Vinnige feite

  • Covid-19 was die vyfde pandemie wat in die geskiedenis van die wêreld opgeteken is sedert die grieppandemie wat in 1918 baie mense in die wêreld laat sterf het. 2
  • Die proses van inentings is moeiliker gemaak omdat die entstowwe teen baie koue temperature gebêre moes word – in sekere gevalle tot so koud soos minus 90 grade Celsius. 24
  • In April 2022 het die Chinese regering beplan om 22 miljoen mense in Beijing vir Covid-19 te toets, toe daar tekens van ’n nuwe variant van die virus was! 25
  • Die ander naam vir Covid-19 was die Corona-virus. 26
  • “Fellow South Africans” was woorde wat vir twee jaar lank beteken het dat daar slegte nuus deur die president aangekondig gaan word – hierdie boodskappe van president Ramaphosa was gewoonlik gelyktydig op televisie en ook op amper al die radiostasies uitgesaai.
  • Dr. Anthony Fauci is die hoof van die Nasionale Instituut van Allergieë en Aansteeklike Siektes (Niaid) wat deur die Amerikaanse departement van verdediging en die Amerikaanse National Institutes of Health (NIH) gefinansier is. Die NIH was eintlik die navorsingsarm van die Amerikaanse militêre en intelligensiegemeenskap. 7

Ons ken almal siektes met gewone name – soos verkoue, hartsiektes, malaria, suikersiekte of diabetes, kanker en hoë bloeddruk. En toe, op ʼn dag, hoor die wêreld skielik van ’n ongewone siekte met ’n ongewone naam wat alles deurmekaarkrap en die wêreld op talle maniere vir altyd verander het…

Wat is Covid-19?

Covid-19 is ’n aansteeklike lugwegsiekte wat deur die SARS-CoV-2 virus veroorsaak word. Die siekte word van persoon tot persoon oorgedra deur klein druppeltjies wanneer ’n persoon wat siek is hoes, nies of selfs wanneer so iemand praat.

Die simptome van die siekte is koors en hoes, en dit kan ook veroorsaak dat die siek persoon moeilik asemhaal. Nog simptome wat siek mense kan hê, is moegheid, spierpyn, kouekoors, hoofpyn, seerkeel, ’n neus wat loop, naarheid en diarree. Dit kan ook gebeur dat mense nie meer kan ruik of proe nie. Dit is ook moontlik dat mense die virus kan hê sonder dat hulle enige simptome het. Sommige mense se simptome is baie erg wanneer hulle die siekte het en ander se simptome is minder erg.

Party mense word gesond sonder dat hulle mediese hulp nodig het, maar party mense word baie siek en moet hospitaal toe gaan. Dit gebeur gewoonlik met ouer mense, mense wat reeds ’n ander ernstige siekte soos kanker of diabetes het, of mense wat nie goeie weerstand teen siektes het nie. Ander mense het weer so siek geword dat hulle ernstige longontsteking of orgaanversaking gekry het. 1

Covid-19 se reëls

Die begin van Covid-19

Die siekte kry ’n naam

Die eerste keer toe die wêreld die woord Covid gehoor het en begin wonder het oor hierdie vreemde siekte, was in 2019. Dit het gebeur toe mense in die stad Wuhan in China siek geword het. Op 31 Desember 2019 het medici in China die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) laat weet dat daar mense in Wuhan is wat longontsteking gekry het sonder dat die dokters kon vasstel wat die oorsaak van hul siekte was.

Oral is mense daaraan herinner om hulle hande skoon te hou

Op 7 Januarie 2020 het medici in China by hierdie siek mense ’n nuwe soort virus geïdentifiseer wat niemand nog geken het nie. Hulle het dit sommer solank 2019-nCoV genoem omdat dit toe natuurlik nog nie ’n naam gehad het nie. Op 30 Januarie het die WGO die aantal siektes wat uitgebreek het, as ’n internasionale openbare gesondheidsnoodtoestand verklaar. 2

Eers op 11 Februarie 2020 het die virus sy naam gekry: Covid-19.

Die eerste sterftes

Daar is onsekerheid oor presies wie die eerste persoon is wat aan die virus dood is. Amptelik is gesê dat dit ’n man van 61 van die stad Wuhan in China is. 3

Maar die eerste persoon wat aan die virus dood is, is waarskynlik dood lank voor die wêreld geweet het van die nuwe virus. Hy was ’n man van China se Hubei-provinsie wat 55 jaar oud was. 4

Die eerste persoon wat in Verenigde State van Amerika (VSA) aan die virus dood is, was ’n man van in sy vyftigs wat in die staat Washington gewoon het. Hy is dood 11 dae nadat die siekte ’n amptelike naam gekry het. 2

Die eerste twee persone wat in Suid-Afrika aan die virus gesterf het, is in Maart 2020 oorlede – albei in die Wes-Kaap. 5

Waar het die virus vandaan gekom?

Vir lank het die wêreld geglo dat die virus versprei het vanaf ’n mark in Wuhan, China waar lewende diere, vis en voëls as kos verkoop is. 3

Ander getuienis het gewys dat die oorsprong waarskynlik eintlik in ’n laboratorium in Wuhan was en dat die virus van daar af versprei het. 6

Verskeie navorsers en joernaliste wat onverskrokke na die waarheid gesoek het, het reeds geskryf dat die Amerikaanse regering ’n program van gevaarlike laboratoriumnavorsing gefinansier het, eers in Amerika en toe in ’n laboratorium in Wuhan. Hierdie navorsing het waarskynlik gelei tot die skepping van SARS-CoV-2, die virus wat die pandemie veroorsaak het. En hierdie virus het toe vanaf die Wuhan-laboratorium versprei. Reeds op 1 Februarie 2020 is hierdie teorie in ’n telefoonoproep aan die internasionaal bekende wetenskaplike, dr. Anthony Fauci verduidelik – hy het egter verkies om dit te ignoreer. Navorsers glo ook dat medewerkers van die Amerikaanse regering en van Fauci doelbewus verkeerde inligting versprei het om die ware oorsprong van die virus weg te steek. 7

Die wêreld gaan moontlik nooit die volle waarheid weet oor waar die virus ontstaan het en wie se skuld dit was nie. Ons gaan dalk ook nooit weet of dit ’n ongeluk was en of dit doelbewus versprei is nie.

Die wêreld word toegesluit

Almal wat hier lees en wat in 2020 reeds in ’n kleuterskool of ouer was, sal hierdie vreemde tyd onthou. Die hele wêreld is toegesluit – kinders kon nie skool toe gaan nie, mense kon nie kerk toe gaan nie, teaters en rolprentteaters en restaurante was toe en as mens winkel toe wou gaan, was dit amper nét winkels wat kos verkoop het wat oop was. Mense mag nie eens strand toe gegaan het nie, of sommer net in die straat geloop het nie!

Daar was ook ’n paar vreemde reëls wat ons moes nakom, en waaroor almal kop gekrap het. Die destydse minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, het onder andere beveel dat slegs “toe skoene” verkoop kon word, sandale kon nie verkoop word nie. En winkels kon slegs t-hemde verkoop indien dit onder klere soos truie of baadjies gedra sou word! Daar was selfs ‘n verbod op die verkoop van warm pasteie en gebraaide hoender. 8

Een van die slegste reëls van die inperking, is dat mense oral gesigsmaskers moes dra. Omdat soveel mense nie inkomste gehad het aangesien hulle nie kon werk om geld te verdien nie, het baie mense begin om gesigsmaskers self te maak. Sommige sakeondernemings het ook maskers laat maak met hul embleme daarop sodat dit sommer vir hulle ʼn advertensie kon wees.

Dink gerus bietjie terug aan wat jy van hierdie tyd kan onthou.

So moes teaters sorg dat stoele ver van mekaar af staan

Hierdie reëls is “inperking” of “grendeltyd” genoem en daar was verskillende vlakke van inperking. In Suid-Afrika het ons by vlak 5 begin, wat die ergste vlak van die inperkings was.

Op 15 Maart is ’n nasionale ramptoestand in Suid-Afrika verklaar. 9

Mense moes handreiniger gebruik voor hulle enige gebou binnegegaan het

Nadat Suid-Afrikaners gesien het hoe dinge in die res van die wêreld al hoe slegter gaan met die virus, het die vreeslike dag in Suid-Afrika aangebreek toe president Cyril Ramaphosa op die aand van 23 Maart 2020 aangekondig het dat daar ’n ramptoestand verklaar word en vanaf middernag op Donderdag 26 Maart inperkings in Suid-Afrika gaan wees. Hierdie inperking het op Vlak 5 begin en sou aanvanklik net vir 21 dae aanhou. Maar die inperking was skaars twee weke aan die gang, toe word dit verleng. So sou dit kort-kort verleng word.

Vlak 5

Op vlak 5 kon mense geen warm kos of alkohol of sigarette koop nie, om maar net ’n paar dinge te noem. Mense is glad nie toegelaat om van een provinsie na ’n ander te reis nie, nie eens om na familie te gaan nie. Wat baie erg was vir families, is dat hulle nie kon gaan kuier by hul ouers of oupas en oumas wat in ouetehuise en aftreeoorde gewoon het nie.

Vlak 4

Aan die einde van April 2020 is die inperking verslap na vlak 4. Nog steeds kon mense nie dinge soos sigarette, enige ander tabakprodukte of alkohol koop nie.

Vlak 3

In Junie daardie jaar het die land gevorder tot by vlak 3. Mense kon toe weer begin kerk toe gaan met verskeie streng reëls wat steeds gevolg moes word. Huiswerkers kon weer begin werk en mense kon weer begin alkohol koop, maar tabakprodukte was steeds nie te koop nie.

Vlak 2

Op 15 Augustus 2020 het die land tot by vlak 2 gevorder. Mense kon nou weer tussen provinsies beweeg en kroeë en restaurante kon weer oopmaak. Plekke soos gastehuise kon ook weer gaste ontvang en uiteindelik kon mense wat rook, weer (wettig) sigarette koop. Baie mense het tydens die inperkingstyd sigarette teen vreeslike hoë pryse op die swartmark gekoop sodat hulle steeds kon aanhou om te rook.

Vlak 1

Net ’n maand later, vanaf 21 September 2020, het die land na vlak 1 gevorder. Mense kon weer begin om begrafnisse by te woon omdat die maksimum aantal mense wat bymekaar kon wees van 50 tot 100 verhoog is. Teaters kon weer opvoerings aanbied as hulle net die helfte van die aantal mense binne toegelaat het. In groot sale kon 250 mense toegelaat word en by buitelugbyeenkomste kon daar 500 mense wees.

Behalwe vir ’n paar keer wanneer die vlak van inperking weer na vlakke 2 of 3 of 4 verhoog is toe daar groter getalle mense siek geword het, was die land meeste van die tyd op vlak 1. 10

Kennisgewings om aan regulasies te voldoen

Die ramptoestand, wat vir meer as twee jaar die land se mense ingeperk het, is uiteindelik om middernag op 4 April 2022 beëindig. 11

Hoe is mense getoets?

Mense is getoets om te kyk of hulle die virus het. Hierdie toets was glad nie baie lekker nie. Daar is so ‘n lang dun stokkie in mens se neus of soms in jou keel gedruk om ’n monster te kry wat vir die virus getoets kon word. Dan het mens 24 tot 48 uur later gehoor of jy wel die virus het. 12

Hierdie toetse is eers by dokters of spesifieke hospitale gedoen wat spesiaal daarvoor ingerig is en later is dit ook by meeste apteke gedoen.

Mense wat die land wou binnekom, moes kon bewys dat hulle nie die virus het nie deur ’n negatiewe toetsuitslag te wys, of anders moes hulle eers getoets word wanneer hulle die land binnekom en eers in afsondering wees totdat die uitslag bekend was. 13

Covid-19 en die farmaseutiese maatskappye

Entstowwe

Kort nadat die nuwe siekte ontdek is en ’n naam gekry het, het die resies van farmaseutiese maatskappye begin om ’n entstof teen die virus te ontwikkel.

Verskillende maatskappye het uiteindelik entstowwe vervaardig. ’n Paar van hierdie maatskappye was Pfizer, Moderna, AstraZeneca, Novavax, GlaxoSmithKline. 14

Ook Johnson & Johnson het ’n entstof vervaardig.

Newe-effekte

In verskeie lande in die wêreld het mense wat glo dat hulle siek geword het as gevolg van die entstowwe, hofsake teen farmaseutiese maatskappye begin instel. 15

Mediese dokters en navorsers het bewyse gelewer dat die Pfizer-entstof ernstige newe-effekte op mense het – een daarvan is dat baie mense wat met hierdie entstof ingeënt is, kanker gekry het. Die entstof het ook nie reggekry om die verspreiding van die siekte te voorkom soos die vervaardigers van die entstof gesê het nie. 16

Navorsers van die WGO het vasgestel dat daar ’n hele aantal hartsiektes asook ander siektetoestande soos bloedklonte en breinsiektes is wat deur die verskillende entstowwe veroorsaak word. Hierdie studie is gedoen onder niks minder nie as 99 miljoen mense in agt lande wat inentings ontvang het. 17

Die newe-effekte van die entstowwe gaan nog vir baie jare deel van die nalatenskap van Covid-19 wees.

Lang-Covid

In ’n studie wat onder 76 400 volwassenes in Nederland gedoen is, is vasgestel een uit vyf mense wat die virus gehad het, daarna “lang-Covid” het. Hierdie mense het simptome soos onder andere borspyn, spierpyne en moegheid en soms kan hulle ook nie meer ruik of proe nie. 18

Dink net bietjie hoe erg dit moet wees – as mens nie eers iets soos blomme kan ruik nie of lekker kos kan proe nie.

Die siekte van syfers en statistieke

Covid-19 kan amper maar “die siekte van syfers” genoem word.

Aanvanklik is daar elke dag in die nuus vertel hoeveel mense in die wêreld én in Suid-Afrika siek geword en doodgegaan het. Nadat daar met inentings begin is, is daar nog ’n stel syfers bygevoeg – hoeveel mense in verskillende lande die inenting ontvang het. In byna elke nuusbulletin is hierdie syfers verskaf.

Dis nie presies duidelik hoeveel mense uiteindelik in Suid-Afrika (of in die wêreld) aan Covid-19 dood is nie, veral omdat daar later geglo is dat mense wat aan ander oorsake gesterf het, ook moontlik as Covid-sterftes aangeteken is.

Die Johns Hopkins Universiteit het verslag probeer hou van Covid-statistieke op grond van die inligting wat deur die verskillende lande aan hulle gegee is. Hulle het op 2 Oktober 2023 opgehou om Covid-statistieke in te samel en bekend te maak. Op daardie stadium het 4 067 067 mense in Suid-Afrika die siekte gehad en 102 595 mense is dood daaraan. 19

In hierdie selfde tyd het die statistiek vir die wêreld so gelyk:

Getal mense wat siek geword het: 676 609 955

Getal sterftes: 6 881 955

Totale getal inentings: 13 338 833 198 20

In die VSA was hierdie die syfers:

Mense wat siek geword het: 103 329 551
Mense wat gesterf het: 1 123 836

Gaan loer gerus by hierdie skakel na die statistiek van die laaste maand waarin Johns Hopkins nog syfers ingesamel het, dan kan jy onder andere kyk in watter lande daar in daardie maand geen sterftes was nie. Suid-Afrika is een van hulle.

[Die webwerwe van die Suid-Afrikaanse regering waarop statistieke geplaas is, was tydens die skryf van hierdie artikel nie in werking nie.]

Verskillende regeringsreaksies

Swede en China is waarskynlik die twee lande wat die meeste verskil het in hoe hulle die virus hanteer het.

Die Sweedse regering het geweier om hul inwoners in te perk, skole te sluit en mense te dwing om gesigsmaskers te dra. 21

Aan die ander kant het ’n land soos China die hele land toegesluit en baie streng en selfs wreed opgetree teen hul eie mense. Die reëls waaronder mense moes leef, was vreeslik streng – hulle het eintlik geleef asof die regering hulle in ’n tronk toegesluit het. Mense wat die virus opgedoen het, is gedwing om in kampe te gaan bly tot hulle gesond was en mense wat reëls oortree het, is baie hardhandig behandel en sommer deur die polisie gevang! 22

Teenkanting teen die streng regulasies

Aan die begin was dit asof almal die streng reëls waaronder hulle moes leef, aanvaar het. Maar ná ’n ruk het mense beswaar begin maak teen al die reëls wat hul lewens so moeilik gemaak het, veral toe dit duidelik begin word het dat die afsondering vanweë verskeie redes nie goed was vir mense nie.

Reeds in 2020 het mediese kundiges in die wêreld gevra dat die grendeltyd beëindig moet word. Hulle was onder meer bekommerd oor die uitwerking wat dit op mense se fisieke, maar ook op hul geestelike gesondheid gehad het. Dit was ook skadelik vir openbare gesondheid omdat minder mense byvoorbeeld toetse vir siektes soos kanker laat doen het. 23

In Suid-Afrika was daar ook baie mense en organisasies wat teen die toepassing van Covid-regulasies gekant was omdat dit nie altyd goed sin gemaak het nie. In 2022 het die organisasie Solidariteit briewe aan die departement van gesondheid gestuur wat gerig was aan die minister van gesondheid in daardie tyd, dr. Joe Phaahla. Een van die regulasies waarteen daar beswaar was, is die dra van gesigsmaskers. Solidariteit het gesê die minister se eie adviesraad het gesê dat dit nie sin maak om maskers te dra wanneer mens buite is nie en dat daar selfs besware is teen die verpligte dra van maskers wanneer mens binne ’n gebou is.

Ook AfriForum het beswaar gemaak teen hierdie regulasies. 16

Nuwe variante

Die wêreld is elke kort-kort die skrik op die lyf gejaag deur berigte dat daar nóg ’n nuwe Covid-variant ontstaan het. So onlangs as in Februarie 2024 was daar weer sprake van so ’n nuwe variant. Maar dit het duidelik geword dat hierdie nuwe variante nie gevaarlik was nie. 17

Woordbank

berigte Verslae, die jongste nuus.
embleme Kentekens, simbole.
entstof Preparaat van ʼn mikroörganisme/virus wat in die liggaam opgeneem word om teenliggame te laat groei sodat die persoon nie weer siek sal word nie.
farmaseutiese maatskappye Maatskappy wat geneesmiddels vervaardig
grendeltyd In hierdie geval beteken dit om mense in te perk, toe te sluit, te verbied om sekere dinge te doen.
inperking Om mense te verhoed om sekere dinge te doen of na sekere plekke te gaan.
lugwegsiekte Siekte wat met asemhaling te doen het.
monster Materiaal wat aan die binnekant van jou keel of neus afgeskraap word.
nalatenskap Die effek van iets wat gebeur het; dit wat agtergelaat/nagelaat is.
newe-effekte Nawerking, bykomende uitwerking, nadraai, gevolg.
onverskrokke Sonder om bang te wees.
oorsprong Plek waar iets begin het.
orgaanversaking Wanneer die belangrike organe van die liggaam (hart, lewer, niere) ophou om te funksioneer.
pandemie Siekte wat baie gou oor ʼn hele land of groter gebied versprei.
simptome Verskynsel of tekens van ’n siekte.
skrik op die lyf gejaag Bang gemaak.
statistieke Syfers wat wys hoe iets toeneem of afneem; getalgegewens.
variante Ander vorms van iets soos byvoorbeeld ’n siekte.
virus ’n Baie klein organisme wat sekere siektes kan veroorsaak.

Lees hier

Kyk hier

Onderhoud oor die balans tussen inperkingsmaatreëls en die oorlewing van die ekonomie (2020)

’n Persoon in Suid-Afrika vertel van haar newe-effekte

Die inperkingstyd in Suid-Afrika: Die eerste dag van die inperking in Alexandra, naby Johannesburg

Kaapstad se verlate strate

Duisende mense staan tou vir kospakkies naby Centurion, Pretoria – vyf weke nadat die inperking begin het

ʼn Verlate stad vertel…

Die inperkingstyd in China:

China se streng inperkingsmaatreëls

Zero-Covid Sjanghai: Die ineenstorting wat ’n generasie geskend het (CNA-korrespondent, China)

Mense in China het baie swaar gekry tydens die inperking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 April 2024 | Bygewerk op 18 April 2024