Vinnige feite

  • Die woord “atleet” beteken “een wat meeding vir ’n prys”. Dit kom van twee Griekse woorde, “athlos” wat “wedstryd” beteken, en “athlon” wat “prys” beteken. 49
  • Atlete het sonder klere aan die antieke Spele deelgeneem! Die woord “gymnasium” is afgelei van die Griekse woord “gymnos” wat naak (of kaal) beteken. 50
  • Die tradisie om goud aan die eerste plek, silwer aan die tweede en brons aan die derde plek toe te ken, het by die Spele in 1904 in St. Louis begin. Goue medaljes was egter net tot en met die Olimpiese Spele in 1912 van soliede goud gemaak. Sedertdien bestaan die medaljes meestal uit silwer. Die goue medaljes bevat egter ʼn klein persentasie goud, silwermedaljes is gemaak van suiwer silwer, terwyl bronsmedaljes uit 95% koper en 5% sink bestaan. Elke gasheerstad ontwerp sy eie medaljes (asook kenteken of wapen en gelukbringer). Die eerste agt deelnemers ontvang ’n Olimpiese sertifikaat. 51
  • Die Amerikaanse swemmer Michael Phelps is die atleet wat met die meeste Olimpiese medaljes spog, naamlik 28 wat hy by vier Spele verower het. Die Russiese gimnas Larisa Latynina is in die tweede plek met 18 medaljes. 52
  • Die jongste deelnemer ooit, is die Griekse gimnas Dimitrios Loundras, wat op tienjarige ouderdom in 1896 aan die Olimpiese Spele in Athene deelgeneem het. 53 Die oudste deelnemer ooit was Oscar Swahn van Swede wat 72 jaar oud was toe hy tydens die 1920-Spele aan skiet deelgeneem het. Sedert sy eerste deelname toe hy 60 was, het hy altesaam ses medaljes gewen, waarvan drie goud was. 54
  • Slegs vyf lande se atlete het nog nie een Olimpiese Somerspele misgeloop nie, naamlik Griekeland, Australië, Frankryk, die Verenigde Koninkryk en Switserland.
  • Meer as drie miljard mense het die Olimpiese Spele in 2021 in Tokio, Japan op televisie gevolg. Weens die Covid-19-pandemie was die pawiljoene (of stadions) bykans verlate. 55
  • Die sportsoorte by die Olimpiese Spele het oor die jare gereeld verander. Só het gholf en rugby verdwyn en weer ’n terugkeer gemaak, terwyl skaatsplankry, branderplankry, sportklim en karate in 2021 in Tokio by die lys sportsoorte gevoeg is. Jare gelede is lewendige duiwe geskiet, toutrekkompetisies gehou en motorbote en selfs lugballonne was op die sportspyskaart. 56
  • Die Suid-Afrikaanse swemmer Natalie du Toit was in Augustus 2008 die eerste swemmer met ’n amputasie (wat ’n ledemaat verloor het) wat aan die Olimpiese Spele deelgeneem het. Sy het boonop dié jaar in Beijing die Suid-Afrikaanse vlag in die spanoptog tydens die openingseremonie van beide die Olimpiese én Paralimpiese Spele gedra. 57 Gedurende haar loopbaan het Du Toit 13 goue medaljes en 2 silwermedaljes by die Paralimpiese Spele verower. Sy het ook 10 wêreldrekords opgestel. 58
  • Oscar Pistorius, wat ook die Lemnaeler (oftewel “Blade Runner”) genoem is, was in 2012 die eerste gestremde naelloper om aan die Olimpiese én Paralimpiese Spele in Londen deel te neem. 59
  • Suid-Afrika spog met drie atlete wat die Laureus-toekenning vir Gestremde Wêreldsportpersoon van die Jaar ontvang het – die rolstoelatleet Ernst van Dyk (2006), die swemmer Natalie du Toit (2010) en Oscar Pistorius (2012). 60
Foto: iStock

Dit is darem baie lekker (en ’n groot voorreg!) om talentvol in ’n sportsoort te wees. Om op die podium te staan, ’n medalje te wen of dalk selfs ’n rekord te laat spat, laat ’n mens se hart so vinnig soos ’n perd se galop klop. Dit maak ál die sweet en harde werk beslis die moeite werd, en motiveer ’n mens om nóg harder te oefen en nóg hoër of groter mikpunte (doelwitte) vir jouself te stel.

Die Olimpiese Spele word as een van die wêreld se grootste en belangrikste sportgebeurtenisse beskou. Sportlui van reg oor die wêreld oefen van kleintyd af kliphard om hul land eendag by die Olimpiese Spele te verteenwoordig en hul staal voor duisende toeskouers te wys. Om met ’n Olimpiese medalje te spog, is net nie ’n besonderse persoonlike mylpaal nie, maar maak ’n land se inwoners ook baie trots as een van húl sportmanne of -vroue letterlik die hoogste sport bereik! 1

’n Olimpiese medalje self is dalk nie baie werd as ’n mens dit sou verkoop nie, maar die sentimentele waarde en bekendheid (roem) wat daarmee gepaardgaan, is onberekenbaar. Soms lei ’n Olimpiese medalje tot ’n afrigtersloopbaan vir die wenner, terwyl medaljewenners dikwels ook finansieel deur hul plaaslike Olimpiese komitee, die regering en/of borge beloon word. 2

Die eerste antieke Olimpiese Spele het in 776 v.C. in Olimpië in Griekeland plaasgevind. Ná ’n lang onderbreking (’n tydperk wat dit nie plaasgevind het nie), is die eerste Olimpiese Spele van die moderne era in 1896 gehou.

Die Olimpiese Spele bestaan vandag eintlik uit drie gebeurtenisse: ’n Somerspele, ’n Winterspele en ’n Paralimpiese Spele. Terwyl die antieke Spele oor vyf dae beslis is, strek die moderne Spele oor sowat 16 dae. 3

Die volgende Olimpiese Spele (Somerspele) word van 26 Julie tot 11 Augustus 2024 in Parys, Frankryk, aangebied, waar daar in 32 sportsoorte meegeding sal word. Die volgende Winterspele word in 2026 in Milaan en Cortina d’Ampezzo in Italië gehou. Die Paralimpiese Spele vind op sy beurt altyd direk ná die Olimpiese Winter- of Somerspele plaas. 4

Die antieke Spele

Die eerste antieke Olimpiese Spele in 776 v.C. het by Olimpië, ’n heilige plek naby die westelike kus van die Peloponnesiese skiereiland in die suide van Griekeland, plaasgevind. Dit was aanvanklik ’n godsdienstige fees ter ere aan die Griekse god Zeus. Daar is geglo dat Zeus die heerser oor al die gode was. 5 Deel van die feesviering was om 100 osse aan Zeus te offer! 3

Die eerste antieke Spele was aanvanklik ’n godsdienstige fees ter ere aan die Griekse god Zeus.

Op die eiland was daar ’n 13 m hoë standbeeld van Zeus wat van goud en ivoor gemaak was. Daar word geskat dat hierdie kunswerk in ongeveer 455 v.C. deur die Griekse beeldhouer Phidias gemaak is. Dit is beskou as een van die sewe wonders van die antieke wêreld. 3

Tydens die oorspronklike Olimpiese Spele in antieke Griekeland is nie goue, silwer– en bronsmedaljes aan kampioene toegeken soos vandag nie. In plaas daarvan het die oorwinnaars (daar was nét ʼn eerste plek) ’n olyftak wat in ’n sirkel gedraai is om ’n kroon te vorm, ontvang.

Dalk dink jy nou ʼn olyfkrans is eintlik maar ʼn simpel prys. Maar lees bietjie verder…

Die olyfboom is die wêreldwye embleem vir die simbool van oorwinning, vrede en reinheid. Die wilde olyf, genoem kotinos, het diep godsdienstige betekenis vir die antieke Grieke gehad. Hierdie kroon is as die hoogste moontlike toekenning in antieke Griekeland beskou. ’n Eienaar van een van hierdie krone is vir die res van sy of haar lewe roem, eer en respek gewaarborg.

Die Vouves-boom, ook bekend as die Olimpiese boom, staan vandag nog in Ano Vouves, op die Griekse eiland Kreta. Dit word beskou as die oudste olyfboom ter wêreld, wat na raming 3 000 jaar oud is. Elke vier jaar tydens die ou Olimpiese Spele het die wenner ’n kroon of krans van sy takke ontvang. In 2004, ná baie jare se afwesigheid, is podiumwenners met die takke van hierdie einste boom gekroon. Sedertdien word daar by elke Olimpiese Somerspele ’n tak van dié boom as geskenk tydens die openingseremonie oorhandig. 6

Die eerste baannommer was ’n enkele wedloop oor ’n afstand van sowat 192 m (620 voet volgens die grootte van die mitologiese god Hercules – Zeus se seun – se voete). Dié wedloop is ’n “stade” genoem en dís waar ons die naam stadion vandaan kry. ’n Kok (of sjef) genaamd Coroebus was volgens oorlewering die heel eerste Olimpiese kampioen. 7

Die mitologiese god Hercules.

Die antieke Olimpiese Spele is elke vier jaar gehou. Die Spele se invloed was só merkwaardig dat antieke historici tyd in vierjaarperiodes (vaste tydperke) tussen die Spele begin meet het. Dié vierjaartydperke het as Olimpiades bekendgestaan en daarom vind die Spele vandag nog elke vier jaar plaas. 7

Ná 13 Olimpiades is nog twee baannommers bygevoeg: die diaulos (soos vandag se 400 m), en die dolichos (’n wedloop oor ’n langer afstand, moontlik tussen 1 500 m en 5 000 m). Die vyfkamp is in 708 v.C. ingestel en het bestaan uit ’n wedloop, verspring, diskus- en spiesgooi, en ’n stoeiwedstryd. Boks het in 688 v.C. bygekom en strydwawedrenne – ’n resies tussen waens wat gebruik is om oorlog mee te voer – in 680 v.C. 7

In 648 v.C. het ’n ander soort gevegkuns (pankration) – ’n kombinasie van boks en stoei met feitlik geen reëls – as ’n Olimpiese sport sy buiging gemaak. Baie van die veldnommers waarin meegeding is, het vaardighede behels wat nuttig tydens oorlogsituasies gepas sou kom. 8

Kunstenaars soos skilders, beeldhouers en digters was egter ook aanvanklik deel van die Olimpiese Spele. Die doel van die kunskompetisie was om die menslike liggaam – die spiere en gepaardgaande bewegings – uit te beeld. Skrywers moes gedigte ter ere van die wenners skryf. Bekende beeldhouwerke soos Myron se Diskusgooier is tydens een van hierdie kompetisies gemaak. 3

Omdat Griekeland uit ’n klomp klein eilande bestaan, was daar nie een sentrale regering nie. Mense het hulself rondom stede gevestig. Dit is stadstate genoem en hulle het hulself regeer. Van die bekendste stadstate in antieke Griekeland was Korinte, Sparta en Athene. 9

Athene.

Die atlete het hierdie stadstate verteenwoordig. Enige vry mans (wat nie slawe was nie), is toegelaat om aan die Spele deel te neem, maak nie saak hoe ryk of arm hulle was nie. Skaapwagters, filosowe, prinse en konings het ook deelgeneem. Ongetroude vroue kon die byeenkoms bywoon, maar nie self deelneem nie. 10 Getroude vroue was nie so gelukkig nie. Hulle kon die doodstraf kry as hulle dit net sou waag om by die Olimpiese Spele op te daag! 11

In Sparta het vroue meer vryheid gehad. Die Spartane het geglo dat sterkers kinders gebore word as albei ouers sterk was. Vroue is aangemoedig om hul verstand en liggaam te oefen. Hulle het net soos Spartaanse mans aan sport en atletiek deelgeneem.

In die Olimpiese Spele van 396 en 392 v.C. was prinses Kyniska, die dogter van koning Archidamus II, die eerste vroulike wenner van ’n Olimpiese veldnommer. 11

Met veldnommers soos stoei en spiesgooi moes elke deelnemer op die baan of veld gewees het om deel te neem. Met die strydwarenne was die koetsier gewoonlik ’n slaaf gewees. Die eienaar, en nié die bestuurder nie, is as die wenner beskou. Kyniska kon dus wen, selfs al het sy nie die wa bestuur nie. Trouens, sy hoef nie eens by die Spele teenwoordig te gewees het nie! 11

Kyniska, die eerste vroulike wenner van ’n Olimpiese veldnommer.

Soms was hierdie stadstate in oorloë met mekaar gewikkel. Vir die tyd van die Olimpiese Spele is daar altyd ’n wapenstilstand afgekondig sodat atlete veilig na Olimpië kon reis. Al het hulle nie met wapens geveg nie, is die antieke Olimpiese Spele gebruik as ’n manier waarop state hul mag oor die ander stadstate kon wys. Politici sou byvoorbeeld tydens die Spele aankondigings maak oor watter stadstate saam tydens oorloë gaan veg. 3

Selfs nadat Griekeland deur die Romeinse Ryk oorgeneem is, het die Olimpiese Spele voortgegaan tot ná 385, toe vloede, aardbewings en plundery die infrastruktuur in Olimpië vernietig het. 3

Daar is nie sekerheid oor die presiese datum toe die laaste antieke Spele gehou is nie. Sommige historici glo dat dit in 393 tot ’n einde gekom het toe die Romeinse keiser Theodosius I alle godsdienstige aktiwiteite wat nie Christelik was nie – dus heidens – verban het. 12

Voor die moderne weergawe van die Olimpiese Spele in 1896 afgeskop het, was daar verskeie pogings (probeerslae) om hierdie sportgeleentheid te laat herleef:

  • Die Wenlock Agricultural Reading Society, gesteun deur William Booth, het die Olympic Class begin. Hierdie groep het buitemuurse sportaktiwiteite georganiseer en tydens openbare geleenthede die wenners aangekondig. Die Wenlock Agricultural Reading Society het in Oktober 1850 vir die eerste keer vergader. 13
  • In 1859 is die Zappa Olimpiese Spele, geborg deur die Griekse sakeman Evangelos Zappas, in Athene, Griekeland begin. Hy het nie net die reëlings vir die byeenkoms behartig nie, maar ook die infrastruktuur vir die geleentheid beskikbaar gestel. 13
Die Griekse sakeman Evangelos Zappas.

Die persoon wat egter die grootste bydrae tot die herlewing van die Olimpiese Spele 1 500 jaar later gemaak het, was ’n Franse opvoeder (onderwyser) met die naam baron Pierre de Coubertin. Hy was geïnspireer deur die werk van Brookes en Zappas. 7

In November 1892, by ’n vergadering van die sportbeheerraad L’Union des Sociétés françaises des sports athlétiques (USFSA) in Parys, Frankryk, het Coubertin die idee voorgestel om die Olimpiese Spele te laat herleef as ’n internasionale atletiekkompetisie wat elke vier jaar gehou word. Twee jaar later het hy goedkeuring gekry om die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) te stig, wat die beheerliggaam van die moderne Olimpiese Spele sou word. 7

Die handelsmerk van die USFSA.

Die moderne Spele

Die eerste moderne Olimpiese Spele is in 1896 in Athene, Griekeland gehou. Tydens die openingseremonie het koning Georgios I van Griekeland en ’n skare van 60 000 toeskouers die 280 deelnemers van 12 nasies (almal mans) wat aan 43 items (of nommers) deelgeneem het, verwelkom. Dit het baan- en veldnommers, gimnastiek, swem, stoei, fietsry, tennis, gewigstoot, skiet en skerm ingesluit. Alle daaropvolgende Olimpiades word in Romeinse syfers genommer, selfs die Spele wat op drie geleenthede gekanselleer is. 7

Die marathon is die eerste keer by die 1896-Spele aangebied. Dit het die 25-myl-roete (sowat 40 km) gevolg wat ’n Griekse soldaat in 490 v.C. na Athene gehardloop het om die nuus te bring van ’n oorwinning oor die Perse van Marathon. Heel gepas het Spyridon Louis, ʼn Griekse skaapwagter, die eerste goue medalje in dié nommer gewen. 7

Spyridon Louis, ʼn Griekse skaapwagter wat die eerste goue medalje in die marathon gewen het.

Die Olimpiese Spele het werklik ’n internasionale sportbyeenkoms ná 1924 geword toe die VIII Olimpiade in Parys gehou is. Sowat 3 000 atlete (meer as 100 vroue ingesluit) van 44 lande het daardie jaar deelgeneem, en vir die eerste keer het die Spele ’n afsluitingseremonie gehad. In dié jaar is die marathonafstand gestandaardiseer tot 42,195 km, én dit was die eerste jaar wat ’n Winterspele aangebied is. 7

Tagtig jaar later, toe die Olimpiese Somerspele van 2004 vir die eerste keer in meer as ’n eeu na Athene teruggekeer het, het byna 11 000 atlete van 201 lande meegeding. In ’n gebaar wat by die antieke én moderne Olimpiese tradisies aangesluit het, is die gewigstootkompetisie daardie jaar op die terrein van die antieke Spele in Olimpië gehou. 7

Die Olimpiese vlag

In 1914, toe die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) sy 20ste bestaansjaarvergadering in Parys gehou het, is die Olimpiese vlag vir die eerste keer vertoon. Dit is ontwerp deur baron Pierre de Coubertin ontwerp, wat as die vader van die moderne Olimpiese beweging beskou word. 14

Daar word beweer dat Coubertin die ontwerp gegrond het op vyf ineengeskakelde ringe wat hy op ’n antieke altaar in Delphi, Griekeland gesien het. Volgens Coubertin het die vyf ringe die vyf dele van die wêreld gesimboliseer waarin die Olimpiese beweging aktief was. Die kleure word egter nie met spesifieke kontinente geassosieer nie. Die vyf kleure (blou, swart, rooi, geel en groen) asook die wit van die vlag, is gekies omdat dit die kleure van al die nasionale vlae ingesluit het wat bestaan het toe die Olimpiese vlag geskep is.

Die Olimpiese vlag word tydens die openingseremonie van elke Spele gehys. Tydens die afsluitingseremonie word die einde van die Spele aangekondig deur die vlag te laat sak en dit aan die president van die IOK te gee, wat dit dan weer aan die organiseerders van die volgende Spele oorhandig.

Die Olimpiese vlag en ringhandelsmerk word in byna elke land deur wetgewing beskerm om te verhoed dat dit deur ongemagtigde individue of instansies uitgebuit word. 15

Die Olimpiese vlam

Geskiedkundiges (historici) meen die oorsprong van die Olimpiese vlam kan teruggevoer word na ’n fakkel in ’n tempel wat deur die antieke Grieke opgerig is om Hera, ’n magtige koningin van die mitologiese gode, te vereer. 16

In die konteks van die moderne Spele is die Olimpiese vlam ’n simbool van die positiewe waardes wat die mens altyd met vuur verbind, en vorm die skakel tussen die antieke en die moderne Spele.

’n Paar maande voor die openingseremonie van die spesifieke Olimpiese Spele word ’n vlam by Olimpië in Griekeland aangesteek. Van daar word dit vir ’n aantal weke in ’n soort afloswedloop na die gasheerstad gedra, hetsy per voet of met ’n ander vervoermiddel.

Elke Spele spog met sy eie fakkelontwerp. Verskeie fakkels word gemaak omdat elke fakkeldraer sy of haar eie fakkel kry. Dit is die vlam wat van hardloper na hardloper oorgedra word, dus nie die fakkel nie.

Die fakkel bly tydens die aflos die heeltyd brand, hoewel dit soms kan gebeur dat ’n sterk brander of wind die vlam blus. Net vir ingeval, daar is altyd ’n “moedervlam” byderhand, wat in ’n spesiaal ontwerpte mynwerkerslantern gedra word, en gebruik word om die fakkel weer aan te steek. 17

Dié moedervlam word tydens ’n spesiale seremonie met ’n paraboliese spieël aangesteek wat die son se strale weerkaats en ’n vlam maak. Dié vlam word as “suiwerder” beskou omdat dit deur die son veroorsaak of geskep is. 18

Hier’s nog drie interessante vlamfeite: 19

  • In 2000 het die Olimpiese fakkel drie minute in die Koraalsee deurgebring.
  • In 2008 het bergklimmers ’n fakkel tot op die kruin van die berg Everest gedra.
  • In 2016 het die fakkel ’n rit op ’n branderplank in Brasilië onderneem.

Optog deur die deelnemende lande

Tydens die openingseremonie van die Olimpiese Spele loop al die lande se atlete die hoofstadion binne. Dit staan as die “Parade of Nations” bekend en word as ’n ware hoendervleisoomblik deur die deelnemers beskryf. Elke land se span word sedert die Spele in 1908 in Londen deur een verteenwoordiger (deelnemer) gelei, wat dié land se vlag dra. 20

Die volgorde van die spanne of lande is besonders. Griekeland se span kom die stadion of arena altyd eerste binne, omdat dit as die “geboorteplek” van die Olimpiese Spele beskou word. Griekeland word gevolg deur die res van die deelnemende lande, in alfabetiese volgorde, maar in die taal van die gasheerland.

Neem die volgende as voorbeeld: By die 1968-Spele in Mexikostad het die span van die VSA eerste ingeloop, omdat “Verenigde State” in Spaans Estados Unidos is. In 2008 het die VSA weer 139ste tussen Sirië en die Maagde-eilande ingeloop, gegrond op die Chinese alfabet.

Die gasheerland se span kom die stadion gewoonlik laaste binne. Tydens die Olimpiese Spele in 2021 in Tokio, het Frankryk (wat die Somerspele in 2024 in Parys aanbied) en die VSA (wat die Spele in 2028 in Los Angeles gaan aanbied), onderskeidelik tweede en derde laaste ingekom.

Die optog het deur die jare die simbool van eenheid en spanwerk geword:

  • Tussen 1956 tot 1964, toe Duitsland nog verdeel was, het Oos-Duitsland en Wes-Duitsland saam onder dieselfde vlag geloop.
  • By die 2000-Spele in Sydney, Australië het Noord- en Suid-Korea dieselfde gedoen, asook tydens die Spele in 2004 en 2018.
  • By die Olimpiese en Paralimpiese Spele in Rio in 2016, het ’n vlugtelingspan onderskeidelik agter die Olimpiese vlag en Paralimpiese vlag voor die gasheernasie, Brasilië, gestap.
  • Hoewel die gebruik meestal is dat een spanlid as vlagdraer voorloop, hang dit van die span (of land) én die gasheerstad se voorkeur of aanbevelings af. Die reëlingskomitee van die Tokio-Spele in 2021 het deelnemende lande byvoorbeeld versoek om ’n manlike én vroulike vlagdraer aan te wys.

Stok in Spele se speke

Die Olimpiese Spele is nog net op drie geleenthede gekanselleer (nie aangebied nie of afgestel). Die eerste keer was in 1916 toe die Spele weens die Eerste Wêreldoorlog in die wiele gery is, en die ander twee keer – 1940 en 1944 – was as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog wat gewoed het. 21

Die Olimpiese Spele van 1916 was veronderstel om deur die Duitse Ryk aangebied te word, wat ’n indrukwekkende stadion met 30 000 sitplekke in Berlyn vir dié geleentheid gebou het. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914, en die uiteindelike betrokkenheid van soveel lande wat atlete na die Olimpiese Spele sou stuur, is die 1916-Spele egter geskrap. 21

Die volgende Spele, in 1920 in Antwerpen (België), was die eerste waar ’n land verbied is om deel te neem. Duitsland het die skuld vir die aanvang van die Eerste Wêreldoorlog gekry, en al was die land onder ’n nuwe regering – bekend as die Weimar Republiek – het Belgiese en later ook Franse Olimpiese amptenare, die Duitse atlete verbied om aan die Spele in 1920 én 1924 deel te neem. 21

Twintig jaar later (in 1936) sou Berlyn (Duitsland) weer die Olimpiese Spele aanbied, dié keer onder die Nazi-vlag en -regering van Adolf Hitler. Hoewel mense van die Joodse geloof en Katolieke groepe wou hê die VSA moes die Spele boikot, het Avery Brundage, president van die Amerikaanse Olimpiese komitee en openlike Duitse ondersteuner, dié versoeke geïgnoreer. 21

Adolf Hitler.

Die Nazi-regering se plan was om sport te gebruik om Hitler se ideologie van rassemeerderwaardigheid te demonstreer. Hitler was seker nie baie tevrede toe Jesse Owens, ’n swart Amerikaanse atleet, vier goue medaljes gewen het nie! Om alles te kroon, het Indië se hokkiespan die Duitsers met 8-1 in die manseindstryd vermorsel (baie ver gewen). 21

Die laaste keer dat die Olimpiese Spele gekanselleer is, was tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Die Olimpiese Somer- en Winterspele van 1940 sou albei in Japan gehou word, die eerste nie-Westerse land wat die Spele sou aanbied, maar Japan het dié voorreg in 1937 verbeur toe hy met China oorlog gevoer het. Die Somerspele van 1940 is aanvanklik vir Helsinki, Finland beplan, en die Winterspele sou in die Duitse dorpie Garmisch-Partenkirchen plaasvind, maar dit is in 1939 gekanselleer ná Hitler se inval in Pole. 21

Londen sou op sy beurt die Somerspele van 1944 aanbied en Cortina d’Ampezzo in Italië die Winterspele, maar albei is weens die voortslepende oorlog gekanselleer. Londen het uiteindelik die 1948-Spele aangebied, maar die Duitse en Japannese atlete is verbied om deel te neem. 21

Die Spele is nog net een keer uitgestel. Toe die Covid-19-pandemie uitgebreek het, het die hele wêreld onder streng inperkings (toe ons by die huis moes bly en nie skool toe mag gegaan het nie) gebuk gegaan en reisbeperkings (mense mag nie na ander lande gereis het nie) het gegeld. Die Somerspele en Paralimpiese Spele wat in 2020 in Tokio, Japan moes plaasvind, is toe na 2021 aangeskuif. 22

Al is dié Spele met ’n jaar aangeskuif, is dit steeds die 2020-Spele genoem, omdat al die klere, aandenkings, medaljes, stadions en bemarkingsmateriaal die datum 2020 opgehad het. Dit sou miljoene gekos het om die datum op al die plekke na 2021 te verander. 23 Dit was die eerste Olimpiese Spele in die geskiedenis wat met bykans leë stadions, sonder die gebruiklike skares mense wat die atlete aanmoedig, plaasgevind het. 24

Olimpiese gasheerstede deur die jare

Net soos die eerste Olimpiese Spele in die antieke tyd in Olympia in Griekeland gehou is, net só is die eerste Spele in die moderne era in 1896 in Griekeland (in die stad Athene) aangebied. Die plek waar die Olimpiese Spele aangebied word, word die gasheerstad genoem. Die fokus is nie op die land waar dit plaasvind nie, maar eerder die stad. 25

Londen in die Verenigde Koninkryk (VK) is die enigste stad wat die Somerspele reeds drie keer aangebied het: in 1908, 1948 en 2012. In 2024 sal Parys die Somerspele vir die derde keer aanbied, en Los Angeles in die VSA sal in 2028 ook vir die derde keer die gasheerstad van dié sportskouspel wees. Die VSA is die land wat met die meeste Spele tot nog toe spog, naamlik vyf Somerspele in drie verskillende stede. 25

Net twee kontinente (vastelande), Afrika en Antarktika, het nog nooit met ’n Olimpiese gasheerstad gespog nie. Nog ’n interessante feit is dat die toekenning van die Olimpiese Spele aan twee gasheerstede gelyktydig aangekondig is (die bekendmaking is by een geleentheid gedoen) – die eerste keer was in 2017 toe Parys (2024) en Los Angeles (2028) se name aangekondig is. 25

Die Olimpiese Winterspele is vir die eerste keer in 1924 gehou, wat die tradisie begin het om dit ’n paar maande vroeër en in ’n ander stad as die Somerspele te hou. Sedert 1994 word die Winterspele in heeltemal ander jare as die Somerspele gehou. Die Winterspele is in 1992 en 1994 net twee jaar uitmekaar gehou om dít te bereik. 26

Die Winterspele is reeds vier keer in die VSA gehou (die meeste van enige land): 1932, 1960, 1980 en 2002. Italië sal dié Spele in 2026 vir die vierde keer aanbied. Frankryk het die Winterspele op sy beurt reeds drie keer (1924, 1968 en 1992) aangebied. Die Winterspele is nog nooit in die Suidelike Halfrond gehou nie. 26

Hier is ’n opsomming van al die Spele wat in die moderne era plaasgevind het, asook die gasheerstede wat hul vere vir die volgende geleenthede regskud: 27

Jaar Somerspele Jaar Winterspele
1896 Athene, Griekeland
1900 Parys, Frankryk
1904 St. Louis, VSA
1908 Londen, VK
1912 Stockholm, Swede
1916 Berlyn, Duitsland*
1920 Antwerpen, België
1924 Parys, Frankryk 1924 Chamonix, Frankryk
1928 Amsterdam, Nederland 1928 St. Moritz, Switserland
1932 Los Angeles, VSA 1932 Lake Placid, VSA
1936 Berlyn, Duitsland 1936 Garmisch-Partenkirchen, Duitsland
1940 Tokio, Japan* 1940 Sapporo, Japan*
1944 Londen, VK* 1944 Cortina d’Ampezzo, Italië*
1948 Londen, VK 1948 St. Moritz, Switserland
1928 Amsterdam, Nederland 1928 St. Moritz, Switserland
1932 Los Angeles, VSA 1932 Lake Placid, VSA
1936 Berlyn, Duitsland 1936 Garmisch-Partenkirchen, Duitsland
1940 Tokio, Japan* 1940 Sapporo, Japan*
1944 Londen, VK* 1944 Cortina d’Ampezzo, Italië*
1948 Londen, VK 1948 St. Moritz, Switserland
1972 München, Duitsland (toe nog deel van Wes-Duitsland) 1972 Sapporo, Japan
1976 Montreal, Kanada 1976 Innsbruck, Oostenryk
1980 Moskou, Rusland (toe nog die Sowjetunie) 1980 Lake Placid, VSA
1984 Los Angeles, VSA 1984 Sarajevo, Joego-Slawië
1988 Seoel, Suid-Korea 1988 Calgary, Kanada
1992 Barcelona, Spanje 1992 Albertville, Frankryk
1996 Atlanta, VSA 1994 Lillehammer, Noorweë
2000 Sydney, Australië 1998 Nagano, Japan
2004 Athene, Griekeland 2002 Salt Lake City, VSA
2008 Beijing, China 2006 Turin, Italië
2012 Londen, VK 2010 Vancouver, Kanada
2016 Rio de Janeiro, Brasilië 2014 Sochi, Rusland
2021 Tokio, Japan (Dié Spele is uitgestel weens die Covid-19-pandemie) 2018 Pyeongchang, Suid-Korea
2024 Parys, Frankryk 2022 Beijing, China
2028 Los Angeles, VSA 2026 Milaan en Cortina d’Ampezzo, Italië
2032 Brisbane, Australië 2030 Nog nie bekend

* Gekanselleer weens die Eerste en/of Tweede Wêreldoorlog.

Suid-Afrika by die Olimpiese Spele

Suid-Afrika (toe nog ’n Britse kolonie) was die eerste land uit Afrika wat aan die Olimpiese Spele in St. Louis in 1904 deelgeneem het. Ons land het aan elke Somerspele hierna deelgeneem, tot en met die Spele in Rome in 1960, en altesaam 51 medaljes gewen. 28

Reggie Walker het Suid-Afrika se eerste goue medalje ooit verower toe hy eerste in die 100 m vir mans by die Somerspele in Londen in 1908 geëindig het. Walker het nie net die Olimpiese rekord geëwenaar nie, maar is tot nou toe nog die jongste deelnemer (19 jaar, 128 dae) wat die goue medalje in die 100 m vir mans gewen het. 29

In 1952 het Esther Brand die eerste Suid-Afrikaanse vrou geword om ’n goue medalje te wen, toe sy in die hoogspring by die Spele in Helsinki in Finland koning gekraai het. 29

Esther Brand was die eerste Suid-Afrikaanse vrou om ’n goue medalje op ‘n Olimpiese Spele te wen.

Voor die Spele in 1964 in Tokio, Japan sou plaasvind, het die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) besluit om Suid-Afrika te verbied om deel te neem weens die regering se apartheidsbeleid, en die Suid-Afrikaanse Olimpiese Komitee is in 1970 amptelik uit die IOK geskors. 28 [Lees hier oor apartheid.]

Die IOK se hoofgebou in Switserland.

Ons land se laaste Olimpiese medalje voor ons uitsluiting (ook genoem sportsanksies of isolasie), was Malcolm Spence se bronsmedalje in die 400 m tydens die 1960-Spele in Rome. 30

Een baie bekende Suid-Afrikaans gebore atleet het wel in die isolasiejare aan die Olimpiese Spele deelgeneem. Dis natuurlik die Vrystaatse kaalvoetatleet Zola Budd wat as 18-jarige aan die 1984-Spele in Los Angeles danksy Britse burgerskap deelgeneem het. Sy en haar Amerikaanse aartsvyand (grootste teenstander) Mary Decker het egter in die finaal van die 3000 m gebots (teen mekaar gestamp). Decker, wat nie die wedloop kon voltooi nie, het Budd eers die skuld vir die ongeluk gegee, maar later gesê dat dit ’n ongeluk was (kyk die video van die omstrede wedloop hier). Budd het sewende geëindig. 31

Die langasem Zola Budd in 1986.

Hoewel Budd die wêreldlandloopkampioenskap in 1985 en 1986 gewen het, is sy verbied om aan die 1988-Spele in Seoel deel te neem omdat sy glo aan wedlope in “apartheid”-Suid-Afrika deelgeneem het. Sy neem egter weer in 1992, dié keer vir Suid-Afrika en met die getroude van Pieterse, in Barcelona aan die Olimpiese Spele deel. Sy slaag egter nie daarin om vir die 3 000 m-finaal te kwalifiseer nie. Sy het in 2008 na die VSA verhuis en in 2021 na Suid-Afrika teruggekeer. 31

Met die beëindiging van apartheid het die wêreld se sportdeure weer vir Suid-Afrika oopgegaan en die land is in 1991 weer tot die IOK toegelaat. Die eerste Spele waaraan Suid-Afrika dus ná 32 jaar se uitsluiting kon deelneem, was in 1992 in Barcelona, Spanje. 32

Dit was egter nog voor die eerste demokratiese verkiesing in 1994 sou plaasvind en die atlete kon nie op die maat van “Die Stem” (die volkslied in daardie stadium) of met die ou Suid-Afrikaanse vlag aan die optog tydens die openingseremonie van die Spele deelneem nie. Daar is toe besluit om “Ode to Joy” uit Beethoven se Negende Simfonie te speel en ’n spesiale vlag te gebruik. 33

Op dié wit vlag was ’n grys diamant, wat Suid-Afrika se minerale rykdom verteenwoordig, drie gekleurde strepe (blou, oranje en groen), wat onderskeidelik die see, die land en landbou voorgestel het, en die vyf Olimpiese ringe. 34

Nelson Mandela het die openingseremonie op 25 Julie 1992 bygewoon en gekyk hoe 97 Suid-Afrikaanse atlete, wat al die bevolkingsgroepe in die land verteenwoordig het, die stadion instap. 30 Altesaam 9 356 atlete van 169 nasies het aan dié Spele deelgeneem. 35

Suid-Afrika het twee medaljes by dié Spele verower: Elana Meyer verower silwer in die 10 000 m, en Wayne Ferreira en Piet Norval wen silwer in die tennisdubbelspel vir mans.

Elana Meyer.

Suid-Afrika se atlete het 38 medaljes sedert ons hertoetrede tot die Olimpiese Spele in 1992 gewen: 36

Spele & jaar Atleet Item Medalje
Barcelona, 1992 Elana Meyer Atletiek: 10 000 m Silwer
Barcelona, 1992 Wayne Ferreira & Piet Norval Tennis: Mansdubbelspel Silwer
Atlanta, 1996 Penny Heyns Swem: 100 m-borsslag Goud
Atlanta, 1996 Penny Heyns Swem: 200 m-borsslag Goud
Atlanta, 1996 Josia Thugwane Atletiek: Marathon Goud
Atlanta, 1996 Hezekiel Sepeng Atletiek: 800 m Silwer
Atlanta, 1996 Marianne Kriel Swem: 100 m-rugslag Brons
Sydney, 2000 Hestrie Cloete Atletiek: Hoogspring Silwer
Sydney, 2000 Terence Parkin Swem: 200 m-borsslag Silwer
Sydney, 2000 Penny Heyns Swem: 100 m-borsslag Brons
Sydney, 2000 Llewellyn Herbert Atletiek: 400 m-hekkies Brons
Sydney, 2000 Frantz Kruger Atletiek: Diskus Brons
Athene, 2004 Lyndon Ferns,
Ryk Neethling,
Roland Schoeman en
Darian Townsend
Swem: Vryslagaflos Goud
Athene, 2004 Roland Schoeman Swem: 100 m-vryslag Silwer
Athene, 2004 Mbulaeni Mulaudzi Atletiek: 800 m Silwer
Athene, 2004 Hestrie Cloete Atletiek: Hoogspring Silwer
Athene, 2004 Roland Schoeman Swem: 50 m-vryslag Brons
Athene, 2004 Donovan Cech en
Ramon di Clemente
Roei Brons
Beijing, 2008 Kgotso Mokoena Atletiek: Verspring Silwer
Londen, 2012 Chad le Clos Swem: 200 m-vlinderslag Goud
Londen, 2012 Cameron van der Burgh Swem: 100 m-borsslag Goud
Londen, 2012 Sizwe Ndlovu,
Matthew Brittain,
John Smith en
James Thompson
Spanroei (4 lede) Goud
Londen, 2012 Chad le Clos Swem: 100 m-vlinderslag Silwer
Londen, 2012 Caster Semenya Atletiek: 800 m Silwer
Londen, 2012 Bridgette Whitely Roei: K1 – 1 500 m Brons
Rio, 2016 37 Wayde van Niekerk Atletiek: 400 m Goud
Rio, 2016 Caster Semenya Atletiek: 800 m Goud
Rio, 2016 Luvo Manyonga Atletiek: Verspring Silwer
Rio, 2016 Sunette Viljoen Atletiek: Spiesgooi Silwer
Rio, 2016 Shaun Keeling en Lawrence Brittain Roei (paar) Silwer
Rio, 2016 Chad le Clos Swem: 200 m-vryslag Silwer
Rio, 2016 Chad le Clos Swem: 100 m-vlinderslag Silwer
Rio, 2016 Cameron van der Burgh Swem: 100 m-borsslag Silwer
Rio, 2016 Sewesrugbyspan Rugby Brons
Rio, 2016 Henri Schoeman Atletiek: Driekamp Brons
Tokio, 2021 38 Tatjana Schoenmaker Swem: 200 m-borsslag Goud
Tokio, 2021 Tatjana Schoenmaker Swem: 100 m-borsslag Silwer
Tokio, 2021 Bianca Buitendag Branderplankry Goud

Paralimpiese Spele

Sport vir atlete met ’n gestremdheid bestaan al meer as ’n eeu, en die eerste sportklubs vir mense wat doof is, het reeds in 1888 in Berlyn, Duitsland ontstaan. Dit was egter eers ná die Tweede Wêreldoorlog dat dit wyd bekendgestel is. Die aanvanklike doel was om die groot aantal oorlogsveterane en mense wat in die oorlog beseer is, by te staan. 39

In 1944 het dr. Ludwig Guttmann, ’n neurochirurg, ’n spinale beseringsentrum op versoek van die Britse regering by die Stoke Mandeville-hospitaal in Engeland geopen. Rehabilitasiesport het ’n ontspanningsport geword en uiteindelik tot ’n mededingende sport gegroei. 40

Op 29 Julie 1948, die dag van die openingseremonie van die Olimpiese Spele in Londen, het Guttmann die eerste kompetisie vir rolstoelatlete gereël. Hy het dit die Stoke Mandeville Spele genoem en 16 beseerde soldate het aan boogskiet deelgeneem. Dit word as die wegspringplek beskou wat uiteindelik die Paralimpiese Spele sou word. 41

Die eerste Paralimpiese Spele is in 1960 in Rome, Italië aangebied met 400 atlete uit 23 lande. Sedertdien vind dit, soos die Spele vir gewone atlete, elke vier jaar plaas. Die eerste Paralimpiese Winterspele is in 1976 in Swede aangebied. Sedert die Somerspele in Seoel, Suid-Korea in 1988, en die Winterspele in Albertville, Frankryk in 1992, word die Paralimpiese Spele telkens in dieselfde stede net ná die Olimpiese Spele aangebied. 42

Die woord “paralimpies” het niks met die woord parapleeg te doen nie, maar is saamgestel uit die Griekse voorsetsel para (wat “langs” of “langsaan” beteken) en die woord “Olimpiese”. Dit simboliseer dat die Paralimpiese Spele die parallelle of gelyke Spele tot die Olimpiese Spele is en illustreer hoe die twee langs mekaar bestaan (ewe belangrik of van ewe groot waarde is). 43

Terwyl die Olimpiese Spele die vyf Olimpiese ringe as simbole het, het die Paralimpiese Spele drie asimmetriese halfmane (of agitos) in drie kleure: rooi, blou en groen. Agitos beteken “ek beweeg” in Latyn en simboliseer die atletiese “gees in beweging”. 44

Dit is nie maklik om gesindhede te verander, hindernisse af te breek en generasies (verskillende geslagte) mense reg oor die wêreld te inspireer nie. Maar die Paralimpiese Spele kry dit keer op keer reg. Dit is omdat elke atleet daarna streef om die vier amptelike Paralimpiese waardes uit te leef: moed, vasberadenheid, inspirasie en gelykheid. 45

Altesaam 2 550 mans en 1 853 vroue uit 161 lande het in 2021 aan die Paralimpiese Spele in Tokio, Japan deelgeneem. 46 Daar is tans 28 Paralimpiese sportsoorte wat deur die Internasionale Paralimpiese Komitee (IPK) goedgekeur is: 22 by die Somerspele en ses by die Winterspele. Die sporte by die Somerspele sluit in boogskiet, atletiek, pluimbal, sokker, boccia (amper soos rolbal), kanovaart, fietsry, ruitersport, doelbal, judo, kragoptel, roei, skiet, vlugbal, swem, tafeltennis, Taekwondo (ʼn soort gevegskuns), driekamp, basketbal, rugby, tennis en skerm. 47

Die Olimpiese en Paralimpiese Spele het in 1996 in Atlanta plaasgevind.

Altesaam 34 Suid-Afrikaanse atlete het in 2021 aan die Paralimpiese Spele in Tokio deelgeneem en sewe medaljes huis toe gebring. Die 19-jarige Ntando Mahlangu het twee goue medaljes gewen (verspring en 200 m), terwyl Anruné Weyers (400 m) en Pieter du Preez (fietsry: padtydtoets) ook goud gewen het. Louzanne Coetzee het silwer en brons in onderskeidelik die 1 500 m en marathon gewen, en Sheryl James het ’n bronsmedalje in die 400 m verower. 48

Woordbank

apartheidsbeleid

Amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering (1948-1994) waarvolgens Suid-Afrikaners in kleur-/rassegroepe geskei is.
asimmetriese Gebrek aan simmetrie; oneweredig.
boikot Georganiseerde weiering; uitsluiting.
era Tydperk.
geëwenaar ’n Gelyke prestasie behaal.
fakkels Stok met ’n brandende vlam aan die een punt; iets wat lig versprei.
filosowe Iemand wat die aard en betekenis van die lewe, waarheid, goed en sleg, ens. bestudeer en bepaalde idees en teorieë daaroor ontwikkel; wysgeer.
galop Ritmiese gang van ’n viervoetige dier, veral ’n perd; vinniger as ’n draf.
gasheer Iemand wat ’n gas of gaste ontvang.
gebaar Handeling wat ’n goeie gesindheid openbaar.
gelykheid Hoedanigheid van gelyk te wees.
gesindhede Mening oor/omtrent en houding jeens/teenoor iets/iemand; manier waarop jy in ’n bepaalde situasie optree, wat wys hoe jy voel.
geskiedkundiges Kenner/beoefenaar van die geskiedenis; historikus.
gestremdheid Met ’n liggaamlike of geestelike gebrek, gewoonlik van ’n permanente aard, wat ’n mens in die uitvoering van sekere handelinge benadeel.
heidens Iemand wat nie aan ’n god glo nie en aan geen van die gevestigde godsdienste behoort nie; iemand wat afgode aanbid.
historici Geskiedkundiges of mense wat baie van die geskiedenis weet.
herleef Weer kragtig word; terugkeer; floreer; weer/opnuut leef.
ideologie Idees wat die grondslag vorm van ’n politieke/ekonomiese teorie/stelsel; denkwyse.
in die wiele gery Iets teengaan/hinder.
infrastruktuur Soos paaie, geboue, watervoorsiening, ens. van ʼn dorp of stad.
inspirasie Bemoediging/ aanmoediging; die wil om iets te doen.
koetsier Bestuurder van ʼn wa/koets.
koning gekraai Wen.
medalje Plat stukkie metaal in die vorm van ’n muntstuk, wat toegeken word aan iemand wat op een of ander gebied presteer het.
meegeding Wedywer; (saam met ander) probeer om iets te bereik of iets in die hande te kry.
merkwaardig Belangrik, betekenis, vol, buitengewoon; ingrypend.
mitologiese Al die oorgelewerde mites (fabels) van ’n volk.
moed Die krag om dapper op te tree in moeilikheid/gevaar; dapperheid.
mylpaal Belangrike tydstip/gebeurtenis/prestasie.
Nazi Duitse nasionaal-sosialis, veral ʼn volgeling van Hitler voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog.
neurochirurg Spesialis wat op die senustelsel opereer.
oorlewering Mondelinge oorvertelling; tradisie.
onberekenbaar Van onskatbare waarde.
optog Groep mense/voertuie wat stadig iewers heen beweeg.
parapleeg Iemand wat die gebruik van albei sy/haar bene verloor het.
plundery Diefstal; boewery.
podium Platform bestaande uit drie vlakke van verskillende hoogtes; gewoonlik vir die eerste drie plekke van ’n kompetisie, waar die wenner in die middel op die hoogste vlak staan.
rehabilitasie Hulp om weer ’n normale lewe te lei ná siekte, verslawing, besering, ens.
rekord te laat spat Hoogste snelheid, verste afstand, ens. wat tot nog toe onder amptelike kontrole behaal/bereik is.
sanksies Dwangmaatreël om besluite te laat uitvoer; strafmiddel, meestal met politieke motiewe.
sentimentele Wat verband hou met hoe iemand voel; gekenmerk deur emosies soos liefde/simpatie/hartseer/ens.
seremonie Plegtigheid wat volgens voorskrif verloop.
skerm Skyngeveg met swaarde.
geskors Iemand (’n tyd lank) nie toelaat om ’n amp uit te oefen/deel te neem nie.
skouspel Aanskoulike vertoning/gebeurtenis.
spinale Van of met betrekking tot die ruggraat/rugmurg.
stadion Groot sportterrein, meestal onbedek, met oplopende rye sitplekke daaromheen.
struktuur Fisiese samestelling van ʼn voorwerp/gebou, ens.
talentvol Goed.
vasberadenheid Wat nie maklik van sy/haar standpunt afwyk nie; met vaste wil; standvastig; toegewyd.
v.C. Voor Christus.
vere regskud Jou gereedmaak vir ʼn gebeurtenis.
voortslepende Langdurend; met ’n gesukkel aankruie; vorentoe gaan; met moeite aansukkel.
wapenstilstand Tydelike staking van vyandelikhede; skietstilstand.
wedloop Resies tussen atlete of mededinging op ander gebiede as atletiek.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Van 1921 tot 1948 het kunstenaars soos argitekte, skilders, musikante, beeldhouers en skrywers ook om Olimpiese medaljes meeding, nie net atlete nie

Die medaljes wat in 2021 by die Olimpiese Spele in Tokio toegeken is, is uit byna 80 000 ton se herwinde elektroniese toestelle soos ou selfone en skootrekenaars gemaak

Vroue kon eers van die 1900’s aan die Olimpiese Spele deelneem

Die aansteek van die reuse- Olimpiese fakkel is ’n groot oomblik by elke Spele

Twintig skouspelagtige openingseremonies

Foto: iStockBotha, C.G. 1938. Ons Suid-Afrika voorheen en tans. United Tobacco cos. (south) limited. 36.Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 Julie 2023 | Bygewerk op 15 April 2024