Vinnige feite

  • Cameron se stokperdjies is sokker, rugby, reis en kosmaak. Penny Heyns, die Suid-Afrikaanse swemmer, is iemand wat hy bewonder. 2
  • Sy filosofie oor deelname aan sport: Onthou waarom jy met die sportsoort begin het en wat gemaak het dat jy daarvan begin hou het. 2
  • Cameron en sy vrou, Nefeli, het hulle dogtertjie Olympia genoem om sy deelname aan die Olimpiese Spele te herdenk (dit te onthou). 4
  • Hy het tussen 2007 en 2015 die 50 m- en 100 m-borsslag by elke Afrika Spele gewen. 3
  • Hy het op een stadium 24 kompetisies agtereenvolgens (almal ná mekaar) gewen. 3

Wanneer ʼn mens graag aan ʼn sportsoort wil deelneem, is dit nooit te vroeg om te begin nie. Cameron van der Burgh het reeds as 10-jarige aan swem begin deelneem. Sy lewensgeskiedenis wys vir ons dat swem jou nie net liggaamlik fiks hou nie, maar ook kan help met gesondheidsprobleme.

Waar alles begin het

Cameron van der Burgh is op 25 Mei 1988 gebore. Hy was ʼn Pretorianer wat sy skoolopleiding in die stad ondergaan het – eers in die Glenstantia Primary School en daarna in Crawford College, waar hy in 2006 sy skoolloopbaan afgesluit het. Daarna het aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) studeer. Hy het ook in Pretoria geoefen. 1

Rekords, medaljes en nog rekords!

In April 2009 het hy sy eerste wêreldrekord opgestel toe hy by die Suid-Afrikaanse Nasionale Kampioenskappe aan die 50 m-borsslag deelgeneem het. Hiermee het hy ʼn rekord, wat reeds in 2002 opgestel is, gebreek. In dieselfde jaar het hy in Rome die wêreldtitel in die 50 m-borsslag gewen.

In 2010 het hy weer ʼn nuwe rekord opgestel in die 50 m en in 2010 het hy ook die 100 m-wêreldtitel gewen.

Cameron het in 2008 en in 2012 vir Suid-Afrika aan die Olimpiese Spele deelgeneem. By die 2012-Spele het hy die goue medalje gewen in die 100 m-borsslag en sommer ook ʼn nuwe wêreldrekord opgestel.

In Desember 2018 het hy ʼn goue medalje gewen in die 100 m-borsslag by die Wêreldkortbad-kampioenskap in China. 1

Oomblikke nadat hy gewen het, het hy aangekondig dat hy as swemmer gaan uittree. 6

Nog ʼn prestasie

Cameron was in 2013 die eerste swemmer in die wêreld wat vier medaljes in die 50 m by die wêreldkampioenskappe kon wen. Dit was brons in 2007, goud in 2009, brons in 2011 en weer goud in 2013. Daarna het hy nog twee medaljes in dieselfde afstand gekry – silwer in 2015 en brons in 2017. 2

Patriotisme en liefdadigheidswerk

Dit gebeur dikwels dat swemmers en ook ander Suid-Afrikaanse sportpersone in ander lande gaan oefen en sommer dikwels daar gaan bly, ook terwyl hulle nog aan die sport deelneem. Cameron is een van die swemmers wat gekies het om in Suid-Afrika te oefen, terwyl hy op internasionale vlak deelgeneem het.

Hy het ook op gemeenskapsvlak sy deel gedoen vir minderbevoorregte mense en om mense te inspireer. Hy het ʼn paar liefdadigheidsorganisasies gehelp en ook gehelp om voedingskemas vir minderbevoorregte kinders in Alexandra, naby Johannesburg, te finansier.  Hy het ook tydens baie geleenthede motiveringspraatjies in die land gegee. 1

Swem help met sy siektetoestand

Cameron het as kind aan aandagafleibaarheidsindroom gelei, en hy het swem gebruik om sy ekstra energie op te gebruik. 2

Hy was as kind ʼn introvert en het nie selfvertroue gehad nie. Swem was vir hom nie net ʼn uitlaatklep nie, maar het ook gehelp om sy persoonlikheid te ontwikkel.

Noudat hy nie meer swem nie, draf hy elke dag langs die Teemsrivier, en die oefening help hom steeds om sy siektetoestand en sy geestestoestand onder beheer te hou. 3

Cameron word op baie maniere vereer

As mens soveel rekords en medaljes in jou sportsoort ontvang, dan kry jy sommer ook baie ander toekennings. Kom ons kyk hoe Cameron deur sy land vereer is.

In 2010 was hy die Suid-Afrikaanse span se vlagdraer tydens die Statebondspele in Delhi, Indië. Dit is die persoon wat voor ʼn land se span uitloop tydens die seremonie waarmee die spele begin word, en ook die landsvlag dra. Dit is ʼn groot eer vir enige sportman of sportvrou om so ʼn vlagdraer te wees.

In 2011 is hy deur Swem Suid-Afrika (SSA) aangewys (gekies) as swemmer van die jaar, en in 2013 is hy aangewys as sportpersoon van die jaar.

In 2014 het hy ʼn baie belangrike toekenning gekry, ʼn toekenning wat deur die kantoor van die president gegee word, ʼn silwer in die kategorie die Orde van Ikhamanga. Hierdie toekenning word gegee vir Suid-Afrikaanse burgers wat uitblink (baie goed presteer) in die kunste, kultuur, literatuur, musiek, joernalistiek of sport. 2

Wanneer mens uit die swembad klim …

Nadat Cameron in Desember 2018 nog ʼn goue medalje gewen het, het hy aangekondig (bekend gemaak) dat hy gaan uittree (gaan ophou swem).

Hy het gesê dat dit vir hom goed is om op ʼn hoogtepunt uit te tree. Hy het ook gesê dat hy in die laaste 25 meter van die wedloop soveel pyn gehad het soos nog nooit voorheen terwyl hy geswem het nie. Dit was dus vir hom tyd om op te hou. 2

Cameron het reeds as skoolseun in die sakewêreld belang begin stel toe hy en drie van sy skoolvriende ʼn virtuele handeldryfkompetisie gewen het. Hy het by UNISA in ʼn sakerigting studeer, en dit is wat sy loopbaan geword het toe hy besluit het om sy Speedo-swembroek te bêre. Hy en sy gesin bly tans in Londen, Engeland, waar hy in die sakewêreld werk. Sy fokus in sy werk is op klimaat en energie. 3

Woordbank

aandagafleibaarheidsindroom Dit word ook aandaggebrekhiperaktiwiteitstreuring (AGHS) genoem – wat ʼn lang woord! Dit is ʼn toestand wat veral by kinders voorkom. Sulke kinders is buitengewoon aktief en kan nie lank stilsit of aan iets aandag gee nie.
finansier Om geld te gee vir iets, byvoorbeeld vir ʼn projek.
geestestoestand Die toestand waarin ʼn mens se gees is – dit kan vrolik of hartseer wees.
introvert ʼn Teruggetrokke, skaam persoon.
motivering Dit wat ʼn persoon aanmoedig om iets te doen.
patriotisme Om lief te wees vir jou land, ʼn mens kan ook die woord vaderlandsliefde gebruik.
selfvertroue Om vertroue te hê in jou eie vermoë om iets te kan doen of te kan regkry.
uitlaatklep Iets wat ʼn mens die geleentheid gee om aan iets uiting te gee; om iets wat jou pla, uit jou gemoed uit te kry deur iets fisies te doen.
vereer Om iemand te respekteer en eer aan iemand te bewys. 5

Kyk hier na Cameron se swemprestasies

Cameron se deelname aan verskeie FINA-wêreldkampioenskappe oor die jare

Cameron van der Burgh breek die wêreldrekord in die 50 m-borsslag tydens die 2009-FINA-wêreldkampioenskap in Rome.

 

Gepubliseer op: 7 November 2022 | Bygewerk op 17 April 2024