Vinnige feite

  • Chad is teen 2022 slegs die tiende persoon in Suid-Afrika wat meer as een medalje by dieselfde Olimpiese Spele kon wen (Londen in 2012 en Rio de Janeiro in 2016). Die ander was Penny Heyns (Atlanta in 1996), Roland Schoeman (Athene in 2004) en Tatjana Schoenmaker (Tokio 2021). 8
  • In Julie 2022 het Chad sy 18de Statebondspelemedalje gewen. Hy is nou gelyk met die twee skuts – Michael Gault en Phil Adams – wat ook elk reeds 18 medaljes by die Statebondspele gewen het. 5
  • Chad hou baie van sokker, en Manchester United is sy gunstelingspan. 1
  • Terwyl daar in 2021 reisbeperkings as gevolg van die COVID-19-pandemie was, moes Chad en sy medeswemmers by ʼn aantal verskillende swembaddens in die omgewing van Durban oefen, omdat daar nie net een swembad was wat geskik was en heeltyd beskikbaar was nie. 9
  • Dirk Lange, Chad se nuwe afrigter, was vir vier jaar die hoofafrigter by Swem Suid-Afrika, voor hy die nasionale afrigter van Duitsland geword het en ook in Mexiko afgerig het. Hy het ook reeds as raadgewer vir swemmers in lande soos Kroasië, Sjina en Lithuania opgetree. 7
  • Sy pa, Bert le Clos, het in 2012 baie aandag getrek op die internet met sy jubelende reaksie toe sy seun die goue medalje by die Olimpiese Spele gewen het. Kyk onderaan die artikel na die video van hierdie pa se vreugde.
  • In 2023 het Chad reeds 151 goue medaljes in sy swemloopbaan gewen. 11
Foto: iStock

Dit gebeur baie maklik dat iemand wat die hoogste sport in sy beroep of sportsoort bereik, deur ʼn persoonlike krisis moet gaan wat dreig om alles wat so ʼn persoon bereik het, te vernietig. Soms het mense nie die krag of die moed om weer van voor af te begin nie, maar soms het hulle tog die moed om dit te doen. Kom ons kyk na Chad le Clos se suksesse en ook sy moeilike tye.

Die jong Chad en swem

Chad is op 12 April 1992 in Durban gebore. Sy ouers is Bert en Geraldine, en hy het een suster (Bianca) en twee broers (Jordan en Justin).

Van kleinsaf was swem die sportsoort waarin hy belanggestel en uitgeblink het. Sy swemtalent is eerste raakgesien deur Lindsay Manthey, een van die onderwysers by sy skool, Penzance Primary School. Hy was agt jaar oud toe hy by die Seagulls-swemklub aangesluit het, waar Graham Hill sy afrigter was.

Chad het aan swemkompetisies begin deelneem toe hy 10 jaar oud was. Toe hy 18 was, het hy twee senior Suid-Afrikaanse rekords agter sy naam gehad, hy het rekords by die Junior en Senior Statebondspele gebreek, en hy het vyf medaljes by die eerste Jeug Olimpiese Spele in Singapoer gewen. 1

2013 Wêreldbekerswembeker

Hier is ek!

Dit is omtrent wat Chad le Clos vir die wêreld kon sê tydens die 2012 Olimpiese Spele in Londen. Hy het nie alleen die wêreldkampioen, Michael Phelps, in die 200 m-vlinderslag gewen en die goue medalje verower (gewen) nie, hy het sommer ook die silwermedalje in die 100 m-vlinderslag gewen. En dit by sy heel eerste Olimpiese Spele! 1

Om te verstaan hoe belangrik hierdie oorwinning vir Chad was, kom ons kyk vinnig na sy belangrikste teenstander in die item: Michael Phelps van die Verenigde State van Amerika (VSA).

Michael Phelps was in 2021 die Olimpiese atleet met die meeste medaljes – nie minder nie as 28 medaljes! Hy het ook in 2021 die rekord gehou vir die meeste goue medaljes – 23. Hy word daarmee algemeen beskou as die beste Olimpiese atleet van alle atlete in die geskiedenis van die Spele. 2

In 2008 het hy agt goue medaljes by die Beijing-Spele gewen, en daarmee het hy die rekord van die swemmer Mark Spitz, wat reeds in 1972 opgestel is, gebreek. 3 In sport is daar egter alte dikwels verrassings. Om te dink dat Suid-Afrika se Chad le Clos wat as groentjie aan die Spele deelgeneem het en net 20 jaar oud was op die tyd, dit reggekry het om vir Michael Phelps te wen!

Nog en nóg medaljes

Ná sy eerste Olimpiese Spele in 2012 het Chad oral waar hy deelgeneem het, voortgebou op sy sukses by die Spele. Hier is ʼn paar van die kompetisies waar hy baie goed gevaar het.

In 2013 het hy by die Wêreldkampioenskappe in Barcelona, Spanje, in die 100 m- én 200 m-vlinderslag goue medaljes gewen.

In 2014 het hy by die Statebondspele medaljes in elkeen van die sewe items waaraan hy deelgeneem het, gewen. Twee daarvan was goue medaljes – in die 100 m- en 200 m-vlinderslag. In Desember 2014 het hy die eerste swemmer geword wat al drie vlinderslagitems by dieselfde byeenkoms gewen het. Hy is daarom ook gekies as die Fédération Internationale de Natation / Internasionale Swemfederasie (FINA) se manlike swemmer van die jaar van 2014.

By die Wêreldkampioenskappe van 2015 het hy sy 100 m-vlinderslag titel behou en silwer gewen in die 200 m.

In 2016 het Chad Suid-Afrika se atleet geword met die meeste Olimpiese medaljes. Hy het by die Spele in Rio twee silwermedaljes in die 100 m-vlinderslag en 200 m-vryslag gewen. Daarna het hy in Desember 2016 drie goue medaljes by die FINA-wêreldkampioenskap gewen.

In Julie 2017 in Boedapest wen hy die goue medalje in die 200 m-vlinderslag by die FINA-wêreldkampioenskap. Hy is ook in 2017 as die Vereniging van Nasionale Olimpiese Komitees (ANOC) se beste manlike atleet van die jaar aangewys.

In 2018 maak Chad geskiedenis by sy beste Statebondspele. Dit het hy reggekry toe hy goue medaljes in die 50 m-, 100 m- en 200 m-vlinderslag gewen het. Boonop het hy ook ʼn silwermedalje in die 100 m-vryslag gewen en ʼn bronsmedalje in die 4×100 m-aflos. Aan die einde van 2018 het hy nog vier medaljes gewen – een daarvan was ʼn goue medalje in die 100 m-vlinderslag. Hy is aangewys as Suid-Afrika se sportman van die jaar, en hy is ook vir die tweede keer aangewys as FINA se beste manlike swemmer van die jaar.

In 2019 het Chad in die FINA-wêreldkampioenskap twee bronsmedaljes in die 100 m- en 200 m-vlinderslag gewen.

In 2021 beleef Chad ʼn baie slegte jaar. Hy het aan die begin van die jaar ʼn ernstige persoonlike krisis beleef, en dit het ook sy swem negatief beïnvloed. So erg was die krisis en wat gebeur het vir hom, dat hy nie eers daaroor wil praat of wil sê wat gebeur het nie. Ongelukkig het hy nie voor die Olimpiese Spele professionele hulp gaan soek nie, en dit het sy deelname aan die Spele baie erg beïnvloed. Hy kon nie een medalje wen nie en kon nie eers kwalifiseer om aan die 100 m-vryslag deel te neem nie. In die 200 m-vryslag kon hy net vyfde plek behaal. 4

Só ʼn krisis kon maklik veroorsaak dat hy nooit weer sou kans sien om te begin swem nie. Gelukkig het dinge anders uitgewerk. Hy het hulp gesoek en terapie gekry en het begin om weer ernstig in die swembad te kompeteer.

By die Suid-Afrikaanse swemkampioenskap in Gqeberha, het hy die 50 m-vlinderslag gewen, en hy het kwalifiserende tye in die 100 m- en 200 m-vlinderslag vir die Statebondspele en die Wêreldkampioenskappe geswem. 4 (Atlete moet op ʼn sekere standaard wees voor hulle aan hierdie twee kompetisies kan deelneem.)

Chad wen in Julie 2022 sy 18de Statebondspelemedalje in Birmingham, Londen, toe hy die silwermedalje in die 200 m-vryslag gewen het. 5

Kazan 2015: Oorwinningseremonie 100 m-vlinderslag

Die belangrike rol van afrigters

Afrigters speel ʼn baie belangrike rol in die vordering en prestasies van alle persone wat ernstig aan sport deelneem, en wat daarvan ʼn loopbaan maak. Hulle rig dikwels nie net die persoon se sportsoort af nie, maar help ook om die persoon se hele manier van lewe so te fokus dat hy of sy net die beste in die sportsoort kan presteer.

Soos ons gesien het, was Graham Hill Chad se eerste afrigter toe hy vir die eerste keer by ʼn swemklub aangesluit het, en hy is vir jare deur hom afgerig. Chad het deur die jare nog ʼn paar afrigters gehad.

In Januarie 2017 het hy saam met die Italiaanse afrigter Andrea di Nino begin werk. 1

In 2022 het Chad aangesluit by die oefengroep van Dirk Lange in Frankfurt, Duitsland. Hy sal dit ook as sy basis in sy voorbereiding vir die Olimpiese Spele in 2024 in Parys gebruik. 6

Klein verskille maak groot wenners

Let net bietjie op wanneer jy weer uitslae van sportsoorte soos swem en die 100 m-wedloop in atletiek in die koerant of op TV sien. In sportsoorte soos rugby, krieket, netbal en sokker werk ʼn mens met tellings waar dit maklik is om die wenner te bepaal – die span wat aan die einde van die wedstryd die meeste punte op die telbord het, is die span wat wen.

In swem is die verskil tussen die wenner en die persoon wat tweede of derde kom, soms net ʼn breukdeel (baie klein gedeelte) van ʼn sekonde.

In Julie 2022 is Chad in die 200 m-vlinderslag deur die Nieu-Seelander Lewis Clareburt gewen – die verskil tussen hulle tye was net 0,29 sekondes! 5

Toe Chad in 2012 vir Michael Phelps in die 200 m-vlinderslag gewen het, was die verskil tussen die twee swemmers net 0,05 sekondes! Phelps se tyd was 1:53.01, en Chad se tyd was 1:52.96. 7

Chad se toekoms in swem

Hy het sy kop opgetel en kyk nou net vorentoe – die Olimpiese Spele van 2024 is een van die belangrikste doelwitte waarvoor hy voorberei. Hy het nie net sy afrigter nie, maar ook sy familie wat hom hierin ondersteun.

Oor sy toekoms en sy deelname aan die volgende Olimpiese Spele in 2024, sê Chad: “I know I’m winning medals in two years’ time; I can promise you that. So, I’m not worried about the future.” 4 In 2023 was hy steeds hard besig om voor te berei vir die 2024 Spele.

Woordbank

doelwitte Doel, doelstelling of mikpunt; dit wat ʼn mens graag wil bereik.
groentjie ʼn Nuweling; iemand wat vir die eerste keer byvoorbeeld by ʼn skool of universiteit aankom of vir die eerste keer aan ʼn sekere kompetisie deelneem.
hoogste sport Om die beste posisie en prestasie te bereik.
standaard ʼn Sekere vlak van prestasie of ʼn vlak van hoe goed ʼn persoon is in wat hy doen, of dit sport of werk is.
uitgeblink Om baie goed te vaar of presteer in iets wat jy doen.
uitslae Die uitslag van ʼn kompetisie is hoe dit met die deelnemers in daardie kompetisie gegaan het, dit wil sê in watter posisies hulle geëindig het. 10

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Chad le Clos

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Chad le Clos

Onderhoud met Bert le Clos tydens die Statebondspele in 2014

Dokumentêre program oor Chad le Clos

 

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 Oktober 2022 | Bygewerk op 18 Januarie 2024