Vinnige feite
- Jeugdag word sedert 1994 jaarliks op 16 Junie as ’n openbare vakansiedag in Suid-Afrika gevier. Dit het ten doel om die Soweto-opstande en die lewens van die jong slagoffers te herdenk.
- Menseregtedag word jaarliks op 21 Maart gevier ter nagedagtenis aan die Sharpeville-slagting.
- Hector Pieterson is in 1963 gebore en was net 12 jaar oud toe hy aan die Soweto-opstande deelgeneem het. Hy is deur die polisie doodgeskiet en skoolmaats het sy lyk opgetel. Die fotograaf Sam Nzima het ’n foto daarvan geneem en hierdie foto het wêreldbekend geword. Vandag is daar ’n Hector Pieterson-museum in Orlando, Soweto. 7
- Die eerste kind wat blykbaar tydens die Soweto-opstande doodgeskiet is, was Hastings Ndlovu. Hy was 15 jaar oud. 8
- Die PAC is gestig toe sekere lede van die ANC nie meer met die party se beleid saamgestem het nie. Hulle het ook nie met die ANC se Vryheidsmanifes van 1955 saamgestem nie. Dié mense het toe hul eie politieke party begin, die PAC. Dié party is amptelik op 6 April 1959 in Soweto gestig. 9
Suid-Afrika het voor 1994 baie anders as vandag gelyk. Die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika het in 1994 plaasgevind en die politieke landskap totaal verander. Voor 1994 was die Nasionale Party aan bewind en dié party het ’n beleid van afsonderlike ontwikkeling gehad. Ons noem dit apartheid.
Apartheid was die amptelike beleid van 1948 tot 1994 en Suid-Afrikaners is daarvolgens in kleur- of rassegroepe geskei. 1 Swart en bruin mense en Indiërs het nie dieselfde regte as wit mense gehad nie.
Daar was in daardie jare klomp betogings teen die regering se beleid, maar daar is veral drie wat uitstaan, naamlik die Sharpeville-slagting, die Soweto-opstande en die Langa-slagting.
Die Sharpeville-slagting
As ’n mens van Sharpeville praat, dan praat ons van ’n keerpunt in Suid-Afrika se geskiedenis, want voor Sharpeville was protes teen die regering vreedsaam, maar daarna het die protesoptogte verander. Die regering het ook meer wette ingestel wat hulle meer mag gegee het om die weerstand te onderdruk.
Die Sharpeville-slagting het op 21 Maart 1960 in die swart informele nedersetting (township), Sharpeville, naby Vereeniging plaasgevind. Daar was daardie dag ’n landwye betoging teen Suid-Afrika se paswette. Mense wat nie wit was nie, moes altyd pasboeke (soos identiteitsboekies) by hulle gehad het om hul bewegings te beheer en te beperk. Sonder hierdie boekies kon hulle in hegtenis geneem word.
Robert Sobukwe, die president van die Pan Africanist Congress (PAC), het swart mense aangemoedig om tydens die betoging hul pasboeke by die huis te los en by die polisiekantoor te vergader sodat hulle in hegtenis geneem kon word. 2
Hy het versoek dat dit sónder geweld moes geskied. Ongeveer 20 000 swart mense het naby die Sharpeville-polisiekantoor bymekaargekom in protes teen die paswette.
Volgens die polisie was daar mense wat klippe gegooi het, maar ander het weer gesê dat dit ’n vreedsame protes was. Die polisie was glo op hul senuwees en het op die groep begin skiet. Ongeveer 69 mense is doodgeskiet terwyl meer as 180 mense gewond is. Daar was 50 vroue en kinders onder die slagoffers.
Dié slagting het tot ander betogings in die land gelei. ’n Student, Philip Kgosana, het op 30 Maart 1960 ’n optog van sowat 30 000 swart mense na Kaapstad gelei.
Die regering het op 30 Maart 1960 ’n noodtoestand afgekondig. ’n Noodtoestand is ’n situasie van chaos, vernietiging en groot onveiligheid in ’n bepaalde streek of land wat ’n owerheid eers moet erken voordat hulle hulp kan verleen. ’n Natuurramp kan ook ’n noodtoestand veroorsaak.
In die volgende klompie weke is meer as 18 000 mense aangehou. Die ANC en die PAC is op 8 April daardie jaar onwettig verklaar en die Suid-Afrikaanse regering is in die buiteland veroordeel vir die manier waarop die situasie hanteer is. 3
Die Soweto-opstande
Die Soweto-opstande van 1976 was ’n grootskaalse protes teen Afrikaans as onderrigtaal in skole. Baie swart skoolkinders was ongelukkig omdat hulle gedwing is om sekere vakke in Afrikaans te neem. Hulle wou dit nie doen nie, want Afrikaans is as die taal van die onderdrukker gesien. Die eintlike kern van hul verset was swart mense se gebrek aan politieke regte en vryheid.
Die opstande het op 16 Junie 1976 begin as ’n vreedsame optog deur ongeveer 20 000 swart skoolkinders in skooluniforms. Hulle het by Orlando West in Soweto bymekaargekom en beplan om na ’n stadion te loop. Sommige het plakkate gedra met slagspreuke soos “Weg met Afrikaans” en “Ons is nie Boere nie”. Die polisie het opgedaag, en was blykbaar swak toegerus om só ’n groot betoging te beheer. Die polisie het op die groep begin skiet en Hastings Ndlovu en Hector Pieterson was van die eerste kinders wat doodgeskiet is. Dit het tot groot onrus en baie sterftes gelei. 4
Ná die skietery het die opstand gewelddadig geword en die geboue van die administrasieraad, biersale, skole, klinieke en biblioteke is aan die brand gesteek.
Verskeie werkstakings is georganiseer en op 4 Augustus was daar ’n massa-optog na die middestad van Johannesburg. Die gewelddadige opstande (wat vreedsaam begin het) was nie net in Transvaal (vandag Gauteng) nie, maar dit het ook na die Noord-Vrystaat, Natal (nou KwaZulu-Natal) en die Noord-Kaap uitgebrei.
’n Regeringsgebou is ook in Augustus in die ou Bophuthatswana (tans deel van Noordwes) afgebrand en 33 mense is tydens onrus op die kampusse van swart universiteite in Port Elizabeth dood. Daar was ook onrus in Kaapstad met opstande in woongebiede soos Guguletu, Langa en Nyanga.
Teen Oktober 1977 is alle organisasies met enige verbintenis met die Swartbewussynsbeweging verbied. Die opstand het in daardie maand begin bedaar. Steve Biko, die leier van die Swartbewussynsbeweging, het gesterf weens beserings wat hy in aanhouding opgedoen het.
Hierdie opstande het veroorsaak dat daar internasionaal groot kritiek teen Suid-Afrika was. Stappe is gedoen om Suid-Afrika internasionaal af te sonder soos die Verenigde Nasies wat in 1977 ’n wapen- en ’n olieverbod op Suid-Afrika ingestel het.
Die Langa-slagting
In Maart 1985 was daar weer groot spanning in die informele nedersettings rondom Uitenhage in die Oos-Kaap. Daar was tussen 8 en 10 Maart ongeveer 23 voorvalle van brandstigting en 18 van klipgooiery. Dit het tot skade van derduisende rande gelei.
Die polisie het op 14 Maart besluit om strenger aksie teen die betogers te neem en op 15 Maart is swaar ammunisie aan die plaaslike polisielede gegee. Die polisie het daarna ses swart jeugdiges doodgeskiet en die begrafnis van vier van die slagoffers sou op Sondag 17 Maart plaasvind. ’n Wegblyaksie is uit protes vir die Maandag uitgeroep en die naweek is “Swart naweek” genoem.
Op die oggend van 21 Maart 1985 het ’n groot groep inwoners in Langa in Uitenhage bymekaargekom. Hulle het na KwaNobuhle geloop om ’n begrafnis van ’n betoger wat deur die polisie doodgeskiet is, by te woon. Die begrafnis is egter ingevolge ’n nuwe veiligheidswet verbied en die polisie het die pad afgesper. Die groep is gevra om uiteen te gaan, maar toe hulle nie dadelik gehoor gegee het nie, het die polisie op die begrafnisgangers begin skiet.
Minstens 20 mense is doodgeskiet, terwyl talle ander gewond is.
Hierdie voorval het hernude druk op die regering geplaas en ’n kommissie van ondersoek is op die been gebring om die voorval te ondersoek. Die kommissie het bevind dat die polisie nie goed toegerus was om die skare te beheer nie. Die voorval het presies 25 jaar ná die Sharpeville-slagting gebeur. 5
Dit het ook ’n rimpeleffek gehad, want daar was, onder meer, skoolboikotte en heelwat ander opstande in gemeenskappe. Die regering moes teen Julie 1985 weer ’n keer ’n noodtoestand afkondig. 6
Meer oor Robert Sobukwe
Robert Mangaliso Sobukwe (1924-1978) is op Graaff-Reinet in die Karoo gebore. Sobukwe het aan die Fort Hare-kollege gestudeer en was later die nasionale sekretaris van die ANC se Jeugliga. Hy het eers skoolgehou, maar is in 1954 as taalassistent in die departement Bantoetale aan die Universiteit van die Witwatersrand aangestel. Hy het in 1957 ’n honneursgraad verwerf en is in 1959 tot president van die PAC verkies.
Ná die Sharpeville-slagting is ’n Sobukwe-klousule deur die parlement ingestel om Sobukwe – sonder ’n verhoor – op Robbeneiland aan te hou. Hy het daar vir ’n graad in ekonomie aan die Universiteit van Londen gestudeer en is uiteindelik in 1969 vrygelaat. Hy was egter steeds ingeperk en is by die Galeshewe-township in Kimberley in huisarres geplaas. Hy het nege jaar later aan longkanker gesterf. 2
Woordbank
betogings | Dit is optogte of demonstrasies om ontevredenheid oor kwessies te toon. |
keerpunt | Tydstip wanneer daar ’n beslissende verandering plaasvind. |
noodtoestand | ’n Noodtoestand is ’n situasie van chaos, vernietiging en groot onveiligheid in ’n bepaalde streek of land wat ’n owerheid eers moet erken voordat hulle hulp kan verleen. ’n Natuurramp kan ook ’n noodtoestand skep. |
onderdrukker | Iemand wat ander mense met mag teëhou of stuit. |
protes | Dis iets wat jy doen om vir almal te wys dat iets verkeerd en onregverdig is; beswaar. |
verset | Dit is weerstand of opstand teen iets. |
Lees dié volgende artikels om meer te leer
- Die geskiedenis van apartheid.
- Toe Suid-Afrika gewelddadig geword het.
- Lees meer oor Hector Pieterson
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Die Sharpeville-slagting
Die Langa-slagting
Die storie agter Sam Nzima se bekende foto