Vinnige feite

  • Kan jy glo, gholf is die enigste sportsoort wat reeds op die maan gespeel is!
  • Tiger Woods het sy heel eerste kolhou geslaan toe hy net agt jaar oud was.
  • Het jy al met ’n klimtol (in Engels yo-yo) gespeel? Jy sou dit sekerlik reeds gedoen het. Vandag is dit ’n speelding, maar dit is aanvanklik in die Filippyne as ’n wapen ontwerp. Toe was dit baie swaarder en die tou was sommer amper 10 meter lank.
  • Tot in 1912 was die goue medaljes wat tydens die Olimpiese Spele gewen word, van soliede goud gemaak. Daarna is hulle met silwer oorgetrek en bevat vandag net klein stukkies regte goud.
  • Weet jy waarom die vyf kleure van die Olimpiese kenteken se ringe geel, groen, rooi, swart en blou op ’n wit agtergrond is? Dit is omdat alle landsvlae van die wêreld een van daardie kleure bevat. 11
  • ’n Gholfbal het tussen 300 en 500 holtetjies of dimpels. Hierdie dimpels is veronderstel om die bal beter deur die lug te laat beweeg, of dit aerodinamies te maak.
  • Die Amerikaanse swemmer, Michael Phelps, het met sy 28 Olimpiese medaljes tot in 2016, meer medaljes gewen as lande soos Mexiko en Spanje. 12
  • Met die Amerikaanse Meesters-gholftoernooi wat elke jaar in Augusta, Georgia (VSA) gehou word, kry die wenner ’n groen baadjie om te dra. 9
  • Die Tour de France vind oor 23 dae plaas en die fietsryers ry altesaam 4 840 km gedurende daardie tyd. 9
  • Yukigassen is die enigste soort kompetisie waarin daar met sneeuballe geveg word. Dit word deur twee spanne van sewe spelers elk gespeel en het in Japan ontstaan. Klik op die skakel om meer oor die sport te lees en na foto’s te kyk. 13
  • Jukskei is reeds 200 jaar oud en is in Suid-Afrika ontwikkel. 14

Min mense in die wêreld neem nie een of ander tyd aan sport deel nie – selfs mense wat nie noodwendig daarvan hou om fisiek dinge te doen nie. Of dit nou professioneel gebeur, of sommer vir ontspanning of net omdat jy jou skool aan die begin van die skooljaar by die atletiek moet verteenwoordig, almal is die een of ander tyd by sport betrokke.

Wat beskou ons as ‘sport’?

Hierdie is ’n vraag waaroor almal nie altyd saamstem nie. Daar is ’n paar vrae wat gevra word om te besluit of ’n sekere aktiwiteit wel ’n “sport” genoem kan word.

  • Is enigiets wat as ’n kompetisie gedoen word, ’n sport?
  • Moet ’n mens se hele liggaam gebruik word voor jy dit ’n sport kan noem?
  • Moet daar fisieke inspanning wees?
  • As mens van ’n masjien van die een of ander aard gebruik maak om die beweging te verskaf, kan dit ’n sport genoem word?

Sommige mense voel dat alles nie sommer as sport aanvaar kan word nie. Ander mense voel weer dat dit nie soveel saakmaak nie – solank dit net vermaak aan kykers langs die veld of baan en op TV-kanale verskaf. 1

In dictionary.com word sport beskryf as ’n aktiwiteit wat vaardigheid of fisieke vermoëns vereis en dikwels tot wedywering lei. Hier word tennis, bofbal, gholf, stoei, boks, jag en visvang as voorbeelde genoem. 2 Ons eie Afrikaanse woordeboeke beskryf sport as ’n spel of bewegings waarby jy jou liggaam inspan, liggaamsoefening as ontspanning, en fisieke aktiwiteit waarin mense met mekaar meeding. Nog ’n definisie van sport lui dat dit individuele of groepsaktiwiteite is waaraan daar vir oefening of ontspanning deelgeneem word, wat fisieke inspanning of vaardighede vereis, waarby bepaalde reëls gewoonlik geld, en waartydens ‘n individu of span dikwels teen andere meeding.

As mens na bogenoemde definisies kyk, verstaan jy waarom stokperdjies soos visvang, jag en kaartspel ook as sport beskou word.

Voordele van deelname aan sport

Daar is sommer baie voordele vir mense wat aan sport deelneem.

  • Sport help mens om fiks en gesond te bly, dit help jou om jou tyd beter te organiseer en dit bou verhoudinge met mense van jou ouderdom, maar ook met ander mense. Sport help mens ook om vriende te maak met mense wat jy andersins dalk glad nie sou ontmoet het nie. Wanneer mens aan sport deelneem, kry jy ook te doen met mense van ander gemeenskappe en ander skole as jou eie.
  • Wanneer jou vriende en familie jou langs die veld of baan ondersteun wanneer jy aan sport deelneem, help dit jou ook om goed te voel oor jouself – dit bou dus jou selfbeeld.
  • Wanneer jy aan sport deelneem, is daar dikwels afrigters betrokke en hulle kan goeie rolmodelle.

Die 10 gewildste sportsoorte in die wêreld

Kom ons kyk na die 10 gewildste sportsoorte in die wêreld (in geen spesifieke orde nie) – dit is nou as mens deelname as die meetinstrument gebruik.

Sokker

In die jongste opname wat deur sokker se beheerliggaam, Fédération Internationale de Football Association (FIFA) gedoen is, is bepaal dat daar wêreldwyd 265 miljoen mense is wat sokker speel. Saam met 5 miljoen skeidsregters, is dit ongeveer 4% van die wêreld se bevolking!

Pluimbal

Ongeveer 220 miljoen mense in die wêreld speel pluimbal. Die sportsoort is veral in Asië baie gewild en van die beste pluimbalspelers kom uit hierdie kontinent.

Veldhokkie

Veldhokkie het ander reëls as yshokkie. Dit word in meer as 100 lande gespeel.

Vlugbal

Vlugbal het in Amerika ontstaan en ongeveer 998 miljoen mense neem daaraan deel. Mens kry binnenshuise en buitenshuise vlugbal.

Basketbal

Die beheerliggaam van basketbal reken dat ongeveer 450 miljoen mense wêreldwyd aan dié sport deelneem.

Tennis

Tennis word beskou as die gewildste individuele sport in die wêreld – ongeveer 60 miljoen mense speel tennis.

Krieket

Die meeste krieketspelers woon in lande soos Australië, Indië, Pakistan, Suid-Afrika en Engeland, maar die sport is ook besig om in baie ander lande gewild te raak. Dit word in 125 lande oor die wêreld gespeel.

Tafeltennis

Ongeveer 300 miljoen mense neem aan tafeltennis deel.

Bofbal

Hoewel bofbal aanvanklik hoofsaaklik in Amerika gewild was, word dit nou in al hoe meer ander lande gespeel. Sagtebal is die vorm van die spel wat meer deur dames gespeel word en daar word bereken dat ongeveer 65 miljoen mense aan dié twee vorme van die spel deelneem.

Gholf

Gholf word beskou as een van die mees gewilde tydverdryf in die wêreld en ongeveer 60 miljoen mense neem ten minste een keer per jaar aan gholf deel. 4

Gewilde sportsoorte in Suid-Afrika

Die gewildste sportsoorte in Suid-Afrika is nie moeilik om te raai nie – sokker, rugby en krieket. Ander sportsoorte wat ook baie gewild is, is onder meer atletiek, boks, gholf, swem, tennis, netbal en basketbal. 5

’n Paar baie eienaardige sportsoorte

Natuurlik is daar ook baie sportsoorte wat heeltemal vreemd is en waarvan die meeste mense nie eens weet nie. Kom ons kyk na ’n paar daarvan:

Allervreemdste klerestryk

Kan jy glo, daar is mense vir wie dit ’n sportsoort is om op vreemde plekke te stryk! (In Engels: Extreme ironing). Hulle neem hul strykplanke en strykysters na ’n vreemde plek en kry iemand om hulle daar af te neem terwyl hulle staan en stryk. Van die plekke waar mense al gaan stryk het, is onderwater, binne-in ’n waterval, terwyl hulle besig was met rotsklim, bo-op ’n koei of selfs vasgemaak bo-op die dak van ’n huurmotor in New York! Hierdie sportsoort is in 1997 deur Phil Shaw uitgedink.

Joggling

Hierdie sportsoort se naam is ’n kombinasie van twee Engelse woorde, naamlik “juggling” (goëlery) en “jogging” (draf). Dalk kan jy probeer om ’n slim Afrikaanse woord daarvoor te maak?

Mense wat hieraan deelneem, doen hul toertjies terwyl hulle draf. Sommige deelnemers het reeds op hierdie manier aan marathonne en sommer ook aan ultramarathons deelgeneem.

Skape tel

Natuurlik sou hierdie sportsoort in Australië ontstaan het – waar soveel mense met skape boer. Terwyl boere daar dit as deel van hul dag se werk doen, is daar mense wat ’n sport gemaak het van skape tel. Dit werk so: Ongeveer 400 skape word uit ’n hok losgelaat en 10 deelnemers moet dan die skape tel terwyl hulle verby beweeg. 6

Rendierresies

Hierdie geleentheid wat in 2008 ontstaan het, word elke jaar in Alaska gehou. Dit bestaan daaruit dat die deelnemers in ’n straat afhardloop en dan word ’n trop rendiere agter hulle losgelaat. Die rendiere hardloop dan van agter af deur die groep deelnemers. 7

Olifant-sokker

In hierdie sportsoort sit die deelnemers op olifante se rûe en stuur hulle om ’n sokkerbal met hul pote rond te skop. Die bal is groter as ’n gewone sokkerbal en die spel word in lande soos Thailand, Indië en Nepal gespeel. 8

Meeste toeskouers

Sport is natuurlik baie gewild op TV en miljoene mense is gereelde sportkykers.

Tour de France

Heel boaan die lys is die Tour de France – die fietswedren wat elke jaar in Frankryk plaasvind. Hierdie groot sportgebeurtenis het reeds in 1903 begin en daar word bereken dat daar elke jaar 3,5 miljard mense is wat op TV daarna kyk.

Wêreldbeker-sokker

Kort op die hakke van die Tour de France, volg die Wêreldbeker-sokkertoernooi met 3,3 miljard kykers. Die toernooi vind elke vierde jaar plaas en daar is 32 lande wat daaraan deelneem. In 2026 gaan hierdie getal na 48 lande uitgebrei word.

Wêreldbeker-krieket

Die Wêreldbeker-kriekettoernooi vind, soos die sokkertoernooi, elke vier jaar plaas en ongeveer 2,6 miljard mense kyk op TV daarna. Die volgende toernooi vind gedurende Oktober en November in Indië plaas.

Somer Olimpiese Spele

Die Somer Olimpiese Spele vind ook, soos die ander groot sporttoernooie, elke vier jaar plaas en word deur ongeveer 2 miljard mense op TV gekyk.

Winter Olimpiese Spele

Die Winter Olimpiese Spele is nie heeltemal so gewild soos die Somer Olimpiese Spele nie, maar word tog ook deur ongeveer 2 miljard mense gekyk. Dit vind ook elke vier jaar plaas en sluit natuurlik ski en yshokkie, wat wintersportsoorte is, in.

Die Amerikaanse Meesters-gholftoernooi

Die Amerikaanse Meesters-gholftoernooi word deur ongeveer 13,16 miljoen mense gekyk.

Wêreldbeker-rugby

Suid-Afrika en rugby is onafskeidbaar van mekaar. En as die Wêreldbeker-rugbytoernooi gebeeldsend word, word dit na raming deur 12,8 miljoen mense wêreldwyd gekyk.

Wimbledon-tennis

Die uiters gewilde Wimbledonse tennistoernooi wat jaarliks op Wimbledon in Suidwes-Londen gehou word, word deur 7,5 miljoen mense. 9

Lys van al die verskillende sportsoorte

Daar is mense wat baie moeite gedoen het om alle moontlike sportsoorte wat in die wêreld bestaan, op ’n lys te kry. Hulle het ’n alfabetiese lys van meer as 800 verskillende sportsoorte saamgestel. Sowat 200 daarvan is bekende sportsoorte wat deur ’n beheerliggaam beheer word. Daar is ’n afdeling vir spansport, vir ongewone sportsoorte asook vir sportsoorte wat nie meer beoefen word nie (waaraan mense nie meer deelneem nie).

Kyk gerus by hierdie skakel na die volledige lys. 10

Woordbank

beheerliggaam Komitee of raad wat ’n skool, sportorganisasie, woonstelgebou, ens. bestuur.
deelname Die aantal mense wat aan iets deelneem.
gemeenskappe Individue wat ’n samehorige groep vorm, dit wil sê ’n groep mense wat saam hoort.
handvaardig Om knap (goed) te wees met jou hande.
individuele Enkel, afsonderlik.
kolhou Wanneer ’n gholfspeler die bal vanaf die bof (waar elke nuwe putjie begin) met net een hou tot binne-in die gaatjie slaan.
kontinent Vasteland.
kwalifiseer Geskik of bekwaam om iets te doen.
leierseienskap Bevoegdheid om die leiding te neem.
rolmodelle Iemand wat deur iemand anders beskou word as ’n goeie voorbeeld om na te volg.
ultramarathons ’n Marathon wat langer is as die standaard marathon, dit wil sê langer as 42,2 km.
wedywering Kompetisie.

Lees meer

Kyk hier

Olifant-polo

Joggling, die toertjiedraf

As jy lekker wil lag, kyk na hierdie ekstreem maniere om jou klere te stryk!

Skape tel is ook ʼn sport!

Wie sê Olifante kan nie sokker speel nie?

Jukskei, ʼn eg Suid-Afrikaanse sport.

 

Gepubliseer op: 20 Julie 2023 | Bygewerk op 18 Januarie 2024