Vinnige feite
- Wêreldklimaat word in vyf hoofgroepe verdeel, naamlik tropiese, woestyn-, see-, land- en poolklimaat.
- Die Sahara-woestyn is die grootste warm woestyn in die wêreld.
- Die hoogste temperatuur wat nog op aarde gemeet is, was 70,7 °C .
Ons land word dikwels ‘sonnige Suid-Afrika’ genoem omdat ons so ‘n lekker klimaat het en mense wat na lande soos Londen getrek het mis ons heerlike weer gewoonlik. Maar ons klimaat het nie net met ons oorvloedige sonskyndae te doen nie.
Klimaat is die gedrag van die weer wat oor ʼn lang tydperk gemeet word. Dit word gewoonlik oor ʼn 30-jaartydperk bepaal. Die twee belangrikste faktore waardeur klimaat bepaal word, is temperatuur en reënval. 1
Die verskil tussen weer en klimaat
Weer en klimaat word albei deur metereoloë voorspel; hulle gebruik modelle om dit te kan doen. Dit is egter nie dieselfde ding nie, en dis belangrik om tussen hierdie twee begrippe te kan onderskei. Wanneer ons praat van die weer, dan bedoel ons die toestande van elke dag. Dit sluit dinge in soos sonskyn, bewolktheid, reën, wind, weerlig, hittegolwe, temperatuur en humiditeit. Dit is iets wat byvoorbeeld deur daaglikse weervoorspellings op die TV of radio aangedui word. Klimaat vertel vir ons hoe die atmosfeer rondom ons ons vir lang tydperke – maande, seisoene en jare – gaan beïnvloed.
Die voorspelling van weer en klimaat werk ook anders. Ten einde weer te voorspel, word modelle van onder meer temperatuur, lugdruk, humiditeit en waarnemings oor wind gebruik. ʼn Weervoorspeller kyk na hierdie inligting en voeg sy of haar persoonlike ondervinding by om die weer vir ʼn bepaalde dag te kan voorspel. Met die voorspelling van klimaat kan klimaatmodelle egter nie waarnemings gebruik nie omdat mens nie weet hoe die weer in die toekoms gaan wees nie. Daar word vervolgens van globale klimaatmodelle gebruik gemaak wat ʼn voorstelling (simulasie) maak van hoe die oseane, atmosfeer en grondoppervlaktes kan wissel. 1
Terwyl die weer selfs binne dieselfde dag baie vinnig kan verander – soos sonskyn én reën op dieselfde dag of koue en reën op een dag met ʼn warm, droë dag wat daarop volg – werk dit heeltemal anders met klimaat. Klimaat verander stadiger omdat dit die weerpatrone oor ʼn lang tydperk verteenwoordig.
Die weer het ook nie ʼn uitwerking op mense se soort werk of hulle beroepe nie, terwyl klimaat wel ʼn uitwerking daarop het. Mens sal byvoorbeeld volgens die klimaat van ʼn gebied besluit oor die soort boerdery wat jy kan begin. As mens byvoorbeeld met groente wil boer, sal jy volgens die klimaat moet besluit of jy ʼn groentetuin in die agterplaas kan maak en of jy dit moet maak waar die plante teen koue weer beskerm kan word, soos in ʼn verhitte area. 2
Hoofgroepe van wêreldklimaat
Wêreldklimaat word in vyf hoofgroepe verdeel, naamlik:
- Tropiese reënklimaat sonder koel seisoene (tropiese klimaat)
- Droë klimaat (woestynklimaat)
- Reënklimaat met sagte winters (seeklimaat)
- Reënklimaat met strawwe winters (landklimaat)
- Klimaat sonder warm seisoene (poolklimaat)
Binne hierdie hoofgroepe kom daar natuurlik ʼn hele aantal variasies voor soos dele van die wêreld binne elk van hierdie hoofgroepe van mekaar in terme van klimaatsomstandighede verskil. 3
Enkele biome wat deur klimaat bepaal word
Biome is die wêreld se grootste habitats. Die plantegroei en diere wat in sulke biome aangetref word, word gebruik om hierdie habitats te identifiseer. Die ligging en aard van landbiome word deur die klimaat van daardie streek bepaal. Ons kyk hier na drie biome, naamlik tropiese reënwoude, warm woestyne en naaldwoude.
Tropiese reënwoude
Tropiese reënwoude is gebiede wat deur ʼn baie hoë reënval, digte plantegroei en warm temperature gekenmerk word. Die klimaat in tropiese reënwoude is baie warm en nat. Tropiese reënwoude het aanvanklik 16% van die aarde se oppervlak bedek, maar dit het afgeneem na 4%. 4
Plantegroei
Daar is ʼn groot verskeidenheid plante in tropiese reënwoude. Van die bome in hierdie woud word baie groot, meer as 45 meter hoog. Die bome groei meeste van die tyd dig teenmekaar sodat die blaredak keer dat die son tot op die grond kan skyn. Plante wat hier voorkom, sluit palmbome, kapokbome, varings en orgideë in. 5
Dierelewe
Soogdiere, reptiele en insekte wat hier voorkom, is onder andere ape, gorillas, jaguars, miervreters, verskillende soorte slange, vlermuise, paddas, skoenlappers en miere.
Tropiese woude kan spog met ʼn groot biodiversiteit, en hier kan mens meer verskillende soorte plante en diere vind as op enige ander plek op aarde. Omdat die temperature heeljaar bo 18 °C is en daar baie water is, kan omtrent enige lewende wese hier leef en floreer.
In die tropiese reënwoude van Borneo en Sumatra kan mens byvoorbeeld diere soos renosters, tiere, olifante en orangoetangs almal op een plek vind. 6
Lande waarin tropiese reënwoude aangetref word
Tropiese reënwoude is naby die ewenaar geleë, en hulle kom in die volgende lande voor:
- Afrika: Madagaskar en die Zaïre-kom
- Sentraal-Amerika: Amasone-rivierkom
- Hawaii
- Wes-Indië
- Suidoos-Asië
- Australië 4
Die grootste tropiese reënwoud: Amasone-reënwoud
Die Amasone reënwoud in Suid-Amerika is die grootste tropiese reënwoud in die wêreld. Dit strek oor ʼn gebied van 5 500 000 km2 en lê in Brasilië, Bolivië, Colombië, Ecuador, Guyana, Peru, Suriname en Venezuela. Daar kom na beraming ongeveer 16 000 verskillende boomspesies hier voor.
Woestyne
Woestyne is gebiede wat baie droog is en waar daar baie min water voorkom. Hierdie water word deur reën of sneeu verkry. ʼn Woestyn is ʼn geografiese gebied wat minder as 250 mm se reënval per jaar ontvang. Anders as wat mens mag dink, is alle woestyne nie warm nie; mens kry ook koue woestyne, soos Antarktika. Hoewel dit met sneeu en ys bedek is, reën of sneeu dit selde in Antarktika en daarom word dit ‘n woestyn genoem.
Woestyne bedek ongeveer ʼn derde van die aarde se oppervlak. Die Sahara-woestyn in Noord-Afrika is die grootste warm woestyn in die wêreld; dit strek oor 5 632 704 km2.
Plantegroei
Omdat dit so droog is in woestyne, is daar net ʼn klein hoeveelheid plante wat daar kan groei. Hierdie plante is spesiaal aangepas vir die moeilike klimaat. Sommige woestynplante bly selfs rustend tydens tye waarin dit ekstra droog is en groei net wanneer daar genoeg vog is om dit moontlik te maak om te groei. Kaktusse en ander vetplante wat hier groei, het diep wortelstelsels sodat hulle binne ʼn kort tydjie baie water kan opneem. Die blare is ook spesiaal aangepas. Hulle het ʼn wasagtige bedekking of dun blare soos naalde om te verhoed dat te veel vog deur die blare verloor word (transpirasie). Plante wat in woestyne aard, is vetplante, kaktusse, woestynbome, gras en klein struike. 7
Dierelewe
Omdat woestynbiome so droog is, is dit moeilik vir diere om daar te leef. Die spesies wat dit wel regkry, is spesiaal aangepas om die moeilike omgewingstoestande te kan hanteer. Hulle het byvoorbeeld nie baie water nodig nie, soos kamele, gemsbokke, woestynrotte en dik-dikkies.
Klimaat
Wanneer ʼn gebied as ʼn woestyn verklaar word, is die bepalende faktor nie noodwendig temperatuur nie, maar eerder die hoeveelheid neerslag. Hierdie gebiede ontvang gewoonlik minder as 30 cm reën. Die heel droogste woestyne ontvang meestal minder as 2 cm reën per jaar.
Die hoogste temperature wat nog aangeteken is, is in die Mojave-woestyn in Kalifornië en die Lut-woestyn in Iran. In 2005 is ʼn temperatuur van 70,7 °C in die Lut-woestyn gemeet!
Klimaatskenmerke
- Die jaarlikse reënval is laag – minder as 25 cm per jaar.
- Die neerslag (reënval) wissel van jaar tot jaar en is onbetroubaar.
- Vogtigheid is laag.
- Verdamping is hoog.
- Hoë temperatuurskommelings kom daagliks voor. 8
Halfwoestyne en ware woestyne
Daar kan onderskei word tussen halfwoestyne en ware woestyne.
Die ware woestyne kom op vyf vastelande voor:
- Namib (Suidelike Afrika/Namibië)
- Sahara (Noord-Afrika)
- Thar (Pakistan/Indië)
- Rhoeb-al-Chali (Saoedi Arabië)
- Taklimakan (Sjina)
- Alacama (Suid-Amerika – Chili/Peru)
- Mojave (Noord-Amerika) 6
Naaldwoude
Naaldwoude kom in die Noordelike Halfrond in lande soos Alaska, Kanada, Rusland en Skandinawië voor. In Noord-Amerika word hierdie woude soms taiga genoem. Hulle is goed bestand teen ʼn koue klimaat. Naaldbome kom natuurlik voor, maar word ook aangeplant om daarmee te boer. Die wortels van die bome groei baie diep, en die hout is sterk. Omdat die bome so hoog groei, kan lang planke daarvan gesny word, en is dit baie gewild vir houtwerk en om uitgevoer te word. Hierdie bome is meesal immergroen. 5
Klimaat
In dele waar naaldbome groei – mens noem dit ʼn bioom – is die winters baie koud en droog, en die somers is koel en nat. Reënval hier wissel van 40 tot 100 cm, en dit is gewoonlik sneeu en nie reën nie. Omdat dit so koud is, vind daar nie baie verdamping plaas nie. 5 Die gemiddelde somertemperature is gewoonlik slegs ʼn baie koue 10 °C!
Vernietiging van woude
Die wêreld verloor jaarliks 18,7 miljoen ha woude weens ontbossing en agteruitgang, veral in die trope. Daar word geraam dat die spoed waarteen ontbossing plaasvind, gelyk is aan 27 sokkervelde wat elke minuut verwyder word. Sommige bome word uitgekap om plek te maak vir boerdery en landbou, terwyl ander onwettig vir hout geoes word. 5
Hierdie vernietiging van die natuurlike plantegroei dra by tot klimaatsverandering en aardverwarming. Dit lei onder meer daartoe dat groot dele van die ys in die kouer dele van die wêreld smelt. Dit het gevolglik ʼn ernstige negatiewe uitwerking op die lewe van diere wat daar woon, en dit lei ook daartoe dat die watervlakke in die see styg.
Klimaatsverandering
Klimaatsverandering is onlosmaaklik deel van die bespreking oor klimaat. Natuurlike klimaatsverandering wat onder natuurlike omstandighede gebeur, neem baie lank, selfs miljoene jare.
Die invloed van mense
Mense se bedrywighede en optrede dra by tot klimaatsverandering in die wêreld. Industriële produksie, die verhoogde behoefte aan grond wat deur mense gebruik kan word en kweekhuisgasvrystellings is alles deel van die negatiewe invloed wat menslike bedrywighede op klimaatsverandering het. Dit veroorsaak onder meer dat die aarde se gemiddelde temperatuur toeneem. 9
Woordbank
biodiversiteit | Die verskeidenheid van plante en diere binne ʼn ekosisteem. |
ekosisteem | ʼn Biologiese sisteem – die omgewing waarbinne organismes saamwerk en ook op mekaar inwerk. |
immergroen | Verloor nie hul blare nie. |
voorstelling | Simulasie. |
ontbossing | Wanneer mense baie bome en plantegroei uithaal om vir byvoorbeeld huise of plase plek te maak. |
tropiese | Uiters warm landstreke rondom die ewenaar – tussen die Kreefte- en Steenbokskeerkring. |