Vinnige feite

  • Beethoven het slegs een opera in sy leeftyd geskryf, Fidelio, en dit het hom tien jaar geneem om te voltooi. 5
  • Hy het sy derde simfonie aan Napoleon Bonaparte van Frankryk opgedra. Toe Bonaparte homself egter as die keiser van Frankryk aanstel, was Beethoven so kwaad dat hy die eerste bladsy met Napoleon se naam van sy werk afgeskeur het. 11
  • Beethoven wou so graag deel van die adellike stand gewees het dat hy die “van” in Ludwig van Beethoven na “von” (Ludwig von Beethoven) verander het, omdat “von” ʼn teken was dat mens uit ʼn ryk en koninklike familie kom. 3
  • Toe Beethoven op 17-jarige ouderdom voor Mozart opgetree het, het Mozart glo ná die tyd uit die vertrek gestap en gesê: “Hou hom dop, hy gaan die wêreld eendag iets gee om oor te praat!” 8
  • Hoewel Beethoven glo graag vir mooi vroue klavierlesse gegee het (soos Gravin Giulietta Guicciardi aan wie hy sy Klaviersonate nr. 14 in C-mineur, ook bekend as die Maanligsonate, opgedra het), is hy nooit getroud nie. 12

Musiek het ʼn manier om mens vir ʼn oomblik van alles te laat vergeet en jou na ʼn ander wêreld te verplaas – of dit nou ritmiese musiek is as jy in die gimnasium oefen, ʼn Afrikaanse saamsingtreffer langs die braaivleisvuur of die strelende klanke van klassieke musiek wat deur jou oorfone of die gange van die huis sweef.

Klassieke musiek is ʼn musiekvorm wat reeds vir honderde jare bestaan, en komponiste soos Ludwig van Beethoven het vandag, eeue later, steeds ʼn invloed op die werk van moderne komponiste en liedjieskrywers. Beethoven se musiek en styl word vandag nog gereeld wêreldwyd (selfs in selfoonluitone, rolprente en rockmusiek!) gehoor en gebruik.

Kinderjare en kennismaking met musiek

Hoewel daar nie met sekerheid gesê kan word presies wanneer Beethoven gebore is nie, is hy op 17 Desember 1770 in Bonn, Duitsland, gedoop. 1 Omdat die Katolieke gebruik in daardie tyd was om babas ʼn dag of twee ná hul geboorte te doop, word allerweë aanvaar dat hy om en by die 16de Desember gebore is. 2

Beethoven se ouers.

Ludwig was een van sewe kinders, waarvan vier tydens hul kinderjare oorlede is. Hy is na sy oupa Ludwig vernoem, wat ʼn bekende musikant en bas (sanger met ʼn lae mansstem) was. Sy pa, Johann, was ook ʼn musikant en ʼn tenoor (sanger met ʼn hoë mansstem), maar hy was nie so vernaam (belangrik) soos oupa Ludwig nie. 2 Om sy inkomste aan te vul, het Johann van Beethoven ekstra klavier- en vioollesse aangebied. 3

Johann was ook sy drie seuns se eerste musiekonderwyser. Hoewel sy jonger boeties, Kaspar Carl en Johann Nikolaus, ook instrumente kon bespeel, was Ludwig só briljant dat hy as ʼn musiekvirtuoos (iemand wat besonder begaaf is in musiek) beskou is. 4

Johann wou graag hê Ludwig moes ook ʼn wonderkind soos Mozart wees, en net ná sy sewende verjaarsdag was hy gereed om sy eerste groot konsert voor ʼn klomp mense in die Duitse stad Keulen te hou. Johann stel Ludwig egter as ʼn sesjarige voor wat Ludwig vir jare oor sy ouderdom laat kopkrap het. Toe hy op ʼn keer na sy doopsertifikaat kyk, kon hy nie glo dit is syne nie. 5

Johann was baie streng met Ludwig. Toe hy later vir sy vriend Tobias Pfeiffer vra om Ludwig te onderrig, het hulle die onmoontlike van die jong Ludwig verwag. As Johann en Tobias laat in die aand by die huis kom en Ludwig slaap, sou hulle hom uit sy bed jaag en dwing om tot die volgende oggend te oefen! 5

Terwyl Ludwig by verskeie onderwysers musiekopleiding ontvang het, is hy op elfjarige ouderdom uit die skool uit om saam met sy pa te werk en die gesin se inkomste aan te vul. Die feit dat hy vroeg uit die skool is, het hom benadeel deurdat hy nooit geleer het om te maal en deel nie! 5

Dié agterstand in wiskunde het hom egter nie teruggehou om vroeg reeds sy merk met ingewikkelde komposisies te maak nie. Hy skryf reeds op 12-jarige ouderdom sy eerste musiekstuk, 9 variasies op ʼn mars in C-mineur, wat glo buitengewoon moeilik was om te speel. 6

Terwyl Mozart reeds van kleins af deur die wêreld gereis het om konserte te hou, het Ludwig van Beethoven eers op 17 die kans gekry om sy tuisstad vir Wene, Oostenryk, te verruil. Hier ontvang hy een of twee musieklesse by Mozart, maar Ludwig se ma word kort ná sy aankoms in dié musiekstad siek. Beethoven moet sy droom laat vaar om verdere lesse te ontvang en keer terug na Bonn toe. 7

Ná sy ma se dood word sy pa ʼn volslae alkoholis wat nie meer in staat is om na Ludwig se twee jonger broers om te sien nie. In daardie tyd speel hy viool in ʼn orkes in Bonn om geld vir die gesin te verdien, maar dis nie genoeg om finansieel vir hulle te sorg nie. In 1789 kry Ludwig ʼn hofbevel teen sy pa wat bepaal dat die helfte van Johann se inkomste direk aan Ludwig betaal moet word om hom te help om die gesin te onderhou.

Vyf jaar later kry Ludwig weer die kans om in Wene musiek te gaan studeer. Pas nadat hy daar aangekom het, verneem hy egter dat sy pa én Mozart oorlede is. Hy keer egter nie terug huis toe nie, maar bly vir die res van sy lewe in Wene.

Franz Joseph Haydn, wat ook Mozart se onderwyser was, word Ludwig se leermeester. Ná ʼn jaar vertrek Haydn na Engeland, waarna Beethoven opleiding in komposisie en uitvoering by verskeie ander komponiste en musici ontvang. 7

Sy werk en nalatenskap

Beethoven het gou bekendheid in Wene verwerf en was veral bekend as ʼn briljante klavierspeler. In 1795 hou hy sy eerste konsert waartydens hy een van sy eie werke speel. 3 Beethoven is as baanbreker beskou met die gebruik van die klavier in sy werk, aangesien die meeste van sy voorgangers die klawesimbel gebruik het. 8

‘n Monument ter ere van Beethoven in Bonn, Duitsland.

Beethoven het ʼn groot rol in die ontwikkeling van die simfonie gespeel. Hy was die eerste wat drie horings (ʼn soort koperblaasinstrument) pleks van twee in Simfonie nr. 3, bekend as die “Eroica”, gebruik het. Trombone (ook ʼn koperblaasinstrument) word vir die eerste keer in ʼn simfonie in die vierde beweging van Simfonie nr. 5 gebruik. Die kontrafagot (ʼn houtblaasinstrument) het ook sy simfoniedebuut in Beethoven se vyfde simfonie gemaak. Simfonie nr. 9 was weer die eerste een wat met ʼn volle koor gespog het.

Hoewel Beethoven baie minder simfonieë as sy bekende voorgangers Mozart (41) en Haydn (106) geskryf het, was syne baie ingewikkelder en langer. Simfonie nr. 3, wat meer as ʼn uur lank is, was vir baie jare die langste simfonie.

Beethoven se musikale periodes

Beethoven se musiekstyl kan in drie tydperke verdeel word: vroeg, middel en laat. Die vroeë tydperk, wat tot ongeveer 1802 geduur het, is meer klassiek van aard, in ooreenstemming met Mozart en Haydn se musiekstyl. Bekende werke uit hierdie tydperk sluit in sy eerste twee simfonieë, die Opus 18-strykkwartette, die eerste twee klavierkonserte en die Pathetique-klaviersonate.

Die middelperiode, 1803 tot 1814, is grootliks deur Beethoven se persoonlike stryd met sy doofheid beïnvloed. Werke uit hierdie tydperk is groter in skaal en vergestalt stryd en heldhaftigheid. Dit sluit in simfonieë 3 tot 8, Beethoven se enigste opera, Fidelio, die laaste drie klavierkonserte, en die Maanlig- en Apassionata-klaviersonates.

Die laattydperk het omstreeks 1815 begin. Teen hierdie tyd was hy heeltemal doof. Gekenmerk deur die verkenning van vorm, sluit hierdie stukke Simfonie nr. 9, die laaste vyf strykkwartette, die laaste vyf klaviersonates en sy Missa Solemnis in. 1

Sy doofheid en dood

In sy twintigs (rondom 1801) het Beethoven ʼn konstante zoemgeluid in sy ore begin hoor. Met die jare het dit só vererger dat hy homself begin afsonder het sodat ander mense nie van sy doofheid kon uitvind nie. Beethoven sukkel gevolglik baie met verhoudings omdat hy nie ordentlik kan kommunikeer nie en oorweeg selfs in ʼn stadium om sy eie lewe te neem. Dis egter die ongeskrewe musiekstukke in sy hart en kop wat hom keer om dié drastiese stap te neem. 2

Nadat hy doof geword het, het mense met hom gekommunikeer deur hulle vrae aan hom in boekies neer te skryf. Beethoven het boonop dikwels sy kop in koue water gedruk voordat hy begin komponeer het. Niemand weet presies hoekom nie, maar dit was waarskynlik om die zoemgeluide wat hy gehoor het, stil te probeer maak.

Teen die ouderdom van 44 kon Beethoven glad nie meer hoor nie. Dit het hom egter nie gekeer om aan te hou dirigeer óf te komponeer nie. Inteendeel, hy skryf van sy beste werke gedurende die laaste tien jaar van sy lewe. 7 Daar word vertel dat Ludwig met die dirigeer van een sy beste werke, Simfonie nr. 9 (in Afrikaans bekend as Praat ek mense eng’letale) niks meer kon hoor nie. Dis eers toe een van die sangers hom omdraai om na die gehoor te kyk, dat hy gesien het hoe hy ʼn staande applous ontvang. Hy kon egter nie die skare se handeklap hoor nie en het begin huil. 5

Beethoven was van jongs af baie siek. Hy het onder meer aan rumatiek, artritis, depressie en velsiektes gely. Uiteindelik sterf hy op 26 Maart 1827 aan lewersklerose (die verharding van die lewer) tydens ʼn donderstorm in Wene. Hy was net 47 jaar oud. Ná sy dood het ʼn outopsie (of lykskouing) getoon dat daar ʼn skeur in sy binne-oor was wat met die jare vererger en vergroot het. 2

Meer as 30 000 mense het tydens sy begrafnis aan ʼn optog na die begraafplaas deelgeneem. Franz Schubert, nog ʼn bekende komponis, was een van die kisdraers, en ná Schubert se dood is hy langs Beethoven begrawe. 5

Op Ludwig se grafsteen staan daar net die woord “Beethoven”. Ten tye van sy dood was hy só bekend dat almal geweet het wie daar begrawe is. Danksy sy 345 komposisies leef Beethoven se nalatenskap voort. Van sy bekendste werke is Eroica, die Pastorale simfonie, die Maanligsonate en Für Elise. 2

Woordbank

artritis  ʼn Ontsteking van die gewrigte, amper soos rumatiek.
hofbevel ʼn Opdrag wat deur die hof gegee word. Indien dit nie nagekom word nie, kan ʼn persoon tronk toe gaan.
komponiste ʼn Persoon wat musiekstukke skryf of skep wat deur musikante (mense wat musiekinstrumente bespeel) en sangers opgevoer word.
opera Soos ’n toneelstuk, maar in plaas van woorde word die storie deur sang vertel.
outopsie ʼn Doktersondersoek ná ʼn persoon se dood om die oorsaak van dood vas te stel; nadoodse ondersoek.
rumatiek ʼn Toestand wat pyn in die gewrigte, spiere en weefsel veroorsaak.
simfonie ʼn Musiekstuk wat vir ʼn orkes met baie verskillende instrumente in geskryf word.
lewersklerose Die verharding van weefsel; ’n chroniese siekte wat die sentrale senuweestelsel aantas.
sonate ʼn Musiekstuk vir instrumente, veral vir die klavier, wat dikwels uit drie of meer dele bestaan.
musiekvirtuoos Iemand wat briljant of begaafd in iets soos kuns, musiek of wiskunde is of op ʼn spesifieke gebied uitblink; genie. 9

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Ludwig von Beethoven

Kyk en luister hierdie video’s om nog meer te leer oor Ludwig von Beethoven

Hoe Mr. Bean Beethoven se negende simfonie sing

10 van Beethoven se bekendste werke

Beethoven: die rebel en genie

Hoe het Beethoven musiek gehoor?

ʼn Dokumentêre program oor Beethoven se lewe

Gepubliseer op: 25 April 2022 | Bygewerk op 24 Oktober 2023