Vinnige feite

  • In die laat vyftiende eeu was daar nog baie bygelowe en stories oor dele van die wêreld wat nog nie aan die ontdekkingsreisigers bekend was nie. ’n Verhaal deur die Portugese digter Luís Vaz de Camões vertel die storie van ’n reus met die naam Adamastor wat in die berge rondom die Kaapse Skiereiland gewoon het. Sodra iemand probeer het om naby sy blyplek te kom, sou hy vreeslike storms veroorsaak het. 23
  • Vasco da Gama se pa was ook ’n ontdekker en het eerste opdrag gekry om ’n seeroete tussen Portugal en Indië te vind. Hy is egter oorlede voordat hy dié reis kon aanpak, maar sy seun kon wel daarin slaag. 24
  • Da Gama gee die volgende beskrywing van die mense wat hy in St. Helenabaai (sowat 200 km noord van Kaapstad) op 8 November 1497 ontmoet het: “Die inwoners van hierdie land is bruin van kleur. Hulle kos bestaan uit die vleis van seerobbe, walvisse en bokkies, en die wortels van plante. Hulle dra dierevelle vir klere en hulle is gewapen met olyfboompale waaraan ’n skerp horing, wat in ’n vuur bruin gemaak is, vasgemaak is.” 15
  • Vasco da Gama het drie groot ontdekkingstogte in sy leeftyd onderneem, en tussen die eerste en die tweede een is hy met Catarina de Ataíde in 1500 getroud. Hulle het sewe kinders gehad –  ses seuns en een dogter: Cristovao da Gama, Estêvã da Gama, Alvaro de Ataíde da Gama, Francis da Gama, Pedro de Silva da Gama en Paulo da Gama. Sy dogter was Isabel d’Ataíde da Gama. 25
  • Daar is ’n krater op die westelike deel van die maan wat na Vasco da Gama vernoem is. Dit lê net suid van Einstein, ook ’n groot krater op die maan. 26
  • Meer as 2 500 skepe het sedert die 1500’s langs die Suid-Afrikaanse kus gesink. Dit sluit in skepe van Portugese ontdekkingsreisigers, Nederlandse, Engelse en Franse Oos-Indiese maatskappye, die Britse vloot en vele meer. Van die skepe het eenvoudig spoorloos verdwyn. 27
  • Die klippilare of kruise wat op verskeie punte langs die Suid-Afrikaanse kus deur Portugese ontdekkingsreisigers van die 15de en vroeë 16de eeu opgerig is om Portugese soewereiniteit te verklaar, Christenskap te verkondig en as ’n baken te dien, word padrãos genoem. 28
Foto: iStock

Ons kos sou darem baie vaal, vervelig en smaakloos gewees het as dit nie vir heerlike kruie en speserye was nie. Om nie eens van die belangrikheid van sout en peper as geurmiddels te praat nie! Danksy ontdekkingsreisigers soos Vasco da Gama kan ons vandag met kleur en geur van reg oor die wêreld op ons speseryrak spog. En gelukkig is peper darem nie meer peperduur nie!

Nou waarom was peper dan so verskriklik duur? Sedert die antieke tye was peper (ook “die koning van speserye” genoem) nog altyd die gewildste spesery in die wêreld. Boonop het dit ‘n sentrale rol in die medisyne van antieke Indië en China gespeel. 1

In daardie tyd is peper ook as geldeenheid gebruik. Lospryse, bruidskatte, huur en selfs belasting is met peperkorrels betaal! 2 [Lees hier oor belasting.]

Drome van die verkryging van speserye, veral peper, het Vasco da Gama (omstreeks 1469-1524) om die Kaap van Afrika na die Indiese Oseaan en Christopher Columbus (1451-1506) oor die Atlantiese Oseaan na die Nuwe Wêreld gedryf. 3

Danksy dié Portugese ontdekkingsreisiger, wat drie groot verkenningstogte onderneem het en ’n seeroete tussen Europa en Indië via die Kaap die Goeie Hoop gevind het, het die wêreld eensklaps “groter” geword. As dit nie vir Da Gama en vele ander dapper seevaarders van verskeie lande was nie, sou ons ook nooit sekere dele van die aarde ontdek en bewoon het nie.

Seewater kleintyd al in sy are

Dit is nie presies seker wanneer Vasco da Gama gebore is nie, maar daar word gereken dat dit waarskynlik in 1460 was. Sommige bronne meen weer hy is in 1469 gebore. Ons weet egter wel dat hy sy eerste lewenslig in Sines aan die kus van die Alentejo-provinsie in die suidweste van Portugal aanskou het. Met die seebriesie wat elke dag deur sy hare gewaai het en die smaak van die soutwatersproei op sy tong het Vasco sommer van kleins af ’n liefde vir die see ontwikkel. 4

Vasco was die derde van vyf seuns en hy het ook ’n suster gehad. 5

Da Gama se pa, Estêvão da Gama – self ’n ontdekker wat later tot ridder geslaan is – het ’n baie suksesvolle militêre loopbaan gehad, onder meer as bevelvoerder van die fort in Sines. Hy was ook die burgerlike goewerneur van Sines rondom die tyd van Vasco se geboorte. Vasco se ma, João Sodré, het uit ’n welgestelde (ryk) familie gekom. 2

Vasco is nie net kleintyd in die kuns van navigasie en skeepvaart touwys gemaak nie, maar hy het ook ’n goeie skoolopleiding ontvang. Vasco se skool was in ’n groter dorpie genaamd Évora, sowat 110 km van Sines. Hier het hy gevorderde wiskunde (moeiliker wiskunde) geleer en die beginsels van navigasie bestudeer. Teen vyftien was hy vertroud met handelskepe wat in die hawe vasgemeer was en op 20-jarige ouderdom was hy reeds die kaptein van ’n skip! 6

In 1492 kry Vasco sy eerste opdrag van koning John II van Portugal om Franse skepe in die hawe en die kus van Algarve oor te neem uit weerwraak vir die Franse seerowers se aanvalle op Portugese skepe wat slawe vervoer het. Die digter Garcia de Resende skryf in sy boek Crónica de D. João II (‘Die verhale van Koning Johan II’) dat Vasco da Gama baie braaf (dapper) en suksesvol was. 7

Die era van verkenning

Die era van verkenning vind in dieselfde tyd as die Renaissance plaas, vanaf vroeg in die 15de eeu (1400’s) tot die 17de eeu (vroeg 1600’s). Dié era kan in twee dele verdeel word: die ontdekking van seeroetes en kolonisering.

Tydens die eerste gedeelte was die doel van die reise om nuwe seeroetes na die Ooste te vind. Met dié reise het die seevaarders plekke soos die Amerikas (Noord- en Suid-Amerika) ontdek wat hulle die Nuwe Wêreld genoem het. Tydens die tweede gedeelte van hierdie era fokus die Europese lande op die kolonisering van die Amerikas, Afrika, asook Australië en Nieu-Seeland. 8

Portugal se rol in die ontdekking van die wêreld

Behalwe dat die Europeërs graag die Christendom wou uitbrei, was handel die grootste rede waarom dit vir hulle belangrik was om goedkoper maniere te vind om waardevolle (duur) dinge soos sy, porselein, ivoor en veral speserye in die hande te kry.

Portugal was grootliks verantwoordelik vir die bekendstelling van slawehandel aan die Amerikas deur kolonies op voorheen onbewoonde eilande te vestig wat as versamelpunte vir gevangenes en kommoditeite (goedere) gedien het. 9

Dit klink dalk vandag vir ons vreemd om te dink dat speserye só belangrik was dat ’n hele nuwe seeroete gevind moes word, maar in daardie tyd was speserye skaars en baie waardevol. Die rede vir die hoë koste was die feit dat baie land- en seeroetes deur Turkye en Arabië beheer is. ’n Mens moes belasting betaal vir die voorreg om enigiets op dié roetes te vervoer, en die belasting was só hoog dat handelaars se wins al hoe minder geword het. Die oplossing was om ’n regstreekse (direkte) roete tussen Europa en die Ooste te vind. 10

Portugal was reeds teen die middel van die 15de eeu die wêreldvoorloper op die gebied van navigasie, die bou van skepe en kartografie. Hierdie voorsprong kan toegeskryf word aan, onder meer, die belangstelling en geesdrif wat die leiers van Portugal in skeepvaart gehad het.

Prins Hendrik, die Seevaarder (1394-1460), het byvoorbeeld die beste kartograwe, aardrykskundiges, astronome en navigators aangestel om ’n seevaartskool in Portugal te begin. Boonop het hy hierdie ontdekkingstogte vir 40 jaar lank finansieel ondersteun. Portugal het baie winsgewend handel gedryf met slawe en goud, maar die suidelike kus van die Afrika-kontinent het onbekend gebly vir die Europeërs, totdat Da Gama die roete tussen Portugal en Indië ontdek het. 11

Vasco da Gama se eerste ekspedisie vanaf Lissabon na Afrika

Dit was eers in 1487 toe die Portugees Bartolomeu Dias om die suidpunt van Afrika gereis het, dat hy vasgestel het dat die Atlantiese en Indiese Oseaan nie deur land omring word nie en dat ’n seeroete tussen Europa en Indië ’n moontlikheid is. Dias het tot by Kwaaihoek in vandag se Oos-Kaap gereis voordat hy deur die bemanning gedwing is om terug te draai omdat daar nie meer baie kos aan boord was nie. 12

Die speseryroete

Het jy geweet daar is ’n plek in die Wes-Kaap wat ook Spice Route (speseryroete) genoem word?

Wanneer handelskepe in die jaar toet in die Kaapse hawe vasgemeer het, het seevaarders hul skeepshorings geblaas om hul aankoms aan te kondig – ’n geluid wat tot by die plase teenaan Paarl se berg gehoor kon word. Hierdie geluid het die boere van omliggende gebiede genooi om op hul perdekarre te klim om voorrade te gaan haal en handel te dryf.

Nou, hierdie groot plaas met die naam Spice Route is, soos in die ou tyd, ’n plek van samekoms van diverse (verskillende) ambagsmanne wat allerhande interessante goed maak of voorberei – ’n versameling van geure en ’n viering van ’n verskeidenheid kulture. Hier kry ‘n mens ’n idee van die atmosfeer van die ouwêreldse handeldryf en gesellige samekoms van mense. 13

Spice Route

Maar terug na Vasco da Gama: Sedert antieke tye het handel ’n belangrike rol in mense se lewe gespeel. Wanneer ons iets koop, ruil ons een ding (gewoonlik geld) vir iets anders (kos, klere, ’n fiets, rekenaar, ensovoorts). Die produk wat ons in die winkel koop, is die laaste skakel in ’n lang ketting van kopers en verkopers: van die verskaffer van grondstowwe, tot die vervaardiger, dan groothandelaar en, laastens, die winkel. As die goedere wat ons koop van die buiteland kom, kan daar nog verskeie ander skakels (tussenpersone of -handelaars) tussenin wees. 6

Die reis van die goedere tussen al hierdie skakels in die ketting word ’n handelsroete genoem. In die geval van die speseryroete is die skakels die handelaars wat goedere van hawe tot hawe geneem en gekoop en verkoop het. Die belangrikste en winsgewendste goedere waarmee hulle handel gedryf het, was speserye. Dit is waar dié roete sy naam kry. 6

Reeds in 2000 v.C. het speserye soos kaneel van Sri Lanka en China hul weg langs die speseryroete na die Midde-Ooste gevind. Ander goedere is ook uitgeruil – vragte ivoor, sy, porselein, metale en skitterende edelstene het groot winste opgelewer vir die handelaars wat bereid was om die gevaarlike seereise aan te durf.

Kosbare goedere was egter nie die enigste ruilmiddel nie. Die uitruil van kennis was ewe belangrik: kennis van nuwe volke en hul godsdienste, tale, kundigheid, asook kuns- en wetenskaplike vaardighede. Die hawens langs die speseryroete was ’n mengelmoes van uiteenlopende idees en inligting. Elke skip wat ’n vrag waardevolle goed afgelaai het, het weer ’n vrag nuwe kennis oor die see na die volgende hawe geneem. 6

Die speseryroete is dus die naam van die netwerk van seeroetes wat die Ooste met die Weste verbind. Dit strek van die weskus van Japan, deur die eilande van Indonesië, rondom Indië tot by die lande van die Midde-Ooste – en van daar af oor die Middellandse See na Europa. Dit is ’n afstand van meer as 15 000 kilometer en, selfs vandag nog, is dit glad nie ’n maklike reis nie. 6

Hoewel daar op die syroete ook handel gedryf is met speserye, was hierdie roete oor die land. Die speseryroete was dus die seeroete.

Historiese reis na Indië

Tien jaar het verloop sedert Dias se reis om die suidelike punt van Afrika voordat koning Johan II in 1497 aan Vasco da Gama die opdrag gee om ’n seeroete tussen Europa en Indië te vind. Da Gama en sy 170 manskappe vertrek op 8 Julie 1497 uit Lissabon, Portugal se hoofstad, met die São Gabriel, São Rafael (beide skepe van 120 ton), die Berrio (’n 50 ton-karveel) en ’n 200-ton skip wat vrag vervoer het. 2

Saam met Vasco was sy broer Paulo, Bartolomeu Dias, en drie tolke – twee wat Arabies kon praat en een persoon wat ’n paar inheemse Afrikatale kon praat. Klippilare wat die ontdekkingsreisigers opgerig het om te wys dat hulle ’n sekere plek bereik het, is ook saamgeneem. Die vloot van vier skepe kies koers van Lissabon tot in Sierra Leone wat reeds aan die Portugese vaarders bekend was. Hierna vaar Da Gama in ’n suidwaartse rigting om die Atlantiese Oseaan oor te steek. In ’n poging om die slegte weer langs die kus van Afrika te vermy, sou hy soms ’n ompad van meer as 9 500 km vaar sonder om enige land te sien. 2

Hoogtepunte van Da Gama se historiese reis na Indië

  • Julie 1497: Die skepe bereik die Kaap Verdiese Eilande waar Bartolomeu Dias die ekspedisie verlaat. Hy keer later na Portugal terug met goud en slawe wat gebruik sou word om vir verdere ontdekkingsreise te betaal. 14
  • Oktober 1497: Nadat die skepe verby Sierra Leone gevaar het, stuur Vasco da Gama die ekspedisie in ’n suidelike rigting sonder om enige land te sien. Nadat hulle die ewenaar oorsteek, kom Da Gama die westelike winde teë wat Bartolomeu Dias gewaar het. 15
  • Op 4 November, ná vier maande wat hulle geen land gesien het nie, gewaar die manne uiteindelik land. Ná sowat 10 000 km op see, het hul krete groot blydskap en dankbaarheid gebring. Vasco beveel dat die skepe in ʼn baai anker gooi. Hy vernoem St. Helenabaai na Konstantyn die Grote se ma (Bahía de Santa Elena). Soos Dias, ontmoet Vasco en sy bemanning ook die plaaslike Khoi-inwoners. Hulle sit hul reis ná ’n paar dae voort. 16
  • Net soos Dias, het Da Gama ook gesukkel om verby die Kaap die Goeie Hoop te vaar. Dis eers ná verskeie probeerslae dat Da Gama en sy manskappe op 22 November 1497 daarin slaag om dié gevaarlike waters ongeskonde te bevaar. 17
Vasco da Gama by Kaap die Goeie Hoop
  • By Mosselbaai verbrand hulle die voorradeskip Beirro omdat dit erg beskadig was.
  • 16 Desember 1497: Op hierdie dag bereik hulle die Groot Visrivier waar Bartolomeu Dias jare terug omgedraai het. 18
  • 25 Desember 1497: Nadat hulle ’n paar dae by die mond van die Groot Visrivier vertoef het, bereik die groep ’n plek naby die hedendaagse KwaZulu-Natalse kus wat hy Natalia doop omdat hulle dit op Kersdag gesien het. 19
  • Januarie 1498: In die volgende paar weke vaar hulle tot by die Limpoporiviermonding en ongeveer 85 km daarvandaan ontmoet hy vir die eerste keer swart mense wat waarskynlik ’n Tsonga-stam was wat noord van die Limpopo geleef het. Omdat die mense so vriendelik was, het Da Gama die streek ‘Die land van goeie mense’ genoem en kort daarna verneem van ʼn magtige swart ryk in die binneland – vermoedelik Zimbabwe van vandag. 15
  • Middel-Februarie 1498: Die skepe bereik die mond van die Zambezirivier waar hy Moslems (aanhangers van die Moslem-geloof) teëkom. 15

  • Februarie 1498: Vasco was bang dat die mense van Mosambiek vyandig teenoor ’n Christen sou wees en daarom vermom hy homself soos ’n Arabiese handelaar. Toe hy dit nie regkry om ’n geskikte geskenk aan die sultan (koning) van Mosambiek te gee nie, het die inwoners agterdogtig begin raak. Vasco en sy bemanning moes uit Mosambiek vlug uit vrees vir hul lewe. Hierna vertrek die ekspedisie na Mombasa in Kenia. 20
  • Later in Februarie 1498 land Vasco in Malindi, noord van Kenia. Hier neem hy Ibn Majid, ’n skeepshandelaar met baie ervaring, in diens om hom raad te gee sodat die ekspedisie suksesvol afgelê kan word. Die vloot kom op 20 Mei 1498 in Kalikoet, Indië, aan.
Vasco da Gama, medalje in die klooster van Belem
  • Binne slegs 10 maande het Vasco da Gama en sy bemanning iets reggekry wat geen Europeër voorheen kon doen nie – die vind van ’n handelsroete tussen Europa en Indië. Die koning van Kalikoet was egter nie beïndruk met Vasco se geskenke nie en beveel dat geen goud of ander kosbaarhede saam met Vasco da Gama na Portugal geneem mag word nie. 16
  • Op pad terug sterf sy broer Paulo en Vasco begrawe hom eers voordat hy eindelik op 29 Augustus 1499 in Lissabon aankom. Hier kry hy ’n heldeontvangs en word met verskeie toekennings vereer, onder meer ridderskap.
  • Hoewel Vasco da Gama in sy doel met die reis geslaag het, is ’n duur prys betaal. Slegs twee van die vier skepe en 54 van die oorspronklike 170 matrose het na Portugal teruggekeer. Die meerderheid (insluitend da Gama se broer), het aan siektes soos skeurbuik gesterf. 21

Da Gama se tweede en derde reis

In 1502 onderneem Da Gama ’n tweede reis na Indië met ’n vloot bestaande uit 20 gewapende skepe. Met sy aankoms in Kalikoet, vind Da Gama uit dat die Portugese burgers wat hy by die handelspos gelaat het, vermoor is. Hy besluit om eerder na Kochi te gaan waar hy hartlik ontvang is. Uit weerwraak val hy alle Arabiese en Indiese skepe aan wat sy seeroete kruis. 14

Nagligte op die Lissabon-brug. Die Vasco da Gama-brug is ‘n landmerk, en een van die langste brûe in die wêreld

Da Gama het nie soos ander ontdekkingsreisigers baie oor sy reise geskryf nie, maar uit stukkies inligting kan afgelei word dat hy mense nogal wreed behandel het. Hy word deur geskiedkundiges as een van die hardhandigste ontdekkers beskryf. Tydens sy tweede reis het daar skermutselings (gevegte) tussen Da Gama se skepe en Arabiese handelaars in Kalikoet uitgebreek.

Da Gama se graf

Da Gama het wraak geneem deur 30 ongewapende plaaslike vissermanne te onthoof (hul koppe afgekap), hul liggame in stukke te sny en dit in die see te los sodat die strome die lyke op die strand uitspoel. Hy het ook ’n skip onderskep wat Moslem-gesinne vervoer het wat van ’n godsdienstige pelgrimstog na Mekka in hedendaagse Saoedi-Arabië teruggekeer het. Da Gama het die passasiers in die skip se romp toegesluit, en ondanks pleidooie van bemanningslede, het hy die pelgrimskip aan die brand gesteek. Honderde mans, vroue en kinders het gesterf. 22

Vasco da Gama se graf

Da Gama keer in 1503 na Portugal terug waar hy vir 20 jaar rustig gewoon het. In 1521 het koning Johan III die troon bestyg en Da Gama eers ’n raadgewer en later onderkoning (viceroy) gemaak. 2

Da Gama vertrek in April 1524 op sy derde reis na Indië. Hy doen egter malaria op en sterf op 24 Desember 1524. [Lees meer oor malaria.] Hy is eers by die St. Francis-kerk in Kochi, Portugal, begrawe, en later in Vidigueira herbegrawe in ’n kis wat met goud en juwele versier is. 2

Da Gama se liggaam is oorspronklik in hierdie kerk begrawe, maar na veertien jaar is sy oorskot na Lissabon verskuif

Woordbank

aardrykskundiges Wetenskap waarin die aarde beskryf word; geografie. 29
anker Swaar ystervoorwerp met arms en kloue wat gebruik word om ’n skip op een plek te hou. 24
astronome Iemand wat die hemelliggame (planete/sterre) bestudeer; sterrekundige. 24
baai Inham van die see/meer. 24
belasting Verpligte betaling aan die staat of ander owerheidsliggame om uitgawes te dek. 24
bemanning Offisiere en matrose van ‘n skip of dienspersoneel van ’n vliegtuig. 24
bevelvoerder Offisier wat die bevel voer; aan die hoof van byvoorbeeld ’n militêre eenheid staan. 24
bruidskatte Geld of goed wat ’n vrou in die huwelik inbring. 24
bevaar Op die see vaar. 24
diverse Etlike, verskeie, verskillende. 24
ekspedisie Lang, deeglik beplande reis, veral na ’n onbekende/gevaarlike plek. 24
fort ’n Gebou of mure wat om ’n dorp of stad gebou word om te keer dat vyande inkom. 30
geesdrif Entoesiasme, gretigheid, opgewondenheid. 24
gevorderde Bo skoolvlak; moeilik, kompleks; moeilik om te verstaan. 24
jaar toet Toentertyd; lank, lank gelede. 24
handel Die koop en verkoop van noodsaaklikhede en bruikbare goedere. 24
handelspos ’n Handelspos is ’n plek waar handel (koop, verkoop en ruil van goedere en/of geld) plaasvind. Die pad tussen verskillende handelsposte word ’n handelsroete genoem. 31
handelsroete Roete/weg waarlangs die handelsverkeer van ’n land of tussen verskillende lande plaasvind, oor land, op riviere, oor die see of deur die lug. 24
hardhandigste Kwaai, wreed, ongenadig. 24
kartograwe Iemand wat kaarte teken. 24
kartografie Kuns om landkaarte te teken; kaartkunde.
karveel ’n Klein, ligte skip wat deur seevaarders tussen die 15de en 17de eeu gebruik is. 24
kolonisering Gebied waar ’n groep hulle in ’n nuwe land gevestig en ’n gemeenskap gevorm het. 24
kontinent Vasteland. 24
krete Hard skree; Luidrugtige toejuiging; 24
lospryse Vrykoopgeld, loskoop, afkoop. 24
kommoditeite Handels- of verbruiksartikel; iets wat verkoopwaarde het. 24
krater Groot gat of ronde tregtervormige opening. 24
malaria Koors veroorsaak deur die byt van ‘n Anopheles-muskiet; moeraskoors. 24
matroos Seeman, veral een van die laagste rang. 24
moesonwinde Moesonwinde word veroorsaak deur ‘n seisoenale verskuiwing in die winde. Die winde skuif omdat die temperatuur van die land en die temperatuur van die water verskil soos seisoene verander. Dié wonde is gewoonlik swaar van vog wat uit die see verdamp het. 24
navigasie Die kuns (studie) om ’n voertuig van een punt na die ander te stuur (beweeg). 24
onderskep Iemand of iets verhinder om voort te gaan na sy bestemming. 24
ontdek Iets vind wat nog altyd daar was, maar waarvan niemand voorheen geweet het nie. 24
pelgrimstog Iemand wat na ’n heilige plek reis om daar te aanbid; bedevaartganger. 24
peperduur Besonder duur, byna onbekostigbaar. 24
pleidooie Om te pleit, soebat of smeek vir iets. 24
regstreekse Direk, reguit; sonder tussenpersone of ’n omweg. 24
ridder ’n Persoon kry die titel (soos ’n naam) van ’n ridder nadat hulle ’n diens aan die koning of die kerk gelewer het. Nadat Vasco da Gama se pa ’n diens aan die Portugese koning gelewer het deur ’n soldaat te wees, het hy ridderskap verwerf. Betaling sou dikwels grond wees wat die ridder van die koning ontvang. 24
romp Binneste ruim van ’n skip. 24
seerowers Iemand wat van roof (steel) op see leef. 24
seevaartskool Vlootkollege, -gimnasium of -akademie waar seevaartkunde en navigasie onderrig word. 24
skermutselings Botsing of geveg tussen vyande. 24
skeurbuik Siekte gekenmerk deur aandoening van die tandvleis en derms, veral onder matrose, as gevolg van ’n gebrek aan vars voedsel; gebrek aan vitamien C. 24
stuurman Skeepsoffisier wat ’n skip stuur; navigasieoffisier. 24
sultan Moslemkeiser, opperheer, gebieder in die Ooste. 24
touwys gemaak Iemand leer, inlig of wenke gee. 24
troon bestyg Koning word, aan bewind kom. 24
verkenningstogte ’n Reis wat onderneem om kennis te probeer kry van die ligging van ‘n terrein, vreemde land, roete, ensovoorts. 24
vloot Versameling van ‘n aantal skepe wat saam vaar, bymekaarhoort. 24
waardevolle Kosbaar. 24
weerwraak Wraak neem op iemand wat jou ’n onreg aangedoen het; vergelding. 24
welgestelde Ryk, oorgenoeg besittings en geld hê. 24
wins Ekstra geld wat jy maak deur iets te verkoop nadat jy al jou onkoste betaal het. 24

Lees hierdie om meer te leer oor Vasco da Gama

Kyk hierdie video’s om meer te leer oor Vasco da Gama

’n Kort opsomming van Vasco da Gama se lewe

Waarom het die ontdekkingsreisigers kruise opgesit?

’n Skeepswrak van een van Vasco da Gama se skepe:

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 18 Julie 2022 | Bygewerk op 26 Februarie 2024