Vinnige feite

  • Het jy geweet die gemiddelde mens knip onder normale omstandighede ongeveer 20 keer per minuut sy oë? Wanneer jy op die rekenaar werk, knip jy net ongeveer sewe keer per minuut jou oë. 9
  • Die eerste elektroniese rekenaar – die ENIAC (Electronic Numerical Integrator and Computer) – het meer as 27 ton geweeg en ’n oppervlak van 167,2 m2 beslaan! 10
  • As daar ’n rekenaar was wat net so kragtig soos die menslike brein was, sou hy 38 duisend biljoen bewerkings per sekonde kon uitvoer en meer as 3 580 teragrepe (Tb) geheue kon bevat.
  • HP, Apple en Microsoft het almal in ’n motorhuis begin. Die oorspronklike HP-motorhuis is bewaar en in ’n privaat museum omskep. 11
  • Die wagwoord van die rekenaarkontroles wat die Amerikaanse kernmissiele beheer, was vir baie jare 00000000. 13
  • Ada Lovelace was ’n briljante Britse wiskundige en die dogter van die Engelse digter Lord Byron. Sy word beskou as die eerste rekenaarprogrammeerder in die geskiedenis. 15
  • Doug Engelbart het die eerste rekenaarmuis in 1964 uitgevind. Dié toestel was van hout gemaak en die kabel wat uitgesteek het, het hom aan ’n knaagdier laat dink. Vandaar die naam “muis”. 16
  • Die eerste rekenaaruitsending of stroming (deur middel van ʼn webkamera) is van die Universiteit van Cambridge af gedoen. En die onderwerp van die eerste regstreekse videostroom? ʼn Koffiepot! 17
  • Google is een van die grootste soekenjins. ʼn Googol is ʼn getal 10100.
Foto: iStock

As jy aan rekenaars dink, dink jy waarskynlik aan julle rekenaar by die huis of skool, jou pa se skootrekenaar of selfs jou iPad of tabletrekenaar. ‘n Mens kan bykans enigiets met ‘n rekenaar doen – van ’n brief stuur, tot jou inkopies en banksake doen. Jy kan ook musiek aflaai, flieks kyk (stroom) én jou skoolwerk doen. 1 Sedert die Covid-19-pandemie in 2020 uitgebreek het, word rekenaars ook al meer gebruik om vergaderings te hou en seminare (ook genoem webinare) aan te bied. Dit verbind mense reg oor die wêreld met die druk van ‘n knoppie met mekaar – selfs al is hulle duisende kilometer van mekaar af!

’n Rekenaar is ’n masjien waarop jy data (feite) invoer, die data verwerk met behulp van programme en die verwerkte data as inligting uitvoer of weergee. Baie rekenaars kan inligting op hardeskywe stoor (bêre) en herroep (dit weer vind). ’n Klomp rekenaars kan ook aan mekaar gekoppel word om netwerke te vorm, sodat dié gekoppelde rekenaars met mekaar kan kommunikeer. 2

’n Mens kry baie verskillende soorte rekenaars. Superrekenaars is baie kragtige en duur rekenaars wat vir ingewikkelde werk gebruik word, soos om die weer te voorspel. Persoonlike rekenaars word vir take op kantoor, by die skool en tuis gebruik. Skootrekenaars, notaboeke en tabletrekenaars doen dieselfde dinge as rekenaars, maar hulle is kleiner en makliker om te dra. Sommige piepklein rekenaars word gebruik om masjiene te beheer. Dit is ingebou in byvoorbeeld vliegtuie, robotte in fabrieke, motors en selfs huishoudelike toestelle. 3

Hoe werk rekenaars?

Die meeste rekenaars is elektroniese toestelle; dit beteken dat hulle met elektrisiteit werk. Die mikroverwerker bevat duisende of miljoene klein elektroniese onderdele wat transistors genoem word. Die transistors dien as skakelaars – hulle beheer hoe die elektriese strome vloei. 4

Rekenaars gebruik hierdie elektriese strome om die getalle 0 en 1 voor te stel. Rekenaars gebruik slegs hierdie twee getalle omdat transistors, net soos ligskakelaars, slegs twee toestande het – dit is óf aan óf af. Rekenaars gebruik stringe of reekse van 0 en 1 om letters, klanke, asook al die ander data wat hulle hanteer, voor te stel. ’n Rekenaar stoor die woord “dog” byvoorbeeld as drie getalle: 01100100 (d), 01101111 (o) en 01100111 (g). Hierdie stelsel word ‘n binêre stelsel genoem.

Voorbeeld van die binêre stelsel

Gottfried Wilhelm Leibniz (1646-1716), die medeuitvinder van Calculus in wiskunde, het die binêre stelsel in 1701 gepubliseer in sy opstel Essay d’une nouvelle science des nombres wat hy aan die Parys Akademie – ná sy verkiesing tot die instelling – ingehandig het. Dit het die weg vir die rekenaar gebaan.

Rekenaars kan slegs patrone van 0 en 1 verstaan. Al die instruksies wat ’n rekenaar volg, moet in hierdie vorm wees, maar mense vind dit moeilik om met lang getalpatrone te werk. Die mense wat rekenaarprogrammatuur skryf (‘n mens noem hulle rekenaarprogrammeerders), het dus hul eie spesiale tale. Dit sluit in programmeertale soos BASIC, Java en C++. Die rekenaar verander programmeertale dan in die getalpatrone wat hy kan verstaan.

Programmeerders gebruik hierdie tale om instruksies vir die rekenaar te skryf. Die instruksies vertel die rekenaar hoe om data te verwerk. Die instruksies bestaan ​​uit algoritmes, wat ’n reeks stappe is wat gebruik word om ’n probleem op te los.

Hardeware en sagteware

’n Rekenaar benodig hardeware en sagteware. Hardeware is die rekenaar se fisiese onderdele, terwyl sagteware verwys na die programme of instruksies wat aan die hardeware sê wat om te doen.

Alle rekenaars het dieselfde basiese hardeware. Die mikroverwerker is die rekenaar se brein; dit word ook die sentrale verwerkingseenheid (SVE) – of CPU in Engels – genoem. Die mikroverwerker hanteer al die inligting wat in die rekenaar in- en uitkom. Die geheue is hardeware wat programme en data bevat, terwyl die mikroverwerker dit gebruik. 5

Die programme en data word permanent bewaar op hardeware wat stoortoestelle genoem word. Die meeste rekenaars het ’n stoorapparaat wat ’n hardeskyf genoem word. Die hardeskyf stoor data op ’n metaalskyf in die rekenaar. Sommige bergingstoestelle plaas data op skywe wat maklik van een rekenaar na ’n ander geskuif kan word. Hierdie skywe sluit CD’s en DVD’s in. Later het geheuestokkies (memory sticks) ook ontwikkel, wat baie klein is en dit nog makliker maak om inligting te deel. ʼn Wolkbergingsisteem (cloud storage system) is ʼn stoorstelsel wat van massiewe rekenaars gebruik maak om data fisies te stoor. Gebruikers kan dan toegang tot die data deur die internet verkry wanneer dit benodig word.

Invoer- en uitvoertoestelle is ander soorte hardeware. Invoertoestelle laat die gebruiker toe om data of opdragte op die rekenaar in te voer. Invoertoestelle sluit die sleutelbord en die muis in. Uitsetapparate laat die gebruiker die resultate van die rekenaar sien of hoor. Uitvoertoestelle sluit die monitor (of skerm), drukker en luidsprekers in.

Kommunikasie- of netwerktoestelle verbind rekenaars met mekaar. Dit stel mense in staat om data van een rekenaar na ’n ander te stuur en met die internet te verbind. Sommige rekenaars gebruik koordlose kommunikasietoestelle. Hulle stuur data deur die lug met behulp van ’n klein antenna. Vandag is die meeste modems vervang met Wi-Fi, wat met optieseveselkabels werk.

Rekenaarsagteware word in twee soorte verdeel: die bedryfstelsel (operating system of OS) en toepassingsagteware (programme). Die bedryfstelsel – soos Windows of macOS – beheer hoe die verskillende dele van die hardeware saamwerk. Toepassingsagteware gee die rekenaar instruksies om spesifieke take uit te voer, soos woordverwerking (Microsoft Word of Teams) of speletjies speel.

Deur die geskiedenis

Die eerste rekenaars was glad nie so klein en mooi soos vandag nie. Eintlik was een van die eerste rekenaars ’n telraam. Dié telraam is glo in Babilon in 500 v.C. uitgevind (terwyl die Chinese ook soortgelyke telrame gebruik het), en was van tou en krale gemaak. Die enigste doel daarvan was om geld en ander dinge te tel.

Bekende wiskundiges – soos Leonardo da Vinci en Blaise Pascal – het later meer gesofistikeerde (gevorderde of ingewikkelder) sakrekenaars uitgevind deur ratte en ponskaarte te gebruik.

In 1833 het die Britse wiskundeprofessor Charles Babbage al die onderdele uitgevind wat in ’n moderne rekenaar gebruik word, maar eers 120 jaar later is die eerste moderne rekenaars uitgevind. Die eerste rekenaars was baie groot en het baie spasie opgeneem. Die begin van persoonlike rekenaars, soos ons dit vandag ken en gebruik, was eers in 1980 – net meer as 40 jaar gelede. 6

Oor die algemeen kan rekenaars in drie generasies ingedeel word. Elke generasie het vir ’n sekere tydperk geduur, en elkeen het ons ’n nuwe en verbeterde rekenaar gegee, oftewel ’n verbetering van die bestaande rekenaartegnologie. 7

Die eerste rekenaarmuis was van hout gemaak.

Eerste generasie: 1937 tot 1946

In 1937 is die eerste elektroniese, digitale rekenaar deur dr. John V. Atanasoff en Clifford Berry gebou. Dit is die Atanasoff-Berry Computer (ABC) genoem. In 1943 is ’n elektroniese rekenaar, die Colossus, vir die weermag gebou. Ander ontwikkelings het gevolg totdat die eerste algemene rekenaar, die Electronic Numerical Integrator and Computer (ENIAC), in 1946 gebou is. Toe hierdie rekenaar vir die eerste keer aangeskakel is, het die ligte in dele van Philadelphia in die VSA verdof. Rekenaars van hierdie generasie kon net een taak uitvoer, en hulle het geen bedryfstelsel gehad nie. ENIAC het die Amerikaanse regering $400 000 gekos om te bou. Een van sy eerste opdragte was om berekeninge te maak om die waterstofbom te bou. ʼn Gedeelte van die rekenaar kan vandag in die Smithsonian Institution in Washington D.C. in die VSA gesien word. 8

Tweede generasie: 1947 tot 1962

Hierdie generasie rekenaars het transistors (wat betroubaarder was) pleks van vakuumbuise gebruik. In 1951 is die eerste rekenaar vir kommersiële gebruik aan die publiek bekendgestel – die universele outomatiese rekenaar (UNIVAC 1). In 1953 het die International Business Machine (IBM) 650- en 700-reeks rekenaars hul stempel op die rekenaarwêreld afgedruk. Gedurende hierdie generasie is meer as 100 rekenaarprogrammeringstale ontwikkel, en rekenaars het geheuespasie en bedryfstelsels gekry. Daar is ook stoormedia soos bande en skywe gebruik, asook die eerste drukkers.

Derde generasie: 1963 tot nou

Die uitvinding van geïntegreerde stroombane het ons die derdegenerasierekenaars gegee. Met hierdie uitvinding het rekenaars kleiner, kragtiger en betroubaarder geword en kan verskillende programme of instruksies op dieselfde tyd uitvoer. In 1980 is die Microsoft-skyfbestuurstelsel (MS-Dos) bekendgestel, en in 1981 stel IBM die persoonlike rekenaar (PC) bekend vir tuis- en kantoorgebruik. Drie jaar later het Apple sy Macintosh-rekenaar bekendgestel, en in die 1990’s het Microsoft die Windows-bedryfstelsel uitgerol.

Woordbank

data Gegewens, feite of inligting in ’n vorm waarin dit bewaar en gebruik kan word, veral in ’n rekenaar.
netwerke ‘n Stelsel waartoe ‘n klomp rekenaars gelyktydige toegang het.
mikroverwerker ‘n Geïntegreerde stroombaan wat die hele sentrale verwerkingseenheid van ‘n rekenaar op ‘n enkele skyfie bevat.
transistors ‘n Betreklik klein, ligte, duursame apparaat om elektriese stroom te versterk en/of dit in een rigting te laat vloei.
Calculus Die benaming vir differensiaal- en integraalrekening in die vak Wiskunde.
rekenaarprogrammatuur Sagteware wat vir die uitvoering van verskillende soorte data-opberging en -verwerking in ’n rekenaar gebruik word.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die uitvinding van rekenaars

Die ewolusie van rekenaars – 1930 tot 2021

Die geskiedenis van rekenaars

Foto: iStockGrafika: Dawid BrandFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 9 September 2021 | Bygewerk op 15 April 2024