Vinnige feite

Robbeneiland, waar Nelson Mandela en ander politieke gevangenes aangehou is.
  • Mandela het in 1995, nadat hy reeds as president van Suid-Afrika verkies is, die staatsaanklaer dr. Percy Yutar vir ete genooi as ʼn manier om versoening (vergifnis) tussen mekaar te bewerkstellig. 6
  • Tydens die verhoor is daar na altesaam 174 getuies en die inhoud van 500 verskillende dokumente geluister. 23
  • Ironies genoeg sou die vergadering op 11 Julie 1963 die groep op die plaas se laaste vergadering by dié geheime hoofkantoor van die ANC gewees het. Die leierskap was al vir ʼn ruk lank bekommerd dat die polisie van hul wegkruipplek te hore sou kom. 24
  • Tydens sy verblyf op Liliesleaf het Mandela hom voorgedoen as ʼn chauffeur (iemand wat ʼn motor vir iemand anders bestuur) en tuinwerker sodat mense hom nie sou herken nie. Hy het die skuilnaam David Motsamayi gebruik. 25
  • Die gevangenes op Robbeneiland het hul eie sokkerspan gehad. Hulle moes streng volgens Fifa se reëls speel. 26
  • Mandela het op Robbeneiland ʼn groentetuin gehad waarop hy baie trots was. Tronkbewaarder Christo Brand het gesê Mandela het tamaties, eiervrug, uie en spinasie gekweek. Die tronkbewaarders het elke Vrydag van die groente met vleis gemeng om ʼn bredie te maak. Mandela het sy bredie altyd met die bewaarders gedeel. 26
  • Die gevangenes op Robbeneiland het in ʼn kalksteengroef gewerk om rotse kleiner te kap. Sonder ʼn donkerbril het talle van die gevangenes oogprobleme ontwikkel weens die skerp lig op die wit klip. 27 Mandela het die res van sy lewe met sy oë gesukkel. 28
  • Die advokaat Bram Fischer was die enigste revolusionêre kommunistiese leier wat teen Nieu-Seeland se All Blacks-span rugby gespeel het. Hy het vir die Vrystaat opgedraf. 29
  • ʼn Dag ná die vonnis in die Rivonia-verhoor het Bram Fischer saam met sy vrou, Molly, en ʼn jong vrou genaamd Elizabeth Lewin na Kaapstad gery. Hulle was in ʼn ongeluk en die motor het in ʼn dam beland. Bram en Elizabeth het oorleef, maar Molly het verdrink. 30
  • Mandela se oudste seun, Thembekile, is op 13 Julie 1969 in ʼn motorongeluk dood. Mandela is verbied om sy seun se begrafnis by te woon. 3
  • Het jy geweet? Nog twee politieke gevangenes wat tronkstraf op Robbeneiland uitgedien het, het uiteindelik presidente van Suid-Afrika geword: Jacob Zuma en Kgalema Motlanthe. 31 Zuma is in Augustus 1963 gevonnis op aanklag dat hy die regering omver wou gooi. Hy is in 1973 vrygelaat. 32 Motlanthe is in Julie 1977 na Robbeneiland gestuur op aanklag van onwettige MK-aktiwiteite. Hy is in 1987 vrygelaat. 33
Foto: iStock

Die Rivonia-verhoor, waartydens agt ANC- en SAKP-lede op 193 aanklagte lewenslange tronkstraf opgelê is, is een van die belangrikste hofsake in die wêreld en het ook die geskiedenis van Suid-Afrika vir altyd verander. Agt mense, wat in 1964 vir meer as twintig jaar tronk toe gestuur is, is een van die redes waarom alle Suid-Afrikaners ouer as agtien vandag kan stem en vele ander regte kan geniet.

Die Hooggeregshof in Pretoria.

Agtergrond

In 1948 het die regerende party in Suid-Afrika, die Nasionale Party, apartheid ingestel. Apartheid het onder meer bepaal dat mense van verskillende rassegroepe afsonderlik moes woon en werk. Op papier het dit soos gelyke ontwikkeling en kulturele vryheid gelyk, maar hóé die beleid ingestel en toegepas is, het dít onmoontlik gemaak.

Die vlag van die Nasionale Party (1936-1993).

Deur apartheid is wette ingestel wat die verskillende rassegroepe gedwing het om afsonderlik te leef. Mense van verskillende bevolkingsgroepe kon nie met mekaar trou of saam met mekaar kuier of skoolgaan nie. 1 Mense wat nie wit is nie, is deur dié wette onderdruk. Hulle mag nie dieselfde badkamers gebruik het nie en moes afsonderlike ingange by openbare geboue gebruik. Mense van verskillende rasse mag ook nie saam van openbare vervoer (soos busse en treine) gebruik gemaak het nie. Daar was selfs kennisgewingbordjies by parke en op strande dat dit slegs vir wit mense se gebruik was! 2

Daar was van oral weerstand (teenkanting of verset) teen apartheid – nie net van diegene wat daardeur onderdruk is nie. Ander lande het ook kritiek teen apartheid uitgespreek en sommige lande het die vryheidsbewegings in Suid-Afrika ondersteun. Van die belangrikste organisasies wat in die stryd om vryheid betrokke was, was die African National Congress (ANC), die Pan-Africanist Congress (PAC) en die Inkatha-Vryheidsparty (IVP). 1

In 1949, die jaar net ná apartheid ingestel is, het die ANC meer kragdadig (al sterker) begin optree. Die ANC het aanvanklik stakings, betogings en ander niegewelddadige weerstand ondersteun. Nelson Mandela, Oliver Tambo en Walter Sisulu het in dié tyd ʼn belangrike rol in dié party begin speel.

Die ANC-vlag.

In 1952 het die ANC mense aangemoedig om doelbewus apartheidswette te oortree en hulself oor te gee om in hegtenis geneem te word. Swart mense het in “wit” busse geklim en “wit” toilette gebruik. Die ANC het gehoop dat ʼn toename in gevangenes sou veroorsaak dat die stelsel ineenstort en dat hulle ondersteuning by ander lande sou ontvang. Sowat 8 000 mense het in die tronk beland, maar die ANC was nie ʼn bedreiging vir die apartheidsregering nie. 1

Die stryd teen apartheid het in die 1960’s toegeneem. Op 21 Maart 1960 is 69 swart betogers by die polisiekantoor in die informele nedersetting Sharpeville deur die polisie doodgeskiet. Sowat 180 mense is beseer. Die regering kondig ʼn noodtoestand af en verban die ANC en PAC. 3

Leiers van die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP) het reeds in 1958 en ’59 begin gesels oor ʼn gewapende stryd. Volgens hulle was die vreedsame betogings nie suksesvol nie. Die ANC het gevolglik ʼn ondergrondse weermag genaamd uMkhonto we Sizwe (MK) of “Spies van die Nasie” op 16 Desember 1961 begin. 4

In 1962 het die ANC een van die party se toekomstige leiers, Nelson Mandela, opdrag gegee om na verskeie Afrika-lande te reis om ondersteuning vir MK te werf. Hy moes ook self weermagopleiding kry. Hy keer deur Botswana terug na die land, en word in Augustus 1962 in Howick in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem. Hy is skuldig bevind daaraan dat hy die land sonder ʼn permit verlaat het. Hy word vyf jaar tronkstraf opgelê en in 1963 Robbeneiland toe gestuur. 3

‘n Kunswerk van oudpres. Nelson Mandela naby Howick.

Robbeneiland is ʼn eiland in Tafelbaai, 12 kilometer vanaf die kus van Kaapstad. Van die einde van die 17de eeu af is Robbeneiland gebruik om sekere individue af te sonder, grootliks as ʼn tronk, maar ook as behuising vir melaatses en mense wat sielkundige probleme gehad het. In die 20ste eeu het dit as ʼn tronk vir politieke gevangenes bekend geword. 5

Ná slegs twee weke op Robbeneiland is Mandela teruggeneem na Pretoria. Hy kon glad nie verstaan waarom nie, tot hy uitgevind het die polisie het ʼn klopjag op die plaas Liliesleaf uitgevoer. 6

Die Liliesleaf-klopjag

Liliesleaf was ʼn afgesonderde plaas buite Rivonia naby Johannesburg. Die plaas is in 1961 deur die SAKP gekoop as ʼn skuilplek vir lede van die SAKP en ANC om weg te kruip as hulle vir die polisie moes vlug. Arthur Goldreich, ʼn kunstenaar wat nog nie aan die polisie bekend was nie, het as wit persoon in die hoofhuis gebly, terwyl die ANC- en SAKP-lede in die buitegeboue gebly en skelm (in die geheim) vergader het. Goldreich het saam met sy gesin op die plaas gewoon sodat dit soos ʼn gewone plaas sou lyk. Hy was ook deel van die ondergrondse MK. Die plaas is ook gebruik as ʼn plek waar hulle planne vir die gewapende stryd (protes deur die gebruik van geweld) kon beraam. 4

Die grasdakkamer op die plaas Liliesleaf, Rivonia, waar verskeie ANC-aktiviste vergader het toe die polisie in 1963 op die plaas toegeslaan het.

Die polisie het inligting oor dié plaas by ʼn informant gekry en op 11 Julie 1963 op Liliesleaf toegeslaan. ʼn Bussie van ʼn droogskoonmaker het op die plaas aangekom. Niemand by Liliesleaf het egter ʼn aflewering versoek of verwag nie. ʼn Jong swart man wou die voertuig voorkeer, maar talle gewapende polisielede en polisiehonde het skielik uit die voertuig gespring. 7

Die polisie was ewe verras as die mense op die plaas. Hulle het gehoop om net vir Walter Sisulu, ʼn leier van die MK, daar te vind, maar kom toe op ʼn hele vergadering af. Sisulu, Raymond Mhlaba, Govan Mbeki, Lionel “Rusty” Bernstein, Bob Hepple, Ahmed Kathrada en Denis Goldberg was presies op daardie oomblik besig om ʼn dokument genaamd “Operation Mayibuye” te bespreek. Dié dokument was ʼn MK-voorstel vir guerrillaoorlogvoering en revolusie. Goldreich het by die plaas aangekom terwyl die klopjag aan die gang was en is ook in hegtenis geneem. Met een operasie is al die topleiers van die MK saam-saam aangekeer. 7

Govan Mbeki.
Ahmed Kathrada.
Denis Goldberg.

Toe die mense besef wat aangaan, het hulle probeer om uit ʼn venster te ontsnap. Goldberg, wat in die hoofhuis was, het soveel as moontlik dokumente en bewysstukke (dinge wat kan wys dat iemand moontlik aan iets skuldig is) in die toilet probeer afspoel, maar dit was te laat – die polisie het op ʼn vonds (ontdekking) afgekom wat sou lei tot een van die belangrikste regsverhore (hofsake) in Suid-Afrika se geskiedenis. 8

Benewens meer as ʼn honderd kaarte van plekke wat uMkhonto we Sizwe wou vernietig, is die Mayibuye-dokument ook op die tafel, waar die mense vergader het, gevind. In hierdie dokument is daar in besonderhede beskryf hoe die nasionale bevel (die leiers van MK) 210 000 handgranate, 48 000 landmyne en tonne springstof aan die MK-soldate sou verskaf. Die M-plan, of Mandela-plan, soos die dokument ook genoem is, het bepaal dat Liliesleaf die sentrale plek sou wees wat die streekkomitees sou beheer om terreur (geweld) teen die regering te gebruik as ʼn manier om die regering omver te gooi (oor te neem). 9

Tydens die klopjag was Mandela nie daar nie. Hy was in die tronk besig om tronkstraf uit te dien vir aanhitsing van werkers om te staak en omdat hy die land onwettig verlaat het. Die Mayibuye-dokument en ʼn dagboek wat Mandela tydens sy reise gehou het, het hom egter aan die werksaamhede (planne) by Liliesleaf verbind. 8

Inhegtenisnemings

Walter Sisulu, Govan Mbeki, Raymond Mahlaba, Ahmed Kathrada, Arthur Goldreich, Denis Goldberg, Lionel Bernstein en Bob Hepple is op die plaas in hegtenis geneem. In hierdie tyd was daar ʼn wet wat dit vir die polisie wettig gemaak het om mense vir 90 dae gevange te hou, sonder dat hulle in die hof verskyn. Dit het die polisie genoeg tyd gegee om behoorlik ondersoek na hul bedrywighede in te stel. 4

In dié tyd is nog mense aangekeer, insluitend Harold Wolpe, ʼn advokaat wat SAKP-geld gebruik het om Liliesleaf te koop. James Kantor, wat niks met die MK of die politiek te doen gehad het nie, maar wel ʼn kollega (iemand wat saam met jou werk) en swaer was van Wolpe, word ook in die tronk aangehou. Elias Motsoaledi en Andrew Mlangeni, MK-lede wie se vingerafdrukke op die plaas gevind is, sluit later by die aangehoudenes aan. 4

Mandela se naam word in hierdie tydperk van 90 dae ook by die lys van beskuldigdes gevoeg weens die bewyse dat hy ook op die plaas was. 4

Goldberg, Bernstein, Hepple, Wolpe en Goldreich was wit Jode en is afsonderlik van die swart en Indiër-gevangenes aangehou. Goldreich en Wolpe het egter ʼn tronkbewaarder omgekoop en ontsnap uit die tronk. 4

Oliver Tambo, Joe Slovo, Ben Turok, Duma Nokwe, Joe Modise, Gertrude Shope en Jack Hodgson is ook daarvan verdink dat hulle saamgesweer het om die regering omver te werp. Die meeste van hierdie mense het weggekruip of was oorsee waar hulle probeer het om geld en ondersteuning vir die beskuldigdes te kry. Betogings teen apartheid is deur hierdie mense in die buiteland gereël. 4

Mandela verskyn op 9 Oktober 1963 saam met 10 ander beskuldigdes in die Paleis van Justisie by Kerkplein in Pretoria. Sy medebeskuldigdes was Walter Sisulu, Govan Mbeki, Ahmed Kathrada, Raymond Mhlaba, Denis Goldberg, Elias Motsoaledi, Rusty Bernstein, Bob Hepple, Andrew Mlangeni en James Kantor. Die saak word tot 29 Oktober uitgestel. 3

Op 30 Oktober 1963 word Hepple as staatsgetuie (iemand wat in ʼn geregshof vir die staat getuig) op borgtog vrygelaat. Pleks daarvan om te getuig, vlug hy uit die land. 3

Die oorspronklike 199 klagtes van sabotasie word op 25 November 1963 na 193 verminder en op 3 Desember begin die hofsaak met al 10 beskuldigdes wat skuld ontken. 3 Die groep word aangekla van sabotasie, hoogverraad, pogings om die regering omver te werp en pogings om kommunisme in Suid-Afrika te bevorder. 10

Die regspan

Die verhoor is gelei deur regter Quartus de Wet wat die regter-president van die destydse Transvaal (nou Gauteng) was. Dr. Percy Yutar het namens die staat as staatsaanklaer opgetree. Buiten Joel Joffe, ʼn prokureur wat in menseregte gespesialiseer het, en Vernon Berrangé, ʼn prokureur wat uit Londen gekom het, was baie van die lede van die verdediging (wat die beskuldigdes in die hof verteenwoordig het) vriende van Mandela: 6

Bram Fischer

Fisher was ʼn Afrikaanssprekende van Bloemfontein wat in 1940 by die SAKP aangesluit het. Hy het Mandela by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) naby Johannesburg ontmoet waar hy as ʼn dosent (lektor by ʼn universiteit) gewerk het. In 1964 word hy in hegtenis geneem as gevolg van sy SAKP-lidmaatskap. In 1974 word hy vrygelaat toe kanker by hom gediagnoseer word. Hy sterf op 8 Mei 1975. 6

George Bizos

George Bizos vlug in 1941 as dertienjarige saam met sy ouers uit Griekeland na Suid-Afrika. Hy maak vriende met Mandela tydens sy studentejare aan Wits. Hy vorm deel van die regspan tydens die hoogverraadverhoor en sou later ook ander ANC-aktiviste soos Winnie Mandela, Walter Sisulu en Govan Mbeki tydens hul hofsake verdedig. 6

George Bizos.

Arthur Chaskalson

Chaskalson was ʼn briljante regstudent aan Wits wat met lof (bo 80%) geslaag het. Ná die Rivonia-verhoor het hy hom toegespits op menseregtesake. Hy word in 1994 die eerste president van die Suid-Afrikaanse Konstitusionele Hof. 6

Die staat se saak

Yutar het aangevoer die beskuldigdes was almal lede van “ ʼn kabinet om die staat omver te gooi”. Een van die staat se belangrikste getuies was Bruno Mtolo, wat agter geslote deure as “Mr. X” getuig het. Hy was ʼn lid van die MK in KwaZulu-Natal en het ʼn uitstekende geheue gehad. Hy het die hof vertel van verskeie vergaderings en gebeure waar hy planne aangehoor het om die staat omver te gooi. Hy het gesê hy getuig vir die staat uit afsku oor hoe Sisulu en ander topleiers ʼn luukse leefstyl lei, terwyl hy nie eens ʼn loon (betaling of salaris) ontvang het vir sy aktiwiteite in die MK nie. 4

Verweer

ʼn Groot oomblik in die hofsaak was Mandela se beurt in die beskuldigdebank. Hy het dieselfde hof waar hy verskyn het, as onwettig beskryf. Hy het gesê die wette was oordrewe streng en teenkanting teen dié wette is geregverdig. 4

Hy het ʼn lang verklaring afgelê. In hierdie verklaring het hy erken dat die meeste van die bewerings in die klagstaat waar was: Hy het gehelp om die MK te skep, hy was deel van die sabotasieprojekte, maar ʼn sogenaamde “burgeroorlog” waartydens inwoners van dieselfde land met mekaar baklei, was die allerlaaste uitweg. Oor die klag van poging om kommunisme te bevorder, het hy gesê dat die ANC en SAKP net party-idees deel en dat hy persoonlik die Weste, en veral Brittanje, se parlementêre stelsel bewonder. 11

Die grootste verweer wat die beskuldigdes se regspan gehad het, was dat die Mayibuye-dokument net ʼn plan of ʼn idee was, en dat dit nooit goedgekeur is nie. 12

Mandela sluit sy toespraak in die beskuldigdebank af met woorde wat die volgende dag in bykans al die belangrikste koerante in die wêreld gepubliseer is. Veral die paar laaste sinne sou jare daarna as ʼn slagspreuk vir bevrydingsbewegings (organisasies wat vir demokrasie geveg het) gebruik word: “‘In my leeftyd het ek my aan Afrikane se stryd gewy. Ek het my nie net teen wit oorheersing nie, maar ook teen swart oorheersing verset. Ek koester die ideaal van ʼn vry en demokratiese samelewing waar mense eensgesind en met gelyke geleenthede saamleef. Dit is ʼn ideaal waarvoor ek graag wil leef en wat ek graag wil bereik. Indien nodig, is dit ook ʼn ideaal waarvoor ek bereid is om te sterf.” 13

Uitspraak

Die mediadekking van die Rivonia-verhoor was reusagtig; die saak is wêreldwyd gevolg. Die Suid-Afrikaanse regering was dus onder baie druk van die internasionale gemeenskap tydens en ná die verhoor. Die Verenigde Nasies het verklarings aan die regering gestuur en versoek dat die beskuldigdes nie die doodstraf opgelê word nie – die hoogste straf wat die wet in daardie stadium vir hoogverraad en sabotasie kon afdwing. 4

Voor die vonnis opgelê is het, onder andere, Alan Paton, die bekende Suid-Afrikaanse skrywer en anti-apartheidsaktivis, ook om versagting by die hof gepleit. 6

Kantor word reeds op 4 Maart 1964 onskuldig bevind en ontslaan. Aan die einde van die verhoor is dit net Mandela en sewe ander beskuldigdes oor wie se lot daar besluit moes word. 3

Op 11 Junie 1964 word Nelson Mandela, Walter Sisulu, Ahmed Kathrada, Govan Mbeki, Raymond Mhlaba, Denis Goldberg, Elias Motsoaledi en Andrew Mlangeni skuldig bevind en die volgende dag tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis. As ʼn wit persoon is Goldberg na die Pretoria-tronk gestuur terwyl die ander sewe die volgende twee dekades op Robbeneiland moes deurbring. 3

Gevolge van die Rivonia-verhoor

Die Rivonia-verhoor het internasionaal aandag getrek en as gevolg van, onder andere, Nelson Mandela se toespraak het mense al hoe meer kennis begin neem van Suid-Afrika se apartheidsbeleid. Sportliggame soos die Internasionale Olimpiese Komitee en Fifa, die internasionale beheerliggaam vir sokker, het Suid-Afrika se lidmaatskap beëindig. Teen die einde van die 1970’s was Suid-Afrika nie net ekonomies uitgesluit van die res van die wêreld nie, maar kon ook nie meer aan internasionale sport of kultuur deelneem nie. 4

Met die meeste van die leiers op ʼn afgesonderde eiland, het die binnelandse (in Suid-Afrika) stryd teen apartheid ʼn groot knou gekry. Die oorblywende aktiviste wat nie gevang is nie, het na die buiteland gevlug waar hulle steun en geld vir die ANC se stryd teen apartheid gewerf het. Daar is ʼn basis vir die MK in Dar es Salaam (Tanzanië) gestig waar honderde soldate vir die gewapende stryd teen apartheid voorberei is. 4

Vandag hang die landswapen in die hofsaal waar die Rivonia-verhoor plaasgevind het. Die woorde !ke e: /xarra //ke (“Eenheid in diversiteit”) in ʼn uitgestorwe Khoi-San-taal pryk op die wapen en is ʼn uitnodiging vir die land om te verenig in nasionale trots.

Dit is onmoontlik om vandag te verstaan sonder dat ons die verlede onthou. 14

Wat het van die beskuldigdes geword?

  • Nelson Rolihlahla Mandela is op 11 Februarie 1990 vrygelaat, nege dae ná die ANC en PAC ontban is. Hy het drie keer tevore aanbiedings om voorwaardelike parool van die hand gewys. Hy het in amptelike gesprekke betrokke geraak om die wit minderheidsregering tot ʼn einde te bring. In 1991 word hy as president van die ANC verkies om sy siek vriend, Oliver Tambo, se plek in te neem. In 1993 ontvang hy saam met oudpres. F.W. de Klerk die Nobelprys vir Vrede en op 27 April 1994 kan hy vir die eerste keer in sy lewe stem. Op 10 Mei 1994 word hy as Suid-Afrika se eerste demokratiese president aangewys. Hy sterf op 10 Desember 2013. Hy was 95 jaar oud. 15
  • Walter Max Ulyate Sisulu is op 15 Oktober 1989 vrygelaat. Hy is in 1991 as adjunkpresident van die ANC aangewys, maar tree in 1994 uit die politiek weens swak gesondheid. Hy sterf op 5 Mei 2003, net ʼn paar dae voor sy 91ste verjaarsdag. 16
  • Ahmed Mohamed “Kathy” Kathrada is op 15 Oktober 1989 vrygelaat. Hy het verskeie akademiese grade behaal terwyl hy agter tralies was. By die ANC se eerste wettige konferensie in Februarie 1990 word hy verkies tot die party se nasionale uitvoerende komitee. In 1995 word hy aangewys as voorsitter van die Raad van die Robbeneiland-museum. Hy het ook as ʼn parlementêre raadslid gedien in die kantoor van die president. Hy sterf op 28 Maart 2017 in die ouderdom van 87. 17
  • Govan Archibald Mvuyelwa Mbeki, pa van oudpres. Thabo Mbeki, is op 5 November 1987 vrygelaat. Hy was daarna steeds verbind tot die stryd om ʼn einde aan apartheid te bring. Hy sterf op 30 Augustus 2001. Hy was 91 jaar oud. 18
  • Raymond Mphakamisi Mhlaba is op 15 Oktober 1989 vrygelaat om by die ANC se spesiale uitvoerende komitee aan te sluit om met die Nasionale Party oor ʼn demokratiese toekoms vir Suid-Afrika te onderhandel. In 1991 word hy verkies tot die ANC se nasionale uitvoerende komitee en in 1994 word hy die premier van die Oos-Kaap. Hy sterf op 19 Februarie 2005, enkele dae ná sy 85ste verjaarsdag. 19
  • Denis Theodore Goldberg, wat vir meer as 20 jaar lank afsonderlik van sy kamerade aangehou is, aanvaar oudpres. P.W. Botha se aanbod vir politieke gevangenes om vrylating indien hulle geweld laat vaar. Hy word op 28 Februarie 1985 vrygelaat. 4 Ná sy vrylating het hy na Londen, Engeland, vertrek om by sy gesin aan te sluit. Hy het van 1985 tot 1994 by die ANC se kantoor in Londen gewerk. In 2002 keer hy terug na Suid-Afrika. Hy sterf op 29 April 2020 in die ouderdom van 87. 20
  • Elias Mathope Motsoaledi is op 15 Oktober 1989 vrygelaat. Hy word in 1991 verkies tot die ANC se nasionale uitvoerende komitee. Hy sterf as 70-jarige op 9 Mei 1994, een dag voor Mandela as president ingehuldig sou word. 21
  • Andrew Mokete Mlangeni is op 15 Oktober 1989 vrygelaat. Hy het van 1994 tot 2004 as ʼn lid van die parlement (LP) vir die ANC gedien en in die Nasionale Vergadering van 2009 tot 2014 toe hy afgetree het. Hy was ʼn hegte vriend van Mandela. Hy sterf op 21 Julie 2020 in die ouderdom van 95. 22

Woordbank

advokaat ʼn Regsgeleerde wat regsadvies aan kliënte gee en namens ʼn beskuldigde, eiser of die staat sake in ‘n (hoër) hof bepleit.
apartheid Amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering (1948-1994) waarvolgens Suid-Afrikaners in kleur-/rassegroepe geskei is.
beskuldigdes Iemand wat van iets beskuldig word/is; iemand wat voor ʼn hof moet verskyn.
betogers Deelnemer aan ʼn betoging.
betoging Optog/demonstrasie om ontevredenheid oor ʼn aangeleentheid te toon.
bewysstukke Akte, geskrif of voorwerp wat as bewys voorgelê word.
borgtog ʼn Som geld wat by ʼn hof gelaat word om seker te maak dat ʼn gevange wat vrygelaat word, sal terugkom wanneer sy/haar verhoor begin.
guerrillaoorlogvoering Oorlog wat meestal gevoer word deur klein groepies by wyse van strooptogte op verbindingsweë, sabotasie, hinderlae op moeilik begaanbare terrein, ens.; onkonvensionele wyse van oorlogvoering.
getuie Iemand wat in ʼn hof verskyn om te vertel wat hy/sy van ʼn misdaad of ander gebeurtenis weet.
handgranate Ligte splinterbommetjie wat met die hand gegooi of aan ʼn stok/steel geslinger word.
hof Die plek waar ‘n landdros of regter na ‘n saak luister en besluit of ‘n beskuldigde skuldig of onskuldig is.
hoogverraad Optrede waardeur iemand die land waaraan hy/sy trou behoort te wees, verraai of in gevaar stel.
informant Iemand wat inligting verstrek.
kalksteengroef (Steen)groef waaruit kalksteen verkry word.
kamerade Vriendskap en lojaliteit tussen mense wat saam werk/veg/ens.
klagstaat ʼn Verslag wat in ʼn polisiekantoor gehou word van al die klagte wat mense daar kom indien, die name van mense wat van ʼn misdaad beskuldig is, asook dié van getuies.
klopjag ʼn Onverwagte besoek of soektog deur byvoorbeeld die polisie om iets/iemand op te spoor.
konstitusioneel Volgens/rakende die grondwet van ʼn land/organisasie.
Konstitusionele Hof Die hoogste/belangrikste hof in ʼn land; Grondwethof.
landmyne Myn (ploftoestel) wat in die grond begrawe word en ontplof wanneer iemand daaroor loop/ry.
landswapen Wapen wat as onderskeidingsteken vir ʼn bepaalde land dien.
loon Betaling wat jy kry vir werk wat jy gedoen het.
melaatses Besmetlike, slepende bakteriese siekte wat die vel, senuwees en slymvliese wegvreet.
omgekoop Met geld of ʼn geskenk omhaal/oorhaal om iets slegs/onwettigs te doen.
ondergrondse Geheim; onwettig.
ontban ʼn Verbod ophef.
parool Vrylating van ʼn gevangene voor sy/haar vonnis uitgedien is op voorwaarde dat hy/sy hom/haar gereeld aanmeld soos vereis en van oortredings weerhou.
prokureur Iemand wat (in die) regte gestudeer het en wie se werk dit is om aan mense wette te verduidelik, formele ooreenkomste op te stel en kliënte in die hof te verteenwoordig.
regter Iemand wie se werk dit is om in ʼn hof uitsprake te lewer, te besluit wie skuldig en onskuldig is en hoe oortreders gestraf moet word.
revolusie Wanneer mense deur geweld te gebruik ʼn politieke stelsel verander of ʼn leier vervang.
sabotasie Handeling/daad van opsetlik toerusting/voertuie/ens. te beskadig/vernietig sodat jou vyand/teenstander dit nie kan gebruik nie.
springstof Ontplofbare stof, bv. dinamiet; plofstof.
staatsaanklaer ʼn Regsgeleerde wat vir die staat werk en in ʼn hof probeer bewys dat iemand iets onwettigs gedoen het.
uitspraak ʼn Amptelike/formele stelling/bevinding.
verban Verplig om ʼn land/plek vir goed te verlaat; in ballingskap ʼn land uitstuur; uitstoot; verdryf.
verdagte Iemand wat van iets verdink word.
verhoor Die ondervraging van ʼn beskuldigde in ʼn hof.
verklaring ʼn Formele verduideliking/bewys/belofte.
verraad Gedrag waarin jy nie lojaal bly teenoor jou land of teenoor iemand wat jou vertrou nie, veral as jy deur jou optrede sy/haar vyande help.
verweer Verdediging; iets wat jy (kan) doen om jou teen iemand/iets te verdedig/beskerm. 34

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die Rivonia-verhoor in ʼn neutedop

Die beskuldigdes in die Rivonia-verhoor het beplan om ʼn guerrillaoorlog te begin

Gedeeltes van Mandela se belangrike toespraak

Protes tydens ʼn rugbywedstryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland

Kyk hierna vir meer oor Robbeneiland

ʼn Toer van Robbeneiland

Oudpres. Nelson Mandela besoek sy ou tronksel op Robbeneiland

Die voormalige Amerikaanse president Barack Obama het ook al ʼn besoek aan Robbeneiland gebring

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 29 September 2022 | Bygewerk op 15 April 2024