Vinnige feite

  • Dingaan het koning van die Zoeloes geword nadat hy met die hulp van sy halfbroer Mhlangana hul ander halfbroer Shaka vermoor het. Kort nadat Shaka vermoor is, het Dingaan ook vir Mhlangana laat vermoor. Daarna het hy die rol as heerser van die Zoeloes oorgeneem. 5
  • Piet Retief is deur Dingaan se soldate vermoor nadat hulle ’n ooreenkoms oor grond aangegaan het.
  • Dingaan het in 1829 vir hom ’n nuwe kraal laat bou en dit Umgungundlovu genoem. Hier het hy tot met sy dood in 1840 gewoon. Dit staan vandag nog en is ‘n toeristebestemming in KwaZulu-Natal.

Dingaan was van 1828 tot 1840 koning van die Zoeloes. Hy was hoofsaaklik bekend vir sy gevegte teen die Voortrekkers en veral vir die moord op Retief en sy geselskap.

Dingaan (ook bekend as Dingane ka Senzangakhona) is in 1795 in Zoeloeland (wat vandag as KwaZulu-Natal bekendstaan) gebore. Sy pa was stamhoof Senzangakhona, koning van die Zoeloes, en sy ma was Mpikase kaMlilela Ngobese, Senzangakhona se sesde en “Groot Vrou”, oftewel hoofvrou. Sy pa het altesaam sestien vroue getrou en het veertien seuns gehad. Sy dogters se name is egter nêrens aangeteken nie.

Mthonjaneni-hoogtes gesien vanaf eMakhosini-monument, eMakhosini-vallei, noordelike KwaZulu-Natal. Die naam verwys na ‘n fontein waaruit koning Dingane se diensmeisies sy water, 6 km soos die kraai vlieg, by sy ikhanda gaan haal het. Dit is in die boonste grasveldgebied geleë. Hier het die Wenkommando ook op 20 Desember 1838 aangekom en die ikhanda in vlamme gesien
Herboude wonings naby die hoofingang van uMgungundlovu. Die oorspronklikes sou waarskynlik Dingane se impi’s onder Dambuza se bevel gehuisves het
Die herboude iNdlunkulu (groot gehoorsaal) en iLawu / iLawo (private oornaghut, links) van Dingaan in die swart-isiGodlo (vroue-elite se woonkwartier), te Dingaanstat, KwaZulu-Natal

Dingaan se jeugjare

Daar is min maar min bekend oor Dingaan se jeugjare. Die eerste keer toe sy naam deel van die geskiedenis geword het, was toe hy met die hulp van sy halfbroer Mhlangana hul ander halfbroer, Shaka, vermoor het.

Shaka was in hierdie stadium koning van die Zoeloes. Hy was die seun van Senzangakhona se derde vrou, Nandi, en het die Zoeloe-koninkryk in 1816 oorgeneem ná sy pa se dood.

Kort nadat Shaka vermoor is, het Dingaan ook sy halfbroer Mhlangana laat vermoor. Daarna het hy die rol as heerser van die Zoeloes oorgeneem. 1

Shaka

Beginjare van Dingaan se regering

Nadat Shaka en Mhlangana albei vermoor is, het Dingaan ’n boodskap na die handelaars in Port Natal gestuur om te sê dat hy in vrede met hulle wil saamleef.

Hy het ook besef dat hy ’n weermag sou moes kry om hom te beskerm wanneer Shaka se groot impi (Zoeloeleër) terugkeer en hoor dat hul leier deur Dingaan vermoor is. Dingaan het die jong seuns en alle ander mans wat in die kraal oor was vir sy leër gekies. Daar was twee afdelings: Die jonger mans in die Mnyama-groep (swart skilde en waarskynlik ook rooi skilde) en die ouer mans in die Mhlophe-groep (wit skilde).

Oorkant die rivier het die hoof-impi (met wit skilde), onder bevel van generaal Ndhlela, Dingaan se bevelvoerder, gestaan en kyk hoe die jonger impi (met die rooi en die swart skilde) die Trekkers bestorm en aanval. 2

Toe Shaka se leër terugkeer, was hulle verstom om te hoor van die moord op Shaka. Dingaan het hulle beloof dat hulle ’n makliker lewe gaan hê as onder Shaka. Hulle sou die buit kon hou wat hulle tydens gevegte kry en hulle sou ook mag trou. Onder Shaka se regering mag geen soldaat getrou het terwyl hy in die leër was nie.

Die meeste soldate het dit so aanvaar, maar die hoofman van die leër, Mdlaka, het beswaar gemaak. Hy is in sy hut verwurg en Ndhlela het hom as hoof van die leër opgevolg. 1

Shaka se lyk is deur sy sluipmoordenaars in ‘n leë graanput gestort en met klippe en modder gevul. Die presiese ligging is onbekend. ’n Monument is op die beweerde terrein gebou

Dingaan se nuwe blyplek

Dingaan het in 1829 vir hom ’n nuwe kraal laat bou en dit Umgungundlovu genoem. Hier het hy tot met sy dood in 1840 gewoon.

Die koninklike kraal van die Zoeloe-koninkryk, Umgungundlovu (‘die plek van die Groot Olifant’). Dit is gebou op ‘n skuins heuwel wat aan twee kante deur twee strome begrens is. Die kraal was omring deur ‘n heining van meer as twee myl in omtrek en het byna 1500 hutte bevat, elk wat 20 krygers kon hou

 

William Wood, wat as tolk vir die sendeling eerwaarde Francis Owen opgetree het, het die kraal so beskryf:

“Dit was in ’n sirkel gebou met twee ingange en met bosse omhein. Dingaan se hut was regoor die een ingang, diep in die kraal in en agter sy hut was die hutte van sy vrouens. Regs en links van die twee ingange was die hutte van Dingaan se twee hoofraadgewers (indoenas), Ndlela en Dambuza. Daar was vier beeskrale in die kraal en vier hutte wat op pale gestaan het waarin die soldate se wapens gebêre was.

Met Dingaan as regeerder, kon die Inwoners van Zoeloeland hulself vestig en rykdom opbou omdat hulle nou kon boer. 1

Dingaan tuis
Dingaan se dansmeisies

Dingaan en die Portugese handelaars

Dingaan het begin om al hoe meer met Portugese handelaars van Port Natal handel te dryf. Hy het blykbaar dikwels beeste en beesvelle vir gewere en ammunisie geruil. 1

Dingaan en die Britte

Dingaan was bang dat hy en sy mense baie sal verloor as hulle met Europeërs moet oorlog maak. Daarom het hy in 1830 ’n ekspedisie na die Kaap gestuur om solank vriende te maak met die Britse regering daar. Hulle het op 21 November 1830 in Grahamstad aangekom en vier olifanttande vir die Britse kommissaris gegee. Dingaan se verteenwoordiger het vir die Britte gesê dat hy in vrede met hulle wil leef en ook met hulle wil handel dryf. Hy het gesê dat Dingaan die handelaars sal beskerm en dat hy ook graag ’n sendeling in Natal wil hê.

In Januarie 1832 het die Britse regering in die Kaapkolonie ’n bekende ontdekkingsreisiger, dr. Andrew Smith na Zoeloeland gestuur. Hy was baie geesdriftig oor die groen gras en vrugbare grond van Natal toe hy terug was in die Kaap. 1

Dingaan en die Voortrekkers

Dingaan en Piet Retief

Retief het op 5 November 1837 die eerste keer na Dingaan se woonplek gegaan. Hy wou met hom gesels oor ’n woonplek vir die Voortrekkers. Voor hierdie besoek het Retief reeds op 19 Oktober ’n brief aan Dingaan geskryf waarin hy, onder meer, gesê het dat die Voortrekkers baie graag in vrede met die Zoeloes wil saamleef.

Dingaan het nie regtig geweet hoe om die versoek oor grond vir die Voortrekkers te hanteer nie en hy het hulle waarskynlik ook nie vertrou nie. Toe Retief op 6 November deur hom ontvang is, het hy vir hom gesê dat die Voortrekkers die Zoeloes se vee gesteel het. Retief het vir hom gesê dat die vee deur die Tlokwastam van Sekonyela gesteel is. (Dingaan het dit eintlik self geweet).

Dingaan en Retief, op ‘n paneel by die Voortrekkermonument

Dingaan het beloof om die grond tussen die Tugela- en Umzimvuburivier aan die Voortrekkers te gee as hulle die gesteelde vee vir hom terugbring. Retief het ingestem om dit te doen en het die ooreenkoms in ’n brief met die datum 18 November bevestig.

Retief het op 27 November 1837 weer by sy trek aangekom. Terwyl hy weg was, het sy mense solank aanbeweeg en op 14 November 1837 het die eerste waens reeds teen die Drakensberg begin afbeweeg.

In Januarie 1838 het Retief die gesteelde vee by Sekonyela gaan terughaal en hy en sy kommando was op 11 Januarie weer terug by sy trek. 3

Retief se dood

Nadat Dingaan se vee teruggevind is, kon Retief verder gaan met sy onderhandeling met Dingaan.

Die Voortrekkers het op 16 Januarie 1838 ’n volksvergadering gehou om te besluit wie namens hulle met Dingaan moet gaan onderhandel.

Maritz het die Zoeloekoning nie vertrou nie en wou nie hê dat Retief weer gaan nie omdat Retief die hoofleier van die Voortrekkers was en homself nie in gevaar moes stel nie. Maar Retief se mening was dat hy self weer moes gaan. Hy het gesê dat Dingaan hulle mag wantrou as iemand anders opdaag om verder te onderhandel.

Retief wou aanvanklik 200 mans saam met hom neem op die besoek. Uiteindelik het hy met ongeveer 60 mans vertrek. (Sommige bronne sê dat daar 100 mans saam met Retief vertrek het).

1916 film, De Voortrekkers (of Winning a Continent in the VSA). Dit is vervaardig deur African Film Productions Bpk., uit ‘n teks wat deur Gustav Preller geskryf is en deur Harold Shaw van die London Film Company vervaardig is. Die film is vrygestel tydens die 1916 Dingaansdagvieringe by Paardekraal, Krugersdorp

Daar was ook ander mense wat Dingaan nie vertrou het nie. Daar was ’n Engelse smous met die van Thompson wat die Voortrekkers teen verraad deur Dingaan gewaarsku het. 2

Op Saterdag 3 Februarie 1838 het Retief by Dingaan se vesting aangekom. Die volgende dag is die ooreenkoms tussen Dingaan en Retief gesluit. Daarvolgens sou Dingaan grond aan die Voortrekkers gee. Hierdie grond was die plek wat Port Natal ingesluit het, asook die grond tussen die Tugela en Umzimvuburivier. Hierdie ooreenkoms is in Engels geskryf en is 4 Februarie 1838 gedateer. 2

Retief wou die Maandag vertrek, maar Dingaan het hom genooi om die volgende dag eers ’n dansvertoning van sy soldate by te woon. Tydens hierdie geleentheid het Dingaan skielik sy mense beveel om die Voortrekkers aan te val en almal is doodgemaak. Die datum was 6 Februarie 1838.

Die sendeling Francis Owen het reeds vanaf Augustus 1837 in die omgewing gewoon en sendingwerk gedoen. In sy dagboek is die presiese gebeure van die Retief-moord aanteken en kon die nageslag leer wat met Retief en sy mense gebeur het. 2

Koning Dingaan se koningstat genaamd uMgungundhlovu, met die isigodlo vir die koning en sy harem aan die bopunt van die groot sirkel. Buite die sirkel, heel bo, was die huisvesting van die koningsregimente of amabutho

Moontlike redes vir Dingaan se optrede

Dingaan was waarskynlik bang vir ’n groot groep “bure” wat sterk was en ook sterk wapens in die vorm van vuurwapens gehad het. Die feit dat die Voortrekkers reeds oor die Drakensberg begin trek het voor die onderhandeling afgehandel was, was sekerlik ook ’n rede. Hy het ook geweet dat die Voortrekkers reeds vir Sekonyela en ook vir Silkaats verslaan het en dit sou hom dus versigtig gemaak het. 2

Dingaan se lofsanger

Verdere botsings tussen die Voortrekkers en Dingaan se Zoeloe-impi

Bloukrans en Italeni

Nadat Retief vermoor is, het die Zoeloes in die rigting van die Voortrekkers beweeg met die doel om hulle aan te val. Die families wat by Bloukransrivier en Moordspruit gestaan het, is eerste aangeval en uitgemoor.

Op 6 April 1838 het ’n kommando van 347 mans onder leiding van Piet Uys en Hendrik Potgieter vertrek om Piet Retief se dood te wreek. Op 10 April was daar by Italeniberg ’n geveg teen die Zoeloes. Die kommando is verslaan sodat hulle na die laer moes terugvlug. Uys en sy seun Dirkie en nog nege mans het gesterf. 2

Bloukrans aanval voor dagbreek

Slag van Bloedrivier

Op 24 November het die strafkommando teen Dingaan na Zoeloeland vertrek. Pretorius was nou die leier van 470 mans met 64 waens.

Op Saterdag 15 Desember het hulle tot by die Ncomerivier gevorder waar hulle ’n laer gevorm het. Die geveg het op Sondag 16 Desember 1838 plaasgevind. 2

Skildery deur A.A. Telford en W.H. Coetzer

Daar was ongeveer 10 000 Zoeloekrygers wat in groepe op die laer afgestorm het, maar hulle is elke keer deur die Voortrekkers teruggedryf. Nadat daar vir ongeveer twee uur geveg is, het Pretorius die bevel gegee dat die hekke van die laer oopgemaak moes word. Toe het perderuiters op die Zoeloes afgejaag en hulle uiteindelik verdryf. 2

Pretorius het sy kommando agter die Zoeloes laat aanry tot by Dingaan se stat Umgungundlovu wat ongeveer 70 km vanaf Bloedrivier was. Die stad was heeltemal verlate en afgebrand. Op die koppie waar Retief en sy mense vermoor is, het hulle die verweerde leertas gekry waarin die ooreenkoms tussen Retief en Dingaan nog was. Volgens hierdie ooreenkoms het Dingaan die land tussen die Tugela- en Umzimvuburivier en tussen die see en die Drakensberge aan die Voortrekkers gegee. 4

Verdrag tussen Retief en Dingaan

Die einde van Dingaan

Nadat Dingaan en sy mense vanaf Umgungundlovu gevlug het, het hulle die Britte by die Tugelarivier aangeval asook die Britte by Port Natal.

In September 1839 het ’n ander halfbroer van Dingaan, Mpande, saam met sy volgelinge na Natal getrek. Die Voortrekkers het hom as die leier van die Zoeloes aanvaar. Hulle het ’n ooreenkoms met Mpande aangegaan om saam met hulle vir Dingaan aan te val. In Februarie 1840 het Mpande vir Dingaan in die Maqongqo-heuwels naby die grens van Swaziland verslaan.

Dingaan het Noord oor die Pongolarivier gevlug. Daar word geglo dat hy in Februarie 1840 in die Lebomboberge doodgemaak is. 1

Graf van Nkosinkulu, dit wil sê Zulu kaMalandela, die stigter van die Zoeloe-nasie, naby die hoofingang van uMgungundlovu, KwaZulu-Natal

Woordbank

ekspedisie Lang reis wat deeglik beplan is, veral na ’n onbekende en gevaarlike plek. 6
impi ‘n Groot groep Zoeloe-krygers, gewoonlik met assegaaie gewapen.
Kaapkolonie ’n Gebied wat deur ’n ander land oorheers word.

Lees die volgende artikel om nog meer te leer oor die Slag van Bloedrivier

Kyk na die volgende video om nog meer te leer

Die verskillende Zoeloe-konings.

Gepubliseer op: 3 Junie 2022 | Bygewerk op 25 Oktober 2023