Vinnige feite

Cetshwayo
  • Die Zoeloes het steeds groot agting vir hulle voormalige koning, en Cetshwayo se graf in die Nkandlabos word steeds bewaar en vereer. 1
  • In die slag van Isandlwana in Januarie 1879 is 52 Britse offisiere, 727 blanke Britse soldate en 471 swart soldate wat deel van die Britse mag was, deur Cetshwayo se soldate doodgemaak. 5
  • Sir Theophilus Shepstone het vlot Zoeloe gepraat. 3
  • Op die plek waar Cetshwayo tuisgegaan het toe hy Engeland besoek het – Melburyweg 18 in Holland Park – is daar in 2006 ʼn gedenkplaat teen die muur opgesit om sy besoek te herdenk. 6
  • Volgens bronne was Cetshwayo ʼn intelligente man met ʼn sterk karakter. 7
  • ʼn Isicoco is ʼn ring wat van gras gevleg word en wat deur getroude mans om hulle koppe gedra word. Hierdie hoofring was meestal ook ʼn teken van status. 9

Cetshwayo kom uit ʼn familie van bekende Zoeloeleiers. Hy het daardie tradisie voortgesit – hy was ʼn goeie leier met baie mag wat ook wrede dinge gedoen het om seker te maak dat sy mense hom steeds as ʼn sterk leier beskou het.

Die jong seun

Cetshwayo is in 1826 in Zoeloeland gebore. Die presiese dag van sy geboorte is nie bekend nie. Kom ons kyk wie was van sy familie – jy sal van die name herken! Sy volle name is Cetshwayo kaMpande – die kaMpande verwys na sy pa, Mpande. Sy ma se naam was Ngqumbazi. Mpande was die seun van Senzangakhona, en Mpande se broers was Dingaan en Shaka.

Cetshwayo het as jong seun in die omgewing van Kranskop grootgeword, ʼn pragtige deel van Zoeloeland, vandag KwaZulu-Natal. Hier was dit sy werk om sy pa se vee op te pas.

Zoeloekoning Dingaan

Hy het ʼn groot bewondering vir sy oom Shaka gehad en het al die stories gehoor oor hoe Shaka ander stamme uitgewis (doodgemaak) het terwyl hy besig was om van die Zoeloevolk ʼn sterk koninkryk te maak. Hy het ook gehoor van gebeure soos toe Piet Retief en sy groep Trekkers doodgemaak is. Dit was vir hom heldedade, en hy het dus waarskynlik grootgeword met die idee dat menselewens nie baie werd is nie. Hy het ook grootgeword as die moontlike troonopvolger van sy pa, Mpande, en het die militêre opleiding gekry wat elke jong Zoeloe moes kry.

In ongeveer 1853 het hy reeds sy dapperheid gewys toe hy as bevelvoerder van ʼn groep Zoeloesoldate aan ʼn veldtog teen Swazi’s deelgeneem het. Op ʼn stadium het hy manalleen (op sy eie) ʼn klomp Swazikrygers aangeval, ʼn klomp doodgemaak en die res verjaag. Hierdie dapper optrede van hom het hom natuurlik gewild onder die ander Zoeloes gemaak. 1

Prins Dabulamanzi KaMpande, Cetshwayo se halfbroer wat die bevelvoerder by Rorke’s Drift en Gingindlovu was.

Die stryd oor wie koning gaan word

Omdat Mpande – soos die gebruik onder die Zoeloes was en vandag steeds is – baie vrouens gehad het, was Cetshwayo nie die enigste seun wat uiteindelik koning kon word nie.

Op ʼn stadium het dit gelyk of Mpande daaraan begin dink om sy seun Mbuyazi die troonopvolger te maak. Daarom het Cetshwayo Mbuyazi op 2 Desember 1856 aangeval en verslaan. In sommige bronne word gesê dat Cetshwayo sy broer doodgemaak het. Dit het sy aansien onder die Zoeloes verder laat styg omdat hy na ʼn dapper en sterk leier gelyk het. Hy het selfs meer steun onder die Zoeloes begin kry as sy vredeliewende pa.

Later was daar nog ʼn seun aan wie Mpande baie aandag begin gee het, hierdie keer een van die jonger seuns, Mthonga. Weer het Cetshwayo planne gemaak om sy halfbroer Mthonga aan te val, maar hy en nog ʼn broer het betyds gevlug voordat Cetshwayo hulle kon doodmaak. 1

Cetshwayo het eintlik al vanaf 1861 oor die Zoeloes begin heers toe sy pa ouer word. Toe Mpande op 18 Oktober 1872 sterf, het Cetshwayo amptelik die nuwe koning geword. Hy is ook as koning deur die Britse regering wat op daardie stadium Natal as ʼn Britse kolonie regeer het, erken. 2 Mpande se graf is in die Nodwengu-museum in Ulundi, in vandag se KwaZulu-Natal. 3

Cetshwayo het twee kroningseremonies gehad – een saam met die Zoeloes en een waar sir Theophilus Shepstone (op daardie stadium Britse kommissaris in Transvaal) teenwoordig was. Tydens die tweede seremonie het die hoofraadslid van Mpande – Masiphula – Cetshwayo as koning aangekondig. Dit sou sy laaste amptelike plig wees. Cetshwayo het hom as ʼn bedreiging beskou, maar hy kon hom nie openlik laat doodmaak nie omdat hy ʼn baie prominente en magtige persoon onder die Zoeloes was. Daarom het hy vir die vrouens wat vir Masiphula bedien het, beveel om gif in sy bier te gooi. Masiphula het daarvan gedrink, en daardie selfde dag is hy dood. 3

Cetshwayo gebruik die Westerse kultuur

Cetshwayo het besef dat hy goeie verhoudinge met Natal en die Britse regering moet opbou en behou. Hy het ook besef dat hy elemente (eienskappe) van die Westerse kultuur wat sy status en mag kan versterk, moet gebruik. Hy het nie baie positief gevoel oor al die handelaars en veral die sendelinge in sy gebied nie, maar hy het ook besef dat hy die beste van die koloniale wêreld, wat sy bure was, moet maak. Sy besluit om Shepstone te nooi om sy kroning as koning te kom bywoon, was deel van sy poging om op goeie voet met sy blanke bure te bly. 3 Hy het ook besef dat vriendskap met die Britte hom kan help teen die Voortrekkers se uitbreiding in die rigting van Natal.

Een van die Westerse voorwerpe wat Cetshwayo begin gebruik het, is vuurwapens. Hy het besef dat die gebruik van vuurwapens sy mag kan help uitbrei. John Dunn, ʼn jagter-handelaar, het sy kans waargeneem en baie vuurwapens vir die Zoeloes gegee in ruil vir beeste wat hy dan weer in Natal gaan verkoop het. Bronne verskil oor hoeveel vuurwapens daar gedurende die tyd waarin Cetshwayo regeer het in Zoeloeland ingebring is, maar daar word geskat dat daar teen Augustus 1878 ongeveer 200 000 vuurwapens in Zoeloeland was. 3

1) N’Dabuka, Cetshwayo se broer;
2) Een van Cetshwayo se vrouens;
3) Dabulamanzi, Cetshwayo se broer;
4) Hoofman Dunn se manne – deel van die Zoeloe-deputasie van 1 600 wat ingekom het om te vra vir die terugkeer van die koning.

Brittanje en die Zoeloes maak oorlog

Cetshwayo het sy militêre mag uitgebrei totdat hy naderhand 40 000 soldate gehad het wat in amabutho (ouderdomsgroepe of -regimente) ingedeel was. Hierdie sterk leër van hom was juis wat later tot sy val (einde van sy regeertyd) sou lei omdat die Britse regering hom as ʼn bedreiging vir hulle regering in Natal beskou het. 4

ʼn Paar minder ernstige voorvalle waar Cetshwayo se volgelinge moeilikheid op die grens met Natal gemaak het, het vir sir Bartle Frere, wat in Maart 1877 as Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika aangestel is, die verskoning gegee om aan die einde van 1878 ʼn totaal onredelike ultimatum aan Cetshwayo te stuur. Wat Cetshwayo en sy mense nie besef het nie, is dat Frere vasbeslote was om die Zoeloes se militêre mag te vernietig. 4

Foto van ‘n medalje wat die Zoeloe-koning Cetshwayo aan sy besoekers gegee het

Die Britte het onder meer van Cetshwayo verwag om sy hele militêre stelsel te ontbind en homself aan Britse gesag te onderwerp. 2 Cetshwayo kon dit natuurlik nie doen nie, en hy en sy raadslede het besluit dat hulle oorlog sou moes maak om hulle onafhanklikheid te behou. Nadat die tyd vir die Britse ultimatum op 11 Januarie 1879 verstryk het, het die Britse magte in Zoeloeland inbeweeg. 3

Op 22 Januarie 1879 het Cetshwayo se soldate by Isandlwana byna ʼn hele Britse regiment uitgewis (heeltemal vernietig). Daarna gaan dit egter al hoe slegter met die Zoeloes in die oorlog, en op 4 Julie 1879 word hulle in die slag van Ulundi verslaan. Op 28 Augustus 1879 word Cetshwayo gevange geneem.

Sir Garnet Wolseley wat intussen as hoë kommissaris van Brittanje in Suid-Afrika aangestel is, verban Cetshwayo na Kaapstad. Wolseley het Zoeloeland in 13 distrikte verdeel en ʼn hoofman in elke distrik aangestel wat onder Britse toesig moes regeer. Hy het gesê dat hierdie 13 hoofmanne senior Zoeloes is wat Shaka se koninklike familielyne verteenwoordig. Dit was egter nie waar nie, want een van die hoofmanne was die handelaar John Dunn, ʼn blanke Brit. 5

Shaka

Cetshwayo besoek koningin Victoria!

Cetshwayo het nie sommer sy ballingskap aanvaar nie. Hy stuur briewe na koningin Victoria van Brittanje en vra ook om Engeland te besoek. Cetshwayo het op 4 Augustus 1882 per skip in Southampton aangekom en van daar is hy met ʼn spesiale trein na Kensington. By die plek waar hy en sy hoofmanne gebly het – Melburyweg 18 – is spesiale veranderinge gemaak om dit vir die besoekers so gerieflik moontlik te maak. Die beddens is byvoorbeeld verlaag tot vloerhoogte. Terwyl hy in Londen was, het hy Westerse klere gedra, maar steeds sy tradisionele hoofring gedra, soos die gebruik was by Zoeloemans. In Zoeloe word hierdie ring ʼn isicoco genoem. 6

Die koning en sy gevolg (die groep mense saam met hom) het baie aandag getrek tydens hulle besoek. Hy het die geleentheid en die publisiteit gebruik om te sê dat sy mense hom weer as koning wil hê en dat hulle weer oorlog sou maak as dit nie gebeur nie. Ná sy besoek aan koningin Victoria is ooreengekom dat hy weer as koning erken sal word. 6

koningin Victoria

Moeilikheid in Zoeloeland

Intussen was daar onrus en verdeeldheid in Zoeloeland waar ʼn gedeelte van die Zoeloes daarop aangedring het dat Cetshwayo moet terugkeer. Hierdie groep wat die ou Zoeloeorde wou herstel, is die Usuthu genoem, en hulle was onder die leiding van Cetshwayo se broer, Ndabuko kaMpande. ʼn Ander groep Zoeloes was volgelinge van Zibhebhu wat ʼn groot teenstander van Cetshwayo was. 5

Die Britse regering stem uiteindelik in 1883 in dat Cetshwayo kan terugkeer, maar om te keer dat hy weer ʼn baie sterk Zoeloemag opbou, verdeel hulle Zoeloeland in drie dele en besluit dat Cetshwayo net oor die middelste gedeelte sal regeer. 1

Cetshwayo was glad nie tevrede nie, maar hy moes dit maar aanvaar. Hierdie verdeling van Zoeloeland het baie onrus en wanorde veroorsaak met die Zoeloes wat ondermekaar geveg het. Duisende Zoeloes is in hierdie gevegte dood. Terwyl hierdie onderlinge gevegte nog aan die gang was en die Britte gewonder het wat om met Cetshwayo te doen, sterf hy skielik op 8 Februarie 1884. 1

Hoewel ʼn geneesheer, dr. Harvey Scott, self getwyfel het oor die rede vir sy dood, wou die familie nie toelaat dat hy ʼn nadoodse ondersoek doen nie en het hy die diagnose gemaak dat Cetshwayo as gevolg van ʼn hartprobleem oorlede is. 1 Daar was egter baie mense wat geglo het dat hy vergiftig is. 7

Cetshwayo se seun, Dinizulu, het op 20 Mei 1884 die nuwe Zoeloekoning geword. 8

Cetshwayo se graf

Woordbank

ballingskap Om vervolging vry te spring en na ʼn ander land as jou eie te gaan om daar te bly.
koloniale Dit wat aan ʼn kolonie behoort.
onderling Onder mekaar, byvoorbeeld Ons het onderling besluit om die naweek aandag te gee aan die saak.
onderwerp Om die gesag van iemand oor jou te erken, dit word veral gebruik wanneer ʼn mens geen keuse het as om die gesag oor jou te aanvaar nie.
onredelike Onbillik; sonder dat daar goeie rede vir ʼn besluit is.
prominente Vooraanstaande of belangrik.
regiment ʼn Afdeling van ʼn leër.
troonopvolger Die persoon wat ʼn koning moet opvolg, in sy plek koning moet word.
ultimatum Die laaste voorwaarde of eis wat in onderhandeling gestel word. Indien dit nie gehoorsaam word nie, kan dit soos ʼn oorlogsverklaring wees.
verban Wanneer ʼn mens verplig word om ʼn land of plek vir altyd te verlaat.
verhoudinge Die verstandhouding tussen lande of groepe, hoe hulle oor mekaar voel en teenoor mekaar optree. 10

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Cetshwayo

Meer oor Cetshwayo se lewe

Cetshwayo, die laaste koning van die onafhanklike Zoeloeland

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 14 November 2022 | Bygewerk op 18 Januarie 2024