Vinnige feite

  • Tutu het as ʼn kind by die Padvinders aangesluit. Hy het onder meer met ʼn kenteken vir kosmaak (kook) gespog. 20
  • Leah en Desmond was as pasgetroudes só arm dat hulle in die eet- en sitkamer van Desmond se ouerhuis gebly het. 2
  • Drie van Tutu en Leah se kinders het ook teoloë soos hul pa geword. Theresa Tutu is in 2018 in die Real-tydskrif se lys van 100 wêreldleiers ingesluit. 5
  • Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), waarvan Tutu lank die voorsitter was, se hoofkantoor is een keer tydens ʼn bomaanval heeltemal vernietig weens die raad se teenkanting teen die apartheidsregering. 21
  • Tutu het die Nobelprys vir Vrede op 10 Desember 1984 ontvang. Minute ná die gesogte toekenning aan hom oorhandig is, was daar ʼn bomdreigement en die hele gebou moes ontruim word. Die polisie het die gebou deursoek, maar geen bom gevind nie. 2
  • As student was Desmond deel van ʼn geletterdheids- en dramaklub. 8
  • Vilakazi-straat in Soweto is die enigste straat in die wêreld waar twee Nobelpryswenners, Desmond Tutu en Nelson Mandela, gewoon het. 22
  • Tutu het ook kinderboeke geskryf. 23
Foto: iStock

Vredemaker, vegter teen onregverdigheid. Pres. Cyril Ramaphosa beskryf hom as “die gewete van Suid-Afrika”. ʼn Leier onder leiers, Nobelpryswenner én die eerste swart aartsbiskop van die Anglikaanse Kerk in Suid-Afrika. Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu was ál bogenoemde en meer – iemand met simpatie vir ander. Iemand wat gehuil het, gelag het en liefgehad het.

As een van die min aktiviste wat nie geweld gebruik het om ʼn einde aan apartheid te bring nie, het Desmond Tutu ʼn enorme (baie groot) bydrae gelewer om die land na ʼn demokrasie te lei. En ná apartheid het hy as voorsitter van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) die reënboognasie (soos hy ons mooi land se mense genoem het) gehelp om mekaar te vergewe.

Grootwordjare

Desmond Mpilo (wat “lewe” beteken) Tutu is op 7 Oktober 1931 in Klerksdorp in vandag se Noordwes-provinsie gebore. Hy was Zachariah en Aletta Tutu se derde kind en eerste seun nadat sy ouer boetie as ʼn baba gesterf het. Behalwe vir twee ouer sussies, word ʼn jonger sussie later gebore. 1

Sy pa, ʼn Xhosa van die Oos-Kaap, was ʼn onderwyser, en sy ma, ʼn Tswanasprekende, het huise skoongemaak. Sy ouma, wat weer Sotho gepraat het, het by die gesin gewoon. As kind leer hy dus by die huis om Xhosa, Tswana en Sotho te praat, en voeg later ook Afrikaans en Engels in sy taalskatkis – ʼn vaardigheid wat hom later in sy lewe sou help om vinnig nuwe tale te bemeester (onder die knie te kry). 2

As kind kry Desmond polio, ʼn lewensgevaarlike siekte wat dikwels verlamming veroorsaak. Hy herstel hiervan, maar die gevolge van dié siekte het hom die res van sy lewe bygebly – sy regterhand sou nooit ʼn sterk greep hê nie. 3

Tutu was agt jaar oud toe sy pa ʼn werk kry in Ventersdorp, nie ver van Klerksdorp af nie. Hy gaan op dié ouderdom vir die eerste keer skool toe. Kort daarna moet die gesin weer verhuis toe pa Zachariah ʼn beter werk in Roodepoort in Gauteng kry. Die gesin het hulle later in Munsieville, ʼn swart woonbuurt in Krugersdorp, gevestig.

Die jong Tutu was ’n ware entrepreneur en het ekstra geld verdien deur die klere, wat sy ma vir ander mense gewas het, te gaan oplaai en aflewer. Hy het ook grondboontjies en lemoene verkoop. Oor naweke het hy sy lyf gholfjoggie by die Killarney-gholfbaan gehou deur die gholfspelers se sakke te dra. 4 [Lees hier oor entrepreneurskap.]

In 1945 word hy ʼn leerder aan die Western High School in die destydse Sophiatown naby Johannesburg. Hy vaar goed in sy skoolwerk en ontwikkel ook hier sy lewenslange liefde vir rugby en krieket nadat hy gekies word om vir die skool te speel. 4

Ontvangs van die Internasionale Kindervredesprys

Tutu se grootwordjare was moeilik. Sy pa was gereeld onder die invloed van alkohol en het soms sy ma geslaan. Dit was vir Desmond só erg dat hy eers later in sy lewe daaroor kon praat en hy kon ook nie sonder trane daaroor praat nie. Omdat hy soveel geweld in sy eie huis gesien het, sou hy in sy lewe altyd geweld verwerp en ʼn uitgesproke voorstander word vir ondergeskiktes en diegene wat verdruk word. 2

In sy graad 10-jaar kry hy tuberkulose, ʼn lewensgevaarlike longsiekte, en word in die hospitaal opgeneem. Gedurende sy hospitalisasie besoek vader (soos ʼn dominee of pastoor in die Anglikaanse Kerk genoem word) Trevor Huddleston die tiener gereeld met boeke en koerante. Tutu het later vertel watter indruk Huddleston op hom gemaak het omdat hy alle mense met die grootste respek behandel het. Hy het ook gesien hoe dié Britse priester sy hoed uit respek vir Tutu se ma afhaal. Dit was die eerste keer in sy lewe dat hy gesien het hoe ʼn wit mens respek teenoor ʼn swart mens betoon, en dit het hom sy lewe lank bygebly. 2

Ná agtien maande in die hospitaal was Tutu gesond genoeg om terug skool toe te gaan. Ten spyte van sy agterstand, slaag hy matriek uiteindelik baie goed. 4

Die aartsbiskop emeritus Desmond Tutu saam met Bono by sy amptelike boekbekendstelling

Van die klaskamer tot die kerk

Sy lang siekbed het Desmond op twee maniere beïnvloed: Hoewel die Tutu-gesin gelowig was, het sy eie geloof in hierdie tyd verdiep (gegroei). Verder was hy só geïnspireer deur die mense wat hom in die hospitaal versorg het, dat hy besluit om ʼn dokter te word. Al was sy punte goed genoeg om medies te gaan studeer, kon sy ouers nie die universiteitsgeld bekostig nie. Hy kon ook nie ʼn beurs kry nie en volg in sy pa se voetspore om onderwys te gaan studeer. 2

Hy ontmoet sy toekomstige vrou, Leah Shenxane, tydens sy studentejare aan die Bantoe Normaalkollege in Pretoria. Hoewel hulle saam op hoërskool was, het die liefde tussen hulle eers as studente begin blom. In 1955 beloof hulle ewige trou aan mekaar. Desmond en Leah was 66 jaar lank getroud en uit die huwelik is vier kinders gebore – Trevor, vernoem na vader Trevor Huddleston in 1956; Theresa in 1957; Naomi in 1960; en Mpho in 1964. 5

Tutu was ʼn wonderlike onderwyser wat sy leerders geïnspireer en ʼn nuwe kykie op die lewe gegee het. Een leerder het geskryf: “Om te sê dat Tutu ʼn gewilde en suksesvolle onderwyser was, is sagkens gestel. Hy was ʼn sensasie.” 3

Desmond Tutu, Gordon McMullan, Hays Rockwell, Brenda Husson en Craig Townsend wat Nagmaal vier, Maart 2010, St. James Church

Die egpaar was skaars ʼn jaar of twee onderwysers toe hulle besluit om te bedank as gevolg van die Wet op Bantoe-onderwys wat in 1953 in werking getree het. 3 Hierdie wet het onder meer bepaal dat kinders in hul moedertaal (die taal wat die meeste by die huis gepraat word) skool moes gaan. Daar was egter nie handboeke in al die tale nie en baie mense het geglo dat die onderwys vir swart kinders van ’n swakker gehalte as dié van wit kinders was. 3 Swart onderwysers se salarisse is ook verminder terwyl wit en Europese onderwysers se salarisse verhoog is. Dit was die eerste keer dat Tutu vir rasse-ongeregtigheid (onregverdigheid) opgestaan het. 3

Ná sy bedanking besluit Tutu om sy roeping, wat hy as kind in die hospitaal gekry het, te volg. In 1958 begin hy met sy teologiese (godsdienstige) studies aan die St. Peter Kollege, ʼn privaat teologiese kollege van die Anglikaanse kerk in Johannesburg. Nadat hy sy studies geslaag het, word hy as ʼn priester (soos ʼn pastoor of dominee) in hierdie kerk georden (toegelaat). 2

Intussen het die Nasionale Party die verkiesing in 1948 gewen en die party se leiers het sy program (wat die apartheidsbeleid sou word) aangekondig om rassegroepe in Suid-Afrika te skei. Tutu het in hierdie stadium nog nie enige rol in die weerstandsbeweging gespeel wat vroeg in die 1950’s begin het nie. Leiers van die African National Congress (ANC), ʼn party wat in 1912 tot stand gekom het, het ʼn boikot versoek teen die wit beheerde nywerhede (maatskappye) en vervoerstelsels. 2

Op 12 Junie 2009 het die Universiteit van Wene die graad “Doctor Theologiae honoris causa” aan Desmond Tutu toegeken.

In 1962 verhuis die Tutu-gesin na Engeland waar Tutu sy meestersgraad in teologie aan Kings’ College in Londen verwerf. 6 Engeland was baie anders as Suid-Afrika. Speakers’ Corner in Londen het Tutu veral beïndruk. Speakers’ Corner was ʼn area in Hyde Park waar mense toegelaat is om oor enigiets onder die son te praat. 7 Die vryheid van spraak wat in Engeland geheers het, was een van die menseregte waarvoor Tutu hom lewenslank beywer het. 2

In 1966 keer die gesin terug na Suid-Afrika en sukkel om aan te pas in ʼn land waar mense se vryheid deur apartheid ingeperk is. Wette soos die paswette het bepaal dat swart mense nie ná 22:00 op straat kon wees sonder ʼn pas (dokument) nie. 8

Vir die volgende sewe jaar werk Tutu as dosent (lektor aan ʼn universiteit) by universiteite in Botswana, Lesotho en Swaziland. 9

Deur sy lewe het Tutu gereeld verhuis en van werk verander. In 1972 word hy ʼn pos as mededirekteur by die Teologiese Onderwysfonds in Londen aangebied. Dit was ʼn groot eer, maar hy sou nie die amp uit Lesotho, waar hy en Leah in dié stadium gewoon het, kon beklee nie. In 1973 keer hulle vir die tweede keer terug na Londen. Tydens die drie jaar wat hulle daar is, kry Leah en Desmond vir die eerste keer in hul lewe kans om tydens ʼn demokratiese verkiesing te stem – iets wat hulle eers jare later in 1994 in Suid-Afrika kon doen. 2

Desmond Tutu lewer ‘n toespraak by die geleentheid “Desmond Tutu ontmoet Albert Schweitzer” in Deventer, Nederland.

Van teoloog tot vredemaker

Vroeg in 1975 draai die wiel weer vir Tutu. Die aartsbiskop van Johannesburg sterf en dié pos moet gevul word. Daar was ʼn voorstel dat Desmond Tutu die nuwe aartsbiskop moet word, maar hy het nie gedink hy is bekwaam genoeg nie. Iemand anders is uiteindelik as aartsbiskop aangestel en Tutu was dankbaar oor die nuus. ʼn Paar dae later het die nuwe biskop hom egter gevra om die nuwe deken van Johannesburg te word – die tweede hoogste aanstelling in dié bisdom in die Anglikaanse Kerk. 2

Apartheid het Tutu baie bekommerd gemaak oor die toekoms van die Suid-Afrika. Nadat hy vyf dae daaroor gebid het, skryf hy in Mei 1976 ʼn brief aan die destydse eerste minister John Vorster waarin hy voorspel dat geweld in die land gaan uitbreek. Vorster het hom nie aan die brief gesteur nie en die ink was skaars droog toe die Soweto-opstand op 16 Junie 1976 uitbreek. 6

Tydens die Soweto-opstand het leerders van swart hoërskole in Johannesburg as ʼn manier van protes optogte op 16 Junie 1976 begin hou nadat die regering skole wou dwing om sekere vakke in Afrikaans aan te bied. 10

Tussen 3 000 en 10 000 leerders het aan die betoging deelgeneem en na die Orlando-stadion opgeruk. In ʼn poging om die optog te stop, het die polisie op die kinders geskiet. Binne oomblikke het geweld tussen albei groepe uitgebreek. Baie mense het gesterf en hierdie gebeurtenis het gelei tot optogte wat oor die hele land versprei het. Vandag is 16 Junie ʼn openbare vakansiedag wat as Jeugdag bekendstaan. 11

Soos wat Tutu in sy brief aan Vorster geskryf het, het swart Suid-Afrikaners ʼn breekpunt bereik. ʼn Noodtoestand is afgekondig en soldate en polisiebeamptes is ontplooi om ʼn ogie oor swart woonbuurte rondom Johannesburg te hou. Die betogings het voortgeduur en binne ses maande is minstens 500 mense in en rondom Johannesburg dood – die meeste hiervan was kinders of tieners. 2

Tutu word in 1978 aangestel as die sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), ’n organisasie waarvan die meeste groot kerke in Suid-Afrika lede is. Die SARK het hom in die sewentigerjare veral beywer vir die beëindiging van apartheid. Dit het aan Tutu die geleentheid gebied om mense in die land en internasionaal van die onregverdigheid van apartheid te vertel. Hy was altyd gekant teen gewelddadige betogings en het ander lande onder meer aangemoedig om ekonomiese en selfs sportsanksies teen Suid-Afrika in te stel. 12

Hierdie sanksies het enige handel met Suid-Afrika gestaak (beëindig) en Suid-Afrikaanse sportlui (sportmanne en -vroue) is nie toegelaat om aan internasionale kompetisies soos die Olimpiese Spele deel te neem nie.

Tutu ontvang in 1984 die Nobelprys vir Vrede (ʼn toekenning aan mense wat baie doen om vrede te bewerkstellig) vir sy pogings om apartheid te beëindig. 13 Die Nobelprysorganisasie het gesê die prys word aan hom toegeken “vir sy rol as ʼn saambindende leiersfiguur in die niegewelddadige veldtog om die probleem van apartheid in Suid-Afrika op te los”. 14

Hierna begin hy weer op sy loopbaan as teoloog konsentreer. In 1985 word hy as die biskop van Johannesburg aangestel en in 1986 word hy bevorder tot die aartsbiskop van Kaapstad, oftewel die leier van die Anglikaanse Kerk in Suid-Afrika – die eerste keer dat dié eer ’n swart persoon te beurt val. 15

President Barack Obama groet Desmond Tutu

Van kritikus tot versoener

As een van die bekendste Suid-Afrikaners in die jare tagtig gaan Tutu voort om apartheid te kritiseer. Omdat hy nie geweld gebruik het nie, is hy nooit gevange geneem nie en hy kry selfs die geleentheid om met die destydse eerste minister P.W. Botha onderhandelings (gesprekke) te voer.

Só begin hy op ʼn vreedsame wyse die weg na ʼn demokratiese Suid-Afrika baan. Die internasionale kritiek teen apartheid het só fel (erg) geraak dat die Suid-Afrikaanse regering, onder F.W. de Klerk, besluit om Nelson Mandela (Madiba) in Februarie 1990 vry te laat. Uiteindelik het Tutu iemand gehad om saam met hom teen apartheid te veg! Nelson en Winnie Mandela spandeer Madiba se eerste nag van vryheid by die Tutu-huisgesin in Kaapstad voordat Mandela die volgende dag ʼn mediakonferensie in Kaapstad gehou het. Hy en Winnie het daarna na Johannesburg gevlieg. 2

Ontvangs van die Nobelprys vir Vrede by Huis Den Bosch

Voor die situasie in die land verbeter het, het dit ongelukkig eers slegter gegaan. In die vier jaar voor die verkiesing in 1994 was daar baie geweld, nie net tussen wit en swart nie, maar ook tussen Xhosas en Zoeloes. Tutu het dit as ʼn wonderwerk beskou dat die verkiesing op 27 April 1994 sonder enige bloedvergieting plaasgevind het. Alles waarvoor Tutu sy hele lewe lank baklei het, het tot ’n hoogtepunt gekom toe hy die inhuldiging van Nelson Mandela as die eerste president van ’n demokratiese Suid-Afrika kon waarneem (beleef). 2

Net toe Tutu dink hy kan nou rustig aftree, word hy in 1995 deur Mandela gevra om voorsitter van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) te wees. Die WVK is op die been gebring om menseregteskendings sedert 1960 te ondersoek. Met Tutu wat die klem op vergifnis en versoening tussen die mense van Suid-Afrika gelê het, het dit baie mense die vrymoedigheid gegee om eerlik te getuig oor gruweldade wat gepleeg is. 2

Voorloper na vryheid

Steeds was dit nie die einde van Tutu se stryd om geregtigheid vir die hele wêreld nie. In 2006 stig hy saam met, onder andere, Nelson Mandela en die voormalige Amerikaanse president Jimmy Carter, The Elders, ʼn organisasie wat uit internasionale leiers bestaan wat hulle beywer vir regverdige leierskap, klimaatsverandering en vrede reg oor die wêreld. Tutu was tot in 2013 die voorsitter van hierdie organisasie. 13

Ook in die Nuwe Suid-Afrika was Tutu nie bang om kritiek teen die ANC te lewer as gevolg van hul wanbesteding en korrupsie nie. In 2014 het hy reeds laat blyk dat hy nie weer vir die ANC, die politieke party wat hy gehelp het om aan bewind te kom, gaan stem nie.

Emeritus-aartsbiskop, Desmond Tutu praat met die studente tydens ‘n spesiale ‘Dignity Day’-sessie by die Switserse Alpynse Skool by die jaarvergadering 2009 van die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, 30 Januarie 2009.

“Ons moet erken dat daar nie baie opvolgers is wat die [voormalige] leiers se skoene kon volstaan nie. Maar daardie skoene was enorm,” het hy in ʼn onderhoud met die media gesê. “Ons het gedroom van ʼn samelewing wat barmhartig sou wees, ʼn samelewing wat mense laat voel of hulle saak maak. ʼn Mens kan dit nie doen in ʼn samelewing waar mense honger gaan slaap en waar talle van ons kinders nog onder bome moet skoolgaan nie.” 16

In 2021 verswak sy gesondheid ná ’n jarelange stryd met prostaatkanker. Hy sterf op 90-jarige ouderdom die dag ná Kersfees op 26 Desember 2021. Hy word op 1 Januarie 2022, volgens sy versoek, in die eenvoudigste, goedkoopste kis beskikbaar begrawe. As gevolg van die Covid-19-inperkings in dié tyd kon net 100 mense die staatsbegrafnis by die St. George-katedraal in Kaapstad bywoon, maar die diens is ook vir die publiek op die Parade in die Moederstad uitgesaai. 17

“Hy was ʼn voorloper in die stryd na vryheid, geregtigheid, gelykheid en vrede. Nie net in Suid-Afrika nie, maar reg oor die wêreld,” het pres. Cyril Ramaphosa tydens sy grafrede gesê. “Hoewel ons geliefde [Nelson Mandela] die pa was van ons demokrasie, was aartsbiskop Tutu die geestelike pa van ons nuwe nasie.” Hy het hom beskryf as “ons morele kompas en nasionale gewete” 18

Sy as is later agter die preekstoel in die St. George-katedraal in Kaapstad begrawe. En die woorde op sy grafsteen was presies wat Tutu wou gehad het: “Hy het gelag, hy het gehuil, hy het liefgehad.” 19

Desmond Tutu se huis, Vilakazistraat in Soweto, Suid-Afrika

Woordbank

aartsbiskop Die biskop (belangrike Christelike priester) wat die hoof is van al die kerke in ʼn bepaalde streek.
aktiviste Iemand wat hard werk en praktiese dinge doen om sosiale/politieke verandering teweeg te bring.
apartheid Amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering (1948-1994) waarvolgens Suid-Afrikaners in kleur/-rassegroepe geskei is.
beurs Som geld geskenk aan ’n student vir verdere studie; studiebeurs.
bisdom Gebied van ’n biskop.
bloedvergieting Verlies aan lewens deur oorloë, moord en soortgelyke handelinge.
boikot Georganiseerde weiering om sekere artikels te koop.
deken Rooms-Katolieke of Anglikaanse geestelike.
demokrasie Regeringsvorm deur verteenwoordigers wat deur die hele bevolking gekies is, gekenmerk deur vryheid van spraak, van die individu, van die reg, van die media, ens.; volksregering.
emeritus Afgetrede predikant/professor.
entrepreneur Oprigter van ʼn sakeonderneming; ondernemer wat iets organiseer en bestuur of ʼn nuwe rigting inslaan.
gholfjoggie Helper wat saam met ʼn gholfspeler om die baan stap om sy/haar gholfsak te dra, die bal dop te hou en aan die speler raad te gee.
handel Die koop en verkoop of die ruil en verruil van goedere met die oog op wins.
menseregte (Volgens baie gemeenskappe) enigeen van die basiese regte wat elke mens behoort te hê om regverdig behandel te word en vry te kan leef.
Nobelprys Enigeen van ʼn aantal geldpryse jaarliks toegeken uit die nalatenskap van die Sweedse uitvinder van dinamiet, Alfred Nobel, aan uitblinkers op verskillende gebiede van die kuns, wetenskap, geneeskunde en ekonomie.
noodtoestand Situasie van chaos, vernietiging en groot onveiligheid in ʼn bepaalde streek of land, veroorsaak deur ʼn natuurramp/epidemie/onlus/ens., wat ʼn owerheid dikwels eers as sodanig moet erken voordat hy hulp van ʼn bepaalde omvang kan verleen.
optog Groep mense/voertuie wat stadig iewers heen beweeg.
Padvinders Wêreldwye jeugbeweging vir seuns wat in 1908 in Engeland gestig is, en wat, onder meer, selfbeheer, verantwoordelikheidsin, medemenslikheid, goeie burgerskap en liggaamlike fiksheid – gewoonlik deur middel van buitelug- en gemeenskapsaktiwiteite – by die lede daarvan inskerp.
pas Amptelike dokument wat jou die reg gee om êrens in te gaan.
paswette Wet wat in 1952 deur die Suid-Afrikaanse regering ingestel is en tot 1986 die dra van ʼn pas verplig het.
protes Iets wat jy doen om vir almal te wys jy dink iets is verkeerd en onregverdig, byvoorbeeld deelneem aan ʼn groot, openbare vergadering, weier om te werk of weier om ʼn bepaalde produk te koop.
sanksies Dwangmaatreël om besluite te laat uitvoer; strafmiddel, meestal met politieke motiewe, byvoorbeeld van een staat teen ʼn ander, vir nienakoming van verdragbepalings of op grond van bepaalde morele of ander oorwegings.
stem Jou mening/opinie/standpunt, veral die uiting van jou mening in ’n verkiesing, op ’n vergadering, ens.
teologiese Bestudering van godsdiens en geloofsoortuigings; godgeleerdheid.
tuberkulose Besmetlike bakteriële siekte gekenmerk deur die vorming van tuberkels/knoppies/knobbeltjies in verskillende weefsels, veral in die longe, wat vermoeidheid/koors/nagsweet/anemie/ens. veroorsaak.
versoening Herstel van vrede/vriendskap/ens.; vredemaking.
verkiesing Geleentheid waarby stemgeregtigde kiesers (deur middel van ʼn geheime stembus) hul verteenwoordigers vir ʼn parlement/stadsraad/munisipaliteit/ens. kies.24

Lees hierdie om meer oor Tutu te wete te kom

Kyk hierdie om meer van Desmond Tutu te leer

Só werk demokrasie

Kyk hoe dans Desmond Tutu!

Desmond Tutu en die Dalai Lama, nog ’n groot geestelike leier in die wêreld, maak grappies

Studente onthou wat op 16 Junie 1976 in Soweto gebeur het

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 16 September 2022 | Bygewerk op 15 April 2024