Vinnige feite

  • Apartheid het vir 46 jaar in Suid-Afrika geduur. Die NP-regering onder leiding van oudpresident F.W. de Klerk het ’n einde aan die apartheidsera (1948-1994) gebring. 4
  • ’n Nasionale vredesverdrag om apartheid te stop, is op 14 September 1991 deur 26 organisasies onderteken.
  • Biskop Desmond Tutu het in 1984 die Nobelprys vir vrede vir sy rol in die weerstand teen apartheid gewen. Beide oudpresidente Nelson Mandela en F.W. de Klerk het in 1993 die Nobelprys vir Vrede gewen. Dit was vir hul rol om apartheid vreedsaam te beëindig en ’n demokratiese bestel in te lui.
  • Meer as 3,5 miljoen swart Suid-Afrikaners is tydens die apartheidsjare gedwing om na tuislande te trek, wat tot grootskaalse armoede gelei het.
  • Meer as 170 mense is tydens die Soweto-betogings oorlede.
  • Daar was verskeie weerstandsbewegings wat teen apartheid geveg het, soos die African National Congress (ANC), die Pan-Africanist Congress (PAC), die Inkatha-Vryheidsparty (IFP), die Swartbewustheidsbeweging en die United Democratic Front (UDF). Daar was ook organisasies in die Indiër- en bruin gemeenskappe, soos die Natal Indian Congress (NIC), die Coloured People’s Organisation, wit georganiseerde groepe (Armed Resistance Movement (ARM) en Black Sash en kerkgroepe soos die Christian-instituut.
  • Daar was voor apartheid ’n paar buurte in Suid-Afrika se hoofstede waar verskillende rasse saamgewoon het. Die Groepsgebiedewet het dit egter verander. Die sogenaamde townships is geskep en sekeres bestaan vandag nog en is sedertdien ontwikkel, soos Soweto (wat staan vir South Western Townships).
  • ’n Apartheidsmuseum is in 2001 geopen om die storie van apartheid te vertel. Die museum is neffens Gold Reef City in Johannesburg geleë.
  • Meer as 21 000 slagoffers van apartheid het getuienisse gelewer. 5
Grafika: Monique Janse van Vuuren

Suid-Afrika is bekend vir vele interessante dinge soos ons hutspot van kulture, diverse reeks van fauna en flora, ryk kultuurgeskiedenis en besonderse natuurskoon. Maar die land is ongelukkig ook bekend vir ’n onstuimige politieke verlede wat apartheid en segregasie ingesluit het.

Wat is apartheid en segregasie? Die woordeboek definieer apartheid as die toestand van afgeskei of afgesonderd wees en ook die amptelike beleid van die Nasionale Party-regering vanaf 1948-1994 waarvolgens Suid-Afrikaners in kleurgroepe geskei is. Segregasie was weer die maatskaplike of politieke bestel waarvolgens rasse, klasse of etniese groepe geskei is.

Ons kan apartheid sien as die stelsel van wette wat die beleid van segregasie verder geneem en dit toegepas het. Mense wat nie wit was nie, moes in ander en afsonderlike gebiede as wit mense gebly het. Hulle mag ook nie dieselfde openbare geriewe as wit mense gebruik het nie. Swart en wit mense kon byvoorbeeld nie op een strand gewees het, dieselfde kleedkamers gebruik of saam in ’n teater gesit het nie. Kontak tussen wit mense en ander rasse is beperk. 1

Oorsese lande het gereeld kritiek op die destydse Suid-Afrikaanse regering se beleid gelewer en selfs stappe teenoor die land gedoen. Daar was in Suid-Afrika verskeie protesoptredes teen hierdie beleid. Ten spyte daarvan was apartheid byna vyf dekades lank deel van die land se verhaal. Dit was uiteindelik die regering van oudpresident F.W. de Klerk wat apartheid afgeskaf het.

Die begin van apartheid

Nog voor apartheid deel van die amptelike beleid van die land geword het, was daar reeds ’n ideologie van rassesegregasie in Suid-Afrika.

Die verskillende rasse is nie op dieselfde vlak gesien nie. Wit mense (as die minderheid in die land) het alles in die land (van politiek tot sake) beheer en swart mense (die meerderheid) mag nie gestem het nie. Suid-Afrika het in 1910 met Uniewording sy onafhanklikheid van Brittanje verkry en in 1913 is ’n omstrede wetgewing van stapel gestuur. Dit het die begin van grondsegregasie beteken. Wit mense moes op ’n sekere plek gebly het, swart mense op ’n ander plek, bruin mense op nog ’n ander plek, ensovoorts.

Suid-Afrika het swaar jare beleef met die Eerste Vryheidsoorlog en Anglo-Boereoorlog, die Groot Depressie en die Eerste en Tweede Wêreldoorloë. Mense het swaargekry en die Afrikaner het vir lank onderdruk gevoel. Dit het die regte teelaarde geskep vir die regering om sy beleid van segregasie te versterk en uit te brei.

Die Nasionale Party wat in daardie stadium deur Daniël Francois (D.F.) Malan gelei is, het ’n gevoel van nasionalisme by Afrikaanse mense aangewakker en dit het hulle baie gewild gemaak. [Lees meer oor nasionalisme.] Gevolglik het hulle die verkiesing in 1948 gewen. Hulle het segregasie uitgebrei en ’n ander naam daarvoor gegee: apartheid.

D.F. Malan

Allerlei wetgewings het gevolg om afstand tussen die verskillende rasse te skep.

Die regering het in 1950 huwelike tussen verskillende rasse verbied en ook seksuele verhoudings tussen swart en wit Suid-Afrikaners. Die Bevolkingsregistrasiewet van 1950 het die basiese raamwerk vir apartheid gegee. Alle Suid-Afrikaners is ingevolge die wet op grond van ras geklassifiseer. Daar is aanvanklik tussen drie rasse onderskei: wit, swart (wat Bantoes genoem is) en bruin mense (wat kleurlinge genoem is). ’n Vierde groep is later bygevoeg naamlik Oosterlinge (Indiërs en Pakistani’s).

Hierdie wet het groot hartseer vir baie mense beteken, want soms is gesinne opgebreek omdat ouers en kinders as verskillende rasse geklassifiseer is.

Nog wetgewings het gevolg en meer as 80% van die land se grond is aan wit mense bewillig. As jy nie wit was nie, moes jy altyd ’n pasboek by jou gehad het. Dit was soos ’n identiteitsdokument vir mense wat nie wit was nie. Kontak tussen die verskillende rasse is beperk en die regering het afsonderlike geriewe vir wit mense en ander rasse gehad. 2

Die Groepsgebiedewette (1950, 1954, 1955) het daartoe gelei dat duisende mense gedwing is om uit hul huise te trek omdat sekere gebiede vir wit mense geoormerk was.

Dr. Hendrik Verwoerd het in 1958 die eerste minister van die land geword en het die apartheidsbeleid verder ontwikkel. Hy het daarna as “afsonderlike ontwikkeling” verwys. Die bevordering van die Bantoe-selfregeringswet van 1959 het tien tuislande geskep.

Wat die regering nie voorsien het nie, was die vinnige bevolkingsgroei in hierdie tuislande (gebiede). Die gebrek aan werksgeleenthede in die gemeenskappe het beteken dat baie mense ver moes pendel om by hul werksplekke te kom. Die grond het ook te min geraak om die groot bevolkings te onderhou en die gebrek aan infrastruktuur en hulpbronne het armoede bevorder.

Daarbenewens het dit swart Suid-Afrikaners van verskillende etniese groepe van mekaar geskei – die regering het dit gedoen sodat die swart mense nie saam met mekaar kon staan en een organisasie kon stig nie. Elke swart Suid-Afrikaner is as ’n burger van een van die sogenaamde bantoestans (stamtuislande vir swart Suid-Afrikaners) beskou en het op hierdie manier hul Suid-Afrikaanse burgerskap verloor. Die vier bantoestans was Transkei, Bophuthatswana, Venda en Ciskei.

Transkei

Vanaf 1961 tot 1994 is meer as 3,5 miljoen mense gedwing om uit hul huise na gebiede te trek waar daar minder geleenthede en groter armoede was.

Daar was ook verskillende onderrigstandaarde vir swart en wit. Die Bantoe-onderwyswet het voorsiening vir staatskole gemaak, maar swart kinders is voorberei op handearbeid en werk wat die regering as geskik vir hulle gesien het. En dié wat wou, kon nie na wit universiteite gaan om verder te studeer nie. Die regering het etniese universiteitskolleges vir bruin mense, Indiërs en Zoeloes geskep en een vir Sotho’s, Tswanas en Vendas.

Protesoptredes

Baie mense in Suid-Afrika was ongelukkig oor apartheid en hul verset het allerlei vorms aangeneem, soos betogings, stakings en politieke aksies. Verskeie organisasies is uit protes gestig. Die ANC en die Suid-Indiese Nasionale Kongres het byvoorbeeld in 1952 ’n massavergadering gehou waar mense hul pasboeke verbrand het. Die Kongres van die Mense (Congress of the People) het in 1955 ’n Vryheidsmanifes aangeneem waarin hulle gesê het dat Suid-Afrika aan almal behoort wat daarin leef. Die regering het die vergadering opgebreek en ongeveer 150 mense in hegtenis geneem en hulle weens hoogverraad aangekla.

Apartheid word ook onthou vir die vele gewelddadige onderdrukking van protesaksie soos die Sharpeville-slagting wat in 1960 plaasgevind het. ’n Groep betogers het teen die paswette betoog en by ’n polisiestasie sonder hul pasboeke opgedaag om in hegtenis geneem te word. Die polisie het op die betogers geskiet en minstens 67 mense is dood en meer as 180 mense is gewond. Baie anti-apartheidsleiers het toe besluit dat vreedsame protes hulle niks in die sak bring nie en die PAC en ANC het militêre vleuels gestig.

Sharpeville word as ’n keerpunt in Suid-Afrika se geskiedenis beskou, want voor dit was protes teen die regering vreedsaam, maar daarna het die vorm van weerstand verander. Die regering het ook wette ingestel wat hulle meer mag gegee het om die weerstand te onderdruk.

Baie weerstandsleiers is in hegtenis geneem en gevonnis en anti-apartheidsorganisasies is verban. Nelson Mandela was ’n ANC-lid en die leier van Umkhonto we Sizwe (die militêre vleuel van die ANC). Hy is van 1963 tot 1990 gevange gehou. Die gevangenisstraf het internasionale aandag getrek.

Nog ’n gewelddadige geval wat groot opspraak verwek het, was toe duisende kinders in Soweto in 1976 teen Afrikaans as voertaal betoog het. Hulle wou nie in Afrikaans skoolgaan nie, want hulle het Afrikaans as die taal van die onderdrukker gesien. Op 16 Junie 1976 is ’n optog deur ongeveer 20 000 swart skoolkinders in skooluniforms begin. Die optog het by Orlando West in Soweto begin en die polisie het nie geweet hoe om so ’n groot skare te beheer nie. Die polisie het sommer begin skiet en Hastings Ndlovu en Hector Pieterson was glo van die eerste kinders wat doodgeskiet is. Dit het tot groot onrus en baie sterftes gelei. 3

Tydens skietery, Sharpeville

Die opstand het toe gewelddadig geword en die geboue van die administrasieraad, biersale, skole, klinieke en biblioteke is aan die brand gesteek.

Noodtoestande is dikwels afgekondig, soos ná die Sharpeville- en Soweto-slagtings. ’n Noodtoestand is ’n situasie van chaos, vernietiging en groot onveiligheid in ’n bepaalde streek of land wat ’n owerheid eers moet erken voordat hulle hulp kan gee.

Buitelandse kritiek

Daar was groot druk op Suid-Afrika op internasionale vlak om ’n einde aan apartheid te bring. Suid-Afrika is gedwing om in 1961 uit die Statebond te onttrek omdat die ander lande nie hul rassebeleid wou aanvaar nie.

Die Verenigde Nasies (VN) se Algemene Vergadering het apartheid in 1973 veroordeel en die VN se veiligheidsraad het in 1976 ’n verbod op wapenverkope aan Suid-Afrika geplaas. Brittanje en Amerika het in 1985 ekonomiese sanksies teen die land gehef.

ANC se vlag

Die Nasionale Party was internasionaal onder groot druk, en onder Pieter Willem (P.W.) Botha se bewind is daar sekere hervormings ingestel. Die paswette is afgeskaf sowel as die verbod op verhoudings en huwelike tussen verskillende rasse.

Ná P.W. Botha, was F.W. de Klerk aan die hoof van die Nasionale Party en hy het die meeste wetgewings, wat die regsbasis van apartheid gevorm het, geskrap.

P.W. Botha

Nelson Mandela is op 11 Februarie 1990 vrygelaat en ’n nuwe grondwet is geskryf. Die eerste demokratiese verkiesing is in 1994 gehou. Die ANC-party het die verkiesing gewen en Nelson Mandela het die eerste swart president van Suid-Afrika geword.

Hierdie gebeurtenis het ’n begin van ’n nuwe era vir Suid-Afrika ingelui.

Woordbank

amnestie Dit is die algemene kwytskelding van straf of vervolging.
apartheid Dis die toestand van afgeskei of afgesonderd wees. Apartheid was die amptelike beleid van die Nasionale Party-regering vanaf 1948-1994 waarvolgens Suid-Afrikaners in kleurgroepe van mekaar geskei is.
bantoestans ‘n Gebied wat aangewys is as stamtuislande vir swart Suid-Afrikaners gedurende die apartheidsera.
bestel ’n Beleid. 6
betogings Dit is optogte of demonstrasies om ontevredenheid oor kwessies te toon.
bewillig Toestaan, goedkeur, beskikbaar stel.
dekades Tydperk van tien jaar in die jaartelling, bv. 1948-1957.
diverse Uiteenlopend/veelsydig; verskillend, veelsoortig.
era Tydperk in die geskiedenis.
etnies Veelvolkig.
fauna en flora Diere en plante.
geoormerk Aangewys; afgesonder; gereserveer, opsy gesit. 
geskrap Afgeskaf; gekanselleer.
hoogverraad ’n Misdadige handeling met vyandige opset teen die regering gerig met die doel om die staatsbestel omver te werp of te ondermyn.
ideologie Dit is die idees wat die grondslag vorm van ’n politieke of ekonomiese teorie of stelsel.
infrastruktuur Alle dienste wat nodig is vir ’n gemeenskap om goed te funksioneer, bv. paaie, spoorweë, water, krag, huise, ens.
in te lui Die begin van ’n gebeurtenis, tydperk, ens. aankondig.
kampvegter Dis iemand wat die voortou neem in of stry vir ’n saak waarvoor hy hom of sy haar beywer. 7
keerpunt ’n Tydstip wanneer daar ’n beslissende verandering plaasvind. 8
militêre vleuels Landmag; militêre eenheid.
manifes ’n Uitvoerige verklaring oor die doel en strewe van ‘n party of groep.
nasionalisme Dis die beskouing van ’n groep waarby die gemeenskaplike aspirasies, belange, kenmerke en waardes gehandhaaf word om die afsonderlikheid of uniekheid van die groep te bevorder.
neffens Langsaan.
noodtoestande Dis ’n situasie van chaos, vernietiging en groot onveiligheid in ’n bepaalde streek of land wat ’n owerheid eers moet erken voordat hul hulp kan verleen.
omstrede Waaroor baie gestry word; iets wat bevraagteken word.
onderdrukker Dis iemand wat ander mense met mag teëhou of stuit.
protes Dis iets wat jy doen om vir almal te wys dat iets verkeerd en onregverdig is.
sanksie ’n Strafbepaling; boikot; teenkanting.
segregasie Dis die maatskaplike of politieke bestel waarvolgens rasse, klasse of etniese groepe geskei is.
stakings Weiering om te werk.
tuislande Selfregerende gebied.
verban Verbied, belet.
vergrype Misdade, oortredings; ontoelaatbare optredes.
verset Dit is weerstand of opstand teen iets.

Lees hierdie artikels om meer oor apartheid te leer

Kyk hierdie video’s oor apartheid

Apartheid voor 1960

Universele verklaring van Menseregte

Die Mite van Ras

Rassesegregasie voor Apartheid

Belangrikste apartheidswette

Die lewensverhaal van Nelson Mandela

Grafika: Monique Janse van VuurenFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Februarie 2023 | Bygewerk op 5 Maart 2024