Vinnige feite

  • M.T. Steyn se pa was ʼn persoonlike vriend van Jan Brand, terwyl Brand president van die Vrystaat was. 5
  • President Steyn het gesê dat hy nooit ʼn dokument sal onderteken waarin die twee republieke hul onafhanklikheid verloor nie. Toe hy siek word en generaal de Wet namens die Vrystaatse regering aan die einde van die Anglo-Boereoorlog die dokument moes onderteken waarmee vrede gesluit is, het sy besluit dus waar geword. 1
  • President Steyn moes vir drie jaar in Europa behandeling van dokters ontvang. 1
  • Toe president Steyn na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy op sy plaas Onze Rust, naby Bloemfontein, gaan bly. 1
  • Toe M.T. Steyn genomineer is om as president van die Oranje-Vrystaat te staan, was die ander kandidaat vir die pos Colin Fraser. Hy was die oom van Steyn se vrou Tibbie. 3
Foto: iStock

Moes jy al by die skool probeer om te keer dat van jou maats met mekaar baklei? Dit is nie ʼn maklike ding om reg te kry nie. M.T. Steyn moes vir ʼn belangrike tyd in die geskiedenis van Suid-Afrika probeer om verskillende leiers en verskillende lande te keer om met mekaar oorlog te maak. Hy was ʼn vredemaker wat goed met verskillende soorte mense klaargekom het, maar kon ook goed oorlog maak wanneer dit nodig was.

M.T. Steyn en sy seun Colin, voor ABO

Wie was M.T. Steyn?

Marthinus Theunis Steyn – bekend as M.T. Steyn – is op 1 Oktober 1857 op Rietfontein naby Winburg in die Vrystaat gebore. Hy was een van 11 kinders van sy pa, Marthinus Steyn, en sy ma, Cecilia Johanna Wessels. Sy pa was ʼn bekende wamaker in Swellendam voor hy na die Oranje-Vrystaat verhuis het. As jong seun het M.T. op ʼn plaas naby Bloemfontein soos ʼn gewone boerseun, grootgeword. Hy was veral lief vir sy perd en geweer. 1

Pres. Steyn, mev. Tibbie en generaal J.B.M. Hertzog, na die bekragtiging van die Suid-Afrikaanse wet, Europa

Hy het na ʼn plaasskool naby hulle blyplek gegaan en het later na Grey College in Bloemfontein gegaan. Hy is in 1887 met Rachel Isabella (“Tibbie”) Fraser getroud, en hulle het sewe kinders gehad. Tibbie was van Skotse afkoms (haar familie was Skotte). 1

Haar pa was een van die predikante van die NG kerk wat deur die Britse regering na Suid-Afrika gelok is om te help om die bevolking te verengels (hulle Engels in plaas van Nederlands of Afrikaans te laat praat). Ds. Fraser het Engelssprekend gebly, maar hy het met sy Afrikaanse gemeente in Philippolis (in die Vrystaat) geïdentifiseer. (Hy en die gemeente het ʼn goeie verhouding gehad, al was hy Engels en die gemeente Afrikaans.) 2

M.T. Steyn, die regsgeleerde

Omdat sy pa lid van die Vrystaatse Volksraad was, het hy gelukkig genoeg geld gehad om sy seun verder te laat studeer. Hy het in 1877 in Nederland en in 1880 in Londen gaan studeer. 3

Nadat hy in 1882 klaar studeer het, kon hy in Engeland as advokaat werk, nadat hy tot die balie toegelaat is (hy kon begin om as advokaat te werk). Hy het egter gekies om terug te keer na Suid-Afrika, en hy het in Bloemfontein as advokaat begin werk. Hy het tot in 1889 as regsgeleerde daar gewerk. 3

M.T. Steyn as student in Skotland

Hy het as advokaat oral in die Oranje-Vrystaat in die rondgaande hof opgetree (ʼn hof wat oral op dorpe sake aangehoor het).

Pres. Steyn en sy vrou saam met vriende, Kroonstad

In Januarie 1889 word hy die staatsprokureur van die Oranje-Vrystaat, en in dieselfde jaar word hy as regter aangestel. Omdat hy so ʼn goeie advokaat en regter was en ook ʼn baie aangename mens was, was hy baie gewild onder die Boeremense van die Vrystaat. 1

M.T. Steyn en sy gesin kort na die ABO

Nuwe president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat

Toe F.W. Reitz, wat toe president van die Oranje-Vrystaat was, in 1895 sy amp moes neerlê (moes ophou om president te wees) – word M.T. Steyn op 19 Februarie 1896 as die nuwe president gekies. In sy tyd as president het hy baie goeie dinge vir die Vrystaat gedoen. Hy het onder meer die landbou moderniseer en skole verbeter. Hy het ook hard gewerk om Nederlands as taal in die staatsdiens, onderwys en in die sakewêreld te versterk, sodat Nederlands nie so deur Engels oorheers moes word nie. 1

Hy het probeer om goed met president Paul Kruger van die ZAR saam te werk. Die twee presidente het mekaar ʼn hele paar keer ontmoet. Hulle het onder meer besluit dat die een republiek die ander een sou help, indien hulle deur vyande aangeval sou word. 1

President Steyn en die Anglo-Boereoorlog

President Steyn het hard probeer om die oorlog te keer, maar hy het gesien dat Brittanje elke keer nuwe eise (dinge wat hulle wou hê) aan die ZAR en president Kruger gestel het. Brittanje het al hoe meer soldate na die grense van die ZAR en die Republiek van die Oranje-Vrystaat gestuur. Uiteindelik het die twee republieke op 9 Oktober 1899 ʼn ultimatum aan Brittanje gestel dat die soldate onttrek moet word, anders sou die republieke oorlog teen Brittanje verklaar. Toe Brittanje dit nie doen nie, het die oorlog op 11 Oktober 1899 begin.

Pres. Steyn se ontvangs by De la Rey se laer

President Steyn het tydens die oorlog saam met die kommando’s in die veld geleef. Hy het gereeld die Boere se soldate besoek om hulle aan te moedig. Hy het ʼn dag voor die Britse soldate Bloemfontein ingeneem het, die stad verlaat en na Kroonstad uitgewyk. Kroonstad is toe die nuwe setel of hoofstad van die Oranje-Vrystaat gemaak. Vir die res van die oorlog het president Steyn die hele tyd die Britse soldate wat hom wou vang, ontwyk. Hy het vir tye ook saam met generaal de Wet se kommando rondgetrek. ʼn Mens kan dus sê hy het ʼn “regering in die veld” gehad.

Pres. Steyn (heel regs), Abraham Fischer (tweede van regs) en hul personeel te velde

Hy het dikwels vir president Kruger moed ingepraat en hom aangemoedig om met die oorlog voort te gaan. Laat in 1900 is besluit dat president Kruger na Europa gestuur moet word – hy was teen hierdie tyd reeds baie oud. Hierna moes president Steyn ʼn hele paar keer die ander leiers van die ZAR aanmoedig om met die oorlog aan te gaan.

Hy het deur die hele oorlog gestry om die onafhanklikheid van die twee republieke te behou. Teen die einde van die oorlog het hierdie groot spanning hom siek gemaak en ook sy oë aangetas. Hy was te siek om op 31 Mei 1902 die vredesverdrag te onderteken, en generaal de Wet het dit in sy plek onderteken. 1

Pres. Steyn se eerste amptelike besoek, Harrismith
Steyn op sy perd

President Steyn se laaste jare

Nadat die oorlog geëindig het, het President Steyn vir mediese behandeling na Europa gegaan – hy was op hierdie stadium heeltemal verlam. Toe hy in 1905 terugkom na Suid-Afrika, was hy die leier van die span wat die Vrouemonument laat bou het. [Lees hier oor die Vrouemonument.]

Daarna word onderhandel oor die stigting van die Unie van Suid-Afrika. Hy het Londen in 1909 saam met ʼn afvaardiging besoek om die Grondwet van die Unie te bespreek. Terwyl hy daar was, het hy weer na die dokters gegaan, en hulle het vir hom die raad gegee om nie meer aan die openbare lewe deel te neem nie (om af te tree en nie meer te werk nie).

Steyn en sy kamerade saam met ds. Gillot in Rusland na hul ontsnapping

Terug in Suid-Afrika het hy steeds raad gegee aan die Afrikanerleiers soos generaals J.B.M. Hertzog en Louis Botha.

Op 28 November 1916 is hy die spreker tydens ʼn vergadering van die Oranje Vrouevereniging in Bloemfontein, toe hy tydens die toespraak gesterf het. Hy was net 58 jaar oud. Hy is aan die voet van die Vrouemonument begrawe. 4

Van regs: Pres. Steyn, sy vrou en ‘n Russiese dokter, Kroonstad

Tibbie Steyn – ʼn vrou wat onthou sal word

Tibbie is op 5 Maart 1865 gebore en het ná skool ʼn onderwyseres geword.

Sy is met advokaat M.T. Steyn van Bloemfontein getroud, en toe hy in 1896 President van die Oranje-Vrystaat geword het, het sy die Boere volledig gesteun, al was sy eintlik ʼn Skot.

Toe die Britse soldate in die Anglo-Boereoorlog na Bloemfontein op pad was, moes sy saam met haar kinders na Pretoria gaan. Sy wou nie na Europa vlug nie en het weer na haar man in die Vrystaat gegaan. Hulle moes saam met die regering van die Vrystaat kort-kort van plek verander om voor die Britse soldate weg te kom.

Tibbie Steyn

Sy het later saam met haar kinders in Fouriesburg gebly en daarna weer in Bloemfontein. In beide plekke is sy en haar kinders in huisarres geplaas. Die Britte wou hê dat sy haar man moet oorreed (hom moet ompraat) om oor te gee en het gedreig dat sy verban sou word as sy dit nie doen nie. Sy het geweier om dit te doen.

Begrafnisstoet van pres. Steyn, Bloemfontein
Generaal De Wet aan die woord tydens M.T. Steyn se begrafnis

Toe Emily Hobhouse Bloemfontein in Januarie 1901 besoek het om te kyk hoe dit in die konsentrasiekampe gaan, het die twee vroue groot vriendinne geword. [Lees meer hier oor konsentrasiekampe.] Ná die oorlog het Tibbie gehelp om fondse in te samel om die Vrouemonument in Bloemfontein op te rig. Tibbie het ook op 16 Desember 1916 die monument se onthulling waargeneem. Dit was kort nadat haar man oorlede is.

Tibbie is op 3 Januarie 1955 oorlede en is aan die voet van die Vrouemonument in haar man se graf begrawe. In die jare voor haar dood, het sy baie eerbewyse ontvang vir alles wat sy vir die Afrikanervolk gedoen het. 4

Nasionale Vrouemonument, Bloemfontein

M.T. Steyn se begrafnisprogram

Woordbank

afvaardiging ʼn Groep mense wat gekies is om namens ʼn ander groep mense of ʼn land te gaan onderhandel.
huisarres Wanneer ʼn mens deur die polisie beveel word om nie jou huis te verlaat nie.
kandidaat Iemand wat hom of haar beskikbaar stel om verkies te word vir ʼn pos in die openbare lewe, soos in ʼn regering.
konsentrasiekampe So ʼn kamp word gewoonlik in ʼn oorlog gebruik om oorlogsgevangenes aan te hou. In Suid-Afrika het die Britse regering konsentrasiekampe gebou om die Boere se vroue en kinders in gevange gehou. Hulle wou die vroue van die plase af kry, sodat hulle nie die Boere se soldate kon help met kos en skuiling terwyl hulle oorlog gemaak het nie.
genomineer Om iemand vir ʼn pos of posisie te benoem of voor te stel.
ontwyk Om iets vry te spring of te ontduik, byvoorbeeld om gevangenisskap deur Britse soldate te vermy.
plaasskool Skool wat formele onderrig aan kinders van ʼn plaasgemeenskap bied; tot in die 1960’s was daar nog baie plaasskole op die platteland waar kinders wat op plase gebly het, skoolgegaan het.
regsgeleerde Iemand wat in die regte gestudeer het en daarna as prokureur of advokaat werk.
ultimatum Die heel laaste voorwaarde wanneer daar onderhandeling tussen twee lande plaasvind. Indien die een land so ʼn voorwaarde stel en die ander land nie daarna luister nie, word oorlog verklaar.
verban Wanneer iemand gedwing word om ʼn land vir altyd te verlaat.
Vrouemonument Monument in Bloemfontein wat opgerig is om die vroue en kinders wat in die Anglo-Boereoorlog gesterf het, te vereer.
wamaker Dit was ʼn belangrike beroep in die jare voor en gedurende die Groot Trek omdat ossewaens die Boere se vervoermiddels was. 6

Lees en kyk na hierdie artikels om nog meer te leer oor M.T. Steyn en die Vrouemonument

  • By hierdie vier skakels kan jy meer lees oor die geskiedenis van die Vrouemonument en ook kyk na ʼn foto van dié monument.

Lees meer 1

Lees meer 2

Lees meer 3

Lees meer 4

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 19 Oktober 2022 | Bygewerk op 27 Februarie 2024