Vinnige feite

C.S. Lewis-gedenkplaat
  • C.S. Lewis word as een van die vaders van die fantasiegenre gesien. Hy word ook as een van Brittanje se belangrikste skrywers gesien.
  • Die Narnia-reeks bly een van die geliefde kinderverhale in die wêreld. Groot Hollywood-flieks is oor drie van die boeke gemaak: The Lion, the Witch and the Wardrobe, Prince Caspian, en Voyage of the Dawn Treader.
  • Lewis het die boek The Lion, the Witch, and the Wardrobe aan sy peetkind, Lucy Barfield, opgedra. Lucy is ook een van die karakters se naam. Lucy Barfield was sy vriend, Owen Barfield, se dogter.
  • C.S. Lewis se huwelik met Joy Davidman was die inspirasie vir Shadowlands, ’n BBC-fliek, verhoogstuk en rolprent.
  • Hy het op 11 Mei 1926 die bekende Lord of the Rings-skrywer, J.R.R Tolkien, ontmoet wat een van sy beste vriende sou word.
  • Lewis was deel van die Inklings, ’n groep skrywers wat na mekaar se werk geluister en terugvoering aan mekaar gegee het.
  • Hy het in 1941 oor sy Christenskap op die radio begin praat. Sy boek Mere Christianity is ’n versameling van daardie radiopraatjies.
  • Sy boek Abolition of Man (1943) word in die Britannica-ensiklopedie as van die beste boeke in die wêreld gelys.
  • Lewis is in 1946 met ’n eredoktorsgraad van die St. Andrews-universiteit vereer.
  • Hy het op 8 September 1947 op die voorblad van die wêreldbekende Time-tydskrif verskyn.
  • Hy het in 1948 ’n genoot van die Royal Society of Literature geword.
  • Lewis se outobiografie Surprised by Joyis in 1955 gepubliseer en vertel ook van sy geestelike reis.
Foto: iStock

Verbeel jou jy loop in ’n kasarm van ’n ou huis in en ondersoek die verskillende vertrekke. Daar staan ’n ou kas en dan ontdek jy die ou kas is eintlik die poort na ’n onbekende wêreld waar daar heelwat avonture op jou wag. As jy wil uitvind wat volgende gebeur, lees gerus C.S. Lewis se bekende Narniaboeke.

Hierdie reeks vermaak al vir dekades kinders en grootmense, maar wie was die man wat hierdie fantasieverhaal geskryf het?

Sy volle naam was Clive Staples Lewis en hy word as een van die intellektuele reuse van die 20ste eeu beskou. Hy was ’n bekende akademikus en het meer as 30 boeke geskryf. Hy is ook bekend daarvoor dat hy ’n ateïs was en hom toe tot die Christenskap bekeer het. ’n Ateïs is iemand wat nie aan die bestaan van ’n god glo nie. Lewis se bekendste boeke is Mere ChristianityOut of the Silent PlanetThe Great DivorceThe Screwtape Letters, en natuurlik The Chronicles of Narnia.

Maar kom ons begin by die begin … 1

Grootwordjare

Clive Staple Lewis is op 29 November 1898 in Belfast, Ierland, gebore. Sy pa, Albert, was ’n prokureur en sy ma, Florence Hamilton Lewis, het ’n graad aan die Royal University of Ireland (vandag die Queen’s University Belfast) verwerf. In daardie tyd, was dit ’n besonderse prestasie vir vroue om ’n graad te behaal, want vroue het oor die algemeen nie ná skool verder gaan studeer nie. Dit was vir baie lank slegs mans se domein.

C.S. Lewis was van kleins af baie slim. Hy kon op driejarige ouderdom lees en het op vyfjarige ouderdom begin om stories oor ’n fantasieland te skryf waar die diere soos mense aangetrek het. Van hierdie vroeë stories het latere jare in Boxen: The Imaginary World of the Young C.S. Lewis verskyn. 2

C. S. Lewis as ‘n voorgraadse student aan die kollege, Trinity Term in 1917

Lewis en sy broer, Warren (Warnie), was nes hul ouers ywerige lesers. Daar was glo orals boeke in hul huis – in die studeerkamer, eetkamer, sitkamer, slaapkamers en selfs in die kelder! Hy was as kind gek na skrywers soos Conan Doyle, E. Nesbit, Mark Twain, en Henry Wadsworth Longfellow. 3

Nadat sy broer, Warren, in 1905 na ’n skool in Engeland gestuur is, was Lewis baie alleen en het nóg meer tyd agter die boeke deurgebring.

Sy ma het ongelukkig kanker gekry en sy is in 1908 oorlede. Dit was net drie maande voor sy tiende verjaardag. Sy pa was baie hartseer en nie weer dieselfde ná sy ma se dood nie en hul huislike lewe was nie meer gelukkig nie.

Lewis het in daardie stadium in God begin twyfel en het as tiener ’n ateïs geword. Hy was vir twee jaar in die Wynyard School in Watford, Hertfordshire, Engeland, maar die hoof het glo die kinders se lewe ondraaglik gemaak.

In September 1910, is hy by die Campbell-kollege in Belfast, Ierland, ingeskryf, maar hy het siek geword en is huis toe gestuur. Die jaar daarna is hy na Cherbourg House in Malvern, Engeland en het goed presteer. Van daar is hy na Malvern College waar hy gematrikuleer het. Daarna het hy toe ’n privaat onderwyser gekry om hom vir die intree-eksamen van die Universiteit van Oxford in Engeland voor te berei.

In 1916 het Lewis ’n beurs gekry om klassieke letterkunde aan Oxford te studeer.

Oorlog en studies

Die Eerste Wêreldoorlog het in 1914 uitgebreek en Lewis het op 8 Junie 1917 by die Britse weermag aangesluit. Hy is by Keble College opgelei en het daar vir Paddy Moore ontmoet wat ’n goeie vriend geword het. Hulle het mekaar beloof dat as een in die oorlog doodgaan, sou die ander een vir sy familie sorg. Hulle het gaan veg en slegs ’n jaar daarna het Moore gesterf. Lewis het die belofte gestand gedoen en na Moore se ma omgesien.

Lewis self is op 15 April 1918 gewond en is in 1919 uit die Britse weermag ontslaan.

C.S. Lewis se leeskamer

Ná die oorlog het hy tot 1924 aan Oxford studeer en was so ’n uitstekende student dat hy sekere kursusse in slegs ’n jaar voltooi het. Hy het daarna by die Magdalen-kollege in Oxford van 1925 tot 1954 klas gegee.

Lewis was van 1954 tot 1963 professor in Middeleeuse en Renaissance Engels aan die Universiteit van Cambridge.

Sy bekering

Daar was ’n paar mense wat ’n impak op sy geestelike reis gehad het. Die Christelike skrywer George MacDonald se werk Phantastes het sy idees oor geloof uitgedaag. G.K. Chesterton se boeke, veral The Everlasting Man, het hom ook oor geloof laat nadink.

Owen Barfield was ’n baie goeie vriend en hy het selfs Christenskap gevind en baie met Lewis daaroor gepraat. Só ook Neville Coghill, ’n briljante student en lewenslange vriend.

Lewis is het, nadat hy by die Engelse fakulteit by die Magdalen-kollege aangesluit het, nog twee Christene ontmoet. Dit was Hugo Dyson en J.R.R. Tolkien wat ook goeie vriende sou word. Lewis het homself in 1929 bekeer en erken dat “God waarlik God is”.

Hy het binne twee jaar van ateïsme na teïsme oorgeslaan en Christenskap aangeneem. Hy het by die Kerk van Engeland aangesluit. 4

C.S. Lewis gedenksteen

Skryfwerk

Lewis wou in ’n stadium ’n digter word, maar sy eerste publikasies het nie juis waffers gevaar nie en hy het besluit om liewer op prosa en die akademie te fokus.

  • Hy het ’n versameling liriese verse (Spirits in Bondage) in 1919 en ’n lang, verhalende gedig Dymer in 1926 onder die naam Clive Hamilton uitgegee. Sy eerste prosawerk wat gepubliseer is, was The Pilgrim’s Regress: An Allegorical Apology for Christianity, Reason, and Romanticism (1933). Dit was ’n stuk oor sy soeke in sy vroeë jare tot waar hy as volwassene die Christelike geloof aangeneem het.
  • Lewis se eerste suksesvolle fiksieboek was Out of the Silent Planet (1938). Dit is deur Perelandra (1943) en That Hideous Strength (1945) gevolg. Die drie boeke was van die vroegste boeke in die wetenskapsfiksie-genre. Die boeke gaan oor ’n Engelse taalkundige Elwin Ransom wat na Mars en Venus reis en in ’n stryd tussen goed en kwaad in die sonnestelsel gewikkel word.
  • Lewis het ook met sy artikels en boekresensies in literêre kringe bekend geword. Sy eerste akademiese boek The Allegory of Love: A Study in Medieval Tradition (1936), is hoog aangeprys. Nog letterkundige werke sluit A Preface to Paradise Lost (1942), The Personal Heresy: A Controversy (saam met E.M.W. Tillyard, 1939), English Literature in the Sixteenth Century, Excluding Drama (1954), Studies in Words (1960), An Experiment in Criticism (1961), en The Discarded Image: An Introduction to Medieval and Renaissance Literature (1964). Sy boek The Problem of Pain (1940) en vier reekse radiopraatjies op die BBC tydens die Tweede Wêreldoorlog het van hom ’n bekende naam gemaak.

  • Sy volgende boek het hom nog bekender gemaak en was ’n blitsverkoper in Brittanje en Amerika en het baie goeie resensies Dit was die The Screwtape Letters(1942), ’n boek wat uit 31 briewe bestaan waarin die bejaarde, ervare “duiwel” genaamd Screwtape vir sy junior Wormwood raad gee oor hoe om ’n jong Christelike bekeerde te beïnvloed. Nog boeke oor die Christelike geloof was Miracles: A Preliminary Study (1947), Reflections on the Psalms (1958), en The Four Loves (1960). Sy Letters to Malcolm: Chiefly on Prayer (1964), is eers postuum (ná sy dood) gepubliseer en is ’n reeks briewe aan ’n fiktiewe vriend, Malcolm. Dit gaan oor geloofskwessies soos gebed en aanbidding.
  • Lewis het in 1950 ’n boek gepubliseer wat sekerlik die bekendste van al sy boeke is. Dit is die kinderfantasieverhaal The Lion, the Witch and the Wardrobe. Hy het nog ses bykomende stories geskryf en dié reeks het as The Chronicles of Narnia bekend geword. Die reeks beskryf die konflik tussen goed en kwaad en speel in die Narnia-koninkryk af. Die boeke was baie gewild en verskeie rolprente en TV-programme daaroor het verskyn. Die Narnia-boeke is deur nog ’n fiksiewerk opgevolg. Dit was Till We Have Faces: A Myth Retold (1956), wat Lewis as sy beste fiksiewerk beskou het.

Persoonlike lewe

Lewis het Joy Davidman Gresham, ’n Amerikaner, deur briewe leer ken. Joy het sy boeke gelees en dit het haar gemotiveer om haar tot die Christelike geloof te bekeer. Hulle het gereeld aan mekaar geskryf en toe Joy na Engeland verhuis, het hulle goeie vriende geword.

Hulle het in April 1956 getrou, maar dit was meer sodat Joy verblyfreg in Engeland kon kry. Ses maande later is sy met gevorderde kanker gediagnoseer. Hul verhouding het sodanig ontwikkel dat hulle besluit het om ’n Christelike troue te hê en is in Maart 1957 deur ’n Anglikaanse priester in die huwelik bevestig. Sy vrou se kanker was vir ’n paar jaar in remissie en die paartjie was baie gelukkig saam. Die kanker het egter teruggekeer en sy is in Julie 1960 oorlede.

Dit was ’n groot slag vir C.S. Lewis en hy besluit om ’n boek oor sy hartseer en die rouproses te skryf. Die boek A Grief Observed (1961) het ook van sy geestelike tweestryd vertel.

In Junie 1961 het Lewis ’n niersiekte opgedoen en was vir ’n semester met siekteverlof om te herstel. Hy het in 1962 sy klasse aan die Universiteit van Cambridge hervat, maar in 1963 het hy weer siek geword en ’n hartaanval gekry. Hy het uit sy pos bedank en kort daarna is nierversaking by hom gediagnoseer. Hy het op 22 November 1963 gesterf. Hy is langs sy broer, Warren, in Headington, Oxford, begrawe.

Woordbank

ateïs Dis iemand wat nie aan die bestaan van ’n god glo nie.
akademikus Dis iemand wat in die akademie is en is dikwels iemand wat aan ’n universiteit klas gee.
domein ’n Gebied of werkkring.
eredoktorsgraad ’n Graad wat aan iemand toegeken is weens uitsonderlike prestasies, maar sonder die aflegging van eksamens.
fakulteit Die hoof- akademiese afdelings waarin ’n universiteit vir onderwysdoeleindes verdeel word. Dit bestaan uit ’n aantal departemente onder die bestuur van ’n dekaan en die dosente (en studente) daaraan verbonde.
             fantasie        ’n Kunsskepping waarby die verbeelding ’n oorwegende rol speel.
fiktiewe Dit wat slegs in die verbeelding bestaan.
genre ‘n Tipe literatuur- of kunssoort.
           gestand gedoen              Dit is wanneer jy jou belofte hou.
intellektueel Dit hou verband met die vermoë om dinge te verstaan en intelligent te dink.
intellektuele reuse Iemand wat geleerd is en bekend is vir sy verstandelike vermoëns.
peetkind ’n Kind wat iemand belowe om te help versorg indien sy of haar ouers dit dalk eendag nie meer self kan doen nie.
postuum Ná afsterwe.
prosa Die geskrewe vorm van die taal wat mense gewoonweg praat, veral soos in kreatiewe fiksietekste.
remissie Dis die tydelike verligting van ’n siektetoestand.
teïsme Dis die geloof aan die bestaan van een God, wat die skepper en bestuurder van die heelal is.
resensies Dis die beoordeling van ’n boek, kunswerk of opvoering. 5

Lees hierdie artikels om meer oor C.S. Lewis te leer

Kyk hierdie video’s om meer oor C.S. Lewis  te leer

Vind meer uit oor C.S. Lewis

Die storie van C.S. Lewis en sy broer

Loer hier na die lokprent van The Chronicles of Narnia: The Lion, The Witch and The Wardrobe

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 9 Desember 2022 | Bygewerk op 21 November 2023