Vinnige feite

  • De Klerk se broer, Willem, was ʼn politieke skrywer en redakteur van Rapport. 13
  • De Klerk was die laaste wit persoon wat Suid-Afrika regeer het. 3
  • Net voor sy beroemde toespraak van 2 Februarie 1990 het De Klerk vir sy vrou, Marike, wat nie geweet het wat kom nie, gesê: “Suid-Afrika sal nooit weer dieselfde wees nie.” 5
  • De Klerk het in 1993 aangekondig dat Suid-Afrika wel kerntoestelle gehad het, maar dat dit tot niet gemaak is. 7
  • Hy was deel van die Suid-Afrikaanse delegasie wat gehelp het dat die 2010-FIFA-Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika gespeel is. 2
  • F.W. de Klerk is die enigste Afrikaner wat al die Nobelprys vir Vrede gewen het. 14

Frederik Willem (F.W.) de Klerk (1936-2021), president van Suid-Afrika tussen 1989 en 1994, het eenmaal aan ʼn joernalis gesê: “As mens glo dat ʼn beleid onwerkbaar is, word dit immoreel om dit te bly verdedig.” 1 Die beleid waarna hy verwys het, was apartheid. De Klerk het die deur oopgemaak vir demokrasie in Suid-Afrika. [Lees hier oor demokrasie.] Daardeur het hy vir homself naam gemaak as een van die braafste én mees omstrede staatsmanne in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Vroeë jare

F.W. de Klerk is op 18 Maart 1936 in Johannesburg gebore. Sy ouers was Jan de Klerk en Corrie Coetzer. 2 De Klerk se familie was betrokke by die politiek. Sy oom was J.G. Strijdom, die eerste minister tussen 1954 en 1958, en sy pa was ʼn kabinetminister. 1

De Klerk het in 1958 sy LLB-graad aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) – vandag se Noordwes-Universiteit – met lof behaal. Hy is die Abe Bailey-beurs aangebied – ʼn betaalde opvoedkundige toer na die Verenigde Koningryk. 3

Tussen 1961 en 1972 het hy as prokureur in Vereeniging gepraktiseer. 4

Vroeë politieke loopbaan

In dieselfde tyd het hy by die Nasionale Party (NP) betrokke geraak. Sy politieke loopbaan het in 1972 begin toe hy as die lid van die parlement (LP) vir Vereeniging gekies is. 4 Van 1978 af was hy ʼn kabinetminister, 2 en in 1892 het hy die Transvaalse leier van die NP geword. 4

In hierdie tyd was daar twee groepe binne die NP: verligtes (lede wat politieke verandering voorgestaan het) en verkramptes (lede wat teen verandering gekant was). 1 De Klerk het dit reggekry om tussen die twee groepe te bly en nie té nou met een van hulle te vereenselwig nie.

De Klerk word tot president verkies

In Februarie 1989 het president P.W. Botha as leier van die NP bedank, en De Klerk is naelskraaps as nuwe leier verkies. 5 Botha het die staatspresident gebly, maar daar was te veel konflik tussen hom en De Klerk. Op 14 Augustus 1989 het Botha as president bedank, en De Klerk is op 20 September as staatspresident ingehuldig. 6

Suid-Afrika voor 1989

Die NP-regering was in die middel van die 1980’s onder baie druk. Daar was landwye onluste en opstande teen apartheid. Ander lande het Suid-Afrika probeer isoleer deur die land onder sanksies te plaas. Die ekonomie was ook besig om te verswak. Botha het ʼn paar hervormings aangebring, in ‘n poging om die situasie te red maar dit het net weerstand verskerp. 4

De Klerk verander van rigting

Voor hy die president geword het, het De Klerk nooit enige aanduidings gegee dat hy verandering sou bring nie. 7 Hy het in apartheid se beleid van afsonderlike ontwikkeling geglo en dit goedgepraat, 3

Besoek aan Praag

Twee dinge het hom egter laat wonder oor die doeltreffendheid van apartheid. Die eerste was hoe wydverspreid onluste onder swart groepe in die middel van die 1980’s was, en die tweede was die feit dat daar soveel minder wit as swart mense was. 4

De Klerk het gevoel dat hy nie oor lyke wou loop nie, met ander woorde, hy wou nie  geweld gebruik, om die NP se mag te behou nie. Dit sou, volgens hom,  in elk geval nie die probleme opgelos het nie. 7

De Klerk het tot ʼn eenvoudige gevolgtrekking gekom: Daar kon nie vrede wees as die meerderheid burgers van ‘n land – in Suid-Afrika se geval die swart mense die politieke stelsel verwerp het nie. 7

In 1989 het die Berlynse Muur geval en daarmee het saamgeloop die ineenstorting van kommunisme. Hierdie laaste twee gebeure het vir De Klerk, in sy eie woorde, ʼn “Godgegewe” geleentheid gegee. Hy kon nou vir sy ondersteuners sê dat die ANC kapitalisme moes aanvaar, en dat mense nie meer bekommerd hoef te wees dat hul eiendomsregte deur kommunisme bedreig sou word nie. 5 [Lees meer oor kapitalisme en kommunisme.]

2 Februarie 1990

Die groot oomblik het gekom op 2 Februarie 1990. Voor ʼn verbaasde Suid-Afrika het De Klerk in ʼn toespraak aangekondig dat die verbanning van organisasies soos die ANC gelig sou word, 3 en dat onderhandelings oor ʼn nuwe grondwet moes begin. 7

Die toespraak was een van die groot oomblikke in die geskiedenis van Suid-Afrika en een van die groot toesprake in die geskiedenis van die 20ste eeu. Nelson Mandela, leier van die ANC en Suid-Afrika se eerste demokraties verkose president, het daaroor gesê: “Dit was ʼn asemrowende oomblik … Ons wêreld het oornag verander.” 1

Jare later het De Klerk geskryf dat sy voorvaders (die Afrikaners) se “droom [was] om as ʼn vrye en aparte volk hulle nasionale reg tot selfbeskikking in ʼn eie gebied in Suider-Afrika te verkry … [Ek het] tot die slotsom gekom het dat die voortgesette nastrewe van dié ideaal vir al die volksgroepe van ons land – my eie inkluis – rampspoedig sou wees.” 8

Hillary Rodham Clinton, Amerikaanse minister van buitelandse sake, vergader op 6 Maart 2012 met F.W. de Klerk, voormalige president van die Republiek van Suid-Afrika, by die Amerikaanse departement van buitelandse sake in Washington, D.C

De Klerk en Mandela en samesprekings vir ʼn demokratiese Suid-Afrika

De Klerk en Mandela het mekaar die eerste keer op 13 Desember 1989 ontmoet. Hulle het gesels oor ʼn nuwe regering en regte vir alle mense. 6 Mandela is op 11 Februarie 1990 uit die tronk vrygelaat.

De Klerk het intussen begin om die apartheidswette te herroep. 4

Gedurende die onderhandelings vir ʼn nuwe regering het De Klerk en Mandela baie vasgesit. Mandela het vir De Klerk daarvan beskuldig dat hy geweld opgestook het, óf nie sterk genoeg opgetree het om geweld te keer nie. Dit was nie waar nie, want De Klerk het in 1990 die veiligheidsmagte verbied om polities op te tree. Hy moes inderdaad alles in sy vermoë doen om te keer dat hulle nie op hulle eie teen die verandering begin veg nie. 9 Hy moes ook seker maak dat konserwatiewe politieke partye soos die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) en Konserwatiewe Party nie spanning tussen swart en wit mense aanblaas nie. 5

In Desember 1991, ná 18 maande van gesprekke, het die NP en die ANC ʼn Konvensie vir ʼn Demokratiese Suid-Afrika (KODESA) van stapel gestuur, wat ʼn nuwe grondwet vir Suid-Afrika moes ontwerp. 4

Nobelplein met die vier standbeelde ter herdenking – in volgorde van links – wyle opperhoof Albert Luthuli, aartsbiskop Desmond Tutu, en oudpresidente F.W. de Klerk en Nelson Mandela

Referendum

De Klerk het ʼn referendum (volkstemming) geroep vir 17 Maart 1992, om uit te vind of Suid-Afrika se wit inwoners wou hê dat sy beleid van hervorming en onderhandeling moes voortgaan. Meer as 68% van die stemme was ten gunste daarvan. 9 De Klerk het ʼn belangrike rol gespeel om mense te oortuig om “ja” te stem. Die uitslag van die referendum het aan hom die versekering gegee dat wit Suid-Afrikaners sy werk meestal goedgekeur het en dat hy dus daarmee moes voortgaan. 4

Nobelprys

Op 15 Oktober 1993 het De Klerk en Mandela gesamentlik die Nobelprys vir Vrede gewen. 2 Alhoewel Mandela blykbaar nie gelukkig was dat hy die prys met De Klerk moes deel nie, het hy tog by die oorhandiging die volgende van De Klerk gesê: Hy het die moed gehad om te erken dat ʼn verskriklike onreg aan ons land en mense gedoen is, en die versiendheid gehad om te verstaan en aanvaar dat al die mense van Suid-Afrika, deur onderhandelings en op gelyke voet, sáám moet besluit wat om met hulle toekoms te doen. 4

F.W. de Klerk, links, die laaste president van Suid-Afrika in die apartheidsera, en Nelson Mandela, sy opvolger, wag om in 1993 in Philadelphia te praat, toe hulle Amerika se Liberty-medalje ontvang het vir die oorgang na swart meerderheidsregering

Politieke rol na 1994 en uittrede

Die onderhandelings het uiteindelik uitgeloop op die land se eerste demokratiese verkiesing waaraan alle landsbewoners kon deelneem. Die ANC het die verkiesing maklik gewen, en Mandela het die eerste president geword.

Ná die ANC se oorwinning is die land deur die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) regeer. 10 Dit het beteken dat die NP deel was van die kabinet, al het die ANC die verkiesing gewen. De Klerk het die posisie van visepresident beklee. Hy het egter nie regtig mag gehad nie omdat die res van die kabinet glad nie na hom of ander NP-lede wou luister of toelaat dat hulle die ANC kritiseer nie. 4 De Klerk en ander NP-lede het in 1996 besluit dat deelname aan die RNE futiel was en het hulle aan die kabinet onttrek. 10

Die NP is na 1994 tot die Nuwe Nasionale Party (NNP) herdoop, en De Klerk was steeds die leier. 10 Steun vir die NP het egter vinnig gedaal. 1

In Augustus 1997 het De Klerk sy uittrede uit die politiek aangekondig. Hy het hieroor gesê: “Ek is oortuig dis in die belang van die (NP) en die land.” 3 Dit het die NP nog verder laat agteruitgaan. 4

Die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK)

Die WVK was ʼn tipe hof wat in 1996 ingestel is, sodat mense kon erken watter misdade hulle tydens die apartheidsjare gepleeg het. De Klerk het by die WVK namens die NP en vorige regerings verskoning gemaak vir apartheid. Hy het gesê: “Apartheid was verkeerd. In my hoedanigheid as leier van die Nasionale Party vra ek verskoning vir miljoene Suid-Afrikaners wat … ontwrigting … skande … en vernedering verduur het. Wat lank nie hul volle regte in hul geboorteland kon uitoefen nie. Wat … nie hul volle potensiaal kon bereik nie. En wat op enige ander manier weens diskriminerende wetgewing en beleid gely het.” 9

De Klerk het werklik berou gehad en het hierdie verskoning op egte wyse gemaak. Hy het ook ontken dat hy vir enigiemand opdrag gegee het om vyande van die regering dood te maak of te martel. Die WVK was egter nie tevrede met sy verskoning nie. 9

Woordvoerder van die President van Israel

Persoonlike lewe

De Klerk het op universiteit met Marike Willemse begin uitgaan, en hulle is in 1969 getroud. 4 Hulle het drie kinders aangeneem: 2 Jan, Willem en Susan. Die egpaar het in 1998 geskei, en De Klerk is kort ná die egskeiding met Elita Georgiades getroud. 4

De Klerk het in 2021 by sy huis aan longkanker gesterf. 3

Ná sy dood het, is daar ʼn videoboodskap van hom vrygestel waarin hy gesê het: “Laat ek vandag, in my laaste boodskap, herhaal: Ek vra sonder voorbehoud verskoning vir die pyn en seerkry, die vernedering en die skade wat aan swart, bruin en Indiërs in Suid-Afrika gedoen is.” 11

Ná sy dood het Cyril Ramaphosa, Suid-Afrika se huidige president, gesê dat De Klerk se dood “almal moes inspireer om na te dink oor die geboorte van ons demokrasie.” 3

Evaluasie

De Klerk is tot vandag toe ʼn omstrede figuur.

Baie mense het hom blameer vir die geweld van die laaste paar jaar van apartheid, 3 omdat hy ʼn proses aan die gang gesit het waaroor hy beheer verloor het. 12 Daar is ook mense wat glo dat hy verskoning vir apartheid gemaak het. Nóg ander, soos Nelson Mandela, het hom as ʼn politieke opportunis gesien: iemand wat besef het dat hy op ʼn sekere manier moes optree omdat hy nie eintlik ʼn keuse gehad het nie. 3

Aan die ander kant is daar baie mense wat hom beskou as ʼn spesiale politikus, wat ʼn brawe en ongewone stap geneem het om verandering teweeg te bring, én daardeur ʼn moontlike burgeroorlog gekeer het. 3 Onder sy leiding het Suid-Afrika totaal van regering en politieke stelsel verander sonder groot bloedvergieting, en baie mense beskou dit as ʼn wonderwerk. 12

As politikus was De Klerk verstandig en doelgerig. Hy was ʼn uitstekende debatteerder, het debatte baie geniet, en het nooit tot persoonlike aanvalle gedaal nie. Hy was aangenaam, reguit en sosiaal. 1 As persoon was hy hoogs intelligent en vol selfvertroue. As leier was hy ʼn vredemaker. 7 Een van sy ministers het eenmaal van hom gesê: “Hy is waarskynlik die beste motiveerder saam met wie ek ooit gewerk het.” 1

De Klerk is deur sy geloof gemotiveer. Hy het die idee ontwikkel dat God hom geroep het om die mense van Suid-Afrika te verenig en van ʼn lang, bloedige konflik te red. 4 In sy outobiografie het hy geskryf: “Min staatshoofde kon hul hoë amp met groter voldoening afgelê het as ek – ondanks die onsekerheid wat die toekoms ingehou het.” 8

Woordbank

afsonderlike ontwikkeling  Politieke idee dat verskillende groep apart van mekaar moet bou en groei. 
bedank  Sê dat jy nie meer vir iemand of by ʼn plek gaan werk nie; jou diens beëindig. 
beleid ʼn Program vir die bestuur van iets.
burgeroorlog Oorlog tussen partye van een land of volk.
demokrasie ʼn Staat wat ʼn regering het wat deur al die land se mense verkies is.
doeltreffendheid Die doel wat gestel is, bereik.
futiel Nutteloos; vergeefs; wat geen kans het om te slaag nie.
grondwet Die reëls wat bepaal hoe ʼn staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers oor beskik.
immoreel Moreel onaanvaarbaar; nie eerbaar nie.
kapitalisme ʼn Ekonomiese en politieke stelsel waarin die meeste sakeondernemings aan private eienaars behoort, nie aan die staat/regering nie.
konserwatiewe Wat nie hou van verandering of nuwe idees nie.
kommunisme ʼn Ekonomiese en politieke bestel waarin die regering die produksie en vervaardiging van alle voedsel en goedere beheer en niemand sy/haar eie eiendom (mag) besit nie.
kritiseer Die waarde van iets/iemand beoordeel, veral deur te wys op dit wat sleg is.
met lof Met onderskeiding.
naelskraaps Net-net.
onttrek Nie meer deelneem nie.
opportunis ʼn Persoon wat uit omstandighede voordeel behaal, sonder inagneming van beginsels.
potensiaal Die natuurlike vermoë of eienskappe wat nodig is om in die toekoms tot ʼn bepaalde soort mens/ding te ontwikkel.
rampspoedig Met baie ellende, teenspoed en rampe.
referendum Stemming waarin almal van ʼn volk mag deelneem, gewoonlik oor ʼn spesifieke saak.
sanksie ʼn Amptelike bevel of wet wat handel en kommunikasie met ʼn ander land verbied in ʼn poging om die leiers van daardie land tot politieke verandering te dwing.
van stapel gestuur Begin.
veiligheidsmagte Organisasie wat die veiligheid van ʼn land, die bevolking en eiendom moet verseker, soos die weermag en polisie.
verbanning Iemand dwing om ʼn land/plek vir goed te verlaat en op ʼn ander plek te gaan woon.
versiendheid Wat ʼn goeie insig in die toekoms het.
verstandig Wat van gesonde oordeel/verstand getuig; nie dom nie en prakties. 15
gepraktiseer  Jou beroep beoefen; werk. 
gevolgtrekking  Om ‘n idee of antwoord te vorm deur die gebruik van feite en gegewens. 
herroep  Om iets ongedaan te maak of te vernietig. 
hervormings  ʼn Stelsel/wet/organisasie/ens. verbeter deur baie veranderings daaraan aan te bring sodat dit doeltreffender/regverdiger funksioneer. 
ingehuldig  ʼn Owerheidspersoon plegtig in sy/haar amp bevestig. 
isoleer  Om iets af te sonder of weg te hou van andere af. 
kabinetsminister  Een van die ministers (politikus wat aan die hoof staan van een van die departemente van ʼn land se regering) wat die regering vorm. 
omstrede  Waaroor baie gestry word; betwisbaar, aanvegbaar; iets wat bevraagteken word. 
parlement  Dis ’n liggaam in ’n demokratiese bestel. Die lede word deur die mense van die land verkies. 
vereenselwig  Simpatie met iemand/iets hê; jou in iemand/iets se plek kan indink. 
verkramptes  NP-lede wat teen verandering gekant was. 

verligtes 

NPlede wat verandering voorgestaan het. 
geleentheid Kans.
selfbeskikking  Die reg om jou eie lot te bepaal. 
ideaal  Die beste moontlike oplossing of situasie. 
opgestook  Opsweep, aanhits, opwek, uitlok; aanmoedig, aanspoor, aanvuur. 
goedgekeur  Verklaar dat jy met iets saamstem of nie beswaar daarteen het nie. 
berou  Om spyt te wees oor iets. 
ontken  Sê dat iets nie waar is nie. 
martel  Iemand moedswillig baie seer maak. 
sonder voorbehoud  Heeltemal of volkome. 
verhoed  Keer. 
outobiografie  Storie wat iemand self oor sy/haar lewe geskryf het. 
redakteur  Iemand wat rigting gee en toesig hou oor die beleid van ’n publikasie. 
kerntoestelle  Wapens of masjiene wat met atoomkrag werk. 
delegasie  Iemand wat deur ʼn groep gestuur is om hulle êrens te verteenwoordig. 

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor F.W. de Klerk

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor F.W. de Klerk

ʼn Kykie na F.W. de Klerk gedurende die apartheidsjare

10 Februarie 1990: F.W. de Klerk kondig die vrylating van Mandela aan.

Wit Suid-Afrikaners stem in die 1992-referendum.

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 27 Februarie 2023 | Bygewerk op 27 Februarie 2024