Vinnige feite

  • Die Wes-Kaap is byna so groot soos Engeland en Nederland.
  • Tafelberg is een van die Sewe Wonders van die Wêreld en die enigste berg op dié lys.
  • Kaapstad se hawe is die tweede besigste hawe in Suid-Afrika.
  • Die Wes-Kaap is in 1994 as afsonderlike provinsie verklaar en die oorspronklike Kaapprovinsie is in drie verdeel, naamlik: die Noord-Kaap, Oos-Kaap en Wes-Kaap 9.
Foto: iStock

Hoofstad: Kaapstad

Bevolking: 7, 4 miljoen 1

Algemene huistale: Afrikaans, Engels en Xhosa.

Ligging

Die Wes-Kaap is die mees suidelike provinsie en die vierde grootste van die nege provinsies in Suid-Afrika. Die twee grootste stede is George en Kaapstad. Kaapstad staan ook bekend as die Moederstad. Die provinsie het ʼn oppervlakte van 129 370 vierkante km, met die Atlantiese Oseaan aan die westekant en die Indiese Oseaan in die suide. 2

Muizenberg

Distriksmunisipaliteite

Kaapse Wynlande, Overberg, Weskus, Tuinroete, Klein Karoo en Sentraal-Karoo. 3

Toerisme

Die Wes-Kaap is ʼn gewilde vakansiebestemming en is al deur die New York Times-koerant aangewys as die wêreld se beste toerismebestemming. Die provinsie is ryk aan natuurskoon, geskiedkundige geboue en besienswaardighede, soos onder meer die V&A Waterfront, die kleurvolle platdakhuisies in die Bo-Kaap asook Stellenbosch en die Paarl met hulle baie eikelane en Kaaps-Hollandse boustyl. Meer binneland toe is die Boland, wat bekend is om die wêreldklaswyne wat hier gemaak word en waar toeriste op die mooi landgoedere kan gaan wyn proe. Vir diegene wat hou van stap, is daar die Sederberge, Hexrivierberge, Outeniekwaberge en Tsitsikammaberge om aan te durf.

Franschhoek

In Kaapstad staan die Kasteel die Goeie Hoop wat oorspronklik in opdrag van Jan van Riebeeck gebou is, maar nie opgewasse was teen die weersomstandighede nie en later herbou moes word met ingevoerde boumateriaal uit Holland. Die doel van die fort was om as beskerming te dien teen moontlike see-aanvalle, maar dit is nooit daarvoor gebruik nie. 4

In die Paarl is die Taalmonument, wat ʼn eerbetoon is aan die uiteenlopende oorspronge van Afrikaans. In Franschhoek is die Hugenote-monument en Hugenote-gedenkmuseum, wat die Franse Hugenote se rol in Suid-Afrika gedenk.

Bo-Kaap

Robbeneiland, die bekende eiland naby Tafelbaai, het sy naam te danke aan die robbe wat die vroeë Nederlanders daar gesien het. Van die laat 1700’s tot 1996 is die eiland as ʼn tronk gebruik en dit is ook waar wyle president Nelson Mandela 18 jaar van die 27 jaar wat hy in die gevangenis was, deurgebring het. Die eiland is ʼn wêrelderfenisgebied. Dit is ook ʼn museum ter viering van diversiteit en ’n herinnering aan die ongelykhede in Suid-Afrika se politieke geskiedenis. 5

Oudtshoorn is ook ʼn trekpleister vir toerisme danksy die Kangogrotte en die jaarlikse Klein Karoo Nasionale Kunstefees wat op die dorp gehou word. In 2020 en 2021 kon hierdie fees nie plaasvind nie as gevolg van die COVID-19 pandemie.

Plantegroei

Die gebied om Kaapstad is ʼn winterreënvalstreek en die klimaat maak dit moontlik vir ʼn groot verskeidenheid fynbos om hier te floreer. Tafelberg alleen het ʼn groter verskeidenheid plantspesies as wat daar in die hele Engeland is. Die Kaapse blommeryk is deur die organisasie Unesco tot wêrelderfenisgebied verklaar. Onder meer proteas, heide, biesies en bolle val onder die fynbosfamilie en kom nêrens anders ter wêreld in ʼn natuurlike omgewing voor nie. Fynbos beslaan meer as die helfte van die Kaapse plantegroei en maak 80% uit van die verskillende plantspesies in die Wes-Kaap. Dit kom voor in ʼn 100 tot 200 km-breë kusgordel van Clanwilliam in die weste tot so ver as Gqeberha (Port Elizabeth) aan die ooskus. 6

Tafelberg is die tuiste van meer as 1 460 verskillende spesies fynbos en die berg is ook ’n Unesco-wêrelderfenisgebied. Tafelberg bied verskeie staproetes asook ʼn kabelkar wat mense na die bopunt van die berg neem. 7

Boerdery

Wynbou, druiwe, vrugte, groente, vissery en koring word hier gekweek en verbou, wat die Wes-Kaap ʼn belangrike handelsentrum van ons land maak. Meer na die binneland, in die Karoo, word daar met skape geboer en in die omgewing van Oudtshoorn met volstruise. 8

Buitenverwachting wynplaas, Constantia,

Kyk hier

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 22 Februarie 2022 | Bygewerk op 15 April 2024