Vinnige feite
- Oscar se ma se huistaal was Engels en sy pa s’n Afrikaans.
- Oscar het sy ma se geboorte- en sterfdatums aan die binnekant van sy regter boarm laat tatoeëer. 1
- Op ’n dag het Oscar en sy boetie Carl met Carl se kaskar teen ’n steil afdraand afgery. Toe hulle naderhand so vinnig ry dat hulle nie kon stilhou nie, het Carl Oscar se kunsbeen teen die grond gedruk om die kaskar so te laat rem! 1
- Soos met baie ander dinge in sy lewe, het Oscar eiesoortige praktiese probleme gehad wanneer hy aan wedlope deelneem – hy kon nie die wegspringblokke voel nie omdat hy met kunsbene gehardloop het. 1
- Oscar het die bynaam Blade Runner gekry omdat sy prostese (kunsledemate of lemme) van koolstofvesel gemaak is. 4
- In 2011 was Oscar die 22ste vinnigste 400 m-atleet in die wêreld. 4
- Die lemme waarmee Oscar gehardloop het, is in Reykjavik in Ysland gemaak. Oscar het verskeie kere na Ysland gereis om nuwe lemme te kry en hulle perfek te laat maak volgens sy behoeftes. 2
- In Ysland het Oscar ook lewenslange vriende gemaak – ’n ouerpaar wie se seuntjie met dieselfde toestand as Oscar self gebore is. Hy het hulle besoek en hulle moed gegee vir die pad wat hulle met hul kind sou moes loop. Vir hulle het Oscar een van die leuses van sy lewe gegee: You are not disabled by the disabilities you have; you are able by the abilities you have. 2
Wanneer ’n baba gebore word, is dit vir ouers ’n wonderlike gebeurtenis. Hulle kan gewoonlik nie genoeg kyk na die nuwe klein mensie nie en hulle bewonder alles van die baba – van die gesiggie tot die handjies, die vet beentjies en die oulike voetjies.
Maar wat gebeur as daar iewers ’n fout is met die liggaam van die klein babatjie, hoe hanteer ouers dit? En nog belangriker, hoe hanteer die baba sy gebrek wanneer hy grootword?
Iewers is ’n groot fout
Oscar Carl Lennard Pistorius is op 22 November 1986 in Sandton gebore. Sy ouers was Henk en Sheila Pretorius en hy het ’n broer, Carl, en ’n suster, Aimeé, gehad.
Oscar se pa het eerste agtergekom dat daar fisiek fout is met hul baba toe hy gesien het dat sy voete vreemd gelyk het. Tóé eers het hulle agtergekom dat die baba nie fibula (of kuitbeen) in albei bene gehad het nie. Sy voete het ook nie heeltemal ontwikkel voor sy geboorte nie – die buitekant van die voete was nie daar nie sodat daar net ’n groottoon en die toon langs die groottoon aan elke voet was. Hierdie seldsame toestand (iets wat nie dikwels voorkom nie) word fibulêre hemimelia genoem.
Oscar se pa en ma het geen steen onaangeroer gelaat om uit te vind wat hul seuntjie makeer en om die beste oplossing vir hom te vind nie. Hulle het die een ná die ander dokter besoek – ook in die buiteland. Die dokters het baie verskillende menings gehad oor wat die beste behandeling sou wees. Oscar was 11 maande oud toe die besluit geneem is om sy bene onderkant die knieë te amputeer (af te sit, in ’n operasie te verwyder). 1
Dr. Gerry Versfeld was die ortopediese chirurg wat die operasie uitgevoer het. In ’n ingewikkelde operasie het hy daarin geslaag om Oscar se hakskene te behou sodat hy ná die operasie steeds op die stompies sou kon loop al het hy nie kunsbene aan nie. Toe hy 17 maande oud was, het hy sy eerste paar kunsbene gekry. 2
Net ’n gewone seuntjie
Oscar se ouers het hom soos enige ander gewone seun grootgemaak, hulle het hom en sy boetie presies dieselfde behandel en hanteer. Hy het daarom geklim en geklouter soos enige ander kind van sy ouderdom. Wanneer hulle iewers heen moes gaan, het sy boetie, Carl, sy skoene aangetrek en Oscar het sy bene aangesit – vir hom was dit heeltemal normaal.
Toe hy drie jaar oud was, het hy begin agterkom dat sy voete anders is as dié van die ander kinders. Maar vir hom was dit nie beter of slegter as ander kinders s’n nie, dit was net anders en vir hom was dit nie ’n probleem nie.
Eenkeer, toe hulle by die see was, het van die kinders vir hom gevra waarom daar in die sand gate was waar hy geloop het en nie voetspore nie. Dit was natuurlik die punte van sy bene wanneer hy nie sy kunsledemate gedra het nie. Oscar se antwoord was dat hy die enigste mens in die wêreld is met sulke spore. Toe het die kinders op hul hakskene probeer loop om te kyk of hulle ook sulke spore kan maak!
Later het Oscar vertel dat hy daardie dag altyd sal onthou – dit was die dag toe hy besef het dat ander mense jou respekteer en aanvaar as jy jouself respekteer en aanvaar. 1
Oscar se ouers het ’n groot invloed gehad op die mens wat hy later sou word. Sy ma, wat Engelssprekend was, het vir hom ’n boodskap geskryf toe hy nog ’n baba was en dit later vir hom gegee: “The real loser is never the person who crosses the finishing line last. The real loser is the person who sits on the side, the person who does not even try to compete”. 3
Oscar maak met sport kennis
Oscar is by die Constantia Kloof Primary School ingeskryf waar Carl ook reeds op skool was. Sy ouers het hom nie by ’n skool vir kinders met gestremdheid in geskryf nie.
Hy het krieket, sokker en tennis gespeel en ook aan stoei deelgeneem. Hoewel hy aan verspring deelgeneem het, het hy nie baie van atletiek gehou nie. Op ’n dag was die gesin by ’n skoolpiekniek en twee seuns het Oscar rondgestamp. Sy pa het nie ingemeng of gaan help nie maar daardie aand het hy Oscar na sy oupa geneem wat ’n kampioenbokser was en hy het sy eerste boksles by sy oupa gekry. 1
Die gesin gaan deur moeilike tye
Oscar se ouers is geskei toe hy sewe jaar oud was.
Voor die egskeiding was daar reeds finansiële probleme en Oscar se oupa (aan sy pa se kant) moes hulle blykbaar soms finansieel ondersteun. Hierdie oupa en sy vrou het ’n belangrike rol in Oscar se lewe gespeel.
Sy ma het die kinders geleer dat dit nie belangrik is om klere met bekende handelsmerke te dra nie – dat die klere wat jy dra, niks te doen het met wie jy as mens is nie.
By hul ouers het die Pistorius-kinders ook geleer dat mens alles wat jy aanpak, so goed moontlik moes doen. Hulle was ook van kleins af gewoond daaraan om in alles wat hulle doen, kompeterend te wees. 1
Oscar is na die Pretoria Boys High School in Pretoria toe hy hoërskool toe moes gaan. Hier het hy ook rugby begin speel.
Sy ma is weer getroud en nie lank na die huwelik nie, het sy in 2002 siek geword en is hospitaal toe waar sy ’n maand later oorlede is. Oscar was baie na aan sy ma en het baie gesukkel om haar dood te verwerk. Die kinders het nou nie meer ’n ouerhuis gehad nie omdat hulle pa baie dikwels verhuis het. 1
Oscar ontdek atletiek
Dit was ’n ongeluk op die rugbyveld wat Oscar by atletiek uitgebring het. Hy is tydens ’n rugbywedstryd ernstig beseer en terwyl hy van die besering herstel het, het hy as deel van sy rehabilitasie atletiekwegspringe geoefen. Hy het in hierdie stadium spesiale handgemaakte kunsbene gedra.
Op 28 Januarie 2005 neem hy vir die eerste keer aan ’n 100 m-wedloop deel en hy wen in ’n goeie tyd. Sy pa was by die wedloop en was uit sy vel van opgewondenheid oor sy seun se wen en sy tyd. Daardie aand het hy op die Internet gesien dat Oscar se tyd ’n rekord vir mense met gestremdheid was – 11.72 sekondes teenoor die rekord van 12.2 sekondes. Hulle het toe ook uitgevind dat Oscar se kategorie vir persone met gestremdheid T43, oftewel bilaterale amputasie, genoem word. 1
Oscar se reis na roem het begin…
Internasionale roem en ’n lewe van eerstes
Vanweë sy gestremdheid en sy onblusbare gees het Oscar baie meer “eerstes” beleef as meeste ander mense.
Slegs agt maande nadat Oscar ernstig aan atletiek begin deelneem het, het hy gehoor dat hy vir Suid-Afrika aan die Paralimpiese Spele van 2004 in Athene sou kon deelneem. 3
Hy het die 200 m gewen en ’n bronsmedalje in die 100 m gekry. 4
Een belangrike eerste mylpaal was toe hy toestemming gekry het om as atleet met ’n gestremdheid teen atlete sonder gestremdheid deel te neem. Dit het gebeur ná ’n baie lang stryd om dit te kon doen. Aanvanklik wou die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF – International Athletics Federation) dit nie toelaat nie.
Op 13 Julie 2007 het Oscar in Rome aan die 400 m-wedloop deelgeneem en tweede gekom! Dit was die eerste keer dat ’n atleet met gestremdheid teen atlete sonder gestremdheid deelgeneem het. Vir nóg ’n keer in sy lewe het hy geskiedenis gemaak. 3
Alles het egter nie net goed gegaan nie. Omdat daar geen regulasies was rondom die gebruik van prostese in atletiek wanneer iemand met ’n gestremdheid teen atlete sonder gestremdheid deelneem nie, was daar kort-kort probleme vir Oscar en later in 2007 het die IAAF besluit dat die prostese vir Oscar onregverdige voordeel gee bo ander atlete. Hierdie bevinding is in 2008 verander en Oscar kon toe weer deelneem. 3
In die Beijing Paralimpiese Spele in 2008 het Oscar die 100 m-, 200 m- én die 400 m-wedlope gewen – met ’n wêreldrekord in die 400 m! 1
Hy was die eerste paralimpiese atleet wat in ’n ope kompetisie (teen atlete sonder gestremdheid) ’n medalje gewen het. Dit was in 2011 toe hy by die Wêreld-atletiekkampioenskappe in Suid-Korea vir Suid-Afrika se 4 x 400 m-aflosspan ’n silwermedalje gewen het.
In Junie 2012 het hy ’n silwermedalje gewen in die 400 m by die Afrika Atletiekkampioenskappe in Benin.
By die Olimpiese Spele in 2012 was Oscar ook die eerste atleet met ’n amputasie wat aan ’n baannommer by die Olimpiese Spele deelgeneem het. 4
Oscar se wêreld val uitmekaar op Valentynsdag
Van iemand wat wêreldbekend is en ’n inspirasie vir soveel mense was, tuimel Oscar tot in ’n diep en donker plek.
Gedurende die nag van 14 Februarie 2013 skiet Oscar sy vriendin, Reeva Steenkamp, in sy huis in Pretoria dood. Hy beweer dat hy gedink het daar is ’n inbreker in die huis en dat hy daarom deur die toe deur van ’n toilet geskiet het na waar hy gedink het die inbreker kon wees. Hier begin ’n wipplank van hofsake, vrylatings en verandering in hofuitsprake.
Die hofsaak het in Maart 2014 begin en in Oktober 2014 is Oscar tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis op aanklag van strafbare manslag. In Oktober 2015 is hy vrygelaat en sou die res van sy vonnis in huisarres uitdien. Op 3 Desember bevind die appèlhof dat die vorige hof gefouteer het en vind Oscar skuldig aan moord. In Julie 2016 is hy tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis en in November 2017 is die vonnis na 13 jaar en vyf maande verander. 4
Oscar is in 2022 steeds in die gevangenis en gaan waarskynlik vroeg in 2024 op parool vrygelaat word.
Oscar was die sprokie wat Suid-Afrika en die hele wêreld nodig gehad het. Maar in die werklike lewe het sprokies nie altyd goeie eindes nie.
Woordbank
bilaterale | Bilaterale amputasie beteken amputasie aan albei kante. |
eiesoortige | Iets of iemand met besondere aard en kenmerke. |
geen steen onaangeroer gelaat | Om alles moontlik te doen om iets te laat gebeur – Hy sou geen steen onaangeroer laat om te sorg dat sy kind ’n goeie opvoeding kry nie. |
huistaal | Die taal wat mens by die huis met jou mense praat. |
inspirerend | Iemand is inspirerend wanneer hy ander mense die moed gee om iets te doen. |
kompeterend | Om te probeer om altyd die beste te wees in wat jy doen. |
onblusbare | Mens het ’n onblusbare gees wanneer jy nie toelaat dat iets jou verhinder om te doen wat jy jou voorgeneem het om te doen nie. |
ortopediese | ’n Ortopediese chirurg is ’n mediese dokter wat die nodige kennis het om probleme met ’n mens se skelet (die bene in jou liggaam) te behandel en daarop te opereer. |
Paralimpiese | ’n Paralimpiese Spele is ’n sportkompetisie vir atlete met gestremdheid. |
parool | Wanneer ’n gevangene vrygelaat word voor sy vonnis klaar uitgedien is. Daar is gewoonlik streng voorwaardes wat so ’n persoon moet nakom wanneer hy op parool is. |
rehabilitasie | Wanneer iemand hulp kry om weer ’n normale lewe te leef ná siekte, ongeluk, ’n operasie of selfs tronkstraf. |
skeefloop | Wanneer dinge skeefloop, beteken dit dat dinge verkeerdgaan, nie uitwerk soos mens beplan het nie. |
tuimel | Onderstebo val, val sonder om jou val te kan beheer. |
uit sy vel | Iemand is uit se vel van vreugde – hy is baie, baie bly oor iets wat gebeur het. 5 |
Video’s waarin jy meer kan sien en leer oor Oscar Pistorius
Oscar tydens verskillende atletiekbyeenkomste
100 m, Paralimpiese Spele in 2012
Uitdun tydens die 2012 Olimpiese Spele
Oscar se hardlooplemme