Vinnige feite

  • Ons kan hierdie voormalige staatsman aanspreek as “meneer”, “hoofman”, “prins” of “doktor”. Hy het oor die jare vyf eredoktorsgrade ontvang – by die Universiteit van Zoeloeland, Universiteit van Kaapstad, Tampa-universiteit in Florida, Universiteit van Boston en die Universiteit van die Stad Los Angeles. 8
  • In 1952 is hy getroud met Irene Mzila, ʼn verpleegster, en hulle het drie seuns en vyf dogters gehad. Sy vrou is in 2019 oorlede.
  • Hoewel hy hom sterk beywer het vir die bewaring en uitbouing van die tradisionele Zoeloe-kultuur, het hy getrou gebly aan sy Christelike opvoeding en net een vrou gehad.
  • Hy het in die 1964-film Zulu die rol gespeel van sy oupagrootjie, koning Cetshwayo kaMpande, wat tydens die Anglo-Zoeloe-oorloë oor die Zoeloes regeer het.

Hoofman Mangosuthu Gatsha Buthelezi was ʼn Suid-Afrikaanse staatsman, parlementariër (lid van die parlement), die stigter van die Inkatha-Vryheidsparty (Engels: Inkatha Freedom Party) en ʼn prominente struggle-leier (ʼn leier in die stryd om apartheid te beëindig). Hy was ook tien jaar lank, van 1994 tot 2004, Suid-Afrika se minister van binnelandse sake.

Die Inkatha-vryheidsparty se vlag.

Agtergrond

Mangosuthu Buthelezi is op 27 Augustus 1928 op Mahlabathini in KwaZulu-Natal gebore. Sy ma, Magogo kaDinuzulu, was die dogter van die voormalige Zoeloe-koning, Dinuzulu kaCetshwayo, en die suster van die Zoeloe-koning wat toe aan bewind was, Solomon kaDinuzulu. Ons kan dus met reg na hom as ʼn prins verwys.

Die voormalige Zoeloe-koning Dinuzulu kaCetshwayo.

Sy pa, Mathole Buthelezi, was ʼn tradisionele leier en die hoof van die Buthelezi-clan (ʼn groep families wat almal van dieselfde voorvader afstam). As die oudste seun sou hy ook later die hoof van die Buthelezi’s word. Daar word soms na hom verwys met sy clannaam “Shenge”.

Hy het by Impumalanga Primêre Skool op Nongoma en Adams-kollege in Amanzimtoti skoolgegaan, en later by die Universiteit van Fort Hare studeer. Dit was hier waar hy met anti-apartheidsleiers soos professor Z.K. Matthews en Robert Subukwe in aanraking gekom (te doen gekry) het, en het gereeld erken watter invloed hierdie leiers en mense soos hoofman Albert Luthuli, Oliver Tambo, Nelson Mandela en Mahatma Gandhi op hom gehad het.

Albert Luthuli het ‘n groot invloed op Buthelezi gehad.

Hy het in 1949 by die ANC se Jeugliga aangesluit. In 1950 het die universiteit hom geskors toe hy aan protesaksies deelgeneem het. Gelukkig het die Universiteit van Natal hom toegelaat om klasse by te woon en eksamen te skryf sodat hy sy graad in geskiedenis kon voltooi. 1

Die stryd teen apartheid

Buthelezi was van die begin af baie geïnteresseerd in die politiek, en het gou ʼn loopbaan daarvan gemaak. Sy pa is in 1942 oorlede toe hy net 14 jaar oud was, en sy oom het intussen in sy plek as leier opgetree. 2 In 1953 is hy terug KwaZulu-Natal toe om die hoof van die Buthelezi-clan te word.

Nadat die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, is verskeie wette afgekondig (ingestel) om wit en swart burgers van die land te skei en afgesonder van mekaar te laat leef. Hierdie beleid het as apartheid bekend gestaan.

Nelson Mandela jare ná sy vrylating in sy tronksel op Robbeneiland.

Van hierdie wette het dit onwettig gemaak vir swart en wit mense om uit te gaan of te trou. 3 Ander, soos die Groepsgebiedewet, het sekere plekke en buurte eksklusief (slegs) vir die gebruik van wit mense gemaak. 4

Swart leiers het sterk beswaar gemaak (geprotesteer) teen die beleid en teen die wette. In 1952 het swart burgers begin met ʼn veldtog van verset teen apartheid. Hulle het van hierdie wette wat hulle geglo het verkeerd is, begin “oortree”. Hulle sou byvoorbeeld op parkbankies gaan sit wat net vir wit mense bedoel was, of laat in die aand buite wees wanneer hulle veronderstel was om in hul huise te bly. In 1956 is Nelson Mandela vir hoogverraad (verraad teen die land) gearresteer, en in 1960 is die African National Congress (ANC) verban. Baie van die leiers van die beweging is verban of het buiteland toe gevlug. 5

Mahatma Gandhi was ook ‘n voorstander van vreedsame verset.

Buthelezi het hom ook teen die apartheidswette uitgespreek, en toe hy Oliver Tambo in 1963 in Londen ontmoet het, het die Suid-Afrikaanse regering sy paspoort gekonfiskeer. Hy was egter nie ten gunste van buitelandse sanksies (strafmaatreëls waarmee ander lande ʼn land probeer dwing om sy binnelandse beleid te verander) teen Suid-Afrika nie. Hy het gesê sulke sanksies sal die armste van die armstes die ergste tref, en hy wou sy eie mense, die Zoeloes, teen sulke swaarkry beskerm. Hy was ook nie ten gunste van die geweld waarmee die ANC teen apartheid geprotesteer het nie. Vir hom was die beleid van vreedsame verset (teenstand sonder geweld) waarvolgens die ANC gestig is, die regte manier om te protesteer. 6

Oliver Tambo en Buthelezi het mekaar in 1963 in Londen ontmoet.

Hierdie houding het hom ongewild gemaak by die ANC, en baie swart leiers het hom as ʼn strooipop (iemand wat doen wat iemand anders sê) van die apartheidsregering bestempel. Dit sou later tot groot konflik tussen sy party en die ANC lei. 1 [Lees meer oor konflik.]

Die leier van die Zoeloes

Buthelezi het in die vyftiger- en sestigerjare van die vorige eeu (1950’s en 1960’s) hard daaraan gewerk om ʼn identiteit vir die Zoeloe-volk te vestig en om ʼn gevoel van nasionalisme onder sy mense te kweek. Toe dr. H.F. Verwoerd in Oktober 1955 by ʼn imbizo (byeenkoms wat deur ʼn tradisionele leier gereël is) met Zoeloe-leiers kom praat het, het die jong Mangosuthu Buthelezi die taak gehad om hom te antwoord. Hy het dit só goed gedoen dat hy die bewondering van die hele Zoeloe-volk verwerf het. 2

Hoewel Buthelezi ook sterk teen apartheid gekant was, het hy geglo ʼn mens moet dié stelsel “van binne af” probeer omkeer (verander). 5 In 1959 het die apartheidsregering die idee van tuislande begin propageer. Elke swart volk in Suid-Afrika sou so ʼn stuk grond kry waar hulle taal en kultuur sou kon groei, en waar hulle leiers onder toesig van die apartheidsregering oor hul volk kon regeer. 7

Die swart leiers het nie hierdie idee ondersteun nie. Hulle het gesê dat dit ʼn manier was om swart mense se regte te ondermyn (beperk) terwyl dit lyk asof hulle ook die land regeer. Maar Albert Luthuli en Oliver Tambo het Buthelezi in 1970 aangeraai om die posisie van uitvoerende hoof van die Zoeloe-gebiedsgesagsliggaam te aanvaar sodat hy binne die strukture die stryd teen apartheid kon voortsit. 2

In 1975 het hy nuwe lewe in die Zoeloe-nasie se samehorigheid geblaas toe hy die Inkatha ye Nkululeke ye Sizwe (nasionale kulturele bevrydingsbeweging) gestig het. Dit was die begin van die party wat later as die Inkatha-Vryheidsparty (IVP) bekend sou staan. Hy was die hoof van die party tot in 2019. 6

In 1976 word hy die hoofminister van die KwaZulu-regering, en hy stig Ithala-bank, ʼn bank wat lenings aan swart mense toegestaan het omdat hulle nie by gewone banke lenings kon kry nie. Daardeur het hy aan Zoeloes die geleentheid gegee om ook besighede te begin. In 1979 stig hy die Mangosuthu-tegnikon, ʼn opleidingsentrum vir swart jongmense waar hulle ambagte kon aanleer en vir hulself ʼn lewe kon maak. Hy word ook die kanselier van die Universiteit van Zoeloeland, ʼn posisie wat hy 21 jaar lank sou beklee. 2

Konflik en versoening

In die 1980’s het die stryd teen apartheid gewelddadig geword. Dit was ook ʼn tyd waarin die stryd tussen die ANC en die IVP baie bloedvergieting tot gevolg gehad het. Die IVP was primêr ʼn party vir Zoeloes, terwyl die ANC die hele swart bevolking van Suid-Afrika wou verteenwoordig. Toe die ANC in 1990 ontban is en die samesprekings vir ʼn nuwe, demokratiese Suid-Afrika begin het, het die ondersteuners van die twee partye slaags geraak, en duisende mense aan die Witwatersrand en in KwaZulu-Natal is dood. 6

Toe die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika in 1994 gehou is, het Buthelezi aanvanklik gedreig om dit te boikot omdat hy nie tevrede was met die voorlopige grondwet nie. Hy het eers ʼn week voor die verkiesing ingestem om ook deel te neem. Die IVP het omtrent 10% van al die stemme gekry, en het die meerderheid van die stemme in KwaZulu-Natal verwerf.

Hy is tot die Nasionale Vergadering van die Suid-Afrikaanse parlement verkies, en hy is onder Suid-Afrika se eerste swart president, Nelson Mandela, aangestel as minister van binnelandse sake. Hy het dié aanstelling tot 2004 onder pres. Thabo Mbeki behou. 1

Mangosuthu Buthelezi is op 9 September 2023 in die ouderdom van 95 in Ulundi in KwaZulu-Natal oorlede.

Buthelezi was die minister van binnelandse sake in Thabo Mbeki (foto) en Nelson Mandela se regerings.

Woordbank

bestempel Beskryf.
beswaar gemaak Protesteer.
bloedvergieting Dood; sterftes.
boikot Weier om deel te neem.
buitelandse sanksies Strafmaatreëls waarmee ander lande ʼn land probeer dwing om sy binnelandse beleid te verander.
clan ʼn Groep families wat almal van dieselfde voorvader afstam.
eksklusief Slegs.
hoogverraad Verraad teen die land.
imbizo Byeenkoms wat deur ʼn tradisionele leier gereël word.
in aanraking gekom Te doen kry.
jou uitspreek teen iets Daarteen praat; sê dat jy nie saamstem nie.
konflik Stryd.
kweek Laat groei.
met reg Korrek.
ʼn posisie beklee In die posisie wees; in die pos aangestel wees.
Nasionale Vergadering Die Suid-Afrikaanse parlement.
omkeer Verander.
ondermyn Beperk; verswak; minder maak.
ontban ʼn Verbanning ophef; nie meer verban nie.
parlementariër Lid van die parlement.
primêr Eintlik; in die eerste plek.
propageer Bevorder; adverteer.
samehorigheid Die gevoel van mense dat hulle saam hoort.
slaags geraak Veg; baklei.
strooipop Iemand wat doen wat iemand anders sê.
Struggle Die stryd om apartheid te beëindig.
Struggle-leier ʼn Leier in die stryd teen apartheid.
tereg Met reg; korrek.
toegestaan Goedkeur en gee.
verban Verbied om in die land te wees of te bestaan.
verset Teenstand.
verwerf Kry.
vreedsame verset Teenstand sonder geweld.
wette afkondig Wette maak en instel.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

ʼn Gesprek met Buthelezi oor sy geskiedenis en sy rol in die land se politiek

Die konflik tussen die IVP en die ANC voor die 1994-verkiesing

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 24 Februarie 2023 | Bygewerk op 9 April 2024