Vinnige feite

  • Mense het al van die vroegste tye af besef dat goud waardevol is. Dis ʼn edelmetaal en baie duursaam. Dis buigsaam, ʼn goeie geleier van elektrisiteit en hitte, en roes nie onder normale omstandighede nie. 8
  • Diamante is ook baie duursaam en is die hardste en skitterendste van al die natuurlike stowwe. Diamante word in karaat geweeg en word veral in juwele gebruik. 9
  • Nadat Johannesburg begin ontwikkel het, het dit amptelik in 1928 ʼn stad geword. Die dorp het ontstaan op ʼn plaas wat eers Randjieslaagte genoem is.
  • In 1888 was daar 44 myne in die goudmynbedryf, met kapitaal van nagenoeg £7 miljoen en ʼn inkomste van meer as £1 miljoen. Teen die einde van die eeu het die myne ʼn kwart van die wêreld se goud geproduseer. 6
  • In die vroeë 1890’s het meer as 100 000 mense vir die mynbedryf gewerk. Johannesburg het ʼn wit bevolking van 50 000 gehad, van wie slegs 6 000 Afrikaners was. 6

As ons die wat en hoe van die minerale revolusie wil verstaan, moet ons eers kyk na wat die begrip beteken. Minerale is stowwe wat natuurlik in die aardkors voorkom (soos goud, steenkool en uraan) en vir verskeie gebruike gedelf word. 1 ʼn Revolusie is ʼn groot en belangrike ontwikkeling of verandering wat heeltemal anders is as enigiets wat dit voorafgegaan het. 1 [Lees meer hier van minerale van Suid-Afrika.]

Die minerale revolusie in Suid-Afrika is dus ʼn belangrike ontwikkeling in die land wat met die vind van minerale gepaardgegaan het. Goud en diamante is baie waardevol en kos baie geld en daarom was dit juis groot nuus toe dit hier gevind is.

Die minerale revolusie het in 1867 met die ontdekking van diamante in Kimberley begin en het in 1886 met die ontdekking van ʼn groot neerslag goud in die Witwatersrand verdiep. 2

Dit het tot industrialisasie gelei wat eintlik maar net beteken dat industrieë geskep en uitgebrei is. Sekere gebiede in Suid-Afrika het die grootste verskaffer van minerale aan die wêreldekonomie geword, maar dit het Suid-Afrika net begeerliker vir die Britse ryk gemaak. Afrika-koninkryke, Britse kolonies en Boererepublieke het toe almal onder Britse beheer beland. Die drastiese veranderings is aangevuur deur die ontwikkeling van die mynbedryf en die Britte se inval in Suid-Afrika. 3

Om die hele omwenteling te verstaan, is dit belangrik te begin toe diamante in Suid-Afrika ontdek is.

Diamante

Dit was ʼn 15-jarige seun wat die eerste diamant in Suid-Afrika gevind het. Erasmus Jacobs het in 1866 ʼn deurskynende klippie op sy pa se plaas op die oewer van die Oranjerivier opgetel, en daar is toe vasgestel dat dit inderdaad ʼn diamant is. Daarna is meer en meer diamante gevind, soos die 1867-ontdekking van diamante in die Kaapkolonie. Die bal is eers aan die rol gesit toe die De Beer-broers van die plaas Vooruitzicht diamante ontdek het. Die De Beers-mynmaatskappy is na hulle vernoem. 4

Oor die volgende paar jaar is meer diamante in Suid-Afrika as in 2 000 jaar in Indië gevind. 5

Skoolkinders op die delwerye.

Fortuinsoekers het op die oewers van die Oranje-, Vaal- en Hartsriviere toegesak omdat die aanvanklike diamante almal in rivierlope en strome gekry is. 3

Diamante is egter daarna in geel grond en later in harde klip (die sogenaamde blougrond) gevind. Die harde klip met sy blou kleur is kimberliet genoem – natuurlik na die myndorp Kimberley. Teen 1870 was daar ʼn diamantstormloop, en teen 1871 het nagenoeg 50 000 mense in ʼn mynkamp gebly, wat later Kimberley genoem is.

Aanvanklik het swart en wit delwers met die hand op hul kleims gewerk. ʼn Kleim is ʼn stuk grond waar daar moontlik waardevolle minerale of edelstene kan wees. Dis in die ou dae deur ʼn delwer afgepen sodat hy daarin kon delf. 6 Net hy mag dan in daardie stukkie grond gewerk het.

Soos daar egter meer diamante gevind is, het mense die nodigheid vir ontwikkeling gesien. Hulle wou meer en meer diamante uithaal, en dit het beteken dat hulle dieper in die aarde moes delf. Toerusting is aangekoop, baie prosesse is gemeganiseer, en ʼn mens kon toe ʼn groot verskil tussen swart en wit delwers sien, want swart delwers het nie die geld gehad om toerusting te koop om dieper te delf nie. As iets gemeganiseer word, beteken dit dat die werk deur mense met masjiene vervang word. Die swart delwers het nie die geld gehad om hul arbeid te meganiseer nie, en maatskappye het begin om delwers se kleims uit te koop.

Daar was groot mededinging tussen mynbase soos die Britte Cecil John Rhodes en Barney Barnato, maar hul maatskappye het uiteindelik saamgesmelt, en die bedryf het in 1889 ʼn monopolie geword. ʼn Monopolie is die reg of beheer wat ʼn maatskappye het om alleen met ʼn sekere produk of in ʼn sekere gebied handel te dryf. Dit het basies beteken dat die maatskappy De Beers Consolidated Mines toe die alleenverskaffer van diamante in die land was.

Cecil John Rhodes
Barney Barnato

Hoewel wit werkers nog in die myne as toesighouers of arbeiders aanhou werk het, het die werksmag vanaf die middel-1880’s grotendeels uit swart arbeiders bestaan. Die mynbase wou nie duur vir arbeid betaal nie, en hulle het baie trekarbeiders in diens geneem. Trekarbeiders is mense wat tydelik op ʼn plek werk en dan terugkeer na hul huis toe. 1

Werkers in Kimberley op ‘n baie interessante diamantmyntrem.

Baie van hierdie trekarbeiders het ver gereis om op die myne te werk, en hulle is in geslote kampongs deur die maatskappye gehuisves (dis ʼn metode wat voorheen in Brasilië gesien is). Kampongs is behuising vir arbeiders in groot geboue, veral by ʼn myn. Die lewensomstandighede in die kampongs was nie goed nie. Dit was oorbevolk en vuil en hulle kon nie in die aand soos gewone werkers huis toe gaan nie, hulle moes daar bly. 2

Kimberley se besige markplein rondom 1888.

Goud

Die ontdekking van diamante en goud het die grootskaalse ontwikkeling van die mynbedryf en ʼn industriële revolusie tot gevolg gehad. Nywerhede het baie vinnig in hierdie tyd ontwikkel. Suid-Afrika se toekoms het vir altyd verander toe die prospekteerder George Harrison ʼn massiewe goudrif aan die Witwatersrand ontdek het.

Goud is ʼn edelmetaal, en nes diamante is dit ook baie geld werd. Die goudmynbedryf het vlam gevat en het die proses wat deur die diamantstormloop begin is, net verder geneem. Daar was immigrasie, verstedeliking, arbeidsmigrasie (arbeiders het van een gebied na ʼn ander beweeg) en groot geldbeleggings. Teen 1899 het die goudbedryf reeds meer as 100 000 mense in diens geneem waarvan die meerderheid swart werkers was. Duisende buitelanders het ook weer (net soos tydens die diamantstormloop) na die gebied gestroom. 3

Hierdie ontdekking het daartoe gelei dat openbare delwery geproklameer is, en daar is gevind dat die hoofrif byna 50 km na die ooste en die weste strek. Die tentedorp van prospekteerders het vinnig gegroei, en die dorp Johannesburg is uiteindelik só geskep. Die dorp is na Johann Rissik, die waarnemende landmeter-generaal en Johannes Pieter Meyer, die veldkornet van die wyk, genoem. Die dorp het so vinnig gegroei dat dit baie vinnig in ʼn stad verander het. 7

Johann Rissik

In 1888 was daar 44 myne in die goudmynbedryf, met ʼn kapitaal van nagenoeg £7 miljoen en ʼn inkomste van meer as £1 miljoen. Teen die einde van die eeu het die myne ʼn kwart van die wêreld se goud geproduseer. 6

Diamante, steenkool en goud was alles dinge wat baie belangrik vir Groot-Brittanje was, en Britse immigrante het op Suid-Afrika toegesak en die meeste van die nuwe geleenthede opgeraap. Hulle was die handelaars, boere, grondspekuleerders, sakemanne, en hulle was die ingenieurs wat die paaie, brûe en spoorlyne gebou en die diepvlakmynskagte gesink het.

In Suid-Afrika het daar in die 50 jaar ná die vestiging van die goudmyne nuwe klasse tussen mense ontstaan. Dit is meegebring deur die ekonomiese en sosiale omstandighede van daardie tyd. So is daar magnate en swerwers, miljoenêrs en bankrotspelers, en entrepreneurs gevorm. 6

Hierdie entrepreneurs was veral Europeërs, en ʼn klein groepe finansierders en mynmagnate het Suid-Afrika se diamant- en goudmyne besit. Hulle is Randhere genoem, en hulle het maatskappye laat saamsmelt en gefinansier en só beheer oor die maatskappye verkry. Hulle het die myngroepstelsel gestig, sodat daar nie mededinging vir markte was nie, en hulle wou ook al die myne se arbeid reguleer. Só het die Kamer van Mynwese in 1889 ontstaan, en hulle het regulasies vir arbeiders ingestel en die mynmaatskappye verteenwoordig as hulle met die regering moes gesels. 2

Die beheer van swart mynwerkers

ʼn Dopstelsel is ingestel sodat arbeiders met alkohol betaal kon word, wat probleme soos alkoholafhanklikheid verhoog het.

Die werkers het passe gekry. Die passe was amptelike dokumentasie wat gesê het waar hulle mag gaan en nie mag gaan nie. Dit het beteken dat hulle nie eintlik by ander plekke kon gaan werk nie, en hulle moes onder kontrak bly.

Hierdie werkers mag ook nie aan swart vakbonde behoort het nie. ʼn Vakbond is ʼn organisasie wat vir jou regte opstaan. 2

Vroue en gesinne ook geraak

Die trekarbeiders se mynregulasies het ook ʼn invloed op hul gesinne by hul huise gehad. Die mans moes in swak omstandighede in die kampongs bly, en hul vroue en kinders moes alleen agterbly en alles self by hul huise doen. Dit was moeilik vir hul vroue, en dit het die gesinstruktuur verbrokkel. 2

‘n Ma en haar seuns delf saam.

Arbeidsweerstand

Die swak toestande in die kampongs, asook werkers se swak lone, het tot arbeidsweerstand begin lei. Die werkers was nie gelukkig nie, en hulle het teen die mynmaatskappye opgestaan.

Stakings het plaasgevind, en werkers het geweier om te werk. Swart werkers het byvoorbeeld in 1913 gestaak, en teen 1920 het nagenoeg 70 000 swart myners gestaak en ʼn loonverhoging geëis. Altesaam 21 van die 35 myne het in daardie tyd stilgestaan omdat daar nie genoeg werkers was om te werk nie. Nadat wit myners in 1913 gestaak het, het die Kamer van Mynwese wit vakbonde erken.

Arbeiders het gedros (weggeloop) en die myne verlaat omdat die toestande nie verbeter het nie. Die kampongs, waar die toestand die slegste was, het die meeste drosters gehad.

Sloerstakings het ook plaasgevind. Dit beteken die werkers het met opset stadig gewerk en selfs hul toerusting beskadig.

Boikotte het plaasgevind en werkers het byvoorbeeld eerder op die spoorweë as by die myne begin werk. Lone was veral laag ná die Anglo-Boereoorlog (ABO) en talle werkers het die goudmyne geboikot. 2

Skooltente by die delwerye.

Die gevolge van die minerale revolusie

Dit was ʼn bepaalde keerpunt in Suid-Afrika met baie mense wat van die platteland af na die stede toe getrek het. Dit word verstedeliking genoem.

Die ontdekking van kosbare minerale het Suid-Afrika ook verander van ʼn land wat as ʼn landbouland gesien is tot ʼn nywerheidsland. 6

Die eienaarskap van grond het ook verander. Die Britte het ná die oorlog die Boererepublieke oorgeneem en het die hele Suid-Afrika onder hul beheer geplaas. Lesotho en Swaziland het ook Britse protektorate geword. Die Naturellegrondwet is in 1913 ingestel, en alle grond wat voorheen deur swart mense besit is, is onder wit beheer geplaas. Elke stam is ʼn reservaat gegee om op te bly. 2

Soos wat myne meer en meer mense nodig gehad het, het die Britte grond van die Afrika-koninkryke in Suider-Afrika gevat en die mense gedwing om werk te gaan soek. Dit en ander faktore soos droogtes en konflikte het daartoe gelei dat die Xhosa-, Pedi- en Zoeloe-koninkryke tot ʼn val gekom het. 2

Arbeid het ook verander met meer en meer trekarbeiders wat in die myne gewerk het. Die Britte het ʼn hutbelasting ingestel wat met geld betaal moes word, en dit het Afrikane gedwing om werk elders te kry waar hulle geld kon verdien. Die swak werksomstandighede by myne het gevolglik tot weerstand gelei, soos hier bo genoem. 2

Die Bhambatha-rebellie word as die laaste militêre Afrika-weerstand teen koloniale oorheersing in Suid-Afrika beskou. Ná die ABO is van die produktiefste landbougrond in Zoeloeland aan die destydse Natal oorhandig. ʼn Kopbelasting van £1 is op elke volwasse man gehef, behalwe dié wat reeds hutbelasting betaal het. Die doel was om meer Zoeloe-mans te dwing om by groot plekke te gaan werk. Die Zoeloes wou nie daar gaan werk nie, en daar was ʼn gewelddadige opstand in Pietermaritzburg se omgewing. Bhambatha, ʼn hoofman van die Zondi, het volstrek geweier om die kopbelasting in te samel.

Pogings om hom te dwing, het misluk, en ʼn ander hoofman is in sy plek aangestel. Hy het gevlug, maar later teruggekeer en weer met opstande begin. Daar het onrus in Noord-Natal en Zoeloeland uitgebreek, en die Britte het ʼn groot mag gekry om Bhambatha te vang. Hy en al sy volgelinge (byna 600 mense) is toe doodgemaak, en in die volgende ses maande is 5 000 mense in hegtenis geneem. 6

Wetgewing wat swart mense en Indiërs uitgesluit het, het ook uiteindelik daartoe gelei dat organisasies soos die African Political Organisation (1902), die Transvaal Indian Congress (1903) en die South African Native National Congress (1912) ontstaan het. Die South African Native National Congress se naam is in 1923 na die African National Congress (ANC) verander. Die ANC is sedert 1994 in beheer van Suid-Afrika.

Indiese betogers stap deur Volksrust, 1913.

Suid-Afrikaanse tydlyn

Die San en Khoisan was die eerste mense wat hier in Suid-Afrika gebly het; hulle was jagters en versamelaars.

Teen die 14de eeu het baie swart mense hier gebly en aktief handel met Oos-Afrika gedryf.

Teen 1652 het die Nederlanders ʼn kolonie in die Kaap gevorm, en Nederlandse setlaars het as die Boere bekendgestaan.

Die Britse magte het in 1795 beheer oor die Kaap geneem.

Talle Boeregesinne wat na hul eie grond gesoek het, het inwaarts teen 1836 getrek, en die onafhanklike republieke van die Vrystaat en die ZAR-republiek (Transvaal) is gevorm.

Die Britte wou hul hande op die goud in Transvaal kry, en dit het aanleiding tot die Anglo-Boereoorlog gegee.

Teen 1902 het die Britte die oorlog gewen, en hulle het die grond geannekseer.

Teen 1910 is die Unie van Suid-Afrika gestig, en teen 1948 was apartheid amptelik in die land ingestel. Die apartheidswetgewing is teen 1990 opgeskort, en die eerste demokratiese verkiesing het in 1994 plaasgevind. 3

Woordbank

geannekseer Besit van ʼn gebied neem.
kampongs Behuising vir arbeiders in groot geboue, veral by myne.
kimberliet Gesteente met ʼn blou kleur wat in vertikale pype van onbegrensde diepte voorkom en diamante op sekere plekke bevat.
kleims ʼn Stuk grond waar daar moontlik waardevolle minerale of edelstene kan wees.
meganiseer Die vervanging van menslike of dierlike werkkrag deur masjiene of tegniese hulpmiddels.
arbeidsmigrasie Om van een gebied na ʼn ander te beweeg/trek.
minerale Dit is stowwe wat natuurlik in die aardkors voorkom, soos goud, steenkool en uraan, en word vir verskeie gebruike gedelf.
monopolie Dis die reg of beheer wat ʼn maatskappye het om alleen met ʼn sekere produk of in ʼn sekere gebied handel te dryf.
neerslag Laag, kors wat aanpak; afsaksel of besinksel.
ontginning Dit is as minerale, edelstene of olie uit die grond gehaal word.
protektorate Gebied wat ʼn sterk staat onder sy beskerming plaas sonder om dit te annekseer, maar waaroor die beskermheer tog alle soewereine staatsmagte uitoefen.
revolusie ʼn Groot en belangrike ontwikkeling wat heeltemal anders is as enigiets wat dit voorafgegaan het.
saamsmelt Uit twee of meer sake ʼn enkele saak vorm.
trekarbeiders Dit is mense wat tydelik op ʼn plek werk en dan terugkeer na hul huis toe.
vakbonde ʼn Organisasie vir werkers, gewoonlik van ʼn bepaalde bedryf, wat bestaan om hul belange te beskerm soos om hul werksomstandighede te probeer verbeter.
arbeidsweerstand ʼn Poging om iets teen te staan of af te weer. 1

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Inleiding tot die minerale revolusie

Die minerale revolusie

Diamante, goud en die Britte

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 12 Mei 2022 | Bygewerk op 8 Mei 2024