Vinnige feite

  • Die kloktoring is een van Londen se toeristebestemmings wat die meeste besoek word. Toeriste kan ’n begeleide toer van 90 minute onderneem en met trappe tot heel bo klim om die klok te sien.
  • Daar is ’n spesiale liggie bo die klok se gesig wat verlig word wanneer die parlement vergader.
  • Daar is Latynse woorde op die klok wat lui “Domine Salvam Fac Reginam Nostram Victorian Priham”. Dit beteken in Engels: “O Lord, keep safe our Queen Victoria the First.” 5
  • Die Big Ben is die hoogste klok met vier wyserplate ter wêreld. Dis ook die derde hoogste vrystaande klok ter wêreld.
  • Die kloktoring se restourasieprojek is in Augustus 2022 voltooi. Die uurwerk se gesig is na sy oorspronklike Victoriaanse styl gerestoureer en die wyserplate het hul oorspronklike blou weer teruggekry. Daar is ook energiebesparende LED-gloeilampe agter die wyserplate gebruik.
  • Die wyserplate moet elke paar jaar skoongemaak word en dit beteken dat skoonmakers soos wafferse waaghalse aan toue moet hang om dit skoon te kry!

 

As ’n mens aan Londen in Engeland dink, dan dink jy aan groot rooi busse, swart taxi’s, stroewe paleiswagte in rooi uniforms en swart hoede, en natuurlik die bekende kloktoring wat die Big Ben genoem word. Die Big Ben is ’n bekende landmerk in Londen en Londenaars is gewoond aan dié ikoniese klok wat uurliks beier. [Lees hier oor landmerke.]

Hoewel mense na die hele toring as die Big Ben verwys, is dit eintlik die naam van die massiewe klok wat binne-in die toring is. Dié klok word ook die Great Bell genoem. Die klok is nie net bekend omdat dit so groot is nie, maar ook omdat dit so akkuraat slaan. As jy die klok hoor slaan, kan jy maar weet dit dui die regte tyd aan.

Die kloktoring is deel van die Westminster-paleis en die setel van die Britse parlement. Die kloktoring se eintlike naam is die Elizabeth-toring, maar dit is eers vanaf 2012 só genoem. Die nuwe naam was ter ere van wyle koningin Elizabeth II se diamantjubileum. ’n Jubileum is ’n herdenkingsjaar en ’n diamantjubileum is die sestigste herdenking van ’n noemenswaardige gebeurtenis, veral ’n koninklike se kroning of die stigting van ’n organisasie. Koningin Elizabeth II was in 2012 al 60 jaar aan bewind. Voor 2012, is dit die St. Stephen-toring genoem. 1

Geskiedenis

Die Westminster-paleis is in 1834 deur ’n brand verwoes. Daar is in 1840 besluit dat die nuwe gebou vir die parlement ’n kloktoring moes insluit.

Die argitek sir Charles Barry se ontwerp van ’n nuwe parlementsgebou het die meeste beïndruk en hy het die werk gekry. Dit het amper 30 jaar geneem om die nuwe indrukwekkende gebou te voltooi. Die kloktoring is deur die argitek Augustus Welby Pugin ontwerp.

Nog ’n kompetisie is in 1846 van stapel gestuur om die uurwerk (horlosie) en klok te bou en die koninklike astronoom sir George Biddell Airy moes op die wenner besluit. Daar was allerlei stipulasies om die uurwerk so akkuraat as moontlik te maak en daarom het dit sewe jaar geneem om dié planne te finaliseer.

Die klok

Die klokmaker Edward John Dent is in 1852 aangesê om die klok te bou op grond van ’n ontwerp deur Edmund Beckett Denison. Die nuwe Westminster-paleis is in dieselfde jaar deur koningin Victoria geopen. 2

Edmund Beckett Denison (later lord Grimthorpe genoem) se groot bydrae was ’n meganiese skakel wat met swaartekrag gewerk het. [Lees hier oor swaartekrag.] Dit het die klok, wat met ’n slingerstelsel werk, baie meer akkuraat gemaak. In só ’n stelsel beweeg ’n slinger (pendulum) van kant na kant. Dent het egter gesterf voor hy die projek voltooi het, maar dit is deur sy seun, Frederick Dent, voltooi.

Die meganisme van die klok (dít wat die klok laat werk) is in 1854 voltooi en daarna moes die klok gegiet word. Die eerste een is in 1856 by John Warner & Sons in Norton gegiet en is aanvanklik “Royal Victoria” genoem. Dit het egter gekraak toe dit getoets is, en daarom is nóg een in 1858 gegiet. Hierdie keer by die Whitechapel Bell Foundry in Londen. Die klok was só swaar dat ’n wa met 16 perde dit moes trek!

Die uurwerk het op 31 Mei 1859 begin tik en die klok se geluid is die eerste keer op 11 Julie 1859 gehoor. Later daardie jaar het die klok egter weer gekraak. Dit is in 1863 herstel en aanpassings is gemaak. 2

Die klok word gereguleer deur muntstukke op die pendulum te plaas. Ook nie enige muntstukke nie, maar pennies. Pennies is ou Britse muntstukke wat nie meer vandag gebruik word nie. Die pennies reguleer die klokmeganisme. As ’n mens ’n pennie byvoeg, veroorsaak dit dat die klok twee vyfdes van ’n sekonde in 24 uur bykry.

Waarom Big Ben?

Waar die naam Big Ben vandaan kom, weet niemand vandag vir seker nie. Sommige geskiedkundiges sê dit is na sir Benjamin Hall vernoem, wat die werk oorsien het. Ander dink weer dis genoem na Benjamin Caunt, ’n bokskampioen.

Vandag is die klok ’n bekende baken in Londen, hoewel sy “stem” al ʼn paar keer stilgemaak is. Die klok is byvoorbeeld nie tydens die Eerste Wêreldoorlog en Tweede Wêreldoorlog gebruik nie omdat die Britte bang was dat vyandige vliegtuie dit sou teiken. Die klok moes in 1934 en 1956 herstel word. Die kloktoring het op sy beurt vanaf 21 Augustus 2017 ’n restourasie van vyf jaar lank ondergaan. Die klok is toe net met spesiale geleenthede, soos Nuwejaarsvieringe, gelui. 3

Wat moet jy weet

Die kloktoring

  • Die toring is 96 m hoog en jy kan met 393 trappe tot bo klim.
  • Dit is so hoog soos 21 Londen-busse wat opmekaar gestapel is.
  • ’n Mens klim 292 trappe tot agter die klok se gesig en by die 334ste trap is jy by die klokhuis waar die Big Ben hang. As ’n mens tot heel bo klim (393 trappe), is jy by die Ayrton-lig. Dit is die lig wat skyn as die parlement vergader.
  • Ongeveer 850 kubieke meter klip en 2 600 kubieke meter bakstene is gebruik om die kloktoring te bou. Hiervoor is kalksteen van Frankryk ingevoer en verskillende soorte klip uit dele van Engeland gebruik.

Die horlosie

  • Die klokhorlosie het vier wyserplate sodat mense dit van elke kant af kan sien. Elke wyserplaat bevat 324 glasstukke met ’n raam van gietyster.
  • Elke wyserplaat is 7 m breed.
  • Die klok se wysers is onderskeidelik 2,7 m en 4,3 m lank.
  • Die wysers wat die minute aandui, is van koper gemaak. Elke wyser weeg 100 kg en is 4,2 m lank. Die minuutwysers beweeg voortdurend en ’n mens kan sê hulle “reis” 190 km per jaar!
  • Die wysers wat die ure aandui, is van geskutbrons gemaak en weeg 300 kg. Hulle het ’n lengte van 2,7 m.
  • Die syfers wat die ure aandui, is 60 cm lank.

Klok en meganisme

  • Die klok moet drie keer per week opgewen word en dit word vir meer as ’n uur gedoen.
  • Die groot klok slaan elke uur en dan is daar vier kleiner klokke in die toring wat die kwartiere aandui.
  • Die klok se meganisme weeg 5 ton! Die meganisme is dít wat die klok laat werk. Dit is ook van gietyster gemaak en is 4,7 m lank en 1,4 m breed.
  • Die groot klok weeg 13,5 ton met ’n lengte van 2,2 m. Die slinger (pendulum) van die klok is 3,9 m lank.
  • Elke slag van die pendulum hou vir 2 sekondes.
  • Die pendulum is 4,4 m lank en weeg 310 kg. Die slingergewig is ’n gewig wat van die pendulum afhang. Dit weeg 203 kg en is van staal en sink gemaak.
  • Die ander klokke weeg onderskeidelik 1,1 ton, 1,3 ton, 1,7 ton en 4 ton. 4

Woordbank

akkuraat Presies.
argitek Iemand wat geboue ontwerp.
astronoom ’n Wetenskaplike wat die ruimte bestudeer.
baken ’n Bekende teken.
beier Lui.
gegiet Dit is wanneer ’n stof gesmelt word en in ’n vorm gegooi word sodat dit daardie vorm kan behou.
geskutbrons Koperlegering met tin en sink.
klok ’n Metaalvoorwerp wat ’n klinkende geluid maak wanneer daar aan geslaan word.
landmerke Opvallende voorwerpe waaraan ’n gebied herken word.
meganisme ’n Masjien se manier van werk.
oorsien Toesig hou.
pendulum Die slinger van ’n tipe horlosie, soos ’n staanhorlosie.
setel Die gebied waar iemand of iets gevestig is, soos die parlement.
stipulasies Voorwaardes waaraan daar voldoen moet word.
stroewe Baie ernstig, nie vriendelik nie.
swaartekrag Dit is die krag waarmee twee voorwerpe mekaar aantrek. Dit is dieselfde krag waarmee die aarde voorwerpe aantrek.
uurwerk ’n Toestel wat die tyd aandui.
wysterplate Plate met syfers en wysters waarop tyd aangedui word.

Lees dié artikels om meer te wete te kom 

Kyk dié video’s oor meer te leer

Wat is binne-in die toring?

Die geskiedenis van die Big Ben

’n Meganiese wonder!

As jy graag teken, probeer om die toring te teken!

Gepubliseer op: 20 November 2023 | Bygewerk op 3 April 2024