Vinnige feite

  • Jy sal vandag nog Rissik se naam op vele straatborde vind. Só is daar onder meer ʼn Johannstraat in Arcadia, Pretoria; ʼn Rissikstraat in Sunnyside, Pretoria; ʼn Johann Rissikrylaan tussen Klapperkop en Waterkloof; ʼn Rissikstraat in Potchefstroom; en ʼn Rissikstraat in Krugersdorp (Mogale City). Dan is daar ook die bekende Rissikstraat in die middestad van Johannesburg. Daar was selfs op ʼn tyd ʼn laerskool en ʼn poskantoor wat na hom vernoem is.
  • Rissik was verantwoordelik vir die uitleg van ‘n klomp plekke soos Boksburg en bekende buurte soos Sunnyside, Arcadia en Hillcrest. 3
  • Hy het glo ʼn stuk grond in Hillcrest gekoop waarop Britse blokhuise gebou was en wat met watergragte (diep slote in die grond met water daarin) omring was. Die gragte het Hillcrest se eerste swembad geword. 3
  • Interessant genoeg, Rissik het die eerste motorfiets in Pretoria besit. Hy het boonop ʼn groot belangstelling in ligte vliegtuie gehad en was die eerste president van die Lugvaartkundevereniging van Suid-Afrika. 3
  • Hy was ook lid van die Pretoria-resiesklub (daar was ʼn perderesiesbaan in Kerkstraat-Wes) en ʼn ywerige gholfspeler. Hy het glo ook graag brug en skaak gespeel.
  • Die Rissiks het in 1923 hul Linschoten-eiendom verkoop en in 1924 ʼn splinternuwe Linschoten-huis op die hoek van Park- en Minniestraat gebou. Dié straat se naam is iewers deur iemand verkeerd gespel, want hy het dit eintlik na sy vrou, Mimmie, genoem! 3
  • Rissik was omtrent veelsydig, want hy was baie lief vir die plaaslewe en landbou. Hy het slim planne vir waterbesparing beraam en het ʼn groot reservoir by sy huis gehad waar hy water met ʼn kanaal afgevoer het. Hy het dit vir besproeiing gebruik en selfs water aan sy bure verskaf. Hy was ook glo ʼn volstruisboer en sitrusboer op die plase Zandfontein en Doornput op die Springbokvlakte. Later het hy met friesbeeste op die plaas Elbrinxen naby Potchefstroom geteël, met skape op Koppie Alleen in die Vrystaat geboer, en met tabak en sitrus op Hartebeesfontein naby die Hartbeespoortdam. 3
  • Rissik het deur die jare talle goue en silwer toekennings ontvang, en sy vrou, Mimmie, het dit ná sy dood laat smelt om geld vir oorlogsfondse in die Tweede Wêreldoorlog te skenk.
Foto: iStock

Dalk lui die naam Johann Friedrich Bernhard Rissik vir jou ʼn klokkie, maar jy weet nie eintlik wat hy gedoen het en waarom jy van hom moet weet nie. Wel, as dit nie vir hom was nie, is die kans groot dat Johannesburg se naam dalk iets anders kon wees. Rissik word as die peetpa van hierdie stad beskou. Hy was ʼn landmeter-generaal, die eerste administrateur van Transvaal en selfs ʼn minister. 1

Persoonlike lewe 

Rissik is op 2 Februarie 1857 in Utrecht in Nederland gebore. Hy was die seun van dr. Gerrit Hendrick en Neeltje Rissik. 2 Sy pa is deur een van die destydse presidente van die Zuid-Afrikaansche Republiek, president Burgers, oorreed om na Suid-Afrika te kom. 3 Hy en sy gesin het ses weke lank per boot na Durban gereis en toe na Pretoria in ʼn ossewa. Die ossewarit het vyf weke geduur. Saam met hom was sy vrou, Neeltje (née Altmann), sy dogter, Anna Maria, en vier van sy vyf seuns – Frederik Hendrik, Johann Friedrich Bernhard, Cornelis en Gerhard Hendrick. Sy seun Sybrand het in Nederland agtergebly.

Johann het aanvanklik sy pa in sy apteek gehelp, maar het later vir die regering begin werk. Hy is as die tweede regeringsklerk in die landmeter-generaal se departement aangestel.

Johann is op 8 Oktober 1890 met Maria Magdalena Wilhelmina (Mimmie) Leibbrandt getroud. Haar pa, Pieter Ulrich Leibbrandt, was in daardie stadium Kaapstad se burgemeester. Die pasgetroude paartjie het in ʼn huis ingetrek wat Johann in Pretoria laat bou het. Dit is na sy geboorteplek in Nederland genoem, naamlik Linschoten. Hulle het 33 jaar in hierdie huis gewoon, en hul vier seuns is daar gebore. Bernard, op 8 Maart 1892; Harry, op 10 April 1894; Pieter Ulrich, op 11 Maart 1896; en Johann, op 8 November 1899. Die jongste seun, Johann, is tragies op 9 Januarie 1904 oorlede. Die oudste seun, Bernard, is op 22 Junie 1915 tydens die Eerste Wêreldoorlog in Vlaandere oorlede.

Johann Rissik is op 26 Augustus 1925 op die ouderdom van 68 in Pretoria oorlede.

Die vier Rissik-broers.

ʼn Nuwe stad word gebore

Goud is in 1886 aan die Witwatersrand ontdek, en dit het alles in hierdie gebied verander en tot die ontwikkeling van ʼn groot stad gelei. ʼn Groot dagsoom met gouddraende erts is op die plaas Langlaagte ontdek, en ʼn openbare delwery is in April 1886 geproklameer. Kort nadat die hoofrif in 1886 ontdek is, is daar gevind dat dit deur Langlaagte oor byna 50 km na die ooste en die weste strek. 4

Nie alle geskiedkundiges stem saam oor die oorsprong van Johannesburg se naam nie, maar navorsing het al gewys dat dit wel na Rissik (wat toe die waarnemende landmeter-generaal was) en Christiaan Johannes Joubert, die destydse hoof van mynwese, vernoem is.

In Augustus 1886 het die regering ʼn kommissie (Rissik en Joubert) na die Witwatersrand gestuur om die lewensvatbaarheid van die nuwe goudvelde te ondersoek. Hulle het aanbeveel dat verskeie plase tot openbare delwerye geproklameer moes word, en dit is gevolglik in September en Oktober 1886 gedoen. 4

Verskeie kampe wat uit tente, sinkhuisies en tentwaens bestaan, het opgeskiet. 5 Die belangrikste kampe was Ferreiraskamp, Meyerskamp en Langlaagtekamp. Ferreiraskamp was die grootste, maar Rissik en Joubert het Randjeslaagte as die beste ligging vir die nuwe dorp gekies. Dit is omdat dit regeringsgrond was. Die grootte was net minder as 300 ha, en die regering kon deur die verkoop van standplase ʼn goeie inkomste kry. 4

In September 1886 het die regering J.E. de Villiers se tender vir die uitmeet van 600 standplase op ʼn gedeelte van Randjeslaagte aanvaar. In dieselfde maand is Rissik en Joubert (Johannes) se voorname in die naam Johannesburg verewig. Johannesburg was van die begin af ʼn beplande dorp met strate en erwe wat behoorlik deur ʼn landmeter opgemeet is. 4

Johannes Joubert.
Die spoorwegstasie in Pretoria.

Die Witwatersrandse goudvelde is by wyse van ʼn proklamasie in die Staatskoerant van 8 September 1886 tot openbare delwerye verklaar.

Johannesburg, 1890.

Het jy geweet?

Daar was nóg ʼn Johannes betrokke, wat die naamgewing nog interessanter (en ingewikkelder!) maak. Johannes Pieter Meyer was die veldkornet van die wyk, en hy het vir Rissik en Joubert met hul werk bygestaan.

Pres. Paul Kruger het ook glo van die naam Johannesburg gehou en gesê dat hy, Rissik en Joubert, asook die staatsprokureur Leyds almal die naam Johannes gedra het. 6

Paul Kruger.
W.J. Leyds.

Nog werk en posisies

Rissik het op 24 Junie 1903 ʼn lid van Transvaal se interkoloniale raad geword. Dié raad was onder meer vir die spoorweë, landmetery en polisiemag verantwoordelik.

Hy is in 1904 as lid van die nuwe Transvaalse regering verkies en was lid van ʼn kommissie wat na die finansiële verhoudings tussen die regering en plaaslike owerhede gekyk het.

Die Pretoria-stadsaal in 1890.

Hy is op 22 Februarie 1907 as Het Volk-lid vir die parlement vir noordsentraal Pretoria verkies. Net ʼn maand later (4 Maart 1907) is hy as minister van grondsake en minister van die destydse “naturellesake” aangestel. (Die woord “naturel” is ʼn vroeëre benaming vir ’n swart Suid-Afrikaner, maar ons gebruik dit nie meer vandag nie omdat dit ʼn rassistiese woord is.) Hy was ook lid van die uitvoerende raad van Transvaal. Rissik het selfs in daardie tyd die grond vir die bou van die Uniegebou aangekoop.

Rissik was vanaf 31 Mei 1910 die eerste administrateur van Transvaal en het in Julie 1917 uitgetree. Hy het toe die kommissaris van spoorweë en hawens geword, asook die kommissaris wat vir openbare skuld verantwoordelik was. Hy het albei dié poste tot sy dood beklee. 3

Woordbank

administrateur Die hoof van ʼn provinsiale uitvoerende mag.
dagsoom Die gedeelte van ʼn rif wat erts bevat en wat bo die grond sigbaar is.
delwerye Die plek of streek waar minerale of gesteentes soos goud en diamante meestal op ʼn oop terrein gedelf word.
erts ʼn Delfstof wat metale bevat.
landmeter ʼn Persoon wie se werk dit is om land te meet en dit op ʼn kaart aan te dui.
landmeter-generaal ʼn Amptenaar wat toesig hou oor die werk van landmeters en die register van ontroerende goed in ʼn bepaalde gebied.
lewensvatbaar Het ʼn goeie kans om voort te bestaan en ingang te vind.
geproklameer Iets amptelik bekend maak of aankondig.
regering Die bestuur van ʼn land.
standplase ‘n Stuk grond in ‘n dorpsgebied afgebaken deur die plaaslike owerheid as erf vir ‘n woning.
veldkornet ʼn Amptenaar in die bestuur van plaaslike sake wat in militêre, administratiewe, regterlike en polisie-aangeleenthede belangrike funksies vervul het.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die ontwikkeling van Johannesburg

Hoe het die mynwese in Johannesburg in die jare veertig gelyk?

Hoe moet stede beplan word sodat dit kan floreer?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 Augustus 2022 | Bygewerk op 26 Februarie 2024