Vinnige feite

 

  • Tafelberg is een van die wêreld se sewe natuurwonders en alombekend vir sy unieke tafelvormige voorkoms.
  • Die wolkekrabber Burj Khalifa in Doebai, Verenigde Arabiese Emirate, is die wêreld se hoogste gebou.
  • Het jy geweet? Die gladde, hoekige sye van die piramide simboliseer die strale van die son en is so ontwerp om die koning se siel te help om na die hemel op te vaar en by die gode aan te sluit, veral die songod Ra.
  • Die langste muur ter wêreld is die Groot Muur van China en is ’n reeks van ou steenmure in die noorde van China.
Foto: iStock

’n Baken of landmerk is ’n maklik herkenbare voorwerp wat uitstaan in die omgewing – hetsy natuurlik of mensgemaak. Bakens kan dikwels van ’n afstand gesien word en is veral nuttig om jou posisie in die omgewing te bepaal. Dit word ook ’n landteken genoem. 1

Colosseum in Rome

Bakens kan verdeel word in twee kategorieë:

  • Mensgemaak: Bakens soos merkwaardige geboue, monumente, brûe, kanale en ander strukture wat deur mense gebou en opgerig is – antiek of modern.
  • Natuurlik: Bakens soos riviere, mere, berge en woestyne. Sommige natuurlike bakens is so indrukwekkend dat dit bewaar word vir die nageslag in die vorm van nasionale parke. 2

Nut van bakens

Bakens word ook in geografie gebruik as landtekens in ’n onbekende omgewing. Dit is veral nuttig om roetes te verduidelik. Bakens vertel ons meer van ’n land se kultuur en die verbintenis met die verlede en lok toeriste van reg oor die wêreld. 1

Twee bekende natuurlike bakens van Suid-Afrika

Tafelberg

Tafelberg is een van die wêreld se sewe natuurwonders en alombekend vir sy unieke tafelvormige voorkoms. Hierdie berg wat statig bo Kaapstad uittroon, is ’n kenmerkende baken van die stad en ’n groot toerismeattraksie. Behalwe vir verskeie stap- en klimroetes op die berg, is daar ook ’n restaurant en ’n winkel met aandenkings wat mense besoek tydens hul kabelkaruitstappie tot bo-op die berg.

Die twee kabelkarre wat toeriste opneem na die bopunt van Tafelberg, het glaswande, draai in die rondte en kan tot 65 mense op ’n slag vervoer. Die kabelkarre vorm ’n teenwig met mekaar: Die een wat afkom se gewig help die ander een optrek. Wanneer die een opgaan, moet die ander een dus afkom – hulle kan nie op hul eie beweeg nie. Die kabelkarre beweeg teen 10 meter per sekonde en neem vier tot vyf minute om die boonste stasie te bereik.

Tafelberg

Talle bekendes, onder andere Koningin Elizabeth II van Engeland het al ’n rit met ’n kabelkar na Tafelberg se bopunt onderneem! (Dit was in 1947 toe sy nog ’n prinses was.) Die sweefspoor waarmee die kabelkarre beweeg, is al meer as 90 jaar in gebruik en meer as 28 miljoen mense het al met hierdie sweefspoor tot bo-op Tafelberg gereis. Tans word Tafelberg deur middel van die kabelkarre deur ongeveer 1 miljoen mense per jaar besoek.

Die suidoostewind kan teen 130 km/h oor die nek tussen Tafelberg en Duiwelspiek waai. Dit staan bekend as die Kaapse Dokter omdat dit vuil lug wegwaai. Die dik wolke wat oor die berg rol wanneer die suidooster waai, staan bekend as die “tafeldoek”. Volgens legende, word die wolke veroorsaak deur ’n ou smokkelaar, Jan van Hunks, en die duiwel wat al eeue lank daar sit en kyk wie die langste kan aanhou pyprook.

Tafelberg spog met meer as 2 200 plantspesies. Dié plante maak deel uit van die beskermde Kaapse floraryk wat ’n wêrelderfenisgebied is. Daar word 22 slangspesies op Tafelberg aangetref, onder meer die geelslang, pofadder, boomslang, rinkhals en bergadder. Die Tafelberg-spookpadda (Heleophryne rosei) is ’n kritiek bedreigde spesie en kom net aan die oostelike en suidelike hange van Tafelberg voor. 3

Robbeneiland

Robbeneiland is in Tafelbaai, ongeveer 10 km vanaf Kaapstad. Die naam verwys na die groot bevolking robbe wat in die verlede daar voorgekom het. In 1961 het die eiland die tuiste geword van ’n maksimumveiligheidstronk vir politieke gevangenis. Oudpresident Nelson Mandela was ook ’n gevangene in hierdie tronk en het 18 van sy 27 jaar-vonnis op Robbeneiland deurgebring. Dit het daartoe meegebring dat die eiland in 1997, met sy tronk, ’n museum en nasionale monument geword het en een van die gewildste toeristebestemmings in Suid-Afrika is. Die eiland is in 1999 deur die Verenigde Nasies tot ’n wêrelderfenisgebied verklaar.

Besoekers aan die eiland vertrek op ’n begeleide toer vanaf die Victoria & Alfred Waterfront in Kaapstad. Die bootrit na die eiland duur sowat 30 minute. Toeriste gaan aan wal by die Murraysbaaihawe, waarna busse hulle na die geskiedkundige plekke vervoer.

Ingang by Robbeneiland

Daar woon tans ongeveer 150 mense in die dorpie op Robbeneiland, onder wie museumpersoneel, gidse, ’n vuurtoringwagter en skeepsbemanning. Daar is ook ’n poskantoor, bank, kruidenierswinkel en ’n kerk op die eiland wat nog in gebruik is.

Robbeneiland bied ook ’n tuiste aan ongeveer 132 voëlspesies, onder meer die brilpikkewyne. Die pikkewyne lok baie toeriste omdat dit maklik is om hulle hier in hul natuurlike habitat te sien. In ’n pikkewynreservaat naby die hawe loop besoekers oor ’n houtbrug van waar hulle die pikkewyne kan besigtig. Die byna bedreigde kuifkopduiker vind ook ’n tuiste op Robbeneiland, asook springbokke, steenbokke, bontebokke en volstruise. 3

Voorbeelde van bekende bakens vanoor die wêreld

Eiffel-toring

Die Eiffel-toring is ’n wêreldbekende baken in Parys, die hoofstad van Frankryk en word jaarliks deur 7 miljoen mense besoek. Hierdie indrukwekkende konstellasie is deur Gustave Eiffel ontwerp en in 1889 voltooi. 4 Die toring is gebou vir die Exposition Universelle, ’n skou wat gehou is ter viering van die 100 jaar-herdenking van die Franse Revolusie. Hoewel die plan was om hierdie toring weer 20 jaar ná sy voltooiing af te breek, het dit gaandeweg dié baken van Parys en toeristeaantreklikheid geword, wat tot vandag toe besoekers vanoor die wêreld lok.

Eiffel-toring

Dit word ook ingespan vir ekonomiese en tegniese funksies vir, onder meer, radio– en digitale uitsendings. Behalwe vir die hysbakke wat alreeds ’n voortreflike uitsig oor die stad bied, kan mens in goeie weersomstandighede ongeveer 70 kilometer ver sien wanneer jy in die uitsigpunt van die toring staan. Die Eiffel-toring is 300,5 meter hoog en kan met 1 652 trappies uitgeklim word tot op die boonste platform – mits jy nie met die hysbakke opgaan nie. 5 (En baie fiks is!)

Die Toring van Pisa

Die Toring van Pisa in Italië is in 1173 as ’n kloktoring gebou van die katedraal in die Italiaanse stad, Pisa. Kort ná die bouery begin is, is probleme met die sagte kleigrond, fyn sand en skulpe waarop die toring gebou is, ondervind. Nadat die tweede verdieping van die beplande agt verdiepings gebou is in 1178, het die fondasie baie ongelyk voorgekom en veroorsaak dat die toring suid begin oorleun het. Net hierna het oorloë plaasgevind en die konstruksie is eers weer 100 jaar later voortgesit.

Toring van Pisa

Die feit dat daar soveel jare verloop het voordat die bouery hervat is, het meegebring dat die fondasie goed kon vestig en die gebou nie ingetuimel het nie. Dit het ongeveer 200 jaar geneem om die bouwerk te voltooi!  Die vreemde formasie het vinnig aandag getrek en gelei tot besoekers van oraloor. Die toring is in 1987 as ’n wêrelderfenisgebied verklaar en is intussen versterk nadat dit byna in 1990 ingetuimel het as gevolg van verdere oorhelling. 6

Vryheidstandbeeld (Statue of Liberty)

Hierdie baken staan statig in New York se hawe en was ’n geskenk aan Amerika van Frankryk. Bouwerk hieraan het nege jaar geduur en Gustave Eiffel, die ontwerper van die Eiffel-toring, het ook aan die Statue of Liberty gewerk. Om die kroon heel bo te bereik, moet jy 354 trappe (22 verdiepings) uitklim. 3

Vryheidstandbeeld

Groot Muur van China

Die langste muur ter wêreld is die Groot Muur van China en is ’n reeks van ou steenmure in die noorde van China. Verskeie mure is gebou en is later versterk en aanmekaar gebou, hoewel alles nie aan mekaar vas is nie. Dit word eerder as ’n reeks verskeie mure gesien wat saam bekendstaan as die Groot Muur van China. Hierdie formasie van mure is ongeveer 6 700 km lank en die bouwerk daaraan het meer as 1 700 jaar geduur. 3 Die muur is opgerig om die Chinese Keiserryk teen die vyandelike nomadiese volke te beskerm. Dit is die langste struktuur wat nóg deur mense opgerig is. 7

Groot Muur van China

Big Ben

Die Big Ben is sinoniem met Londen en is die massiewe klok in die toring van die parlementsgebou. Die groot klok weeg ongeveer 13,7 ton en lui elke uur. (Kleiner klokke lui elke 15 minute). 2

Big Ben

Taj Mahal

Die Taj Mahal is opgerig in opdrag van die Mughal-heerser, Shah Jahan, met die dood van sy gunstelingvrou, om haar lewe te gedenk. Die indrukwekkende en duursame gebou het meer as 20 jaar geneem om te bou met ongeveer 20 000 werkers. Die wit marmer van die praalgraf is met inlegwerk van edelstene versier. 8

Taj Mahal

Piramides van Egipte

Die piramides is antieke klipstapelwerke in Egipte. Volgens bronne is daar ten minste 118 geïdentifiseerde piramides. Die meeste is gebou as grafmonumente vir die land se farao’s en hul metgeselle gedurende die Ou Ryk- en Middelryktydperke.

Die bekendste Egiptiese piramides is dié wat by Giza, aan die buitewyke van Kaïro, gevind is. Verskeie van die Giza-piramides word gereken onder die grootste strukture wat ooit gebou is. Die Piramide van Khufu (waarvan die bouwerk in ongeveer 2550 v.C. begin is) is die grootste Egiptiese piramide en is die enigste van die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld wat nog bestaan; dit, ten spyte daarvan dat dit die oudste wonder (ongeveer 2 000 jaar) is.

Egiptiese piramides

Sy geskatte 2,3 miljoen klipblokke weeg elk gemiddeld 2,5 tot 15 ton. Hoe hierdie massiewe blokke gevorm, geskuif en op hul plek gelig is, weet niemand presies nie. 3

Het jy geweet? Die gladde, hoekige sye van die piramide simboliseer die strale van die son en is so ontwerp om die koning se siel te help om na die hemel op te vaar en by die gode aan te sluit, veral die songod Ra. 4

Burj Khalifa

Die wolkekrabber Burj Khalifa in Doebai, Verenigde Arabiese Emirate, is die wêreld se hoogste gebou. Hierdie asembenemende toringhoë gebou se naam was aanvanklik Burj Dubai, maar is later Burj Khalifa genoem – ter ere van die leier van Abu Dhabi, Sjeik Khalifa, wat $10 miljard aan Doebai geleen het om hom uit sy skuld te help. 5

Die toring, wat ‘n verskeidenheid kommersiële, residensiële en gasvryheidsondernemings huisves, het 162 verdiepings en ‘n hoogte van 2 717 voet (’n rapsie meer as 828 meter). Dit is ontwerp deur die Chicago-gebaseerde argiteksfirma Skidmore, Owings & Merrill met Adrian Smith as argitek en William F. Baker as strukturele ingenieur. 6

Burj Khalifa

Lees meer oor verskillende lande se bekendste bakens

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die Sewe Wonders van die wêreld

100 Bakens van regoor die wêreld

Burj Khalifa: die wêreld se hoogste wolkekrabber

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 21 Januarie 2022 | Bygewerk op 5 Maart 2024