Vinnige feite

  • Die standbeeld beweeg 7,62 cm as die wind waai en die fakkel beweeg 12,7 cm.
  • Besoekers aan die standbeeld klim 354 trappe na die kroon van die standbeeld toe. Daar is 25 vensters in die kroon waaruit hulle kan kyk.
  • Die Franse ingenieur wat die Eiffeltoring in Parys, Frankryk, ontwerp het, het ook ’n gedeelte van die monument ontwerp. Hy was vir die ondersteuning van die standbeeld verantwoordelik. Daar is vier groot ysterkolomme wat ’n massiewe metaalraamwerk ondersteun.
  • Die standbeeld is met 300 plate koper bedek. Die koper is so dun soos ʼn muntstuk. Al die koper is in verskillende vorms gehamer en toe vasgemaak.
  • Die arm met die fakkel is 14 m lank en die vinger is 2,4 m lank. Die standbeeld se neus is amper 1,5 m lank.
  • Meer as twee miljoen mense besoek die monument jaarliks.
  • Daar is ’n museum in die voetstuk van die standbeeld wat toeriste kan besoek.
  • Op 4 Julie 1986 is daar ’n fees gehou om die 100ste herdenking van die standbeeld te vier. Dit is voorafgegaan deur ’n herstelprogram wat toe ongeveer $66 miljoen gekos het. As ’n mens na die gemiddelde rentekoers van die rand teen die dollar in 1986 kyk, het dit ongeveer R1 518 000 gekos!
  • Weens oksidasie het die standbeeld se koper ’n groen kleur in die 20ste eeu begin aanneem. Herstelwerk moet dus elke nou en dan gedoen word.
  • Ná die 11 September 2001terreuraanvalle in die VSA is die standbeeld vir 100 dae gesluit uit vrees vir nog aanvalle. Besoekers het eers weer toegang tot die standbeeld in Augustus 2004 gekry. 4

Wat was die grootste verjaardaggeskenk wat jy al ooit gekry het? Dalk ‘n fiets of ‘n splinternuwe selfoon? Het jy geweet die Verenigde State van Amerika (VSA) het eens op ’n tyd ’n verjaardaggeskenk gekry wat só groot was dat ’n mens dit nie in geskenkpapier en linte kon toedraai nie! Hierdie geskenk is die Vryheidstandbeeld, meer bekend in Engels as die Statue of Liberty.

’n Mens kan amper nie aan New York sonder dié monument dink nie! Dis ’n bekende landmerk en staan op Liberty-eiland, wat suid van die Manhatten-eiland is en deel van New York City vorm. [Lees hier oor landmerke.]

Wie het vir die VSA dié geskenk gegee wat 15 verdiepings (sonder sy voetstuk) hoog is?

Dit was Frankryk wat dit op 4 Julie 1884 aan die VSA geskenk het om die datum toe die VSA ’n onafhanklike land geword het, te herdenk. Dié massiewe koperstandbeeld is in stukke in kratte per skip na die VSA vervoer. 1

Hoekom het Frankryk dit geskenk?

Dit het alles een aand lank, lank gelede in 1865 in Parys begin. ’n Groep Fransmanne het hul land se regering bespreek en was baie onvergenoegd omdat hulle nie baie vryhede geniet het nie. Dit terwyl die VSA al ’n demokrasie was en dus baie meer vryhede as die Franse geniet het. [Lees hier oor demokrasie.] Hulle wou ’n standbeeld bou om die VSA se vryheid te vier en dit aan die land skenk. Frankryk en die VSA het ’n alliansie tydens die Amerikaanse Revolusie gevorm en hulle wou dit behoorlik vier. Dalk het hulle ook gehoop dat hulle deur dié skenking hul eie regering kon laat wakker skrik …

Dit was ’n Franse historikus genaamd Édouard de Laboulaye wat die idee gehad het om die standbeeld aan die VSA te skenk ter viering van die herdenking van hul Verklaring van Onafhanklikheid.

Daar was egter nie dadelik geld vir só ’n enorme projek nie en die Franse burgers moes eers geld insamel om die standbeeld te bou. Hulle het ’n Franco-Amerikaanse unie geskep en die Franse het toe ongeveer een miljoen frank ingesamel, terwyl die Amerikaners omtrent ’n kwartmiljoen Amerikaanse dollar bygedra het.

Die werk het eers in 1875 begin. Die beeldhouer, wat die leiding met die projek geneem het, se naam was Frédéric-Auguste Bartholdi.

Hy het die idee van ’n kopergodin gehad en daarom is daar besluit om ’n standbeeld te maak wat met koper bedek moes word. Die koperplate is met die hand gehamer om dit in die regte vorm te kry. Bartholdi het eers begin om ’n model te bou wat sowat 3 m hoog was.

Dit is toe na ’n figuur wat 11 m hoog was vergroot en is toe in stukke verdeel. Dit is daarna nóg verder vergroot en die koper is met hamers in die regte patrone gevorm. Elke gedeelte was toe op die sentrale raamwerk vasgemaak. 2

Meer oor die standbeeld

Die amptelike naam van die standbeeld is Liberty Enlightening the World. Liberty is dus die vrou wat die kroon dra en die fakkel in haar hand is verteenwoordigend van die “enligtenment”, of die lig wat oor die wêreld skyn danksy vryheid.

Die hoogte van die struktuur, as ’n mens dit van die basis tot die bopunt van die fakkel meet, is 93,99 m hoog.

Liberty self is 33,86 m hoog (van haar voete tot by die bopunt van haar kop). Sy hou ’n fakkel in haar regterhand en ’n kliptablet in haar linkerhand vas. Die tablet dui ’n belangrike datum aan: Dis die aanvaardingsdatum van die Amerikaanse Verklaring van Onafhanklikheid wat op 4 Julie 1776 aanvaar is en word in Romeinse syfers weergegee. Dié dag word in die VSA as “Fourth of July” gedenk en gevier.

Die fakkel is 8,8 m lank as dit van die bopunt van die vlam tot aan die onderpunt van die handvatsel gemeet word. ’n Mens kan slegs daarby uitkom met ’n leer wat binne-in die arm is. Die leer is 12,8 m lank. Die fakkel het deur die jare verskeie kere veranderinge ondergaan. In die tyd wat die standbeeld gebou is, was daar nie elektrisiteit nie. Toe elektrisiteit uitgevind is, moes dit ook na die fakkel aangelê geword het. Dit het in 1916 gebeur.

’n Gebreekte boei by haar voete verteenwoordig tirannie wat verbreek is.

Daar is sewe strale in haar kroon en dít versinnebeeld die lig van vryheid wat oor sewe kontinente en sewe seë skyn.

Daar is ’n basisstruktuur onder die standbeeld wat in die vorm van ’n ster is. Dit is die muur van ’n fort wat eens op ʼn tyd daar was. Die fort se naam was Fort Wood en dis in 1808 op die Bedloe-eiland gebou.

Die voetstuk is deur die Amerikaanse argitek Richard Morris Hunt ontwerp. Dit is in 1886 voltooi en was toe die grootste betonstruktuur ter wêreld.

Daar is twee wenteltrappe binne-in die standbeeld. Die een is vir toeriste wat boontoe klim en die ander een is vir dié wat ondertoe klim. Die totale aantal trappe vanaf grondvlak tot die kroon is 354.

Die standbeeld is uit meer as 300 koperplate gemaak wat 2,4 mm dik is en ’n totaal van 31 ton weeg. Daar is ’n sterk ondersteuningstruktuur binne-in die standbeeld. Dit bestaan uit vier reusestaalstrukture. Dit is deur Alexandre-Gustave Eiffel, wie se span ook vir die bekende Eiffel-toring in Parys verantwoordelik was, en die Franse argitek Eugène-Emmanuel Viollet-le-Duc ontwerp. 2

Vanaf Frankryk na die VSA

Die Vryheidsbeeld is op 4 Julie 1884 aan die Amerikaanse minister in Frankryk oorhandig. Die minister was ’n diplomaat of ambassadeur, wat beteken dat hy die VSA se belange in Frankryk verteenwoordig het.

Die minister se naam was Levi Morton en hy het later die adjunkpresident van die VSA geword.

Die oorhandiging van die standbeeld was ‘n groot okkasie. ’n Seremonie is op 4 Julie 1884 in Frankryk gehou en in 1985 is die standbeeld uitmekaar gehaal en na New York City verskeep. Die totale standbeeld het 225 ton geweeg.

Die standbeeld wat op sy voetstuk gestaan het, is op 28 Oktober 1886 onthul. Dit is deur die destydse president Grover Cleveland gedoen. 3

Die standbeeld is eers deur die Amerikaanse liggaam bestuur wat vuurtorings administreer, aangesien die verligte fakkel as ’n tipe ligtoring gesien is. Dit beteken dat vliegtuie en skepe dit as ’n baken kon eien.

Die onderhoud en bestuur van die standbeeld is in 1901 na die Amerikaanse departement van verdediging verplaas. Dis in 1924 as ’n nasionale monument verklaar en in 1933 is die administrasie van die standbeeld onder die bestuur van die Amerikaanse nasionale parkdienste geplaas. Daar is ’n eiland wat nie ver daarvan is nie en dit word die Ellis-eiland genoem. Dit is in 1964 ook as deel van die monument verklaar.

Die eiland was toe nog die Bedloe-eiland genoem, maar dit het in 1956 ’n nuwe naam gekry. Dit is toe na die monument vernoem, naamlik Liberty-eiland.

Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) het dit in 1984 as ’n wêrelderfenisgebied verklaar. 2

Daar is ook in 2018 ’n nuwe museum geopen, wat die Vryheidstandbeeldmuseum (in Engels: Statue of Liberty Museum) genoem word.

Inskripsie by die standbeeld

’n Gedig is op die standbeeld se voetstuk geplaas. Die gedig, “The New Colossus”, is op ʼn bronsplaat aangebring en is in 1883 deur Emma Lazarus geskryf:

Not like the brazen giant of Greek fame,

With conquering limbs astride from land to land;

Here at our sea-washed, sunset gates shall stand

A mighty woman with a torch, whose flame

Is the imprisoned lightning, and her name

Mother of Exiles. From her beacon-hand

Glows world-wide welcome; her mild eyes command

The air-bridged harbor that twin cities frame.

“Keep, ancient lands, your storied pomp!” cries she

With silent lips. “Give me your tired, your poor,

Your huddled masses yearning to breathe free,

The wretched refuse of your teeming shore.

Send these, the homeless, tempest-tost to me,

I lift my lamp beside the golden door!”

Woordbank

alliansie ’n Bondgenootskap.
baken ’n Bekende teken.
demokrasie ’n Vorm van regering waar burgers self kan stem vir hul regeerders.
historikus Iemand wat ’n kenner van geskiedenis is.
landmerk ’n Opvallende voorwerp waaraan ’n gebied herken word.
oksidasie ’n Proses wat gebeur as ’n stof aan suurstof blootgestel word.
onvergenoegd Iemand wat ontevrede is met iets.
regering Die bestuur van ’n land.
terreuraanvalle Aanvalle deur terroriste.
tirannie Heerskappy wat met geweld afgedwing word.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s oor die Vryheidstandbeeld

Die Vryheidstandbeeld

Wat is binne-in die standbeeld?

Meer oor die standbeeld

Gepubliseer op: 21 November 2023 | Bygewerk op 5 April 2024