Vinnige feite

  • De la Rey se ouers het ná die Slag van Boomplaats in 1848 na die plaas Welverdiend in die distrik van Wolmaransstad getrek waar hy grootgeword het. 7
  • De la Rey het min formele onderwys gehad. Sy kennis het bestaan uit wat hy by sy ouers en uit die natuur geleer het. 7
  • De la Rey se bynaam was die Leeu van Wes-Transvaal. 9
  • Generaal de la Rey se vrou, Nonnie, is nooit in ’n konsentrasiekamp aangehou nie. Sy het deur die hele oorlog met haar kinders rondgetrek en die Engelse kon haar nooit vang nie. 10

De la Rey, De la Rey, sal jy die Boere kom lei?”

Jy het hierdie liedjie deur die bekende sanger Bok van Blerk seker al verskeie keer gehoor. Dié 2006-treffer het generaal Koos de la Rey, een van die bekendste leiers in ons land se geskiedenis, se naam opnuut op almal se lippe geplaas. De la Rey, wat vanweë sy mannemoed (durf en wilskrag) ook as die Leeu van die Wes-Transvaal bekendgestaan het, was voorwaar ’n groot gees met ’n sagte hart. Wil jy ook meer weet van dié man waaroor oud en jonk in die liedjie “De la Rey” sing? Lees gerus saam!

Koos de la Rey in ongeveer 1910.

Die jong Koos de la Rey

Jacobus Herculaas (Koos) de la Rey is op 22 Oktober 1847 in die Winburg-distrik as die seun van Adrianus Johannes Gijsbertus de la Rey en Adriana Wilhelmina de la Rey gebore. Sy oupa het uit Nederland na Suid-Afrika gekom. Koos was met Jacoba Elizabeth (Nonnie) de la Rey getroud en hulle het 12 kinders (byna ’n hele rugbyspan!) gehad. 1

Sy eerste werk (beroep) was as ’n transportryer in die diamantvelde (die plekke waar mense, ook genoem delwers, na diamante gesoek het). Vroeër jare was ossewaens die enigste manier om goedere in Suid-Afrika te vervoer omdat daar nog nie oral spoorlyne (om nie eens te praat van teerpaaie) was nie. Nadat diamante in Kimberley ontdek is, het baie mense hierheen gestroom (daar gaan woon). Alles wat hulle nodig gehad het, moes egter met ossewaens van Kaapstad af aangery word en dit was ongeveer 1 000 km ver! Mense wat hul geld verdien het deur dié lang tog (of reis) met ’n wavrag goedere aan te pak, is transportryers genoem.

De la Rey het later self ook diamante begin delf en naderhand genoeg geld gespaar om die plaas Elandskloof in die Lichtenburg-distrik (in vandag se Noordwes-provinsie) te koop. Hier het hy die res van sy lewe gewoon en ’n suksesvolle boerdery opgebou. 2

De la Rey se ouers.
Nonnie de la Rey.

Betrokkenheid by die regering

In die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR of Transvaal) was daar nie oral amptenare (werknemers) van die staatsdiens teenwoordig nie. Die regering is deur veldkornette in elke wyk (soos distrikte of spesifieke gebiede) en ook ander amptenare soos vrederegters verteenwoordig. Gewone burgers (inwoners van ’n land) het hierdie poste beklee (in hierdie ampte gedien). De la Rey het in ’n aantal van hierdie poste gewerk voor hy in 1883 tot die Volksraad van die ZAR verkies is. 2

Generaals Kemp, De la Rey, Cilliers en Liebenberg met kanonne wat hulle by Yzerspruit gebuit het.

De la Rey die soldaat en strateeg

In die Eerste Vryheidsoorlog was De la Rey kommandant vir Lichtenburg en in 1893 word hy lid van die Transvaalse Volksraad. 3

Sy dapper optrede tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) het aan hom die bynaam die Leeu van Wes-Transvaal besorg. Hy was nie net ’n veggeneraal in die ABO nie, maar ook ’n raadgewer vir generaal Piet Cronjé. In die heel eerste geveg van die oorlog by Kraaipan, het De la Rey ’n gepantserde trein van die Britte buite werking gestel. 4

In die laaste deel van die oorlog gebruik hy guerillataktiek (waar soldate strategies in klein groepies beweeg, geskuil en geveg het) deur onder meer die vyand se spoorverbindings (spoorlyne) te vernietig. 3

Generaal De la Rey spreek sy kommandolede vir die laaste keer by Doornkom toe.

Geveg teen Methuen by Tweebosch

’n Baie goeie voorbeeld van De la Rey se uitstekende krygsvernuf is die geveg wat hy en sy manskappe (medesoldate) teen lord Methuen by Tweebosch gewen het. Hy het die plek waar die Riet- en Modderrivier ontmoet (bymekaarkom), gekies om die Britse soldate in te wag. De la Rey het geweet dat, indien die Boere die Britse soldate kon keer (stuit) om by dié twee riviere uit te kom, hulle gedwing sou wees om na die Oranjerivier terug te keer. 3

De la Rey, Wessels en Vrystaatse veldkornette.

In hierdie geveg teen Methuen het De la Rey ook ’n persoonlike verlies beleef toe sy seun Adriaan geskiet is. Hy moes sy aandag aan die geveg gee (skenk) en kon nie by sy gewonde seun bly nie. Die volgende oggend is Adriaan oorlede. Hy het die hartseer nuus in ’n telegram aan sy vrou oorgedra: “Heden ontsliep ons geliefde zoon Adriaan zoo zacht in myn armen aan een kogel wond hem gisteren in een hewigen gevecht is toegebracht. Het lyk zal morgen alhier te Jacobsdal ter aarde besteld worden. Hoe hard het ook al voor ons allen is, God heeft het alzoo besloten.” (Ons geliefde seun Adriaan is vandag in my arms dood nadat hy gister in ’n hewige geveg gewond is. Hy sal môre hier in Jacobsdal begrawe word. Hoe moeilik dit ook al vir ons almal is, God het so besluit.)

Kenteken van die Suid-Afrikaanse infanteriebataljon bekend as Regiment de la Rey. Die leeu is gekies omdat die Boeregeneraal, Koos de la Rey, bekend gestaan ​​het as die “Leeu van die Wes-Transvaal”

In hierdie jare het die Afrikaners veral in skryftaal ’n taal gebruik wat ’n oorgang was van Nederlands na die Afrikaans soos ons dit vandag ken. 5

Kommandant-generaal Joubert (in die middel met sy hoed oor sy knie) tussen sy burgers op die oorlogsfront.

Magersfontein

De la Rey was die persoon wat die ander generaals oortuig het om die Britse soldate by Magersfontein in te wag. Hy het geweet dat die Britse soldate sal dink die Boere gaan bo-op die kop (koppie of heuwel) wees en daarom het hy besluit om eerder loopgrawe aan die onderkant (of die voet) van die koppie te maak. Teen die tyd dat die Britte opgedaag het, het die Boere reeds ’n klomp loopgrawe  gegrawe waarin hulle kon skuil.  Teen die middag van 11 Desember 1899 moes lord Methuen erken dat hulle die slag verloor het. Ongeveer 1 000 Britse soldate is in dié veldslag (geveg) gedood of gewond. 5

De la Rey en sy vrou, Nonnie, en hulle jongste kinders.

Ander gevegte of veldslae waarby De la Rey betrokke was

  • By die Slag van Driefontein op 10 Maart 1990 was hy die bevelvoerder. Hierdie gebied is ongeveer 60 km wes van Bloemfontein.
  • Op 17 Maart het die Boere in Kroonstad ’n krygsraadsvergadering gehou. Van die persone wat teenwoordig was, was onder andere presidente Kruger en Steyn, asook generaals Joubert, De la Rey en De Wet. Hulle het besluit om met die oorlog voort te gaan, maar om voortaan slegs perde pleks van waens te gebruik. Dit sou beteken dat die Boerekommando’s vinniger kon beweeg.
  • Op 13 Desember 1900 het generaals De la Rey en Beyers ’n groot oorwinning oor die Britse soldate by Nooitgedacht in die destydse Wes-Transvaal behaal.
  • Op 25 Februarie 1902 wen De la Rey die geveg teen die Britte by Yzerspruit naby Wolmaransstad. Hy het hier baie ammunisie by die Britse soldate gebuit (afgeneem of gevat) wat die Boere vir ’n lang tyd kon gebruik.
  • Twee weke later het De la Rey sy grootste oorwinning behaal. Lord Methuen het met sy soldate na Klerksdorp beweeg om teen De la Rey te veg. Hulle het die nag by ’n plek met die naam Tweebosch kamp opgeslaan. Vroeg die volgende oggend het De la Rey en sy manskappe aangeval. Lord Methuen is self ook gewond. De la Rey se menslike optrede teenoor Methuen het gewys watter soort mens hy was – hy het vir Methuen gesê dat hy jammer is oor die omstandighede waarin hulle mekaar ontmoet. Ook Nonnie de la Rey het Methuen besoek. Sy het vir hom beskuit gebak en haar enigste hoender vir hom geslag. Methuen is toegelaat om na die Britte in Klerksdorp terug te keer. Volgens die Russiese skrywer wat aan die Boere se kant was, het hierdie menslike optrede van De la Rey die Engelse stomgeslaan.
  • Op 31 Mei 1902 was De la Rey een van die generaals wat teenwoordig was toe die Vrede van Vereeniging gesluit is. 5
De la Rey en sy gesin, kort ná vrede gesluit is.

Lojale leier

De la Rey was ’n gewilde leier en het ewe groot respek van sy eie mense asook van die Britte gekry. Sy lojaliteit en pligsbesef is duidelik uit sy besluit om na die geveg by Tweebosch terug te keer, pleks van om by sy gewonde seun te bly.

Generaal De La Rey berei voor om te onderhandel oor die oorgawe van die laaste Boerekommando om in die Suid-Afrikaanse Oorlog te veg.

Die manier waarop hy die gewonde Engelse generaal Methuen asook ander Britse gewondes behandel het, het baie aandag getrek en het gewys dat hy volgens Christelike beginsels geleef het. 3

Generaal de la Rey en sy sekretaris.

Lewe ná die oorlog

Ná die oorlog het De La Rey gehelp om geld in Europa in te samel. Hy is saam met generaals Botha en De Wet na Nederland, België, Parys en Berlyn en hulle het ongeveer 125 000 Britse pond ingesamel. Hierdie 125 000 Britse pond sal in vandag se geldwaarde meer as £17 miljoen 6 of byna R342 miljoen wees! 7

De la Rey en Bokkie

In Indië het De la Rey Boerekrygsgevangenes probeer oortuig om die eed van getrouheid teenoor Brittanje af te lê. Dit sou beteken dat hulle na hul vaderland kon terugkeer sodat hulle kon help om die land weer op te bou ná al die skade wat die oorlog veroorsaak het. 3

De la Rey was ná die oorlog een van die Boereleiers wat deur almal gerespekteer is. Hy was lid van die regering wat die nuwe kolonie in 1904 van Brittanje ontvang het.

Sy plaas – soos die meeste plase in die twee Boererepublieke – is tydens die oorlog vernietig. Sy vrou, Nonnie, was nooit in ’n konsentrasiekamp nie omdat sy deur die hele oorlog voor die Britse soldate kon wegvlug. 5

Vanaf 1910 tot 1914 het De la Rey in die Unie van Suid-Afrika se eerste senaat gedien. 8

De la Rey en Louis Botha buite die Parlementsgebou.

Generaal de la Rey sterf

Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitbreek, moes die Unie van Suid-Afrika besluit of hulle Brittanje gaan help om Duitsland se kolonie, Duitswes-Afrika (wat vandag Namibië is), in te val. Louis Botha en Jan Smuts wou Brittanje help.

Beyers se motor waarin De la Rey geskiet is.

Leiers soos De la Rey, Beyers, De Wet en ander Boereleiers soos generaals Kemp en Manie Maritz wou nie oorlog voer nie. De la Rey se mening (siening) oor die saak was vir almal baie belangrik omdat hulle geglo het dat hy die regte besluit sou neem. Generaal Beyers het intussen as hoof van die Suid-Afrikaanse weermag bedank uit protes teen die regering se besluit. Op die aand van 15 September 1914 het De la Rey en Beyers na Potchefstroom vertrek.

Ongelukkig was daar op die pad waarop hulle gery het, ’n padblokkade opgerig om die Foster-bende te vang. De la Rey se bestuurder het nie by die padblokkade stilgehou nie en deurgejaag. Een van die polisiemanne het gedink dit is die Foster-bende en het op die motor geskiet. De la Rey is getref en het gesterf. 2

De la Rey se baadjie met die koeëlgat in. Dié foto is in 1914 geneem.

De la Rey se nalatenskap

De la Rey is in Lichtenburg begrawe waar daar ’n borsbeeld op sy graf is. Daar is ook ’n hospitaal in Lichtenburg wat na hom vernoem is en ’n beeld van hom op sy perd. In Roodepoort is daar ’n laerskool wat na De la Rey vernoem is en verskeie strate in die land dra sy naam, onder andere in Boksburg, Pretoria-Noord en Vanderbijlpark.

Standbeeld van genl. Koos de la Rey voor Lichtenburg se stadsaal

Woordbank

delf Om in die grond vir diamante te grawe.
konsentrasiekamp In die Anglo-Boereoorlog het die Engelse die Boere se vroue en kinders in kampe aangehou om te keer dat hulle die Boere wat in die veld oorlog gevoer het, help. Die omstandighede in die kampe was baie sleg.
krygsvernuf Wanneer iemand goeie planne kan maak in ’n oorlog of geveg.
loopgrawe ’n Lang, smal sloot wat in die grond gegrawe word. Dit word veral in ’n oorlog gedoen sodat soldate daarin kan wegkruip en ook van daar af op die vyand kan skiet.
lojaliteit Om aan iets of iemand getrou te wees.
padblokkade ’n Versperring wat veiligheidsbeamptes (soos die polisie) in ’n pad oprig om te kyk of voertuie padwaardig is, om na onwettige artikels soos dwelms te soek, of om mense wat ’n misdaad gepleeg het en vir die polisie vlug, te probeer vind.
telegram ’n Kort en meestal dringende berig of boodskap wat telegrafies oorgestuur/oorgesein word.
veldkornette Hierdie titel is veral in die 19de eeu gebruik. Dit was ’n amptenaar wat met die bestuur van plaaslike sake gehelp het en wat ondergeskik was aan die landdros.
Volksraad Die liggaam wat die wette in ’n land maak. Die lede van die Volksraad word verkies deur die inwoners van die land.
vrederegters ’n Persoon met beperkte regterlike magte. Wanneer die landdros nie beskikbaar is nie, kan die vrederegter onder meer lasbriewe vir inhegtenisneming uitreik. 11

Hier kan jy meer lees oor die Leeu van die Wes-Transvaal en ook ’n tekenprent aflaai

Kyk hierdie video’s om nog meer oor Koos de la Rey te leer

’n Kort lokprent oor die dood van De la Rey en ook ’n gedeelte uit een van sy toesprake in 1902.

Luister hier na die liedjie “De la Rey”.

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 September 2022 | Bygewerk op 27 Februarie 2024