 1900 vir die laaste keer toegespreek en het Pretoria op 29 Mei verlaat toe daar sprake is dat die Britse soldate Pretoria wil inval.

In Augustus 1900 was Kruger reeds 75 jaar oud. Die regerings van die twee republieke het besluit dat hy nie deur die Britse soldate gevang mag word nie en dat dit veiliger sal wees as hy na Europa gaan. Hy is per trein na Machadodorp en van daar oor die grens na Mosambiek.

Op 19 Oktober het hy met die Nederlandse skip De Gelderland vanaf die hawestad Lourenco Marques (vandag Maputo) na Nederland vertrek. Koningin Wilhelmina van Nederland het spesiaal gereël dat die skip vir president Kruger na Nederland moet neem. 1

President Kruger in sy treinwa net voor hy Pretoria verlaat het

Die legende van die Krugermiljoene

Die legende van die vermiste Krugermiljoene (die skat wat na bewering deur of namens Paul Kruger weggesteek is) laat historici en skattejagters vir meer as ’n honderd jaar kopkrap.

Die storie lui dat president Paul Kruger letterlik dae voordat lord Milner en sy troepe Pretoria in Junie 1900 binnegeval het, beveel het dat meer as 2 miljoen pond se munte en goud van die SA Muntgebou (die plek waar geld gemaak word), die Nasionale Bank en goudmyne verwyder en gekonfiskeer moet word. Die rede was om dit uit Britse hande te hou, en hoewel daar gedokumenteerde bewyse is dat geld en goud verwyder is, lê die raaisel in wat daarná met die goudskat en (nou) skaars goue munte gebeur het.

Sommiges sê dat dit (of ’n gedeelte daarvan) in die Laeveld-omgewing begrawe is, terwyl ander beweer dat ‘n aansienlike hoeveelheid daarvan saam met president Kruger geneem is toe hy teen die einde van 1900 na Europa gevlug het.

Wat wel bekend is, is dat president Kruger en sy naaste medewerkers op 4 Junie 1900 met voorbereidings begin het om die land te verlaat. Hulle het Pretoria per trein verlaat en na Machadodorp in die Laeveld gegaan. Hulle het “kantore” en blyplek in die treinwaens geskep en daar gebly totdat die tyd aangebreek het dat hulle die grens na Mosambiek kon oorsteek om van die hawestad Lourenco Marques na Europa te kon vertrek.

Volgens die legende het die trein ook ’n groot vrag goue munte en stawe vervoer en die storie het ’n paar dae later geloofwaardigheid verkry toe lord Milner ontdek dat ’n groot bedrag geld uit die SA Munt en Nasionale Bank verwyder is. Die finale berekening het aan die lig gebring dat meer as 1,5 miljoen pond reeds vermis was toe Milner beheer oor die Republiek oorgeneem het. Trouens, na verdere ondersoek het dit duidelik geword dat president Kruger se regering goud van die banke en myne begin besit het ’n paar maande voordat die oorlog selfs begin het, as voorkomende maatreël om te verseker dat dit nie in vyandelike hande beland nie. 4

President Kruger by die inwyding van die Paardekraalmonument

President Kruger se laaste jare

Terwyl hy en sy gesin as bannelinge in die buiteland was, is sy vrou in Julie 1901 oorlede – vir hom was dit natuurlik bitter moeilik om te aanvaar. Ook die Vredesluiting in Mei 1902 was vir hom swaar omdat dit beteken het dat sy land nie meer onafhanklik was nie.

President Kruger in onderhandeling met Britte

President Kruger se privaat sekretaris, sy dogter en haar man en sy persoonlike dokter was saam met hom in ballingskap. Hy het steeds uit die buiteland die leiers van sy volk met briewe aangemoedig.

In Mei 1904 het hy in Clarens in Switserland gaan bly. Hier is hy op 14 Julie 1904 oorlede. 1

Kruger se begrafnis

Woordbank

aansienlike Heelwat, in ’n groot mate, opmerklik, opvallend, baie.
aanstellerig Hoogmoedig, verwaand; dink jy is beter as ander.
afvaardiging ’n Groep mense wat ’n regering of ’n vereniging moet verteenwoordig, gewoonlik tydens ’n vergadering of onderhandeling.
annekseer Wanneer een land ’n gebied of ander land inlyf, dit wil sê vir homself vat.
ballingskap Uitsetting; verbanning uit jou eie land.
behendig Knap, handig, vaardig, bekwaam; sy hande staan vir niks verkeerd nie.
berekening Telling; getalle uitwerk.
burger ’n Burger is ’n lid van ’n staat.
diplomaat ’n Politieke onderhandelaar; ’n persoon wat deur ’n nasionale regering aangestel is om amptelike onderhandelinge te voer en politieke, ekonomiese en sosiale betrekkinge met ’n ander land of lande te handhaaf.
eise Gebiedende versoeke, dringende behoeftes, aansprake op regte.
front Eerste/voorste gevegslinie.
gedokumenteerde Deur dokumente gestaaf, feitelik, op die werklikheid gebaseer.
gegis Geraai; om oor iets te wonder.
geloofwaardigheid Waarheid, juistheid; jy kan dit glo.
historici Meervoud van “historikus”; Deskundiges op die gebied van die geskiedenis, geskiedkundiges, geskiedskrywers.
kommando Klein groep soldate wat opgelei is om vinnig teen die vyand se soldate op te tree.
gekonfiskeer In beslag neem; vat.
konflik Onenigheid, getwis, geskil, stryery, meningsverskille.
legende ’n Verhaal wat nie op historiese gronde nie, maar op volksoorlewering (oorvertelling van die een geslag na die volgende) berus.
lojaal Eerbaar; getrou aan iets/iemand.
lui In hierdie geval het dit niks te doen met luiheid of ’n klok wat lui nie. Dit beteken “die storie word soos volg vertel”.
manhaftig Dapper/moedig.
munt Geldstuk met die land se stempel (gesig van ’n minister/koning/president/ nasionale embleem, ens.) daarop.
onderhandel Om ’n saak te bespreek sodat mense daaroor kan besluit.
onverskrokke Dapper, sonder vrees.
skat Kosbare besitting, iets baie waardevols.
skutter Iemand wat met ’n geweer skiet.
sneuwel Wanneer iemand tydens ’n oorlog deur die ander land se soldate doodgemaak word.
staatmaak Op iemand se hulp steun/reken/te vertrou; om te weet die persoon/persone sal jou nie in die steek laat nie.
strategiese ’n Strategiese besluit beteken dat die persoon wat die besluit neem, goed daaroor gedink het en goeie planne gemaak het.
susereiniteit Die opperheerskappy van een staat oor ’n ander staat wat net gedeeltelik onafhanklik is.
taktiese Taktiek is ’n oorlogsplan, krygsplan, aanvalsplan; die kuns om soldate in ’n geveg op die beste manier te rangskik en te gebruik. Wanneer mens dus takties optree, doen jy dit volgens ’n sekere soort taktiek.
traumaties Om niks lekker te voel nie of angstig/gespanne/bang te wees nadat iets baie sleg met jou gebeur het. Só ’n geestestoestand kan vir jare by jou bly.
trekboere Hierdie boere was veeboere wat van plek tot plek getrek het om vir kort tye in plekke te bly waar daar goeie weiding (gras) vir hulle vee was.
troepe Gewone soldate sonder enige rang.
trotseer Verduur, oorleef, uitstaan.
uitmuntende Uitstekend, puik, voortreflik, eersteklas.
ultimatum ’n Dreigement wat sê as iemand nie doen wat jy sê nie, gaan hy/sy/hulle gestraf word.
veeleisende Wat baie inspanning verg; iets wat regtig moeilik is om te doen.
veldkornet Hierdie titel is veral in die 19de eeu gebruik. Dit was ’n amptenaar wat met die bestuur van plaaslike sake gehelp het en wat ondergeskik was aan die landdros.
visepresident Adjunkpresident; om tweede in bevel te wees.
Volksraad Die liggaam wat die wette maak in ’n land. Die lede van die Volksraad word verkies deur die inwoners van die land.
voorkomende Om te verhoed/keer dat iets gebeur. 7
Zoeloekrygers Soldate, vegsmanne, stryders.

Lees gerus hierdie artikels

Video’s oor pres. Paul Kruger

Hier kan jy kyk na ’n kort video oor Paul Kruger

Hierdie video vertel die interessante geskiedenis van die beeldegroep van Paul Kruger en die vier brandwagte rondom hom

Die wêreldbekende en waardevolle Krugerrande

Die raaisel van die Krugermiljoene

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 18 Oktober 2022 | Bygewerk op 18 April 2024