Vinnige feite

  • Reitz het regswerk in die Kaapkolonie, die Republiek van die Oranje-Vrystaat en die Unie van Suid-Afrika gedoen. 1
  • Sy loopbaan in die politiek en regte het oor 45 jaar gestrek.
  • Reitz het ʼn belangrike rol gespeel in die Afrikaner se kulturele lewe, onder meer deur die gedigte wat hy geskryf het. Hy het onder meer oor die dapper soldaat Louw Wepener ʼn gedig in sy bundel Oorlogs en Ander Gedichten (1910) geskryf. 1
  • Reitz was ʼn joernalis wat vir die Cape Argus gewerk het. Hy het gedigte in Engels, Nederlands en ook in ʼn vroeë vorm van Afrikaans geskryf.
  • Een van Reitz se seuns – Deneys Reitz – het in die Anglo-Boereoorlog teen die Britte geveg. Hy was die bevelvoerder van die Royal Scots Fusiliers se Eerste Bataljon tydens die Eerste Wêreldoorlog. Hy was ook lid van die Unieparlement, kabinetsminister en tussen 1939 en 1943 visepresident van die Unie van Suid-Afrika. Deneys het ʼn boek oor die Anglo-Boereoorlog geskryf, getiteld Commando: A Boer Journal of the Boer War. Hierdie boek word as ʼn baie goeie beskrywing van hierdie oorlog beskou. 1
  • Reitz was bekend as ‘n eerlike man met wie mense maklik oor die weg kon kom. Hy het ʼn goeie humorsin gehad en het sy liefde vir die land asook sy wetenskaplike manier van dink van sy pa gekry. 5
  • Reitz het gehelp om die Nasionale Museum in Bloemfontein te begin en was ook die voorsitter van die eerste bestuur van dié museum. 5

In Afrikaans is ‘n wonderlike spreekwoord wat lui: “Hy is met die goue lepel in die mond gebore.” ʼn Mens sê dit van iemand wat baie talentvol is en verskillende dinge goed kan doen. Só ʼn persoon was F.W. Reitz – hy was ʼn joernalis, politikus, ʼn goeie regsgeleerde, vir ses jaar president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat en dan was hy nog ʼn digter ook!

Pres. F.W. Reitz en pres. Paul Kruger voor die presidentswoning in Bloemfontein.

Jeugjare en gesin

Francis William Reitz is op 5 Oktober 1844 in Swellendam gebore. Hy was die seun van Francis William Reitz senior en Cornelia Magdalena Deneys. Sy pa was ʼn boer en ʼn politikus. Hy was die sewende van 12 kinders, en hy het grootgeword op die plaas Rhenosterfontein naby die Breederivier in die destydse Kaapkolonie. 1

Reitz het sy eerste skoolopleiding by die huis en op ʼn plaas langs sy ouers se plaas, ontvang. Toe hy in 1857 nege jaar oud was, het hy na die Rouwkoop-kosskool in Rondebosch gegaan. Hy was ʼn slim skolier wat talle pryse vir sy prestasies ontvang het. In hierdie jare het mense reeds gedink dat hy ʼn goeie leier is. In 1863 het hy sy studies voltooi. Sy kwalifikasie is gelykstaande aan ʼn BA-graad vandag. 1

Reitz is op 24 Junie 1874 met Blanka Thesen getroud. Sy was van Noorweegse afkoms. Haar familie het in 1869 van Noorweë af gekom en in Knysna gaan woon. Reitz en Blanka het sewe seuns en een dogter gehad. Nadat Blanka gesterf het, is Reitz in 1889 met Cornelia Maria Theresia Mulder getroud. Haar familie het oorspronklik van Nederland na Suid-Afrika gekom. Reitz en sy tweede vrou het ses seuns en een dogter gehad.

Belangstelling in die regte

Reitz het baie in die regte belang begin stel, en by die South African College verder in die regte begin studeer. Hy het sy studies in Londen voortgesit en in hierdie tyd ook in die politiek belang begin stel. Toe hy na Suid-Afrika terugkeer, het hy in Kaapstad as ʼn regsgeleerde begin werk.

Reitz het aan die begin gesukkel omdat daar in daardie stadium baie prokureurs in Kaapstad en gevolglik baie kompetisie tussen die prokureurs was. Hy het tog bekend geword as iemand met ʼn baie skerp regsbrein. As lid van die Kaapkolonie se rondgaande hof het hy baie ondervinding opgedoen. In hierdie tyd het hy ook politieke artikels vir die Cape Argus-koerant geskryf. 1

In 1870 het Reitz sy prokureurspraktyk na Bloemfontein geskuif. Hy het gedink dat hy baie werk sal kry nadat diamante by die Vaalrivier ontdek is. Ongelukkig het hy toe nie soveel werk gekry nie, en besluit om ʼn diamantprospekteerder in Griekwaland-Wes te word, waar hy ʼn klein diamantkleim naby die dorp Pniel gekoop het. Hierdie besigheid was nie suksesvol nie, en ná ʼn paar maande het hy na Kaapstad teruggetrek en weer sy prokureurspraktyk daar begin. Hierdie keer het hy sukses met sy praktyk gehad.

Pres. Jan Brand van die Republiek van die Oranje-Vrystaat het Reitz oorreed om voorsitter van die appèlhof in Bloemfontein, wat toe pas ontstaan het, te word. Van 1875 af was Reitz ook hoofregter van die Vrystaat. Hy het baie gedoen om die regswese in die Vrystaat te ontwikkel en wette te hersien. 2

Politieke loopbaan

In 1873 is Reitz verkies tot die verteenwoordiger van die distrik van Beaufort-Wes in die Kaapse parlement.

In 1881 is die Afrikanerbond gestig, en Reitz is as voorsitter gekies.

In 1888 is pres. Brand oorlede, en word Reitz as president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat verkies. Hy is in Januarie 1889 in Bloemfontein in hierdie amp bevestig. 2

Hy was die vyfde president van die Vrystaat en was in dié amp van 1889 tot Desember 1895. 3

Die ou raadsaal in Bloemfontein wat in ‘n stadium as ‘n hospitaal gebruik is.

Reitz was die eerste politieke leier wat ʼn beleid ten opsigte van swart mense in die Vrystaat ontwikkel het.

Hy het ook die ekonomie verder ontwikkel. Hy het ʼn tolooreenkoms met die Kaapkolonie gesluit, waaruit die Vrystaat ‘n stewige inkomste gekry het. Dit was ook vir hom belangrik om die spoorweë te ontwikkel, en in 1892 is die spoorlyn wat deur die Vrystaat loop en Kaapstad met Johannesburg verbind, voltooi.

In 1889 het Reitz ʼn politieke ooreenkoms met die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) gesluit. Hierdie ooreenkoms het bepaal dat die een republiek die ander een sal help indien een aangeval word. 2

Afrikaner se kultuurlewe

Terwyl hy president was, het Reitz gehelp dat Afrikaans in ʼn erkende volkstaal ontwikkel. Hy het self gedigte vir Het Volksblad geskryf. Twee daarvan is Klaas Gezwint en Zihn Paert (1870) en Die Steveltjies van Sannie (1873). Van die temas in sy gedigte was godsdiens en die nasionale strewe van die Afrikaner. 2

Hy het as joernalis by die Cape Argus gewerk en gedigte in Engels, Nederlands en Afrikaans geskryf. Die Afrikaans wat hy gebruik het, was nie die Afrikaans wat ons vandag gebruik nie, maar ʼn vroeë vorm van Afrikaans. 4 Reitz was nie lid van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) nie, maar hy het hulle werk gesteun.

Reitz het gesorg dat die regering van die Vrystaat baie geld vir die ontwikkeling van onderwys in die Vrystaat bewillig het. 2

Die vergadering van Pres. Reitz van die Vrystaat en Pres. Kruger van die ZAR by geleentheid van die aansluiting van Transvaal en Vrystaat per spoor, 21 Mei 1892.

Siekte beëindig presidentskap

Aan die einde van 1895 was Reitz baie siek aan geelsug, en hy moes as president van die Vrystaat bedank. Hy en sy gesin het na Europa vertrek. In 1897 het hy goed genoeg herstel sodat hy en sy gesin na Pretoria kon terugkeer, waar hy weer as advokaat begin werk het. 2

Pres. F.W. Reitz en sy gesin in ‘n koets

Reitz en die Anglo-Boereoorlog

ʼn Paar maande nadat hy teruggekeer het na Suid-Afrika, is hy as regter aangestel. In Junie 1898 is hy verkies tot staatsekretaris van die ZAR. Dit was vir hom baie belangrik dat die ZAR onafhanklik moes bly.

Toe Brittanje se soldate in 1899 op die grens van die ZAR bymekaar begin kom, het Reitz die ultimatum gesteun dat daar oorlog gaan kom as die Britte nie hul soldate onttrek nie. Toe die oorlog uitbreek, is Reitz as staatsekretaris saam met ander lede van die regering oorlog toe.

In Mei 1990 het Reitz sy gesin na Nederland gestuur. Op 31 Mei 1902 was hy een van die Boere wat die Vrede van Vereeniging moes onderteken om die oorlog te beëindig.

Reitz het ʼn paar maande by sy gesin in Nederland aangesluit. 2

Boere byeen vir ‘n dankdiens ná hulle oorwinning by Stormberg.

Laaste deel van sy loopbaan

In 1907 het generaals Louis Botha en Jan Smuts Reitz oorreed om na Suid-Afrika terug te keer. Hy het teruggekeer en in Seepunt gaan woon. In 1910 het hy die eerste president van die Senaat van die Unie van Suid-Afrika geword. Hy was vir nege jaar lank in hierdie pos.

Reitz was tot in 1929 ʼn senator. Hy het ook steeds vertaalwerk gedoen en geskryf.

Hy is op 27 Maart 1934 in Kaapstad oorlede. 2

Francis William Reitz Senior, Swellendam.

F.W. Reitz se nalatenskap

F.W. Reitz word onder meer deur die volgende gedenkgebare onthou:

  • Die dorp Reitz in die Noordoos-Vrystaat is na F.W. Reitz vernoem.
  • In Reitz is die plaaslike skool ook na hom vernoem.
  • In Gouda (Suid-Afrika) is daar ʼn straat wat na hom vernoem is.
  • Daar is ʼn monument met ʼn standbeeld van Reitz in Bloemfontein.
  • Die Universiteit van die Vrystaat (voorheen Universiteit van die Oranje-Vrystaat) besit ʼn borsbeeld van Reitz wat deur Anton van Wouw gemaak is. 5
  • Een van die manskoshuise van die Universiteit van die Vrystaat is na Reitz vernoem.
  • Die dorp Cornelia in die Noordoos-Vrystaat is na Reitz se tweede vrou vernoem. 5
Die standbeeld van Francis William Reitz in Bloemfontein.

Woordbank

afkoms Oorsprong of herkoms; in hierdie geval die land waarvandaan ʼn persoon kom.
hersien Iets nagaan en verbeter.
joernalis Iemand wat vir ʼn koerant, tydskrif of televisiestasie nuusberigte skryf.
diamantkleim ʼn Stuk grond waarin daar moontlik waardevolle edelstene of minerale kan wees. So ʼn stuk grond word dan deur ʼn delwer (‘iemand wat na goud of diamante soek’) vir homself afgepen of uitgehou om daarin te soek.
kompetisie Mededinging, wedywering – wanneer iemand beter of meer suksesvol as iemand anders probeer wees.
kosskool ʼn Skool met ʼn koshuis waar leerders wat ver van die skool af woon, kan bly.
nasionale strewe Om daardie dinge wat eie aan ʼn land se mense is, soos taal en kultuur, te bevorder.
prestasies Iets belangrik wat ʼn mens bereik – soos om goeie punte vir ʼn eksamen te kry of ʼn goeie plek in die 100 m-atletiekitem te behaal.
diamantprospekteerder Iemand wat ʼn terrein ondersoek om te kyk of daar diamante in die grond is.
rondgaande hof ʼn Hof wat tussen kleiner dorpe beweeg en daar hofsittings het.
tolooreenkoms Daar word tolgeld gevra by tolhekke, soos ons dit vandag goed ken op Suid-Afrika se hoofpaaie. Hierdie tolhek sou op die grens tussen die Kaapkolonie en die Republiek van die Oranje-Vrystaat gewees het.
ultimatum Die laaste eis of voorwaardes waar daar diplomatieke onderhandeling tussen twee lande is. Indien die eis nie toegestaan word of die voorwaardes aanvaar word nie, word oorlog verklaar.
Gepubliseer op: 11 Oktober 2022 | Bygewerk op 27 Februarie 2024