Vinnige feite

  • Suid-Afrika het talle vakbonde wat mense in verskillende beroepe verteenwoordig, soos die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (SAMWU), die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), en die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM).
  • Ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing mag werkers wat noodsaaklike dienste lewer, soos polisielede, brandweerlede en nooddienste, nie staak nie.
  • Die eerste staking in Suid-Afrika het in 1883 plaasgevind toe mynwerkers in Kimberley gestaak het. Die staking het ’n week geduur en ses mynwerkers is deur die polisie doodgeskiet.
  • Een van die bekendste stakings in Suid-Afrika se geskiedenis waarby vakbonde betrokke was, was die Randrebellie. Die Kamer van Mynwese het op 3 Januarie 1922 die grootskaalse afleggings van wit mynwerkers aangekondig. Die mynwerkers het oor ’n staking gestem en tussen 12 000 en 13 000 was ten gunste van ’n staking. Die staking het tot onluste gelei en mense is dood en eiendom is beskadig. Ná dié staking, is wetgewing aanvaar wat stakings vir noodsaaklike dienste onwettig gemaak het. Dit het verder die grondslag vir arbitrasieprosedures gelê as daar ’n geskil tussen werkgewers en werknemers bestaan. 12
  • Die Kongres van Suid-Afrikaanse vakbonde (COSATU) is op 1 Desember 1985 gebore. Dit het baie van die kleiner vakbonde onder een sambreel byeengebring. 13
  • COSATU en sy bondgenote is in die apartheidsjare die Magnificent Seven genoem omdat dit uit sewe vakbonde bestaan het en teen apartheid geveg het.
  • Die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) is in 1919 gestig en vorm vandag deel van die Verenigde Nasies. Die organisasie beskerm die regte van werkers en vakbonde en help ook lande om regverdige arbeidswetgewing te skep.

Elke mens op aarde het regte. Ons noem dit gewoonlik menseregte. As ’n mens vir iemand werk, het jy, as werknemer, ook regte. As werkers ontevrede met hul werkgewer is, tree hul vakbonde gewoonlik vir hulle in en onderhandel namens hulle met die werkgewer. ’n Vakbond is ’n vereniging van mense wat dieselfde vak beoefen om die belange van die lede te behartig. 1

’n Vakbond verteenwoordig dus hul lede wat in dieselfde bedryf of maatskappy werk om sodoende vir hulle in te tree as dit kom by salaris, voordele, werkomstandighede of sosiale of politieke status deur kollektiewe bedinging. 2

Wat is kollektiewe bedinging? Dit is as ’n vakbond deur ’n werkgewer erken word en die vakbond dan met die werkgewer namens die werkers onderhandel.

Dit was egter nie altyd die geval nie. Daar was ’n tyd toe mense niks daaraan kon doen as hul werkgewers hulle sleg behandel het nie. Mense is selfs as slawe geneem en hulle het nie ’n keuse gehad vir wie hulle gewerk het en watter werk hulle moes doen nie. Hulle het nie eens geld vir hul werk gekry nie. Hulle het net ’n slaapplek en kos gekry. Slawe het die slegste werk moontlik gedoen en is dikwels net so sleg behandel. Talle samelewings het in vorige eeue slawe gebruik. Europeërs het in die 1500’s en die 1800’s mense uit Afrika as slawe geneem en hulle na die land wat ons vandag as Noord-Amerika ken, geneem. 3

Daar was selfs al in Europa tydens die Middeleeue werkers wat geen salaris vir hul werk gekry het nie. Hulle is lyfeienes (“serfs”) genoem. Hulle moes op plase werk wat deur adellikes besit is. Lyfeienes en slawe het baie dinge in gemeen gehad. Nie een was vry om ’n ander werk te soek nie en albei het net ’n dak oor die kop gekry. Die enigste verskil is wel dat slawe aan ander mense verkoop kon word, terwyl lyfeienes darem nie verkoop kon word nie. 3

Toentertyd het mense nie ons tegnologie van vandag gehad nie. Hulle moes alles met die hand maak. Daar was natuurlik werke wat spesiale vaardighede vereis het om produkte te maak. Die mense wat hierdie produkte moes maak, is vakmanne genoem. Elke ambag of kunsvorm is deur ’n gilde beheer. Daar was gildes vir wewers, bakkers, skilders en ystersmede.

’n Jongmens wat die vakmanskap aangeleer het, is ’n vakleerling genoem en is nie vir sy werk betaal nie. Volwasse werkers is ambagsmanne of vakmanne genoem en hulle is wel betaal. Die eienaar van die onderneming is ’n meester genoem.

Dinge het egter begin verander toe slim mense slim masjiene uitgedink het. Die ontwikkelings het tot die Industriële Revolusie gelei.

Dit het in die 19de eeu in Brittanje begin en die manier hoe mense geleef en gewerk het, ingrypend verander. 4

Waar mense voorheen in hul huise of in klein werkwinkels gewerk het, het hulle toe in fabrieke gaan werk waar klomp produkte op een slag gemaak kon word.

Fabriekswerkers het nie spesiale vaardighede nodig gehad nie en die gildes het dus verdwyn.

Ongelukkig was die omstandighede glad nie goed in die fabrieke nie. Die eienaars van die fabrieke het sommer kinders in diens geneem en die werkers het baie lang ure vir min geld gewerk. Hul werk was boonop nog gevaarlik en hul omstandighede haglik.

Sommer gou-gou was werkers baie ontevrede. Hulle het die fabriekseienaars vir beter behandeling gevra en het groepe gevorm om hul gemeenskaplik te verteenwoordig. Dit was die begin van vakbonde.

Hierdie vakbonde het dikwels die werkers gevra om op te hou werk totdat hul werkgewers aan hul eise voldoen het. Dit is stakings genoem. Die vakbondbeweging het dus in Brittanje begin, maar sommer vinnig na die res van Europa en ook na Amerika oorgespoel. Vandag is die vakbondwese oraloor bekend. 3

Wat doen vakbonde?

Vakbonde is dus organisasies wat uit lede bestaan en daardie lede betaal maandeliks ’n bedrag geld om deel van die vakbond te wees. Die doel van ’n vakbond is om sy lede se belange in die werkplek te beskerm.

Vakbonde onderhandel met werknemers oor salarisse en werkomstandighede met die doel om ’n ooreenkoms te bereik. Hulle bespreek byvoorbeeld groot veranderinge in die werkplek en lede se griewe met werkgewers. Hulle voorsien ook raad (soos regsraad) aan werknemers en staan hulle by as daar enige dissiplinêre prosedures is. As die onderneming mense wil aflê of afdank, dan kan die vakbond intree en met hulle onderhandel. Daar is ook vakbonde wat ander voordele aan hul lede gee, soos korting op versekeringspremies. 2

Vakbonde en stakings

Soms kan die vakbond en die werkgewer nie ’n ooreenkoms bereik nie. Daar is dan ’n dispuut. ’n Dispuut is ’n geskil of twis. Iets waaroor mense nie kan ooreenkom nie. Dit kan dalk ’n jaarlikse salarisverhoging wees waaroor werkgewers en werknemers nie kan ooreenkom nie.

Die vakbond sal in daardie geval vir sy lede vra om vir die volgende stap te stem, soos ’n moontlike staking. Die aksie wat hulle neem, kan verskeie vorms aanneem. Hulle kan wegbly van die werk af, by die werk staak en betoog en dalk selfs besluit om ’n sloerstaking te hou. Dit is wanneer werkers opsetlik stadig werk sodat die onderneming se produksie afneem.

Soms word ’n saak vir arbitrasie verwys om ’n staking te probeer voorkom. Stakings het ’n groot impak op die ekonomie en daarom probeer werkgewers gewoonlik om dit te voorkom. Daar kom dan ’n derde party in om die partye te help om ’n ooreenkoms te bereik. Arbitrasie is die beslissing van ’n geskil deur onpartydige mense. 2

Hoewel die reg om te staak ’n grondwetlike reg in Suid-Afrika is, is daar wel gevalle waar mense nie mag staak nie. Diegene wat noodsaaklike dienste lewer, mag byvoorbeeld nie staak nie en mense mag ook nie staak as daar ’n ooreenkoms is wat ’n staking verbied nie.

Die vakbond moet ook die dispuut na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie of die bedingingsraad verwys en ’n stakingskennisgewing mag eers 30 dae daarna uitgereik word. Dit moet deur ’n skriftelike kennisgewing oor die aanvang van die staking aan die werkgewer gevolg word. Dit moet minstens 48 uur voor die staking aan die werkgewer gegee word. As al die stappe gevolg is, dan word dit ’n beskermde staking genoem en dan mag werkgewers nie hul werknemers afdank as hulle staak nie. Die werkgewer hoef egter nie die werknemers tydens ’n staking te betaal nie. 5

Suid-Afrika se vakbondwese

Suid-Afrika se eerste vakbond is baie jare gelede gestig. Dit was die Amalgamated Society of Carpenters and Joiners (ASCJ), wat in 1881 in Kaapstad tot stand gekom het. Dit was grootliks ’n vakbond wat uit wit werkers bestaan het en wat aan die hoofvakbond in Brittanje geaffilieer was.

Slegs Engelssprekende werkers mag aan hierdie vakbond behoort het. Daar was sommer gou-gou nog vakbonde, soos ’n Joodse vakbond vir kleremakers, vakbonde vir tabakwerkers en selfs vir bakkers. 6

Die Transvaal Miners Association (TMA) is in 1902 aan die Witwatersrand begin. Die naam van die vakbond is in 1913 na die Mynwerkersunie (MWU) verander. Die naam is weer in 2001 na MWU-Solidariteit verander, maar die vakbond is in 2002 na Solidariteit herdoop. Die vakbond Solidariteit se wortels lê dus ver in die verlede aangesien die vakbond reeds op 22 Junie 1902 ontstaan het. 7

Demonstrasie by die Miners Association op Markplein, Johannesburg

Die eerste vakbond vir swart werkers het in 1919 die lig gesien. Dit was die Industrial and Commercial Union (ICU), wat deur Clemens Kadalie en van sy kollegas by die dokke begin is. Hulle het vir hoër lone en billike werkure gevra en nadat hulle gestaak het, is hul lone aangepas. Dit het werkers van ander bedrywe ook gelok en teen 1925 het die vakbond net meer as 30 000 lede gehad. Slegs twee jaar later het die lidmaatskap tot meer as 100 000 mense gegroei. Ten spyte van die snelle groei het die vakbond dit nie gemaak nie. Daar was binnegevegte oor leierskap en het teen 1930 nie meer bestaan nie. 8

Die jare daarna het baie vakbonde gesien kom en gaan, maar daar was ’n tyd in Suid-Afrika se geskiedenis wat vakbonde meer gedoen het as om vir werkers se regte te veg. Hulle het ook ’n groot rol gespeel om teen apartheid te veg. [Lees meer oor apartheid.] Vakbonde het byvoorbeeld hul lede gevra om landwyd weg te bly van die werk om te wys watter impak vakbonde op die ekonomie kon hê. Cosatu het veral ’n groot rol gespeel en het ’n anti-apartheidsalliansie met die UDF (United Democratic Front) en ander anti-apartheidsorganisasies gevorm. 9

Vandag word alle burgers en vakbonde deur die Grondwet beskerm. Die Suid-Afrikaanse Grondwet maak voorsiening vir burgers se reg om by vakbonde aan te sluit. Dit noem ook dat mense aan vakbonde se bedrywighede en programme mag deelneem en dat hulle die reg het om te staak. 10

Alle vakbonde moet by die Suid-Afrikaanse departement van arbeid geregistreer word.

Vakbonde speel ’n belangrike rol om werkers se regte te beskerm, maar hulle kan ook nie net doen wat hulle wil nie. Vakbonde moet ook aan sekere regulasies voldoen, soos wat in die Wet op Arbeidsverhoudinge van 1995 vervat is. 11

Woordbank

adellikes Iemand wat tot die adelstand behoort (’n hoë stand in die samelewing).
apartheid Dis die toestand van afgeskei of afgesonderd wees. Apartheid was die amptelike beleid van die Nasionale Party-regering vanaf 1948-1994 waarvolgens Suid-Afrikaners in kleurgroepe geskei is.
arbitrasie Die beslissing van ’n geskil deur onpartydige mense.
belange Iets wat iemand raak.
burgers Mense wat lede van ’n stad of staat is.
dispuut ’n Geskil of twis.
geskil ’n Twis of onenigheid.
gilde ’n Middeleeuse vereniging van mense wat dieselfde vak of beroep beoefen het.
haglik Baie sleg.
kollektiewe bedinging ‘n Proses waardeur die verteenwoordigers van ‘n georganiseerde groep werknemers en die bestuur van ‘n besigheid mekaar ontmoet, in ‘n poging om ‘n ooreenkoms te bereik waarin die aard en omvang van die werknemer-werkgewerverhouding omskryf en kontraktueel uitgedruk word.
ooreenkoms Dit is as twee of meer mense ’n afspraak of belofte maak om iets te doen.
onluste Dit is voorvalle van burgerlike onrus of oproer.
regte ’n Reg is die wetlike voorreg wat ’n mens geniet.
sloerstaking Dit is ’n staking waartydens die werkers nie van die werk af wegbly nie, maar opsetlik stadig werk.
stakings Dit is wanneer werkers weier om met hul werk voort te gaan, veral om beter diensvoorwaardes te probeer verkry.
vakbond Dis ’n vereniging van mense wat dieselfde vak beoefen om die belange van die lede te behartig.
vakmanne Iemand wat hom toelê op ’n besondere vak. 1

Lees hierdie artikels om meer oor vakbonde te leer

Kyk hierdie video’s oor vakbonde

Vakbonde van toeka tot nou

Die ontstaan van vakbonde

Wat doen vakbonde eintlik?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 April 2023 | Bygewerk op 20 Februarie 2024