Vinnige feite

  • Die naam Zeus hou verband met die Latynse woord “deus” wat “god” beteken. Dit kom van ’n Sanskrit-woord “deva” wat beteken “om te skyn” en afgelei word om te beteken “lug”, “hemel” of “god”. 9
  • Die Romeine het heelwat van die Griekse mitologie geleen, daarom is baie karakters in die twee mitologieë dieselfde, hulle het net verskillende name. Die Romeine se god Jupiter (na wie die grootste planeet genoem is), is die ekwivalent van Zeus. 10
  • Zeus was onsterflik, daarom is daar nie in Griekse mitologie enige melding van sy afsterwe nie. Zeus sal ophou bestaan die dag wanneer niemand meer oor hom lees of praat nie.

 

Zeus is die god van die lug in die antieke Griekse mitologie. Hy was die belangrikste van al die Griekse gode, en hy is beskou as die heerser, beskermer en vader van alle gode en mense. As jy skilderye of standbeelde van Zeus sien, sal jy opmerk hy word dikwels uitgebeeld as ’n ouer man met ’n baard. Sy simbole is dikwels ’n weerligstraal, ’n septer en ’n arend. 1

Plek in die Griekse mitologie

Om te verstaan wie Zeus was en hoekom hy belangrik is, moet ons so ’n bietjie op ’n syspoor stap sodat ons begryp wat die Griekse mitologie is. (Jy kan ons artikel oor mites gaan lees as jy presies wil verstaan wat mites en mitologie behels.)

Baie eeue lank het verskillende volke en kultuurgroepe stories uitgedink waarmee hulle die ontstaan van die wêreld en die verloop van die natuur probeer verklaar het. Die stel stories (of in hierdie geval mites) wat die Grieke in die Antieke tyd ontwikkel het, was baie meer ingewikkeld en uitgebreid as wat enige ander volk uitgedink het.

Omdat Europese kultuur eintlik maar uit die Griekse en Romeinse beskawings ontwikkel het, en veral omdat kunstenaars soos digters, skilders en beeldhouers opleiding gekry het in die Griekse en Romeinse kunsgeskiedenis, het baie van hierdie mites en mitologiese figure vir ons lewend gebly. Digters en kunstenaars van Antieke tye tot vandag het inspirasie uit die Griekse mitologie gekry en in mitologiese temas betekenis en lewenswaarhede ontdek wat vandag nog van toepassing is. 2

Die stel stories van die Grieke handel oor gode, helde en die rituele van die Antieke tyd. Hulle het geglo ’n panteon regeer oor die heelal, en volgens hulle was Zeus die oppergod. Hy het op die kruin van berg Olympus, Griekeland se hoogste berg, gesit en van daar af regeer. Die Grieke het geglo hy was die vader van al die gode en al die mense op aarde. Hy was ook die god van die lug en weer (vandaar sy simbole van weerlig en die arend), maar hy was ook die god van wet en orde, die stad en die huishouding. 3

Geslagsregister en geskiedenis

Volgens die Griekse mitologie was daar voor die begin van die wêreld net chaos. Uit hierdie chaos het die aardmoeder Gaia gekom, en ná haar die Titane wat oor die heelal regeer het. Zeus was die seun van die Titane Kronos (in Engels: Cronus) en Rhea, wat oor die kosmos regeer het. Sy broers en susters was die gode Hestia (godin van die huis), Demeter (godin van die oes), Hera (godin van vroue, die huwelik en gesinne), Poseidon (god van die see, storms, aardbewings en perde) en Hades (god van die Onderwêreld). 3

Zeus het uiteindelik sy broers en susters in ’n oorlog teen Kronos en die ander Titane aangevoer. Nadat Zeus en sy sibbe die oorlog gewen het en die Titane na Tartarus verban het, het Zeus en sy broers en susters hulself as die nuwe heersers van die kosmos aangestel. Hulle het daarna as die “Olimpiërs” bekend gestaan omdat hulle bo-op die berg Olympus gewoon het. 3

Die Olimpiërs kon egter steeds nie vreedsaam regeer nie, want Gaia, Zeus se ouma, het die hulp van die verskriklike en wrede Reuse (soms die “Gigantes” genoem) ingeroep om teen Zeus en sy sibbe te veg. Die Olimpiërs is hierdie keer gehelp deur die held Herakles (Herkules in die Romeinse mitologie), en nadat Zeus Gaia uitoorlê het, het die Olimpiërs weer beheer oor die wêreld geneem. In hierdie oorlog het die Reuse egter die aarde verniel deur berge, eilande en riviere te verskuif. 4

Zeus se gesag is nog ’n keer uitgedaag toe sommige van die gode, veral Hera, Athena en Poseidon, probeer het om sy rol as hoof van die Olimpiese gode oor te neem. Hulle het hom met ’n tou met honderd knope aan sy bed vasgebind, maar hy is bevry deur Briareus, ’n mitologiese karakter met vyftig koppe en honderd arms en ontsaglike fisieke krag. Daarna is Zeus se heerskappy herstel.

Zeus se rolle en verantwoordelikhede

As die koning van die gode wat op sy goue troon op berg Olimpus gesit het, is Zeus deur almal vereer. Sommige menslike heersers het selfs daarop geroem dat hulle afstammelinge van Zeus was – Alexander die Grote het dit byvoorbeeld geglo.

Met hierdie oppermag het Zeus ’n aantal rolle en verantwoordelikhede in die mitologie gekry. Die Griekse digter Hesiodos het Zeus beskryf as ’n god wat “vrede gebring het in die plek van geweld” en het na hom verwys as die “heer van geregtigheid”. Alhoewel hy veral bekend is as die god van die lug en donderweer, het hy ook ander titels gehad wat verskillende aspekte van sy verreikende gesag beklemtoon het.

  • Zeus Olympios het Zeus se koningskap oor die gode aangedui.
  • Zeus Xenios, Philoxenon of Hospites was die beskermheer van gasvryheid (in Grieks: xenia) en gaste, wat dadelik wraak sou neem teen enige onreg wat ’n vreemdeling aangedoen is.
  • Zeus Horkios was die bewaarder van beloftes en ede. Leuenaars en bedrieërs is swaar gestraf.
  • Zeus Agoraeus het oor sake by die agora (die markplein in die stede van Antieke Griekeland) gewaak en oneerlike handelaars gestraf.
  • Zeus Aegiduchos of Aegiochos was die draer van die aegis (die skild of borsplaat wat beskerming simboliseer) waarmee hy die goddeloses en sy vyande afgeskrik het.
  • Zeus Tallaios was die Zeus wat op die eiland Kreta aanbid is.
  • Zeus Geōrgos (“aardbewerker”, “boer”) was die god van die oes.
  • Astrapios was die god van weerlig.
  • Brontios was die god van donder.

Vroue, minnaresse en kinders

Zeus was beroemd (en berug!) vir die menige verhoudings wat hy met godinne en sterflike vroue gehad het. Om die vroue te bereik, het Zeus gereeld die vorm van diere aangeneem, en ’n mens sien dikwels uitbeeldings van hierdie mites in skilderye.

  • Volgens Hesiodos was Zeus se eerste vrou ’n Titaan met die naam van Metis. Sy het swanger geword, maar hy is gewaarsku dat hul kind ’n bedreiging vir hom kon wees. Zeus besluit om sy swanger vrou in te sluk. Die kind is uiteindelik as ’n volwassene gebore – maar uit Zeus se voorkop. Dit was niemand anders nie as Athena, die godin van wysheid self!
  • Daarna het Zeus met Themis getrou. Sy was die moeder van die Horae (die godinne van die seisoene en tyd) en die Moirae (die godinne van lotgevalle).
  • Sy derde vrou was Eurynome, wat die Grasieë (in Engels: the Graces) in die wêreld gebring het. Die Grasieë (enkelvoud: Grasie) was die godinne van sjarme, skoonheid, natuur, menslike kreatiwiteit, welwillendheid en vrugbaarheid.
  • Zeus se suster Demeter het gevolg; sy het geboorte gegee aan Persefone, die godin van lente.
  • Sy vyfde vrou was Mnemosyne, die moeder van die Muses, die nege vroue wat die kunste beskerm het.
  • Zeus se sesde vrou was Leto, die ma van Apollo (god van onder andere boogskiet, musiek en dans, waarheid en profesie, genesing en siektes, die son en lig, en poësie) en Artemis (godin van kuisheid, jag en die maan).
  • Zeus se sewende en laaste vrou was sy suster Hera. Omdat hy geweet het hoe lief sy vir diere was, het hy homself in ’n benoude koekoek verander. Hera het die koekoek vasgehou om hom warm te maak, en op daardie oomblik het Zeus weer homself geword en by haar geslaap. Hera was ’n maagd, en sy het ingestem om met hom te trou. 5

Afgesien van die vroue met wie hy getrou het, het hy by verskeie ander vroue ook kinders gehad. Dis onmoontlik om almal hier te noem, maar die belangrikste is die volgende:

  • Dione was volgens sommige bronne die moeder van Afrodite, die godin van liefde, plesier, passie en voortplanting.
  • Maia, ’n nimf en een van die Pleiades, was die moeder van Hermes, die boodskapper van die Olimpiërs.
  • Europa is deur Zeus ontvoer nadat hy homself as ’n bul vermom Sy het vir hom drie seuns in die lewe gebring, onder wie Minos, heerser oor die eiland Kreta, en Rhadamanthus, ook ’n koning van Kreta.
  • Io was een van Hera se priesteresse, en nadat Zeus op haar verlief geraak het, het hy haar in ’n wit verskalf verander om haar teen Hera se woede te beskerm.
  • Semele was die moeder van Dionysus, die god van vrugbaarheid, wyn en plesier. Zeus het in sy ware gestalte aan Semele verskyn en sy is dood, maar Zeus het hul ongebore kind gered.
  • Zeus het homself in ’n swaan verander toe hy Leda die hof gemaak het, en sy het die moeder geword van Helena van Troje, die mooiste vrou in Griekeland en die oorsaak van die Trojaanse oorlog, en Pollux, ’n held en halfbroer van Castor.
  • Alcmene was die sterflike moeder van die held Herakles (Herkules in die Romeinse mitologie).
  • Zeus het aan Danaë verskyn as ’n stortreën, wat gelei het tot die geboorte van Perseus, die held wat monsters uitgewis het, onder andere Medusa.
  • Callisto was ’n nimf wat in ’n beer omskep is en later die sterrebeeld (in Engels: constellation) Ursa Major geword het. 6

Wraak en geregtigheid

Diegene wat verkeerd gedoen het of dade van goddeloosheid gepleeg het, is swaar gestraf, dikwels vir altyd. Die volgende is maar enkele voorbeelde daarvan:

  • Ná hul opstand teen Zeus, is Apollo en Poseidon gedwing om die manjifieke mure van Troje te bou wat so duidelik in die Trojaanse Oorlog figureer.
  • Die Titaan Prometheus, wat vuur van die gode gesteel het en dit aan die mensdom gegee het, se straf was dat sy lewer elke dag deur ’n arend geëet is.
  • Atlas moes die hemele vir ewig op sy skouers dra nadat hy teen Zeus oorlog gemaak het.
  • Sisufos, ’n bedrieër wat die dood probeer uitoorlê het, moes vir ewig ’n groot klip teen ’n heuwel in die Onderwêreld uitrol.
  • Asclepius het met medisyne en sy vermoë om dooies op te wek die magsbalans tussen mense en gode bedreig, en Zeus het hom met ’n weerligstraal doodgemaak.
  • Pandora, die eerste menslike vrou wat in opdrag van Zeus gemaak is en na die wêreld gestuur is, het die gawe van vuur ontvang. Eintlik het vuur net aan die gode behoort. As straf het sy die bron van al die mensdom se ongelukke geword, en sy het ’n kissie saam met haar gedra waaruit al hierdie onheil gepeul het.
  • Lycaon het vir Zeus menslike vlees gegee om te eet om sy goddelikheid te toets, en Zeus het hom vir sy onbeskoftheid gestraf deur hom in ’n wolf te verander. (Lycaon was die wêreld se eerste weerwolf!)
  • Salmoneus het gedink hy is ’n god en het hom as Zeus voorgedoen deur vlammende fakkels vir weerligstrale te gooi en met sy strydwa te jaag sodat dit ’n geraas soos donderweer maak. Zeus het vinnig ’n einde aan sy manewales gemaak deur hom met ’n regte weerligstraal dood te slaan. 4

Zeus die vredemaker

Zeus het darem nie net straf uitgedeel nie, hy het ook vrede bewerkstellig.

  • Toe Apollo en Hermes oor die eerste lier baklei het, het hy die twee versoen. Toe die stoute klein Hermes (in Romeinse mitologie Mercurius) net ’n dag oud was, het hy die binnegoed van ’n bergskilpad en ’n koeiderm gebruik om ’n lier mee te maak. Ongelukkig het die trop koeie wat hy gesteel het aan Apollo behoort, en die woedende Apollo het die dief gaan soek en gesweer hy gaan wraak neem. Zeus het van die petalje gehoor en Hermes beveel om die koeie terug te gee, maar toe Hermes op die lier begin speel, was Apollo so betower deur die musiek dat hy eerder die lier as die koeie wou hê. Zeus het die ooreenkoms bevestig en Hermes boodskapper van die gode gemaak. 7
  • Net so het Zeus die konflik tussen Apollo en Herakles oor die driepootstoel van Delphi opgelos. Delphi was die setel van die orakel Putia, wat boodskappe van die gode ontvang en vir die mensdom aangegee het. Die driepoot was die stoel waarop sy gesit het as sy haar orakels gelewer het. Volgens die mite het Herakles na Delphi gereis om die orakel te raadpleeg, maar toe hy nie ’n antwoord kry nie, het hy die stoel gevat en besluit hy gaan ’n orakel van sy eie vestig. Apollo was egter nie van plan om Herakles toe te laat om die kosbare driepoot van sy heilige plek af te dra nie. Apollo en sy suster Artemis het met Herakles en Athena oor die stoel baklei. Te midde van die toutrekkery het Zeus daar opgedaag en probeer om die bakleiende broers uitmekaar te maak. En soos ouers dikwels maak, het Zeus besluit dat dit die beste sou wees om die broers van mekaar te skei. Hy het een van sy magtige weerligstrale tussen hulle ingeslinger. 8
  • Zeus het ook vir Hades oorreed om vir ses maande van elke jaar van Persefone te skei sodat sy uit die Onderwêreld kan terugkeer. Haar terugkeer het dan ’n einde gemaak aan die verskriklike droogte wat haar ma, Demeter, vir die mensdom veroorsaak het omdat haar dogter in die Onderwêreld gevange gehou word. Dit is met hierdie mite wat die Grieke die seisoene verklaar het. 4

Woordbank

aangevoer In ’n oorlog gelei.
aardmoeder Die eerste vrou; die moeder van die heelal; Gaia
Antieke tyd Tyd van die beskawings wat voor die Middeleeue bestaan het.
aspekte Gedeeltes/afdelings.
berug Bekend, maar op ’n negatiewe manier.
chaos Wanorde, deurmekaarspul, warboel, verwarring, ordeloosheid.
ekwivalent Dieselfde; iemand se gelyke.
fakkels Stokke met ’n brandende vlam aan die een punt.
Griekse mitologie Die stel mites wat die Antieke Grieke gemaak het om die ontstaan van die wêreld, sosiale en natuurverskynsels te verklaar.
die hof gemaak Na iemand gevry.
karakter ʼn Persoonlikheid/wese.
koekoek ’n Grys voël met ‘n tweenoot-roep wat soos sy naam klink.
konflik Stryd/botsing/rusie tussen mense/groepe/lande.
kosmos Die heelal met al die sterre, planete en hemelliggame.
kuisheid Reinheid, suiwerheid, skoonheid; vlek(ke)loosheid.
lier Musiekinstrument; draagbare harp.
maagd ’n Meisie wat nog nooit geslagsgemeenskap gehad het nie. Jesus is bv. uit die maagd Maria gebore.
manewales Vreemde, lagwekkende of onaanvaarbare optrede.
manjifieke Asemrowend, indrukwekkend, onbeskryflik, pragtig.
mites ’n Verhaal wat deur ’n volk of kultuurgroep geskep is, dikwels met bonatuurlike karakters, om sosiale of natuurverskynsels te verklaar.
mitologie ’n Versameling mites.
nimf ’n Natuurgees, dikwels met die gestalte van ’n jong meisie.
oes Insameling/opbrengs van die vrugte van die gesaaides.
Onderwêreld Die dood.
oppergod Die belangrikste god met die meeste mag.
orakel ’n Priester of priesteres wat in die Antieke tyd boodskappe van die gode versoek het. Ook die boodskap wat van die gode aan die orakel gegee is, dikwels in die vorm van ’n raaisel.
panteon ’n Groep gode wat oor die wêreld regeer.
passie Geesdrif, vurigheid; hartstog.
Pleiades ’n Sterrebeeld.
poësie Die werke van digters of ʼn versameling gedigte.
profesie Voorspelling, waarsegging; orakelspreuk.
rituele Seremonie; die manier waarop kerklike bedrywighede gebeur, maar ook by gebruike wat nie met die kerk verband hou nie.
septer Staf van ’n koning of ’n vors.
setel Basis, plek waarvandaan die hoofbesigheid gedoen word.
sibbe Broers en susters.
simbole Prentjies, tekens, merke of voorwerpe wat ’n spesiale betekenis het.
strydwa ’n Perdewa met twee wiele wat in die Antieke tyd in ’n veldslag gebruik is.
temas Hoof- of grondgedagtes van gedigte, verhale, musiekstukke, ens.
Titane In die Griekse mitologie die Reuse wat oor die heelal regeer het voor die Olimpiërs hul heerskappy omver gewerp het.
vermom ʼn Valse voorkoms aanneem.
verreikende Wat baie ver en wyd ’n invloed het.
verskalf ’n Vroulike kalf. Ook: vers of versie.
voortplanting Verwekking van ʼn nageslag; om kinders te kry.
weerwolf ’n Mens wat in ’n wolf verander het.

Hierdie artikels gee elk ’n kort oorsig oor wie Zeus is

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Zeus

’n Animasievideo van die mite van Zeus

’n Animasievideo oor Griekse mitologie

Gepubliseer op: 6 Februarie 2024 | Bygewerk op 7 Februarie 2024