Vinnige feite

Vroue tydens die optog
  • Die Vroueoptog van 1956 is een van die grootste politieke protesoptegte in Suid-Afrika se geskiedenis. 6 Dit word vandag deur die openbare vakansiedag Vrouedag, op 9 Augustus, gedenk.
  • Mandela was vir 27 jaar in die tronk, van 1963 tot 1990. Sy tronkstraf het baie internasionale aandag getrek en ondersteuning vir die anti-apartheidsbeweging geskep. 1
  • Een koerant het die Soweto-opstande beskryf as “onluste wat plek gesoek het om uit te breek”. 11
  • In 1983 is Albertina Sisulu, die vrou van Walter Sisulu wat in die tronk was, gekies as president van die UDF. Sy was in die tronk toe sy verkies is. 6
  • Twee-derdes van mense in die staatsdiens was swart – swart mense het dienste aan swart mense verskaf soos polisiemanne, onderwysers, en so aan. Hulle het dus in effek vir die apartheidsregering gewerk. 12

Die Nasionale Party (NP) het in 1948 die verkiesing gewen, en tussen 1948 en 1994 het hulle ’n beleid geïmplementeer wat bekend gestaan het as apartheid. Dit was nie ’n nuwe beleid nie – daar was alreeds segregasie voor 1948 – maar dit was baie strenger as vantevore. Apartheid se doel was om alle mag tot wit mense te beperk, om rasse te klassifiseer, groepsgebiede vir elke rassegemeenskap daar te stel, aparte skole en universiteite te bou, en ’n einde aan geïntegreerde openbare en sportgeriewe te bring.

Daar was natuurlik weerstand teen die NP se beleid, en hoe strenger die beleid toegepas is, hoe meer het die weerstand gegroei. In die 46 jaar wat apartheid bestaan het, het weerstand vorme aangeneem soos nie-gewelddadige proteste, opstande, stakings, en gewapende verset. 1

Protesaksies in die vroeë 1950’s

In die laat 1940’s het miljoene swart mense, bruin mense en Indiërs gesukkel om kop bo water te hou. Lewenskoste was baie hoog en daar was wydverspreide armoede. 2 In die laat 1940’s het vervoerkostes gestyg, soos die pryse van buskaartjies. Op dieselfde tyd is paswette strenger toegepas. 3

Die proteste het meestal begin as die polisie iemand gearresteer het omdat hulle ’n paswet oortree het. Skares mense het die polisie aangeval en die gearresteerdes bevry. 3 Daar was in baie townships geweld tussen die polisie en groepe swart mense. 4

Die kommuniste

Die NP-regering het in 1950 ’n wet aangeneem om kommunisme te bekamp. 5 Die Kommunistiese Party van Suid-Afrika (KPSA) het ontbind, en baie van hulle lede het by die African National Congres (ANC), destyds ’n bevrydingsparty, aangesluit, of ondergronds gegaan. Hulle het op 1 Mei 1950 ’n tuisbly-veldtog gereël. 4 Dit het gelei tot botsings met die polisie, waar 18 mense dood is. 3 Die wit lede van die kommunistiese party het in 1953 in geheim die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) gestig. Hulle het ’n openbare front gehad: die South African Congress of Democracts (SACOD). 4

Bruin mense

In die 1950’s het die regering probeer om bruin mense in die Wes-Kaap op aparte kieserslyste te sit – met ander woorde dat hulle nie meer saam met wit mense aan verkiesings kon deelneem nie. Dit het gelei tot protesbewegings soos die Franchise Action Council (FRAC) in 1951, wat tuisbly-veldtogte en skoolboikotte gereël het. Die FRAC het ook soms met komitees van die ANC en die South African Indian Congress (SAIC) saamgewerk om gesamentlike optrede te reël, wat bietjie sukses gehad nie, maar nie ’n groot impak nie. 4

Die opkoms van die ANC

In die 1940’s het die ANC herleef ná die stigting van die ANC-Jeugliga onder leierskap van Oliver Tambo, Nelson Mandela en Walter Sisulu. 2 In 1948 het die ANC ook ’n Vroueliga gestig, om vroue se eise in ag te neem. Die Vroueliga was betrokke by die Vryheidsmanifes en die Vroueoptog van 1956, wat hier onder bespreek word. 6

Nelson Mandela

Defiance Campaign, 1952

In Junie 1952 het die ANC en die SAIC die eerste massa versetveldtog van die weerstandstryd, die Defiance Campaign, gereël. Dit was teen die apartheidswette gemik. Die plan was dat duisende mense aspris hulle passe sou verbrand en apartheidswette oortree. 2 Die tronke moes só vol word dat die polisie en regering nie sou weet hoe om te reageer nie. 4

Op die ou end is 8 326 mense gearresteer, en in botsings met die polisie is daar 32 mense dood: 26 swart en 6 wit. Die regering het met ál hoe strenger strawwe gereageer en dit het mense wat wou deelneem, afgeskrik. 4

Die veldtog is in 1953 afgelas, en was nie suksesvol in sy doelwitte nie, want die wette het gebly. Dit het egter ’n simbool van verset geword. Daar was hierna meer steun vir anti-regeringsoptrede, en internasionale kritiek teen die NP-regering. 4

ANC se vlag

Black Sash, 1955

Die Black Sash is ’n organisasie wat deur ses wit vroue in die Kaap begin is. Hulle het geprotesteer omdat die regering bruin mense in die Wes-Kaap van hul stemreg ontneem het. Hulle naam het gekom van die swart serpe wat hulle gedra het as teken van rou vir die grondwet, wat veronderstel was om mense se regte te beskerm. 6

Volkskongres en Vryheidsmanifes, 1955

Teen die middel van die 1950’s het al hoe meer mense aktivisties geword, en teenstand teen die regering het gegroei. 4

In 1953 het die ANC ’n volkskongres voorgestel, en ander organisasies soos die SAIC, South African Coloured People’s Organisation (SACPO) en SACOD genooi om deel te neem. By ’n byeenkoms in Maart 1954 het hulle ’n aksieraad, die Congress of the People (COP), gestig. Die COP het konferensies gehou en met mense dwarsoor Suid-Afrika gepraat om idees te kry vir hulle vryheidsmanifes. 4

Op 25 en 26 Junie is die Volkskongres (“Congress of the People”) by Kliptown, suidwes van Johannesburg, gehou. Daar was 3 000 mense van alle rasse teenwoordig. Daar was nie ’n verteenwoordiger van die regering nie. 4

By die Volkskongres is die Vryheidsmanifes (“Freedom Charter”) aan die teenwoordiges voorgelê, wat dit by wyse van stemming aanvaar het. Die polisie het die kongres die tweede middag opgebreek, maar toe was al die belangrike aktiwiteite reeds afgehandel. 4

Die Vryheidsmanifes het onder andere gelui: “Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, swart en wit, en geen regering kan wettiglik op gesag aanspraak maak tensy dit op die wil van al die mense gebasseer is nie.” 2 Dit het verder gevra vir ‘n nie-rassige land, ’n demokratiese regeringstelsel, gelykheid voor die wet, en gelyke geleenthede vir almal. 4

Hierdie was ’n belangrike fase in die stryd teen apartheid, omdat daar nou ’n pro-aktiewe alternatief vir die stelsel van apartheid was. Dit was ’n vroeë hoogtepunt van samewerking tussen verskillende groepe, en het wêreldwye publisiteit ontlok. 4

Die vroue-optog, 1956

In 1955 het die regering aangekondig dat swart vroue ook aan paswette onderhewig sou wees. 7 ’n Groep vroue het daarteen in opstand gekom. Op 9 Augustus 1956 het omtrent 20 000 vroue na die Uniegebou in Pretoria gestap om ’n petisie aan die eerste minister te oorhandig, waarin hulle teen die paswette geprotesteer het. 6

Die petisie was nie suksesvol nie, maar dit het baie vroue gepolitiseer, wat daarna begin deelneem het aan verset-aksies soos pasverbrandingseremonies. 4

Uniegebou

Hoogverraad-verhoor tot 1961

In Desember 1956 is 156 mense, insluitend meeste van die leiers van die Volkskongres, deur die regering van hoogverraad aangekla. Die hofsaak het vir vyf jaar geduur. Almal wat aangekla is, is deur die hof vrygespreek. 4 Die regering se reaksie was die Wet op Verbod op Politieke Inmenging, wat onder andere die vorming van nie-rassige politieke partye verbied het. 2

Die Pan-Africanist Congress, 1959

In 1959 het Robert Sobukwe en ’n groep volgelinge weggebreek van die ANC af, en die PAC gestig. 2 Hulle was meer militant en wou nie met wit teenstanders van apartheid saamwerk nie. 4

Swart mense het die passtelsel verafsku, omdat dit vernederend was en hardhandig toegepas is. In Maart 1960 het die PAC ’n anti-pas veldtog geloods. 2 Die plan was dat mense moes tuisbly, hulle pasboeke by die huis los, en gaan aanmeld by polisiekantore om gearresteer te word. 4

Sharpeville, 1960

By Sharpeville in Vereeniging het omtrent 10 000 mense by die polisiestasie saamgedrom en aangedring op die afskaffing van die passtelsel. Die polisie het paniekerig geraak en op hulle begin skiet. In totaal is 69 mense doodgeskiet en meer as 180 beseer. 4

In ander dele van die land was daar ook geweld tussen die polisie en skares, soos by Langa in Kaapstad, waar twee mense deur die polisie doodgeskiet is. 4

Daar was ’n geskokte stilte regoor die land. Op Maandag 28 Maart is ’n massabegrafnis in Sharpeville gehou. Albert Luthuli, die leier van die ANC, het versoek dat mense ’n dag van rou deurbring. Daar was ook stakings, tuisbly-veldtogte en pasverbrandingseremonies, waar Luthuli self sy pas verbrand het. 4 Hierdie aksies is deur duisende mense ondersteun en was meestal vreedsaam. 2

Albert Luthuli

Die regering het gereageer deur ’n noodtoestand af te kondig, meer as 11 000 mense te arresteer, 2 en ’n wet te aanvaar wat hulle toegelaat het om die ANC en PAC op 8 April 1960 te verban. Hulle moes dus hul aktiwiteite ondergronds voortsit. 4

Ander lande het Suid-Afrika se optrede fel gekritiseer en het die regering meer geïsoleer. 4 Ekonomiese sanksies is in 1962 teen Suid-Afrika ingestel. In 1963 is ’n wapenverbod ingestel.

Gewapende verset

Na Sharpeville en die regering se skerp reaksie, het al hoe meer mense, soos Mandela, gevoel dat apartheid nie deur vreedsame proteste gestop kon word nie. In 1961 het ’n groep ANC-leiers ’n militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe (MK) gestig, 2 met Mandela as eerste bevelvoerder. Die doel van MK was om deur middel van sabotasie en guerrilla-oorlog die regering met geweld omver te werp. 4

Die grasdakkamer by Liliesleaf-plaas, Rivonia, waar verskeie ANC-aktiviste vergader het toe die polisie in 1963 op die plaas toegeslaan het.

Die MK-lede het militêre opleiding nodig gehad, en Mandela het dus die land verlaat om bondgenote te soek. Na sy terugkeer is hy in Augustus 1962 gearresteer en vir vyf jaar tronk toe gestuur vir onwettige optrede. MK het sonder hom voortgegaan, en volgens hulleself teen Mei 1963 al 70 sabotasiedade gepleeg. Die regering se reaskie hierop was ‘n wet waarvolgens mense vir 90 dae aangehou kon word voor hulle aangekla hoef te word. 4

In Julie 1963 het die polisie ‘n klopjag op MK se hoofkwartier in Rivonia, genaamd Liliesleaf, uitgevoer en leiers soos Walter Sisulu en Govan Mbeki in hegtenis geneem. Hulle is in die sogenaamde Rivonia-hofsaak van hoogverraad aangekla en tot lewenslange tronkstraf gevonnis. 7

Hierna het MK momentum verloor en die ANC se fokus het na hul buitelandse sending verskuif, wat hier onder bespreek word. 4 Eers na die Soweto-opstande van 1976 is daar nuwe lewe in MK ingeblaas. 8

Die PAC se militêre vleuel, Poqo, het ook probeer om met ‘n skrikbewind wit beheer omver te werp. By een van hulle aanvalle op ’n wit gemeenskap is 7 mense dood. Die regering het dit egter reggekry om hulle kommunikasie te onderskep en honderde leiers te arresteer. Hulle fokus het ook na die buiteland geskuif. 4

Regering se reaksie

In die 1960’s het die regering baie suksesvol die weerstand ontwrig. Leiers soos Mandela en Sobukwe is gevang, en baie aktiviste het lewenslank tronkstraf gekry. Honderde het landuit gevlug. Aktiviste wat skuldig bevind is aan sabotasie is tereggestel, soos John Harris van die African Resistance Movement (ARM), wat ’n bom in Johannesburg laat ontplof het waar een mens dood en twintig beseer was. Die regering het ook SAKP-lede soos Bram Fischer tot lewenslange tronkstraf gevonnis. 4

Bram Fischer

Swart bewussyn (“Black consciousness”)

Na die verbanning van die ANC en PAC was daar nie vir swart mense ‘n spreekbuis in Suid-Afrika nie. In die 1970’s het daar ’n nuwe idee ontwikkel, onder andere onder leiding van Steve Biko: swart bewussyn. Biko het glo dat swart mense minderwaardig aan wit mense gevoel het, en dat hulle daardie gevoel moes afskud. Onder Biko se leiding het swart studente die South African Student Organisation (SASO) gestig, ’n organisasie slegs vir swart studente. 4 In 1972 het hy saam met ander aktivisite die Black People’s Convention (BPC) gestig, wat swart bewussyn wou bevorder. 2

Steve Biko

Swart bewussynsorganisasies wou swart mense trots maak op hulle eie swart identiteit en swart kultuur. Die beweging was baie gewild en het die stem van die weerstandsbeweging geword toe die ANC en die PAC verban is. 9

Die regering het in Maart 1973 op hulle toegeslaan. Biko is ingeperk en ander leiers is tronk toe gestuur. Toe Biko sy inperking in 1977 verontagsaam het, is hy gearresteer en na enkele dae in polisieaanhouding dood. 4

Biko se dood het opspraak gemaak nadat Helen Zille ’n artikel vir die Rand Daily Mail geskryf het, waarin die verdagte omstandighede rondom Biko se dood uitgelig is.

Steve Biko se graf in King Williams Town

Die swart bewussynsbeweging het sy hoogtepunt bereik met die Soweto-opstande van 1976, waarna die invloed afgeneem het. 9

Weerstand in die buiteland

Oliver Tambo het die ANC se buitelandse sending vanuit Zambië en Tanzanië gelei. 2 Hy moes vir die ANC internasionale steun werf, en probeer om ander lande te kry om die apartheidsregering te verwerp. Die buitelandse sending het vir MK-lede opleiding en veldtogte gereël, asook hulp vanaf kommunistiese lande soos die Sowjet-Unie (Rusland) en Kuba. Nadat Angola en Mosambiek in 1975 onafhanklikheid gekry het, is daar ook MK-vegters daar opgelei. MK se veldtogte was egter nooit juis suksesvol nie. 4

Tambo en andere was meer suksesvol deur goeie verhoudings op te bou met die Verenigde Nasies (VN), regerings van dwarsoor die wêreld, en organisasies soos die Wêreldraad van Kerke, wat hulle gehelp het om hulle boodskap te versprei en die Suid-Afrikaanse regering onder druk te plaas. 4

Die Soweto-opstande, 1976

Teen die middel van die 1970’s was daar massa-frustrasie in swart townships, ook onder skoolkinders. Hulle was ongelukkig met die swak gehalte van Bantoe-onderwys (soos wat swart onderwys in daardie jare bekend gestaan het), wat die swart jeug minderwaardig geag het, asook die behandeling van swart mense deur die regering. 4

 In 1976 het die regering gepoog om Afrikaans as taal in swart hoërskole af te dwing. Dit het die frustrasie onder leerlinge laat oorkook. 4 Op 16 Junie 1976 het duisende leerlinge, ondersteun deur SASO en swart bewussynsorganisasies, teen die regering se plan opgetrek. Die plan was om ’n saamtrek by die Orlando-stadion te hou. 8

Betoging, Soweto

Die protes het vreedsaam begin, maar toe die polisie met traangas en later koeëls reageer, het dit gewelddadig geword. Dit het gou landswyd versprei, na ander skole, universiteitskampusse en townships. 8 Talle skole en geboue, soos die biblioteek van die Universiteit van Zoeloeland, is afgebrand. Werkers het begin staak, en regeringskantore, drankwinkels en sjebeens is aangeval. Op party plekke het die onluste eers na ’n jaar bedaar. 4

Dit het tot ’n landswye siklus van opstand en onderdrukking gelei. 2 Die regering het omtrent alle vorms van samekomste in swart gebiede verbied. Elke begrafnis van ’n slagoffer van die polisie het ’n politieke byeenkoms geword. Soms het die polisie by begrafnisse op oproeriges geskiet, wat net tot nog begrafnisse gelei het. 4

Die dodetal aan die einde was ongeveer 600, waarvan die meeste slagoffers van polisieoptrede was. Baie mense is in hegtenis geneem en gevonnis. 4 Op 19 Oktober 1977 het die regering swartbewussynsorganisasies soos SASO en BPC onwettig verklaar, en swart koerante soos The World verban. 10

Suid-Afrika na 1976

Teen die einde van die 1970’s was die NP-regering onder druk. Die Soweto-opstande het dit duidelik gemaak dat apartheid nie vir swart mense die voorspoed gebring het soos die regering gesê het nie. 1 Suid-Afrika is wêreldwyd veroordeel en die VN het sankies op wapenuitvoere na Suid-Afrika aangekondig. 2 Die tuislandbeleid was nie suksesvol nie, en die ekonomie het gesukkel. 10

Die regering van P.W. Botha, die president na 1978, het ’n paar wette herroep, soos die een wat gemengde huwelike verbied het, en sommige paswette. Swart vakbonde is toegelaat, en ’n nuwe grondwet is geskep wat bruin mense en Indiërs ook verteenwoordiging in die regering gegee het. Die finale mag het egter by die wit regering gebly. Swart mense het nie verteenwoordiging gekry nie, en daar was steeds aparte woongebiede, skole en gesondheidsdienste. 2

P.W. Botha

Weerstand in die 1980’s

Teen die 1980’s het apartheid erg onder druk gekom. Swart mense moes in tuislande bly, maar die lewensomstandighede daar was so swak dat hulle nie wou nie. Hulle het na wit stede gestroom, waar hulle in ghettos gewoon het. Hulle het nie politieke regte gehad nie, die infrastruktuur was swak, lewenskwaliteit laag, en skole was van laer gehalte as die skole vir wit leerlinge. 11 Dit was egter steeds beter as die tuislande.

In 1980 is daar ’n brief van Mandela uit die tronk gesmokkel en publiek gemaak: “Verenig! Mobiliseer! Veg! Tussen … massa aksie … en gewapende verset gaan ons apartheid verpletter!” 1

Robbeneiland, waar Nelson Mandela in gevangenis was

MK se stryd het ná Soweto nuwe lewe gekry, 4 en tussen 1976 en 1983 was hulle verantwoordelik vir 362 sabotasie- en gewelddade. ’n Motorbom by die lugmaghoofkwartier in Kerkstraat, Pretoria, het 19 burgerlikes se lewens geëis. 12

’n Belangrike oomblik in die stryd teen apartheid was die stigting van die United Democratic Front onder leiding van Allan Boesak, ’n landswye groepering van anti-apartheidsorganisasies, in 1983. 4 Die UDF was nou met die ANC verbind. 2 Die UDF het die Vryheidsmanifes van 1955 as riglyn vir ’n regering voorgestaan. 4

Teen die middel van 1980’s was daar ’n opwelling van geweldadige verset. 4 Daar was grootskaalse wegblyaksies, stakings, boikotte en protesoptogte. Geboue is afgebrand en die huise van swart polisiemanne en swart raadslede (wat vir die regering gewerk het) is aangeval en hulle is gedwing om te bedank. 13 Miljoene swart mense, bruin mense en Indiërs het deelgeneem, ’n bewys van hoe baie weersin daar teen apartheid was. 4

Op 20 Julie 1985 het die regering ’n noodtoestand afgekondig om die situasie te beheer. Twee maande later het Oliver Tambo ‘n radioboodskap uit die buiteland gestuur: “Maak Suid-Afrika onregeerbaar!” 13

Oliver Tambo

Die regering het met geweld gereageer. Polisielede en soldate het swart gebiede gepatrolleer. Baie leiers, en soms net deelnemers, is geskiet of in hegtenis geneem. 2 Televisie, radio en koerante is gesensor om hierdie aksies te verdoesel. 2

Na 1985 was skoolboikotte ’n voortdurende verskynsel. Dit is deur COSAS gekoördineer, onder die slagspreuk: ‘Geen opvoeding voor bevryding.’ 4

Die swart vakbonde het stakings gereël wat soms gewelddadig geraak het. In 1985 is die Congress of South African Trade Unions (Cosatu) gestig, wat al die groot vakbonde in een organisasie saamgebind het. 4

Bekende aktiviste soos aartsbiskop Desmond Tutu, asook invloedryke Afrikaner-kerkleiers en intellektueles, het die regering openlik veroordeel. 2

Desmond Tutu

Inkatha Vryheidsparty

In die tuisland KwaZulu het die leier, Mangosuthu Buthelezi, met die NP-regering begin onderhandel om ’n vorm van selfbestuur te kry. Hy het ‘n politieke party, die Inkatha Vryheidsparty (IVP) gestig. Hulle was baie krities van die UDF en die ANC. 4

Mangosuthu Buthelezi

Wedywering tussen die IVP en die UDF het gelei tot grootskaalse swart-teen-swart geweld. Baie mense wat verdink is dat hulle hul politieke opponent ondersteun het, is byvoorbeeld tereggestel volgens die sogenaamde ‘halssnoermetode’ – ’n motor se buiteband vol petrol is om die veroordeelde se nek gehang en aan die brand gesteek. In hierdie geweld was daar groter lewensverlies as gedurende die res van die stryd teen apartheid. 4

F.W. de Klerk

Suid-Afrika het teen die tweede helfte van die 1980’s gelyk soos ’n tydbom wat op die punt was om te ontplof. 4

Botha het tot aan die einde geweier om swart mense toe te laat om aan die politieke proses deel te neem, maar hy is in 1989 deur F.W. de Klerk as president vervang. Dit was ’n waterskeidingsoomblik. 2 De Klerk het besef dat daar nie vrede kon wees indien die meerderheid van die mense in die land die regering verwerp het nie. 14 Op 2 Februarie 1990 het hy in die parlement aangekondig dat Nelson Mandela en andere vrygelaat sou word, en daar samesprekings sou wees vir ’n nuwe grondwet. 2

F.W. de Klerk

Die samesprekings het vier jaar geduur en dit het uitgeloop op Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in 1994. Die ANC onder leiding van Mandela het die regerende party geword.

Woordbank

aktivisties Wanneer iemand wat hard werk en praktiese dinge doen om sosiale/politieke verandering te weeg te bring.
alternatief Wat nie tot die hoofstroom behoort nie.
beleid ‘n Program vir die bestuur van iets.
skoolboikotte Weier om skool toe te gaan.
bondgenote Mense/organisasies wat hulle daartoe verbind om ‘n ander te help.
burgerlikes Niemilitêr of siviel, mense wat nie deel van die polisie of die weergmag is nie.
fel Hewig; heftig; sterk; skerp.
front Iets wat iets anders wegsteek/verberg.
ghettos Dele van ‘n stad waar mense van ‘n bepaalde groep, veral arm mense, apart van die res van die mense in die stad woon.
guerrilla-oorlog Oorlog wat meestal gevoer word deur klein groepies by wyse van strooptogte op verbindingsweë, sabotasie, hinderlae op moeilik begaanbare terrein, ens.; onkonvensionele wyse van oorlogvoering.
hoogverraad Optrede waardeur iemand die land waaraan hy/sy trou behoort te wees, verraai of in gevaar stel.
geïmplementeer Toegepas en laat gebeur.
ingeperk Iemand wie se vryheid (in ’n mate) ontneem is.
kommunisme ‘n Politieke stelsel waarin die regering die produksie en vervaardiging van alle voedsel en goedere beheer en niemand sy/haar eie eiendom (mag) besit nie.
kop bo water Aan die lewe bly; uithou.
gekritiseer Die waarde van iets/iemand beoordeel, veral deur te wys op wat sleg is.
militant Strydlustig; aanvallend.
minderwaardig Minder werd of van laer gehalte as ander.
ondergronds Wat i.d. geheim te werk gaan, veral in ‘n poging om onwettige aktiwiteite uit te voer en om ‘n bep. vorm van gesag, veral ‘n regering, te ondermyn.
onderhewig Van … afhanklik wees; … nodig hê.
paswette Wette wat bepaal het dat gekleurde mense dokumente moet dra om by sekere plekke toegelaat te word.
petisie ‘n Geskrewe versoek, gewoonlik geteken deur ‘n aantal mense wat vra dat iemand met gesag iets moet doen of verander.
publisiteit Die aandag wat iemand/iets in koerante, oor die radio, op televisie, ens. kry.
sabotasie Doelbewuste beskadiging van eiendom.
simbool ‘n Voorwerp/teken/ens. wat ‘n bepaalde betekenis het of iets voorstel.
skrikbewind ‘n Bedreiging vir die veiligheid van ‘n gemeenskap.
spreekbuis Iemand wat namens iemand anders of ‘n groep praat.
townships Woongebied wat vir gekleurde mense gebou is onder die Groepsgebiedwetgewing van die apardheidsregering. Dit is dikwels gekenmerk deur swak dienslewering, behuising en sosio-ekonomiese omstandighede.
vakbonde Verenigings van mense wat in ‘n besondere vak werk, gestig om na die belange van die lede (hul voorregte/werksomstandighede/lone/ens.) om te sien.
veldtog Georganiseerde optrede teen iets.
verafsku Niks van iemand/iets hou nie; ‘n weersin in iemand/iets hê; iemand/iets afskuwelik vind.
verdoesel (Probeer) wegsteek.
vernederend Iemand met minagting behandel; iemand belaglik laat lyk.
verontagsaam Geen aandag aan iets gee nie; jou nie aan iemand (se versoeke/opdragte) steur nie; iets/iemand ignoreer.
waterskeidingsoomblik Gebeure wat bepaal in watter rigting ’n saak sou verloop. 15

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor weerstand teen apartheid

Kyk hierdie videos om nog meer te leer oor weerstand teen apartheid

Die geveg teen apartheid in Suid-Afrika

Apartheid 46 jaar in 90 sekondes

Die opkoms en vernietiging van Suid-Afrika se apartheid wette

Verduideliking van Apartheid

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 9 April 2024 | Bygewerk op 8 Mei 2024