Vinnige feite

  • Wetenskaplikes gebruik weerballonne om inligting in te win oor temperatuur en druk soos die ballonne van die aardoppervlak na die stratosfeer beweeg. ‘n Weerballon dra ‘n klein toestel wat ‘n radiosonde genoem word, wat informasie oor die atmosferiese druk, temperatuur, humiditeit en windspoed terugstuur. Weerballonne word vol helium of waterstof gepomp en styg hoër en hoër die atmosfeer in. 4
  • In 1985 het ‘n Britse wetenskaplike wat in Antarktika gewerk het, ‘n 40%-verlies in die osoonlaag oor die kontinent ontdek. In die 1990’s het dit tot ‘n wêreldwye verbod op die gebruik van CFK’s (Chlorofluorokoolstowwe) gelei. CFK’s is molekules wat chlooratome in die stratosfeer vrystel. Dit word veral gebruik in lugversorgers vir huise, motors en kantore asook as dryfmiddels vir insekdoders, verf, haarsorgmiddels en ander gesondheidsprodukte. Chlooratome reageer met osoon en vernietig dit voordat dit die skadelike UV-strale kan absorbeer.
  • Op 14 Oktober 2012 het Felix Baumgartner die wêreldrekord opgestel vir sy sprong van die stratosfeer na die aarde – ’n hoogte van sowat 39 km! Hy is die eerste mens wat nog ooit van die stratosfeer gespring het. Dit het hom nege minute geneem om die aarde te bereik en hy het ’n maksimum spoed van 1 343 km/h bereik.
  • Selfs op ’n stil dag beweeg die lug steeds. Wanneer die wind waai, beweeg die lug sommer baie vinnig! Die vinnigste windspoed wat nog ooit op die aarde gemeet is, is 407 km per uur. 6
Foto: iStock

Lug is ’n mengsel van gasse wat die aarde tot op ’n sekere hoogte omring en waarvan alle lewende organismes afhanklik is. 1 Lug vorm deel van die atmosfeer en is die uitgestrekte ruimte bokant die aardoppervlakte wat bestaan uit ’n gasmengsel van veral suurstof en stikstof. 1

Sonder die atmosfeer sou lewe op die aarde nie moontlik gewees het nie. Dit bestaan uit gasse wat noodsaaklik is vir lewe, maar beskerm ook die aarde teen die grootste gedeelte van die gevaarlike strale wat deur die son uitgestraal word en tree verder op as ‘n isolator teen uiterstes in die temperatuur. Sonder die atmosfeer sou alles op aarde verkluim as gevolg van die koue van die buitenste ruimte. 2

Die vier lae in die atmosfeer

Die atmosfeer kan in vier lae ingedeel word:

Laag 1: Troposfeer

Hierdie laag is teenaan die aardoppervlak en is ongeveer 8 km dik by die pole en 17 km by die ewenaar. Dié laag bevat die meeste van die lug in die atmosfeer en bevat gasse wat noodsaaklik is vir lewe. Veranderinge in die gedrag van die lug in die troposfeer is verantwoordelik vir weerstoestande en -veranderinge op die aarde. 3 Water kom feitlik slegs in hierdie laag voor. 2

Die lug in die troposfeer beweeg konstant. Soos dit deur die aarde verhit word, styg die warm lug op en word vervang met kouer lug wat in konveksiestrome beweeg. Dit is die grondslag van wolkvorming en weerpatrone. Al die weerstelsels van die aarde vind naby die aardoppervlak in die troposfeer plaas. 4

Laag 2: Stratosfeer

Hierdie laag is die tweede laag bo die oppervlak van die aarde en is bo die troposfeer geleë. Dit bevat die baie belangrike osoonlaag. Osoon (O3) is ’n gas en absorbeer die warm ultravioletstrale van die son. 3

Die suurstof in die osoonlaag kom vanaf die plante wat op die aarde groei. As hierdie balans versteur word deurdat minder suurstof die osoonlaag bereik en die plek daarvan deur ander gasse – wat deur sekere menslike aktiwiteite vrygestel word – opgeneem word, verander dit die temperatuur op aarde. Sonder hierdie laag sal die meeste lewende wesens op aarde sterf.  Die stratosfeer is ongeveer 40 km dik en die vliegtuie vlieg in hierdie laag. 2

Laag 3: Mesosfeer

Hierdie laag is ook ongeveer 40 km dik en word gekenmerk deur ’n temperatuurwisseling van -113 °C tot by 440 °C! Vallende meteoriete (rotsstukke) uit die hemelruim verbrand in hierdie laag en ons sien dit as verskietende sterre. 2

Laag 4: Termosfeer (Ook genoem ionosfeer)

Hierdie laag is die verste van die aarde geleë en is ongeveer 350 km dik. Dit bevat baie gelaaide deeltjies (ione) wat meebring dat baie van die radioaktiwiteit wat by tye deur die son veroorsaak word, uitgeskakel word en nie ’n effek op die aarde het nie. 2 Dié laag absorbeer ook baie van die son se skadelike X- en ultravioletstrale. Die temperature in die termosfeer is daarom baie hoog en dit styg soos wat die afstand vanaf die aarde toeneem. 3

Samestelling van die atmosfeer

Die faktor wat die atmosferiese lae van mekaar onderskei, is die verandering in temperatuur. Dit word kouer in die troposfeer hoe hoër beweeg word, terwyl dit in die stratosfeer warmer word hoe hoër beweeg word. Die atmosfeer bestaan uit gasse, vaste stowwe en vloeistowwe. Vir lewe op aarde, is hierdie stowwe ’n noodsaaklikheid. 5

Gasse

Sommige gasse is permanent in vaste verhoudings, terwyl ander in wisselende hoeveelhede voorkom. Die hoeveelheid gasse in die atmosfeer verminder soos die afstand van die oppervlak van die aarde toeneem. Hoe verder van die aarde af, hoe kleiner die hoeveelheid gasse in die atmosfeer. 3

Die volgende gasse is altyd in die atmosfeer teenwoordig:

  • Stikstof (78,08%) – dié element is noodsaaklik vir die groei van plante;
  • Suurstof (20,95%);
  • Argon (0,93%); en
  • Koolstofdioksied en ander spoorgasse (0,04%).

Die gasmolekules in die atmosfeer word deur gravitasie naby die aarde gehou. Met ander woorde, deur die invloed van gravitasie is daar meer gasmolekules naby die aardoppervlak as verder weg. Hoe verder mens van die aarde sou wegbeweeg, hoe minder raak die gasmolekules en hoe groter die spasies tussen die molekules. Dus, hoe verder, hoe minder gasmolekules totdat daar niks meer is nie, net spasies.

Die atmosfeer het nie ’n vasgestelde grens nie, maar kwyn eerder in die ruimte in weg. 4

Ongeveer 1% van die gasse in die atmosfeer is gasse wat in wisselende hoeveelhede voorkom, soos koolstofdioksied, helium, osoon, waterdamp, koolstofmonoksied, metaan, laggas en swaeldioksied. Sommige van hierdie gasse word kweekhuisgasse genoem omdat hulle aardbestraling absorbeer en bydra tot die verhitting van die atmosfeer.

Vaste stowwe

Daar is ook miljoene uiters klein, soliede stofdeeltjies en soutkristalle in die lug waarop waterdamp kondenseer. 3

Vloeistof

Die atmosfeer bevat ook water, byvoorbeeld in die vorm van wolke. 3

Woordbank

atmosfeer Lug/gasomhulsel rondom die aarde. Ook genoem dampkring. 1
lug Mengsel van gasse wat die aarde tot op ’n sekere hoogte omring en waarvan alle lewende organismes afhanklik is. 1
kweekhuis Die geleidelike verwarming van die lug om die aarde as gevolg van hitte wat weens besoedeling nie kan ontsnap nie. Verskynsel dat die hitte van die son as gevolg van ‘n oormaat koolsuurgas, waterdamp en waterdruppels in die onderste lae van die aarde se atmosfeer vasgevang word wat dan, onder meer, bonormale warm toestande tot gevolg het. 1
molekules Die kleinste deeltjies van ’n stof wat die chemiese en fisiese eienskappe van dié stof behou en wat bestaan uit twee of meer atome wat deur chemiese bindings aanmekaar gehou word. 1
gravitasie Krag wat alle liggame in die heelal na mekaar toe (aan)trek. 1

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die atmosfeer vir kinders

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 Januarie 2022 | Bygewerk op 15 Maart 2024