Vinnige feite

  • Die Vallei van ʼn Duisend Heuwels is tussen Durban en Pietermaritzburg geleë. Daar is darem nie regtig ʼn duisend heuwels nie, maar dit word só genoem oor die baie heuwels en valleie in die gebied.
  • In die uKhahlamba-Drakensbergpark is rotstekeninge wat 4 000 jaar gelede deur die San-mense gemaak is. Hulle het bloed, melk, eiers en plante gebruik om verf te maak en met vere en dierehare op rotse geverf. Die San was lief daarvoor om diere, dansers, gevegte en jagtogte te skilder.
  • KwaZulu-Natal kry die meeste reën van al die provinsies omdat die Agulhasseestroom se warm water maklik verdamp en wolke vorm. KwaZulu-Natal kry gemiddeld amper 900 mm reën per jaar.
  • Die leerseeskilpad is die grootste seeskilpad ter wêreld en maak graag aan die kus van Zoeloeland nes. Elke nes bevat ongeveer 100 tot 200 eiers. Dié reuseskilpaaie kan tot 1,5 meter lank word en 600 kilogram weeg.
  • Die Comrades-marathon word elke jaar tussen Durban en Pietermaritzburg gehardloop. Duisende deelnemers vanoor die hele wêreld probeer om die 89 kilometer in minder as 12 ure te hardloop. Die eerste tien atlete kry elkeen ʼn medalje van soliede goud.
  • Die Midmarmyl-swemresies in die Midmardam naby Pietermaritzburg is die grootste in sy soort ter wêreld. Ongeveer 17 000 mense neem elke jaar daaraan deel.
  • Die taal wat deur die meeste mense in KwaZulu-Natal gepraat word, is Zoeloe. Dit is ook die huistaal wat die meeste in ons land gepraat word.
  • Die hoofstad van KwaZulu-Natal is Durban. Dit is ʼn gewilde plek om vakansie te hou, met baie hotelle, ʼn akwarium en strande waar branderplankryers reusebranders probeer tem. Die Botaniese Tuin is een van die stad se oudste besienswaardighede en is meer as 150 jaar oud. By die Victoriastraatmark kan jy enigiets van skoene tot lewendige hoenders koop.
  • Shaka was ʼn magtige Zoeloekoning met ʼn sterk leër wat met assegaaie geveg het. Hy was ʼn streng man: Almal wat nie na hom wou luister nie, is doodgemaak. Shaka het net 12 jaar regeer, maar hy het ʼn nasie gestig wat die geskiedenis van Suid-Afrika sou verander.
  • Byekorfhutte word deur die Zoeloes gebou. Dit word so genoem omdat dit net soos ʼn byekorf lyk. Toeriste wat meer van die Zoeloekultuur wil leer kan na Shakaland, naby Eshowe, gaan. Daar kan hulle in hutte slaap, tradisionele bier drink en na Zoeloedanse en stokgevegte kyk.
  • Ook mense hardloop met emmers en skottels die water in om soveel van die klein vissies te vang as wat hulle kan.
  • Piet Retief was die leier van ʼn groep Voortrekkers wat deur die Zoeloekoning Dingaan vermoor is nadat hulle vir ʼn stuk van sy grond gevra het. Tydens ʼn geveg teen duisende Zoeloes in Desember 1838 is soveel Zoeloekrygers dood dat die Ncomerivier daarna Bloedrivier herdoop is.
  • Daar woon baie Indiërs in KwaZulu-Natal. Hulle voorvaders is uit Indië ingevoer om onder baie moeilike omstadighede in die suikerrietplantasies te kom werk. Baie van dié mense wou na hulle geboorteland terugkeer, maar die plantasie-eienaars het dit onmoontlik gemaak en só is ’n Indiërbevolking in KwaZulu-Natal gevestig.
  • Die Zoeloes noem die Drakensberg met sy skerp bergspitse uKhahlamba. Dit beteken ʼn Muur van Spiese. In die winter is die berge spierwit van die sneeu en kan ʼn mens net soos in Switserland op sommige plekke gaan ski.
  • Die Drakensbergse Seunskool is ʼn wêreldberoemde musiekskool. Seuns vanoor die hele land word gekies om daarheen te gaan en in die Drakensbergse Seunskoor te sing. 4

Hoofstad: Ulundi/Pietermaritzburg

Bevolking: 11 513 575 1

Algemene huistale: Zoeloe en Engels

Dorpe in dié provinsie: Durban, Pietermaritzburg, Richardsbaai, Newcastle, Kokstad, Ladysmith, Dundee, Vryheid, KwaDukuza, Port Edward, Southbroom, Ramsgate, Margate, Port Shepstone, Uvongo, Umtentweni, Umzumbe, Hibberdene, Sezela, Pennington, Umzinto, Scottburgh, Umkomaas, Kingsburgh, Amanzimtoti, Umhlanga Rocks, Umdloti, Tongaat, Ballito, Shaka’s Rock

Verskillende streke

Die kusstrook

Durban en KwaZulu-Natal se noord- en suidkus is baie gewilde vakansiebestemmings vir mense van die Hoëveld en Zimbabwe, veral in die winter. Van April tot Oktober hou die warm Agulhasstroom, wat ʼn paar kilometer van die kus af suidwaarts vloei, die watertemperatuur op ʼn baie aangename 25 grade Celcius. Die see is ook veilig hier – swemmers word deur een van die beste haainetstelsels in die wêreld beskerm.

Durban se strandfront verwelkom vakansiegangers met strandvermaak asook met ontspannings-, verblyf-, en inkopiegeriewe. Dit is Suid-Afrika se derde grootste stad, ’n belangrike nywerheidsentrum en die land se belangrikste hawe vir algemene vrag. Die inwoners is waarskynlik die mees kosmopolitiese in die land en hier is meer mense van Indiese afkoms as in enige ander stad in die land. Hulle is hoofsaaklik nasate van die kontrakarbeiders wat vanaf die vroeë 1860’s van Indië af ingevoer is vir arbeid op Natal se suikerplantasies.

Suikerriet

Die sardientjieloop langs die suidkus is een van die merkwaardigste natuurwonders. Elke jaar tussen Junie en Julie kom groot skole sardientjies na die koeler waters teenaan die kus. Op hulle hakke volg groot swerms seevoëls en duisende sportvisse vir die hengelaars, wat elke moontlike goeie vangplek benut.

Die ou noordkuspad van Durban af loop al langs die kus en kruis die Mgenirivier by die Blue Lagoon, 5 km van die stad. Daarna gaan dit verby die Virginia-lughawe, wat genoem is na die dogter van sir Marshall Campbell, die eienaar van die suikerrietplantasie wat vir die ontwikkeling van die lughawe uitgekap is. Plaaslike boere het standplase op die seefront begin huur om strandhuise te bou, en in 1920 het Virginia en haar man ʼn hotel naby die mond van die Mhlangarivier gebou. Dit was die begin van die oord en woongebied Umhlanga Rocks. In 1970 het Umhlanga Rocks ʼn onafhanklike munisipaliteit geword en twee jaar later is La Lucia, ʼn woongebied na die suide, daarby ingelyf.

Dorpe in hierdie streek sluit in Durban, Port Edward, Southbroom, Ramsgate, Margate, Port Shepstone, Uvongo, Umtentweni, Umzumbe, Hibberdene, Sezela, Pennington, Umzinto, Scottburgh, Umkomaas, Kingsburgh, Amanzintoti, Umhlanga Rocks, Umdloti, Tongaat, Ballitobaai en Shaka’s Rock.

Umhlanga ligtoring

Die groen Middellande

Die Middellande van KwaZulu-Natal het nie soveel oorloë gehad soos die res van die provinsie nie. Maar daar was wel konflik. Eerstens het Shaka se Zoeloes in die 1820’s verskeie kleiner stamme weswaarts oor die Drakensberg verdryf. Tweedens herinner monumente by Bloukrans en Weenen aan die veldslae tussen die Voortrekkers en die Zoeloes wat nie net in Zoeloeland gebeur het nie. Die stryd om grond het nie oos of wes geken nie, net berge, riviere en valleie.

Karkloof-waterval in die Middellande

Maar toe die gewere, assegaaie en spiese gebêre is, is begin om die vrugbare valleie van die middelland te bewerk. Vandag is hierdie streek baie goeie bees- en suiwelwêreld. Die landskap bestaan uit groen weilande omsoom deur lanings bome van verskillende spesies, afgewissel deur groot hout- en wattelplantasies.

Dorpe in hierdie streek sluit in Camperdown, Hilton, Howick, Lionsrivier, Dargle, Caversham, Balgowan, Nottinghamweg, Rosetta, Mooirivier, Estcourt, Bergville, Winterton, Frere, Colenso, Weenen, Muden, Greytown, Hermannsburg, Kranskop, New Hanover, Dalton, Wartburg en Pietermaritzburg.

‘n Kunswerk van Oudpres. Nelson Mandela naby Howick

Zoeloeland

Zoeloeland lê in die noordweste van KwaZulu-Natal.

Zoeloeland het geen formele grense nie maar lê rofweg vanaf die Tugelarivier in die suide tot by die grens van Mpumalanga en weswaarts tot by die Drakensberg. Hierdie streek is van groot historiese belang – baie van die belangrike gebeure wat die karakter van die moderne Suid-Afrika gevorm het, het hier plaasgevind. Zoeloeland sluit in die tradisionele gebied van die beroemde Zoeloeleiers Shaka, Dingaan en Cetshwayo. Dit is die bakermat van die Zoeloevolk, met baie legendes. Die berghange en valleie is oortrek met ontelbare Zoeloedorpies waar die inwoners dikwels nog tradisionele gebruike volg. Die streek is vol gedenktekens van ʼn ontstuimige verlede. Monumente vertel van groot veldslae waarin die Zoeloes hul erfenis teen indringing deur Boer én Brit verdedig het.

ʼn Eeu of wat gelede was daar ook hewige gevegte tussen Boer en Brit in twee oorloë (1880 en 1899). Duisende besoekers, veral die nasate uit Brittanje van dié wat gesneuwel het, kom steeds hierheen om op die slagvelde in stilte te staan en in die begraafplase ʼn laaste huldeblyk te betoon.

Die eerste gevegte van die Anglo-Boereoorlog was naby die dorp Ladysmith, wat na ʼn Spaanse skoonheid vernoem is. Dié dorp is 118 dae lank deur die Boere beleër en sy naam het ʼn slagkreet in die strate van Brittanje geword. Die epiese weerstand tydens die beleg en die ontsetting van die dorp was, in die woorde van Winston Churchill, “beroemd tot in die verste uithoeke van die wêreld”. Die name van slagvelde soos Spioenkop, Colenso en Platrand is vir ewig op die gedenkplate van die tyd gegraveer om almal te herinner aan die besondere soort dapperheid en vasberadenheid wat albei kante in hierdie “laaste jintelmansoorlog” aan die dag gelê het.

In die noorde van hierdie streek staan die gedenktekens van ʼn baie vroeër stryd tussen Voortrekker en Zoeloe, een daar van die Slag van Bloedrivier. Suid van Bloedrivier, weerskante van die R68, lê die slagvelde van die Anglo-Zoeloeoorlog van 1879 waarin die Britse leër een van die grootste nederlae in sy geskiedenis gely het – by Isandlwana.

Skildery deur A.A. Telford en W.H. Coetzer

Vandag berus die ekonomie van hierdie deel van KwaZulu-Natal hoofsaaklik op beesboerdery en steenkoolmyne. Die vernaamste nywerheidsdorp is Newcastle, waar Iscor groot nywerhede het.

Dorpe wat deel van hierdie streek vorm, sluit in Ladysmith, Elandslaagte, Danskraal, Wasbank, Glencoe, Dundee, Dannhauser, Fort Mistake, Newcastle, Utrecht, Charlestown, Vryheid, Paulpietersburg, Louwsburg, Gingindlovu, Eshowe, Melmoth, Nkandla, Ulundi en Pomeroy.

Noordoos-KwaZulu-Natal

Die verre noordooste van KwaZulu-Natal word Maputaland genoem, ’n gebied van ongeveer 7 000 vierkante km wat begrens word deur die Lebomboberge, die Mosambiek-grens, die Indiese Oseaan in die ooste en die Tugelarivier in die suide. Die naam is afgelei van die Maputorivier in Mosambiek. Dit is ’n lae, plat, sanderige en moerasagtige wêreld wat sowat 100 miljoen jaar gelede deur seewater bedek was.

’n Kenmerk van die streek is die baie klein, vlak varswatermere en die oorloop van die rivier en strome. Net oos van die Lebomboberge is ’n wye en digte strook bome, hoofsaaklik akasiasoorte en ook die koorsboom en wildevy. Nader aan die kus is daar minder bome. Hier word die sanderige vlaktes met lang, digte gras bedek. Die kus word omsoom deur geweldige hoë beboste duine, gevolg deur ’n smal strook kuswoud.

Hierdie wildernis is ongerepte natuurwêreld. Die fauna sluit baie soorte wild in, soos krokodille en seekoeie, en meer as 200 voëlsoorte. Daar is vyf natuurreservate in die streek: Pongolapoort, Ndumo, Tembe Olifantpark, Sodwanabaai en Kosibaai.

Suid van Maputaland is nog mere. Een van hulle – St Lucia – vorm die kern van die iSimangaliso Vleilandpark, ’n wêrelderfenisgebied. Hier is ook wildtuine, vernaam die Mkhuze-wildtuin en die Hluhluwe-Imfolozi-park.

Vandag is groot dele van die suidelike helfte van die streek bedek met suikerriet, wattel- en ander plantasies. Suid-Afrika se grootste uitvoerhawe is in die 1970’s hier aan die kus by Richardsbaai ontwikkel.

Dorpe in hierdie streek sluit in Mtunzini, Empangeni, Heatonville, Richardsbaai, Kwambonambi, Mtubatuba, St Lucia, Hluhluwe, Ubombo, Pongolapoort, Sodwana, Golela, Pongola en Kosibaai.

Drakensberg

Die Drakensberg is die grens van die binnelandse plato van die land en loop rofweg noord-suid. Die bergreeks begin in die suide by ʼn punt oos van Dordrecht in die Oos-Kaap en eindig 1 000 km verder in die Limpopo-provinsie. Die grootste gedeelte van die berg – die KwaZulu-Natal-deel – is binne die uKhahlamba-Drakensberg-park,  ʼn wêrelderfenisgebied. Die park is nie net vir sy ysingwekkende hoogtes bekend nie, maar ook vir sy roofvoëls en plate San-rotskuns.

Belangrike geskiedkundige persone

Mahatma Ghandi en die geboorteplek van ‘satyagraha’

Mohandas Gandhi se filosofie van satyagraha (“mag van die waarheid”) – lydelike verset (passiewe weerstand) gegrond op die waarheid – het met die eeuwisseling in die suikerplantasies van Natal ontstaan.

Mohandas Karamchand Gandhi (later bekend as Mahatma, wat beteken Groot Gees) het in 1893 in Durban aangekom as 24-jarige prokureur vir ʼn Indiër-maatskappy met belange in Suid-Afrika. Kort ná sy aankoms het die Natalse en Transvaalse regerings wette begin afvaardig wat die regte van die Indiërgemeenskap beperk het. Baie van hierdie Indiërs se voorsate is in die 1860’s uit Indië ingevoer as ingeskrewe arbeiders vir die suikerrietplantasies van Natal.

Gandhi se huis in Sarvodaya quarter, Durban

Sy regswerk was byna afgehandel toe hy in ʼn voorval betrokke was wat hom laat besluit het om in Natal aan te bly om die Indiërs te help in hulle stryd teen die diskriminerende maatreëls. Hy het ʼn eersteklas-treinkaartjie gekoop om na Johannesburg te reis vir sake. Die reis het egter skaars begin, toe hy van die trein afgesit is weens sy kleur. In plaas van ʼn gerieflike rit na Johannesburg, het hy ʼn koue nag in die wagkamers vir “gekleurdes” by die stasie op Pietermaritzburg deurgebring.

In die vroeë 1900’s het hy verskeie lydelike versetveldtogte geloods, wat ’n hoogtepunt bereik het in sy verset teen die Immigrasiewet van 1914. Gandhi het stakings op die steenkoolvelde en suikerplantasies georganiseer en ʼn opmars van Indiërs van Natal na Transvaal gelei om protes teen hierdie maatreëls aan te teken. Hy is verskeie kere gearresteer.

Die situasie is ontlont deur ʼn kommissie van ondersoek en ʼn ooreenkoms tussen generaal Jan Smuts en Gandhi in 1914, wat op die Indiërs Verlichting Wet uitgeloop het. Gandhi het kort daarna na Indië teruggekeer. Tydens sy verblyf van 21 jaar in Suid-Afrika was hy ook aktief op ander terreine. In 1903 het hy die weekblad Indian Opinion begin uitgee, wat van 1904 af by Phoenix gedruk is en waar hy ook ʼn gemeenskapslandbouprojek vir Indiërs begin het.

Mahatma Gandhi

Albert John Luthuli – SA se eerste wenner van die Nobelprys vir Vrede

Albert John Luthuli, Zoeloehoofman, onderwyser, politikus en ANC-voorsitter in die 1950’s, het in 1961 die Nobelprys vir Vrede ontvang as voorstander van ʼn vreedsame oplossing vir Suid-Afrika se politieke en rasseprobleme.

Sy aristokratiese familie het altyd naby Groutville gewoon, maar hy is in 1898 in Bulawayo gebore. As ʼn jong seun het hy na die sendingstasie by Groutville teruggekeer waar sy oom stamhoof in een van die distrikte was. Nadat hy sy skoolloopbaan by Edendale naby Pietermaritzburg voltooi het, het hy ʼn onderwyser geword en 15 jaar lank by Adams College skoolgehou. In 1935 het die regering hom as hoofman van die Groutville-streek aangestel waar hy spoedig met sy doeltreffende administrasie die respek van sy mense gewen het. In hierdie tydperk het hy ʼn internasionale sendingkonferensie in Madras, Indië, bygewoon en ʼn lesingtoer oor Christelike sendingwerk in die VSA onderneem.

In 1946 is hy tot die Naturelle Verteenwoordigende Raad verkies – dié raad het bloot ’n raadgewende funksie gehad. In die oorblywende vyf jaar van hierdie raad se bestaan is Luthuli se toesprake deur gematigdheid gekenmerk, maar hy het ook die versetveldtog ondersteun wat protes aangeteken het teen die vele nuwe apartheidswette ná 1948. As vergelding het die regering hom in 1951 as hoofman ontslaan, maar die volgende jaar is hy as nasionale voorsitter van die ANC verkies. Vanweë sy volgehoue teenstand teen die apartheidstelsel in die volgende dekade het die regering verskeie beperkings op sy vryheid van beweging geplaas.

Hy is in 1958 die laaste keer tot voorsitter van die ANC herkies. Sy uitgesproke verwerping van geweld het die jong, radikale Afrikaniste in die organisasie geleidelik van hom vervreem. In 1960 het hy nie die stigting van Umkhonto we Sizwe (“Spies van die Nasie”), die gewapende vleuel van die ANC gesteun nie. Hierdie beweging het ʼn veldtog van geweld teen apartheid begin. Baie is van mening dat hy tot in 1960 – toe die ANC verban is – die mees getroue verteenwoordiger van die ANC se beleid van vreedsame teenstand gebly het. 2

In 1962 het hy die vryheidstryd van die swart mense van Suid-Afrika in sy outobiografie, Let My People Go, beskryf. Hy is in 1967 oorlede toe hy naby sy huis deur ʼn trein raakgery is.

Albert John Luthuli

Dick King verewig sy naam

Dick King was op 25 Mei 1842 aan boord van die Mazeppa in die Durban-hawe toe hy hierdie belangrike boodskap ontvang het:  As hy Grahamstad, sowat 900 km ver, nie binne dae kon bereik om hulp by die soldate daar te vra nie, sou ʼn hele Britse garnisoen moes oorgee.

ʼn Britse garnisoen onder kaptein Thomas Smith het pas tevore uit die Kaap aangekom om Port Natal te beset. Op daardie stadium was Port Natal deel van die Voortrekkerrepubliek Natalia met Pietermaritzburg as hoofstad, ongeveer 50 km binneland toe. Die Britte het hul vesting sowat 1 km van die baai af gebou, waar hulle omsingel is deur ʼn sterk Voortrekkermag uit Pietermaritzburg wat die onafhanklikheid van hulle jong republiek wou verdedig. Hierdie Britse soldate het hulp uit Grahamstad nodig gehad.

Durban

Dit was nog donker toe King en sy 16-jarige swart helper, Ndongeni, op ʼn reis vertrek het wat die meeste mense sou afskrik. Voor hulle het 900 km van onbekende gebied gelê. Ongeveer halfpad Grahamstad toe het Ndongeni besluit om om te draai. Hy was sonder ’n saal of stiebeuel omdat hy op die ingewing van die oomblik besluit het om King te vergesel.

King het Grahamstad ná tien dae bereik en versterkings vir die beleërde garnisoen in Durban het Grahamstad ʼn paar dae later verlaat. King het op 24 Junie met ʼn skoener na Durban teruggekeer. Twee dae later, ʼn maand nadat hy vertrek het, is die beleg beeïndig met die Slag van Congella.

Albei ruiters het grond as beloning vir hulle dapperheid ontvang – Ndongeni aan die oewer van die Mzimkulurivier, waar hy ook later begrawe is. King het grond gekry by Isipingo, suid van Durban, waar hy ʼn suikermeul bestuur het voordat hy in 1871 oorlede is.

Die Slag van Majuba

Teen 1872 was die administrasie en finansies van die 20-jaar-oue Transvaalse republiek in ʼn staat van wanorde. Dit het Brittanje die ideale geleentheid gegee om Transvaal op 12 April 1877 te annekseer. Op 16 Desember 1880 het ʼn groep Transvaalse burgers by Paardekraal naby Krugersdorp byeengekom en ʼn gelofte afgelê dat hulle sou veg om hul onafhanklikheid te herwin. Elke man het as blyk van sy erns ʼn klip op ʼn stapel geplaas.

Die Britse magte wat in Transvaal gestasioneer was, is maklik in drie gevegte verslaan – by Heidelberg, waar die Transvalers ʼn voorlopige regering onder Paul Kruger, M.W. Pretorius en Piet Joubert ingestel het; by Potchefstroom; en by Bronkhorstspruit, oos van Pretoria. Die Transvalers het toe ʼn sterk mag onder bevel van generaal Piet Joubert by Laingsnek net binne die Natalse grondgebied geplaas om enige moontlike versterkings van die kus af te stuit. Die versterkings het inderdaad gou opgedaag – 4 000 man onder generaal sir Pomeroy Colley, goewerneur van Natal.

Generaal Piet Joubert

Colley het eers sonder sukses op 28 Januarie (Laingsnek) en 8 Februarie 1881 (Ingogo-hoogte) die Boere se verdediging getoets. Toe besluit hy om die vyand se mag van ongeveer 3 500 man uit die weste te benader. Gedurende die nag van 26 Februarie het hy en 554 man Majuba (“heuwel van die duiwe”) uitgeklim. Die heuwel van 760 m kyk af op Laingsnek, wat toe in die hande van die Transvalers was. Met dagbreek het hy ʼn goeie uitsig op die vyand se stellings gehad, maar hy kon nie op hulle vuur nie omdat dit onmoontlik was om sy grofgeskut teen die steil helling uit te sleep.

George P. Colley

Generaal Joubert se vrou het glo eerste die Britse magte op die koppie gesien. Joubert het dadelik sy manne beveel om die Britte te verdryf. ʼn Kommando van sowat 150 man in drie afdelings het 07:00 die oggend begin klim. Hulle het van lys tot lys geveg en akkurate vuur volgehou op die Britte wat duidelik teen die horison te sien was en nêrens kon skuil nie. Aan die einde van daardie dag was 92 Britse soldate dood en 134 gewond. Colley self het gesneuwel. Aan die Transvaalse kant is een man dood en nog een het later aan sy wonde beswyk.

Die Slag van Majuba was die einde van die eerste oorlog tussen Brittanje en Transvaal. Op 23 Maart 1881 is ʼn ooreenkoms onderteken om die republiek se onafhanklikheid onder Britse soewereiniteit te herstel. Hierdie ooreenkoms is onderteken in O’Neil se huisie op die plaas Stonewall teen die hange van Majuba. Majuba en die huis is nasionale gedenkwaardighede.

ʼn Paar eerstes op wiele

Suid-Afrika se eerste trein en eerste riksja het in Durban geloop.

Die eerste spoorlyn is in 1860 oor ʼn afstand van 3 km tussen die dorp en die Punt aan die noordekant van die baai gebou. Ses jaar later is die lyn na Umgeni verleng, waar klip vir die hawewerk beskikbaar was. Die trein en stoomlokomotief is stuk vir stuk van Brittanje af ingevoer en in Durban deur die drywer Henry Jacobs aanmekaargesit. Ná die inwydingsrit op 23 Junie 1860 het die trein drie retoerritte per dag tussen Durban en die Punt afgelê. ʼn Span osse was altyd byderhand ingeval die lokomotief onklaar sou raak.

Voorbeeld van ‘n riksja

Riksjas was vir lank ʼn unieke vervoermiddel in die strate van Durban. Die eerstes is in 1893 deur sir Marshall Campbell, ʼn suikermagnaat, uit Japan ingevoer. Hy het dit in tweesitplekmodelle omgebou en Zoeloes opgelei om dit te trek. Hulle is ook geleer om hullself en hulle rytuie te versier. Riksjas het een van die groot toeriste-aantreklikhede in die stad geword.

Die riksjas het die toppunt van hulle gewildheid in die 1930’s bereik toe meer as 1 000 van hierdie ryklik-versierde voertuie deur die strate van die stad gewemel het. Elke jaar is ʼn kompetisie gehou om die riksja en trekker met die beste mondering te kies. Die einde van hierdie vervoermiddels het ná die Tweede Wêreldoorlog gekom. Die verkeersafdeling het nooit van die riksjas gehou nie en die Zoeloes het in die ná-oorlogse nywerheidsoplewing beter werk in fabrieke gekry. Teen die middel van die 1970’s het die riksjas byna heeltemal verdwyn. ʼn Paar het oorleef en word meestal in die vakansieseisoen langs die strand gebruik. 3

Woordbank

kosmopolitiese ’n Plek waar daar mense van baie verskillende lande woon en waar mense baie verskillende gewoontes en idees het
bakermat Die plek waar iets ontstaan of ontwikkel het of waar iemand sy of haar opvoeding gekry het. 5

By hierdie skakel kan jy kyk hoe dit in die Hluhluwe-Imfolozi-park lyk en ook na video’s van die diere kyk

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Februarie 2022 | Bygewerk op 5 Maart 2024