Vinnige feite

  • Die vaste toestand van water (ys) is minder dig as die vloeistof (water) omdat die watermolekules in ys op ʼn unieke manier gerangskik is. Die watermolekules in ys is so gerangskik dat daar oop spasies tussen hulle is. Dit verklaar hoekom ys in jou koeldrank of ʼn ysberg op die see kan dryf. 4
  • Oplossings word gemaak deur ʼn vaste stof in ʼn vloeistof op te los. Byvoorbeeld, wanneer jy ʼn lepel suiker in jou tee gooi, los die suiker op. Die suiker los makliker in warm water op, en wanneer dit geroer word, sal dit nóg vinniger oplos. 6 Die suikermolekules vul die spasies wat tussen die watermolekules is.
  • Daar is wel ʼn limiet (beperking) as dit kom by die hoeveelheid vaste stof wat in ‘n vloeistof kan oplos. Wanneer dié limiet bereik word, sal gedeeltes van die vaste stof nie oplos nie. Byvoorbeeld, indien jy ʼn hele koppie suiker in ʼn halwe koppie water gooi, sal die suiker dalk ʼn taai pasta vorm, maar nie ten volle oplos soos ʼn lepel suiker in ʼn koppie tee nie. 6
  • Vloeistof kan van vaste stof geskei word deur filtrasie. Deur byvoorbeeld ʼn mengsel van water en sand deur filtreerpapier in ʼn tregter te gooi, sal die sand op die filtreerpapier agterbly, terwyl die water deurvloei. 6
  • Wanneer jy olie en water meng, sal die twee materiale mettertyd skei omdat hulle nie goed meng nie; hulle is onmengbaar. Wanneer hulle skei, sal die olie altyd bo dryf. Daar word na die twee afsonderlike lae as “fases” verwys – die oliefase en die waterfase. 4
  • ʼn Beker olie het minder massa as ʼn beker water. Die olie is minder dig as die water. Dit veroorsaak dat olie op water dryf, net soos ʼn kurkprop of luggevulde rubbereend op die oppervlak van water dryf. 4
  • Olie los nie in water op nie. Die oliemolekules tros (bondel) saam en dryf op die oppervlak. As ʼn groot hoeveelheid olie in water gegooi word, sal die olie uitsprei en ʼn laag op die oppervlak van die water vorm. Olie wat in die see of ʼn meer gestort word, versprei oor ʼn groot area. Dit vergiftig baie diere, voëls, visse en plante en is baie duur om op te ruim. Dit is waarom oliebesoedeling ʼn skadelike uitwerking op ons omgewing het. 4 In die laboratorium word olie en water met ʼn skeitregter van mekaar geskei. 7
Vloeistof is ʼn toestand van materie tussen ʼn vaste stof en ʼn gas waarin die deeltjies relatief vry beweeg en dus die vorm van die houer waarin dit is, aanneem, byvoorbeeld water. 1

Materiale is oral om ons, waarvan sommige vaste stowwe, vloeistowwe of gasse is. ʼn Materiaal sal altyd een van hierdie drie stowwe wees. 2 Vloeistof is dus ʼn stof met geen vaste vorm nie, en dit kan vloei. 3 Wanneer die deeltjie- of partikelmodel bestudeer word, word vloeistowwe dikwels uitgebeeld soos in dié diagram.

Wanneer is ‘n materiaal ‘n vloeistof?

Die deeltjies van ʼn vloeistof is naby mekaar gepak, maar met groter ruimtes tussenin as wat ʼn vaste stof het. 3 Vloeistowwe kan nie saamgepers word nie, en die deeltjies het nie vaste posisies (plekke) nie. Hulle beweeg vrylik rond, maar bly naby mekaar, want die aantrekkingskrag tussen hulle is taamlik sterk, hoewel nie so sterk soos in vaste stowwe nie. Binne-in die vloeistof glip en gly die deeltjies verby mekaar; dit is waarom vloeistowwe kan vloei. Die deeltjies is vry om rond te beweeg en die spasies wat deur ander deeltjies gelaat word, te vul. Die spoed waarteen die deeltjies binne-in die vloeistof beweeg, hang van die energie van die deeltjies af. Wanneer ʼn vloeistof verhit word, gee die deeltjies meer energie af en versnel. In gasse beweeg die deeltjies selfs nog vinniger. 4

Alle materie bestaan uit baie klein deeltjies wat molekules genoem word. Molekules bestaan uit twee of meer atome wat deur chemiese bindings aanmekaar gehou word. ʼn Mens kan nie molekules of atome met die blote oog sien nie, want dit is mikroskopies klein, selfs kleiner as stofspikkels. 2

Eienskappe van vloeistowwe

In wetenskap gebruik ons die woord “eienskap” om te bepaal in watter vorm of toestand die materie is, en dit word materietoestande genoem. ʼn Eienskap wat aan ʼn materiaal toegeken word, kan help om tussen die verskillende materiale te onderskei. Wanneer ʼn mens sap in ʼn glas gooi, sal die glas (vaste stof) steeds dieselfde vorm behou, terwyl die sap (vloeistof) vloeibaar is en die vorm van die glas aanneem soos wat dit die glas vul. Vaste stowwe behou dus hul vorm, terwyl vloeistowwe die vorm van die voorwerp waarin dit is of gegooi word, aanneem. Om van vorm te verander, is dus ʼn eienskap van ʼn vloeistof. 2 Voorbeelde van vloeistowwe is water, sap, olie, asyn, melk, hoesstroop en petrol.

Vloeistowwe beskik oor die volgende eienskappe:

  • Die materiaal het nie ʼn definitiewe vorm nie. Byvoorbeeld: Sap neem die vorm van die houer waarin dit gekoop is, aan. Soos wat dit vanuit die houer in ʼn glas gegooi word, verander die vloeistof en neem dit die nuwe vorm van die glas aan.
  • Die materiaal beset ʼn definitiewe ruimte. Byvoorbeeld: Die sap in ʼn glas neem spesifieke spasie in beslag. Dit het dus ʼn vaste volume. 2 Een glas vol sap neem ongeveer 250 ml (ʼn koppie) se volume in beslag. 4
  • Die materiaal vloei. Byvoorbeeld: Die sap kon vloei vanuit die houer tot in die glas. Sou die sap wat in ʼn glas is, in die wasbak uitgegooi word, sal die sap uit die glas in die drein afloop, terwyl die glas (vaste stof) sy vorm behou. 2 Wanneer die sap op die tafel sou mors, sal dit versprei en die oppervlak se vorm waarop dit gemors is, aaneem. 3
  • Vloeistof het ʼn hoë digtheid. Byvoorbeeld: Die digtheid van ʼn vloeistof is naastenby dieselfde as die digtheid van ʼn vaste stof. Die deeltjies (materie wat bestaan uit molekules wat weer uit atome saamgestel is) waaruit die sap bestaan, is baie naby aan mekaar verpak, hoewel hulle nie in vaste posisies vasgevang is nie. Die meeste vloeistowwe kan nie in kleiner volumes saamgepers word nie. 4

Vloeistowwe kan verander

ʼn Materiaal se toestand kan verander soos wat dit aan spesifieke omstandighede blootgestel word. Die verandering in toestand verwys na ʼn verandering in fisiese toestand, byvoorbeeld wanneer ʼn vloeistof na ʼn vaste stof verander, soos water wat ys word. Vir materiaal om van een toestand na ‘n ander te verander, moet sy deeltjies energie verkry of verloor. ʼn Stof word verhit of afgekoel om sy toestand te verander. 4

Verdamping

Wanneer ʼn stof verhit word, verkry die deeltjies meer energie en beweeg vinniger hoe warmer hulle word. Sommige deeltjies naby die oppervlak verkry genoeg energie om uit die vloeistof te ontsnap. Sodra hulle vry is van die kragte wat hulle in die vloeistoftoestand bymekaar hou, gaan hulle oor in gastoestand. Die proses staan as verdamping bekend en word ook soms die dampfase genoem. Hoe hoër die temperatuur van die vloeistof, hoe vinniger sal dit verdamp.

Verdamping vind by alle temperature plaas, terwyl materiaal by ʼn spesifieke temperatuur kook, wat kookpunt genoem word. Wanneer ʼn vloeistof tot by sy kookpunt verhit word, vorm borrels in die vloeistof wat na die oppervlak styg. Wanneer dit gebeur, kook die vloeistof. Verdamping vind slegs op die oppervlak van die vloeistof plaas, terwyl die kookproses dwarsdeur die hele vloeistof plaasvind. 4

Byvoorbeeld: Water wat in ʼn ketel kook, bereik kookpunt, en stoom (ʼn vorm van gas) word deur die ketel afgegee.

Stolling

Indien ʼn vloeistof afgekoel word, word energie vanuit die vloeistof verwyder. Soos die vloeistofdeeltjies energie verloor, beweeg hulle stadiger. Namate hulle bewegings al hoe stadiger word, word die aantrekkingskragte sterker. Die deeltjies word gevolglik in die vaste toestand vasgevang; hulle kan nie meer vrylik beweeg nie en kan slegs in hul posisies vibreer. Dan het die vloeistof gestol.

Byvoorbeeld: Water wat gevries word om ysblokkies te vorm. 4

Woordbank

materie Die materiaal/stof waaruit alles (alle vaste stowwe, vloeistowwe en gasse) in die heelal bestaan.
atome Die kleinste deeltjie van ʼn chemiese element wat chemies kan reageer; ʼn bron van baie groot energie.
molekules Die kleinste deeltjie van ʼn stof wat die chemiese en fisiese eienskappe van dié stof behou en wat uit twee of meer atome wat deur chemiese bindings aanmekaar gehou word, bestaan. 5

Lees hierdie om meer te leer

Kyk hierdie video’s om meer oor vloeistowwe te leer

Só werk smelting, kondensasie, stolling en verdamping

Die verskillende fases van materie

Vloeistof as een van die fases van materie

Gepubliseer op: 26 April 2022 | Bygewerk op 11 April 2024