Vinnige feite

  • Mostert se Meule in Mowbray, Kaapstad was die oudste werkende Meule in Suid-Afrika en is in 1796 deur Gysbert van Reenen gebou. Ongelukkig is dit op 18 April 2021 tydens ’n brand byna heeltemal vernietig – daar is tans planne om dit weer te herstel. 27
  • Die eerste gemeente in Suid-Afrika is op 23 Augustus 1665 in die Kaap gestig. 28
  • Die Khoekhoen het Tafelberg Hoerikwaggo genoem. Dit beteken ‘Berg in die see’. 9
  • Tafelberg se rotse is ses keer ouer as dié van die Himalaja (berg). 7
  • Daar is meer plantspesies in die Tafelberg Nasionale Park as in die hele Nieu-Seeland of die Britse Eilande. 19
Foto: iStock

Het jy vandag lus vir ’n tydreis terug na ’n era voordat Kaapstad bestaan het?

Goed, ons is nou in die veertiende eeu (1300’s). Jy kan maar jou oë oopmaak en bietjie rondkyk. Maar waar is die stad, vra jy. Waar is die kabelspoor en -stasie bo-op Tafelberg, die V&A Waterfront met sy Groot Wiel? En waar op aarde is die N1-pad, motors en busse, of strate en huise en…

Ja, dis baie moeilik om jou ’n prentjie voor te stel van die groot gebied waar Kaapstad vandag is, met niks anders nie as Tafelberg met geen geboue aan sy voet nie, slegs inheemse plante en bosse. [Lees hier oor inheemse en uitheemse plante.] En geen hawe of skepe nie, slegs die blou, blou see. Jy sien die plat, ongeskonde landskap en vleilande rondom jou en waarskynlik seemeeue en ander voëls, inheemse boksoorte wat rustig loop en wei en ’n paar inboorlinge wat in huisies van takke en riet bly.

Maar deur die eeue heen het die mens ontwikkel en sowel binnelandse as seereise onderneem om nuwe plekke te ontdek en dorpe en stede te bou.

Tafelbaai, ongeveer 1660

Die stad Kaapstad het ontwikkel vanaf die heel eerste plek in Suid-Afrika waar Europeërs voet aan wal gesit en hulle gevestig het, tot die land se wetgewende hoofstad. Daarbenewens is Kaapstad vandag een van Suid-Afrika se bekendste en mees gewilde toeristebestemmings.

Kaapstad word nie verniet die Moederstad genoem nie – dit is die plek waar ons land se geskiedenis begin het.

Tafelbaai, 1683

Hier is Kaapstad gebou

Die eerste nedersetting was tussen Tafelberg en Tafelbaai. Aan die noordwestekant is Leeukop en Vlaeberg (of Seinheuwel), noord is Tafelbaai, suid is Duiwelspiek en aan die oostekant vleilande. Die natuurlike grense het bepaal hoe die stad later verder sou ontwikkel en ook waar paaie gebou en spoorlyne aangelê is. 1

Waar kom die stad se naam vandaan?

Bartolomeu Dias het in 1488 om die Kaap geseil. In sy verslag aan koning Joao II van Portugal het hy die naam eers deurgegee as Kaap van Storms (Cabo Tormentoso). Maar later het hy die naam verander na Kaap die Goeie Hoop (Cabo da Boa Esperança). 2

Bartolomeu Dias

Vroeë geskiedenis

Gebruiksvoorwerpe en kunsprodukte wat deur argeoloë in ’n grot in Vishoek ontdek is, is waarskynlik 15 000 jaar oud. Dit beteken dat mense toe reeds daar moes gewoon het! 3

Navorsing dui daarop dat daar in Oos- en Suider-Afrika werktuie ontdek is wat uit die Steentydperk dateer – ongeveer 1,7 miljoen tot 250 000 jaar gelede. 4 In daardie tyd het mense werktuie van klippe gemaak/gekap. Dit moes seker baie moeilik gewees het – vandag kan ons alles en boonop ’n groot verskeidenheid gereedskap (werktuie) in ’n ysterwarewinkel koop.

Vasco da Gama se eerste ekspedisie vanaf Lisabon na Afrika

Geskrewe geskiedenis het eers in 1486 begin. In daardie jaar het Bartolomeu Dias, ’n Portugese seevaarder (iemand wat met skepe op die see reis) en ontdekkingsreisiger, vir die eerste keer iets oor die omgewing van die Kaap genoem. Hy was een van die eerste mense uit Europa wat rondom die Kaap gevaar het.

In 1497 het nog ’n Portugese ontdekkingsreisiger, Vasco da Gama, vir die eerste keer oor die gebied, wat later Kaap die Goeie Hoop genoem sou word, geskryf. Dit was terwyl hy besig was om ’n seeroete na Indië te soek. 3

Vasco De Gama

Jan van Riebeeck en die Nederlanders

Aangesien Jan van Riebeeck so ’n belangrike rol in die geskiedenis van die Kaap en ook van Suid-Afrika gespeel het, moet ons kyk na hoe hy betrokke was in die geskiedenis van Kaapstad.

In 1602 het ’n aantal klein Nederlandse handelsmaatskappye saamgesmelt om die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (die VOC) te vorm. Die beheerliggaam is die Here XVII genoem en in 1650 het die Here XVII besluit om ’n verversingspos in die Kaap te stig.

Jan van Riebeeck

Die persoon wat hulle vir hierdie taak gekies het, was Jan Anthoniszoon van Riebeeck. Op 6 April 1652 het Van Riebeeck met drie skepe, die Drommedaris, Goede Hoop en Reijger in die Kaap aangekom.

Ruilhandel

Sy opdrag was om ’n verversingspos (plek waar mense kos kon kry) vir die VOC se skepe te stig. Die Khoekhoen wat in die omgewing van die Kaapse Skiereiland gewoon en met beeste geboer het, was belangrik vir die verversingspos omdat hulle vee aan die skepe se mense kon verskaf.

Drommedaris

Jan van Riebeeck het vir 10 jaar vir die VOC in die Kaap gewerk. 2

Vlag van die VOC

Stryd en botsings tussen mense in die vroeë Kaap

Die inheemse bewoners van die vroeë Kaap het afgesonderd (ver van ander mense af) geleef. Geen wonder dat hulle verskrik was toe die eerste Europeërs (mense van Europa) aan land gekom het om vars water en vleis te ruil – die mense met die wit vel en “snaakse” klere het vir hulle baie vreemd gelyk.

Khoi-Khoi herders

Die verskillende groepe kon natuurlik ook nie mekaar se taal verstaan nie en beide groepe het heeltemal verskillende gebruike gehad. Vanselfsprekend het dit soms tot geweld gelei as die een groep die ander verkeerd verstaan. In 1510 is die onderkoning van Portugees-Indië, Francisco d’Almeida, in so ’n geveg oorlede. 2

Die woord Hottentotte het in hierdie tyd ontstaan. Een van die seevaarders, Augustin de Beaulieu, het in 1620 opgemerk dat daar in die inheemse bewoners se danslied dikwels die woord hautitau gebruik word. In 1623 het die Deen Jon Olafsson ook die woord gehoor en mettertyd het die besoekers aan die Kaap die woord Hottentotte begin gebruik om na die plaaslike inwoners te verwys. 2

Inwoners van die Kaap

Toe Europeërs aan die Kaapse kus begin land het, het hulle lede van die Khoekhoen (of Khoi-Khoi) daar aangetref. 5

’n Ruk nadat Van Riebeeck in 1652 in die Kaap aangekom het, is matrose en soldate in diens van die Hollands Oos-Indiese Kompanjie toegelaat om hulle in die Kaap te vestig en hul eie plase te begin ontwikkel. Van hierdie eerste setlaars het met die Khoi-mense getrou. Daar het ook Europese immigrante Kaap toe gekom. Onder hulle was meisies uit kinderhuise in Nederland en die Franse Hugenote-vlugtelinge vanaf Frankryk.

Teen 1690 was daar ongeveer ’n paar honderd huise asook ’n Europese bevolking van ongeveer 1 000 mense in die omgewing van die Kaap. Ongeveer twee derdes was Nederlanders en een sesde was Franse, terwyl daar ook ’n kleiner aantal Duitsers, Belge, Dene en Swede was. In hierdie stadium was daar naastenby 100 swart en Asiërmense en ongeveer 400 slawe.

Daar is doelbewus probeer om die immigrante van lande in Europa met die Nederlanders te integreer en hulle te leer om Nederlands te praat en skryf. Daarom, in die agtiende eeu, is daar stelselmatig ’n nuwe groep mense gevorm wat later die Afrikaners sou word.

Die eerste slawe is in 1658 vanaf, onder meer, Sentraal-Afrika na die Kaap gebring. 6

Baie van die slawe wat in die laaste deel van die 16de eeu uit plekke soos Madagaskar en Indonesië na die Kaap gebring is, was die voorouers van die bruin mense wat vandag in die Kaap woon. 3

In die 2011-sensus is aangedui dat Kaapstad 3 750 000 inwoners gehad het. 7 En gegrond op die geskatte bevolkingsgroei, is daar in 2022 ongeveer 4 800 954 inwoners in Kaapstad. 8

Die bestuur van die stad

Kaapstad se plaaslike regering het deur die jare baie gewissel.

In 1793 het die dorpskomitee (Ja, Kaapstad was nog net ’n dorp!) amptelike status gekry. Teen die tyd dat Brittanje die Kaap in 1795 oorgeneem het, was daar 1 000 huise en ongeveer 14 000 inwoners. In 1803 is die Kaap weer onder Nederlandse bestuur geplaas en in 1806 weer eens onder Britse bestuur.

Teen 1840 was daar reeds 20 000 mense wat in Kaapstad gewoon het. Die stad het egter eers in 1867 ’n munisipale regering gekry. 5

Vanaf 1881 het ’n aantal afsonderlike munisipaliteite soos Rondebosch, Woodstock, Claremont, Nuweland, Wynberg en Kalkbaai tot stand gekom. 5

Kalkbaai

Tafelbaai en hawe

In 1503 was die naam van die baai wat ons vandag as Tafelbaai ken, Agoada de Saldanha. Dit beteken ‘waterplek van Saldanha’, en is gegee ter ere van admiraal Antonio da Saldanha wat daar deur die Khoikhoi gewond is terwyl hy water wou skep. 9

In 1601 het die Nederlandse seevaarder Joris van Spilbergen dié naam aan die huidige Saldanhabaai gegee. Spilbergen het toe ook aan Tafelbaai sy Nederlandse naam gegee – heel waarskynlik na aanleiding van die berg se naam). 10

Joris van Spilbergen

Tussen 1938 en 1945 word groter dokke in die Kaapstad-hawe gebou om groter skepe te kan inlaat om vas te meer. 1

In 1977 word Adderleystraat verleng tot by die nuwe hawe en daardie gedeelte van die straat word Heerengracht genoem. 1

Die bekendste landmerke van Kaapstad

Tafelberg

Niemand kan stry dat Tafelberg die heel bekendste landmerk van Kaapstad is nie – eintlik kan mens met reg sê dat Tafelberg waarskynlik die bekendste landmerk in die hele Suid-Afrika is. [Lees meer hier oor landmerke.]

Tafelberg is 600 000 000 jaar oud en oorblyfsels van fossiele wat 5 000 000 jaar oud is, is hier gevind. 7 [Lees meer hier oor fossiele.]

Sover bekend, was die eerste Europeër wat Tafelberg geklim het, die avontuurlustige admiraal Antonia Saldanha. Hy het nie die berg geklim uit liefde vir stap nie, maar omdat hy verdwaal het en om uit te vind waar hy was! Eers toe hy op Tafelberg se hoogste punt (1 086 meter bo seevlak) was, kon hy sien waar die hawe en sy skepe is. 11 Dié punt het hy Tafelkop (Taboa de Cabo) genoem. Sy skepe was deel van ’n vloot skepe wat reeds in 1503 op pad na Indië was.

Ongeveer 400 jaar nadat die admiraal die berg uitgeklim het, was daar net ses roetes waar mens die berg kon uitklim. Vandag is daar meer as 300 roetes. 6

Kabelspoor

Tafelberg se kabelspoor is net so ’n groot trekpleister (waarna mense graag gaan kyk) vir besoekers aan Kaapstad. Hierdie kabelspoor is in 1929 vir die eerste keer gebruik. 12

Leeukop

Die spits van die berg wat tussen Tafelberg en Vlaeberg geleë is, lyk vanaf sekere kante soos die kop van ’n leeu. Leeukop is ook deel van die Tafelberg Nasionale Park.

Vlaeberg/Seinheuwel

Vlaeberg aan die westekant (ook bekend as Seinheuwel – ’n direkte vertaling van Signal Hill) is 350 meter hoog, en was vroeër die uitkykpunt waarvandaan boodskappe tussen die stad en skepe gesein is. Die naam Vlaeberg het ontstaan omdat vlae gebruik is om die boodskappe mee oor te dra. Vlaeberg is verder ook bekend omdat daar elke dag om 12:00 ’n kanon van dié heuwel afgevuur word. 13

Duiwelspiek

Daar is ’n baie interessante legende oor Duiwelspiek aan die oostekant van Tafelberg. Kyk gerus na die video onderaan om meer te leer.

Ja, en om te weet dat Tafelberg een van die sewe wonders van die wêreld is, laat mens trots voel! 14

Robbeneiland

Robbeneiland is ’n eiland wat in Tafelbaai by Kaapstad geleë is. Bronne verskil oor die afstand tussen Robbeneiland en die vasteland, maar oor die algemeen word daar gereken dit lê tussen 10 en 12 km noord van Kaapstad en 7 km wes van Bloubergstrand. 15

Robbeneiland se naam kom vanaf die Nederlandse woord robben (Afrikaans: robbe). 16

Die geskiedenis van Robbeneiland wat aan ons bekend is, begin nadat Bartolomeu Dias in 1488 om die Kaap gevaar het. Hierdie seevaarders het die eiland gebruik as ’n plek waar hulle kos kon kry vir die skepe se bemanning (die personeel en matrose wat op die skip werk). Mens kan dus sê dat dit soos ’n verversingspos of ’n spens was vir die skepe.

Dit het ook as “poskantoor” gedien omdat hulle briewe op spesifieke plekke daar kon laat wat weer deur ander skepe se bemanning opgetel en verder na ander lande geneem kon word.

Die eiland is ook gebruik as ’n gevangenis en ’n plek om mense met aansteeklike siektes te huisves sodat hulle nie die bevolking in die Kaap kon aansteek nie. 17

Suid-Afrika se voormalige president, Nelson Mandela, is vir 18 van die 27 jaar wat hy in die gevangenis was, op Robbeneiland aangehou (in die tronk). Hy is op 13 Junie 1964 tot lewenslange gevangenisstraf op Robbeneiland gevonnis. In April 1982 is hy egter na die Pollsmoor-gevangenis oorgeplaas, in Desember 1988 is hy na Victor Verster-gevangenis (vandag bekend as die Groot-Drakenstein-gevangenis) en op 11 Februarie 1990 is hy vrygelaat. 18

Nelson Mandela

Die paar honderd permanente inwoners wat vandag op die eiland bly, sluit museumpersoneel, toergidse, skeepsbemanning en vuurtoringwagters in.

Robbeneiland is ’n baie gewilde bestemming vir toeriste wat Kaapstad besoek. 19

Kasteel die Goeie Hoop

Jan van Riebeeck het sy eerste fort, De Goede Hoop, in die Tafelvallei, baie naby aan die strand gebou. Omdat hierdie fort met sy sooimure nie sterk genoeg was om enige vyand af te weer nie, is daar besluit om ’n nuwe fort te bou. Die terrein vir die nuwe fort, wat voortaan die kasteel genoem sou word, is in Augustus 1665 uitgesoek deur kommissaris Isbrand Goske.

Die bouwerk is opgedra aan die ingenieur Pieter Dombaer, bygestaan deur die timmerman (skrynwerker) Adriaan van Braeckel, en die baasmesselaar Douwe Gerbrandtz Steyn.

Die vier hoekstene is op 2 Januarie 1666 gelê.

Rondom die kasteel is ’n diep grag (sloot) wat met water gevul is. So ’n grag het die doel gehad om vyande van die kasteel af weg te hou. 20

Die kasteel is in 1936 tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar. 21

Kirstenbosch Botaniese Tuin

Die naam Kirstenbosch vir hierdie wêreldbekende botaniese tuin is die eerste keer in 1795 genoem, maar dit is nie duidelik na presies wie die tuin vernoem is nie. Cecil John Rhodes het die grond in 1895 gekoop en met sy dood in 1902 is die land aan die regering bemaak (die regering het dit geërf). In 1913 is besluit om die grond vir ’n botaniese tuin te gebruik. Die eerste direkteur was Harold Pearson en hy is ná sy dood in 1916 in die tuin begrawe. 22

’n Paar belangrike datums in Kaapstad se geskiedenis

1300 – 1599
Die Khoi-San (Khoekhoen- en Sanvolke) leef in die suidelike en suidwestelike dele van die Kaap.

Ongeveer 1650

1487 tot in die eerste helfte van 1600
Bartolomeu Dias en talle ander seevaarders vaar om die Kaap se punt en doen ook verskeie kere by die Kaap aan.

1652
Jan van Riebeeck sit voet aan wal in die Kaap.

1666
Op 2 Januarie word begin om ’n klipfort te bou – later sou dit bekendstaan as die kasteel.

1674
Die Kasteel De Goede Hoop word voltooi.

1685
Groot Constantia-wynplaas word tot stand gebring.

Groot Constantia Jonkershuis

1697
Die eerste hospitaal in Kaapstad word deur Simon van der Stel geopen.

1717
Die bouwerk aan die Grote Kerk begin.

1720
Die bevolking van Kaapstad is 1 450.

1751
Ryk Tulbagh word as goewerneur aan die Kaap aangestel. Gedurende sy regeringstyd vanaf 1751 tot 1771 word die eerste biblioteek begin en daar word ook begin met die versameling van plante in die Kompanjiestuin.

1798
Daar word begin met die bou van die eerste poskantoor.

1800
In Julie begin die regering met ’n weeklikse koerant met die naam Cape Town Gazette and African Advertiser.

1829
Die South African College (voorloper van die Universiteit van Kaapstad) word in Kaapstad opgerig.

Universiteit van Kaapstad

1851
Die bouwerk aan die St. Mary-katedraal in Kaapstad word voltooi.

1860
Die bouwerk aan ’n hawe begin.

1863
’n Spoorlyn wat Kaapstad met die wynlande verbind, word gebou.

1867
Distrik Ses word as die sesde munisipale distrik van Kaapstad ingestel. 23

1883
’n Spoorlyn wat Kaapstad met Muizenberg verbind, word gebou. 1

1885
Die parlementsgebou word voltooi.

Gedurende die 1890’s
Watertoevoer en riooldienste word aangelê.

1891
Die bevolking van Kaapstad bereik 67 000.

1901
Die stadsaal word voltooi.

1910
Die Unie van Suid-Afrika word gestig en Kaapstad se bevolking groei tot 200 000.

1912
Die Rhodes-gedenkteken word opgerig.

1913
Die Kirstenbosch Botaniese tuin word gevestig.

1918
Die Universiteit van Kaapstad ontstaan.

Gedurende die 1930’s
Kaapstad se huise kry elektrisiteit. 21

1929
Die kabelspoor begin op 4 Oktober 1929 mense tot bo-op Tafelberg vervoer. 24

Tussen 1938 en 1945
Groter dokke word in die Kaapstad-hawe gebou om groter skepe in te laat. 1

1977
Adderleystraat word verleng tot by die nuwe hawe en daardie gedeelte van die straat word Heerengracht genoem. 1

2021

Op Sondag 18 April is daar ’n vernietigende brand op die kampus van die Universiteit van Kaapstad wat, onder meer ’n gedeelte van die biblioteek vernietig. 25

2022
’n Groot deel van die parlementsgebou in Kaapstad word in ’n brand vernietig. 26

Woordbank

admiraal ’n Vlootoffisier van ’n hoë rang / hoof van die vloot.
argeoloë ’n Argeoloog is ’n oudheidkenner/oudheidkundige/oudheidnavorser.
dokke Aanlêplek vir skepe, waar skepe in ’n hawe vasmeer.
era Tydperk.
fossiele Fossiele is die oorblyfsels van diere of plante wat in die gesteentes van die aarde bewaar gebly het.
inboorlinge Oorspronklike inwoner van ‘n land, boorling.
inheems Mense of plante of diere wat van nature in ’n gebied of land voorkom.
integreer Om mense met verskillende gewoontes en kulture nader aan mekaar te laat ontwikkel sodat hulle uiteindelik ’n geheel kan vorm.
landmerk ’n Opvallende voorwerp, soos byvoorbeeld ’n berg, waaraan mens ’n plek kan herken.
nedersetting ’n Vreemde, onbewerkte plek waar ’n groep mense hulle gaan vestig, waar hulle gaan bly.
ongeskonde Onaangetas, onbeskadig.
ontdekkingsreisiger Iemand wat na onbekende plekke reis en vreemde wêrelddele ontdek.
sensus ’n Land hou ’n sensus om die inwoners van die land te tel en allerhande nuttige statistiek saam te stel.
setlaars Mense wat hulle in ’n nuwe land vestig.
skiereiland ’n landpunt wat in die see inloop; strook land wat byna rondom deur see omring is.
verversingspos ’n Halfwegstasie; plek waar mens water en voedsel kan kry.
voorouers Mense van wie ’n persoon afstam, jou voorgeslagte.
wetgewende hoofstad Kaapstad word so genoem omdat die Parlement (waar wette gemaak word) in Kaapstad is. 29

Lees meer

Kyk na hierdie interessante video’s

Die verandering en ontwikkeling van Kaapstad vanaf 1800 tot 2017.

So het Kaapstad tussen 1925 en 1980 gelyk.

Die Kasteel de Goede Hoop

Van Hunks en sy pyp (Duiwelspiek)

vFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: ShutterstockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 14 November 2022 | Bygewerk op 5 Maart 2024