Vinnige feite

  • Die Eiffel-toring is die hoogste struktuur in Parys, Frankryk.
  • Die toring word groter en kleiner in die winter en somer. Dit krimp in die winter en is dan ongeveer 15 cm korter as sy oorspronklike hoogte. Staal sit uit in hitte en krimp in koue weerstoestande.
  • Baie rekords is al by die toring opgestel. ’n Man het in 1889 altesaam 704 van die toring se trappe met stelte uitgeklim. Drie sweefstokartieste het al in 1952 by die Eiffel-toring toertjies gedoen – en dit sonder ’n net!
  • Die Franse weermag het die toring se telegraafsentrum tydens die Tweede Wêreldoorlog gebruik om met hul troepe en skepe te kommunikeer. Die toring het in 1916 ’n boodskap van ’n vroulike spioen Mata Hari opgetel, en sy is in hegtenis geneem.
  • Die toring is omgewingsvriendelik. Daar is in 2015 twee windturbines op die tweede vlak van die struktuur opgerig. Die windkrag word in elektriese krag omgesit en gee krag vir die toring se winkels en restaurante. Daar is ook ’n stelsel wat reënwater opvang om in die toilette te gebruik.
  • Die toring is ontwerp om die beste moontlike windweerstand te bied.
  • Eiffel het vir hom ’n klein woonstel op die boonste vlak van die struktuur ingerig. Slegs ’n paar baie belangrike mense is genooi om daar te kom kuier, soos die bekende wetenskaplike Thomas Edison. Mense kan dit vandag besigtig.
  • Eiffel is op 27 Desember 1923 in die ouderdom van 91 dood. Die toring bevat onder meer ’n uitstalling wat Eiffel se storie uitbeeld.
  • Baie ondernemings het al kantore in die toring gehad, maar nie meer vandag nie. Dit sluit die koerant Le Figaro, ’n poskantoor en ’n teater in.
  • Die Eiffel-toring is bekend vir sy skouspelagtige lig- en vuurwerkvertonings, veral op Oujaarsaande. 7
  • Daar is ook allerlei 360°-ervaringe waar mense ’n kode kan inskandeer en dan via hul slimfoon allerlei interessante dinge oor die toring kan leer. 8
  • Daar is baie replikas van die toring reg oor die wêreld. Die torings in Tokio in Japan en Las Vegas en Texas in die VSA is van die bekendstes. Selfs Parys in die Vrystaat spog met ‘n klein Eiffel-toring.

New York het die Vryheidstandbeeld (in Engels: Statue of Liberty); Pretoria het die Voortrekkermonument; Kaapstad het Tafelberg; en Parys, Frankryk, het die Eiffel-toring. Dit is almal bakens wat sinoniem met daardie stede is. [Lees meer hier oor bakens.] As ons aan Kaapstad dink, kan ons dié stad amper nie sonder Tafelberg voorstel nie, en dieselfde geld die Eiffel-toring in Parys.

Die Eiffel-toring is een van die bekendste landmerke of mensgemaakte bakens in die wêreld. Die toring staan in Frans as Tour Eiffel bekend, en is deur die Franse ingenieur Alexandre-Gustave Eiffel en sy span ontwerp en gebou (en natuurlik na Eiffel vernoem). Eiffel was nie net as ingenieur en entrepreneur bekend nie, maar ook as wetenskaplike. Eiffel is in 1832 in Dijon, Frankryk, gebore en het aan die Ecole Centrale des Arts et Manufactures studeer.

Die ingenieur Alexandre-Gustave Eiffel na wie die Eiffel-toring vernoem is.

Die toring word ook La dame de Fer genoem, wat Frans is vir “Ysterdame” of “Ystervrou”. Ongeveer sewe miljoen toeriste besoek dié indrukwekkende toring jaarliks. 1 Het jy geweet dat die Eiffel-toring aanvanklik net tydelik oor die stad van liefde, soos Parys ook genoem word, sou uittroon? Kom ons vertel meer!

Geskiedenis

Die Eiffel-toring staan vandag waar hy is danksy ’n kompetisie wat die Franse regering uitgeloof het. Die regering was besig om ’n skou te reël om die 100ste herdenking van die begin van die Franse Revolusie te vier. [Lees hier oor die Franse Revolusie.] Hulle het besluit om ’n struktuur in die stad op te rig as simbool van die groot okkasie en het mense gevra om met idees daarvoor vorendag te kom.

Die Franse Revolusie het in 1789 uitgebreek.

Daar was 107 planne, maar Eiffel se span se plan het gewen. Sy span het verskeie kundiges, insluitend die ingenieurs Maurice Koechlin en Emilie Nouguier, bestaan. Hulle het ook die argitek Stephen Sauvestre se hulp ingeroep om die toring mooier te laat lyk.

Daar was egter baie mense wat nie so mal oor die idee van die toring was nie, omdat niks soortgelyks al gebou was nie. Die toring is egter gebou, en dit het sowat 300 werkers net meer as twee jaar geneem om dit te voltooi. Die fondasie van die toring het vyf maande geneem om te bou.

Baie mense het dit geprys, terwyl ander dit weer erg gekritiseer het en dit as ’n seeroog bestempel het. Daar is selfs ’n brief opgestel wat 300 Paryse kunstenaars onderteken het en wat in ’n koerant gepubliseer is. Hulle was hewig teen die toring gekant.

Die toring was jare lank die hoogste struktuur ter wêreld, totdat die Chrysler-gebou in 1930 in New York voltooi is. 2 Die wêreld se hoogste mensgemaakte struktuur tans is die 828 meter hoë Burj Khalifa in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate. Dié gebou het met sy opening op 9 Januarie 2010 die amptelike titel van hoogste gebou ter wêreld en die hoogste selfondersteunende struktuur gekry.

Nuttige gebruike

Nadat die skou in 1890 beëindig is, wou die Franse regering die toring afbreek, maar Eiffel het slim planne bedink om dit bruikbaar te hou. Veranderinge is aan die toring aangebring om dit in 1890 as ’n weerstasie in te rig en om in 1903 as ’n militêre telegraafstasie te dien. 3

Dit het ook in 1909 ’n laboratorium geword om aërodinamika te bestudeer. Die toring het met die koms van televisie hoër geword, want daar is allerlei antennas opgerig, en só is nog 20 m by die hoogte gevoeg.

Die Eiffel-toring is baie jare lank deur ’n onderneming bestuur, maar die stad Parys se regering het dit in 1981 oorgeneem. Die toring het van 1981 tot 1983 groot opknappings ondergaan om dit in ’n perfekte toestand vir sy 100-jaarherdenking in 1989 te kry. Die opknapping van die struktuur het ongeveer $40 miljoen gekos – gereken teen die wisselkoers in 1983 het dit ongeveer R45 miljoen gekos. 3

Hoe lyk die toring?

Die toring het drie vlakke en is 300 m hoog. Dit het ’n oop raamwerk en is van gietyster gemaak. Die basis van die toring bestaan uit vier halfsirkelvormige boë. Jy kan met trappe tot die eerste en tweede vlakke klim, of jy kan in hysbakke met glasmure ry. Die glashysbakke is deur die Otis-hysbakonderneming ontwerp en gebou.

Dan is daar ’n volgende stel hysbakke wat van die tweede vlak na die derde platform naby die bopunt gaan. Daar is besigtigingsgedeeltes waar mense oor die stad kan uitkyk en foto’s neem. ’n Mens kan op ’n mooi wolklose dag tot 80 km ver sien! 4

Daar is ook restaurante, ’n museum en ’n soewenierwinkeltjie waar jy vir jou ’n aandenking kan koop om huis toe te vat. Daar is ’n Cinémax in die museum en daar kan jy na video’s van die toring kyk. Die sentrale struktuur het twee vlakke met twee restaurante. Le Parisien is op die laer vlak, en La Belle France is op die tweede vlak.

Die oorspronklike struktuur was donkerrooi geverf, en dit is in 1899 geel geverf. Dit was daarna donkerbruin, maar is toe na die huidige bronskleur verander. Die toring is al sedert sy ontstaan 19 keer oorgeverf. Dit word gewoonlik elke sewe jaar geverf, ’n tydsraamwerk wat deur Eiffel self voorgestel is. 5

Syfers oor die toring

  • Ongeveer 18 038 metaaldele is in die ontwerp van die struktuur gebruik.
  • Daar was 5 300 tekeninge vir die verskillende dele van die toring.
  • Ongeveer 50 ingenieurs en ontwerpers het daaraan gewerk.
  • Daar het 150 werkers in Eiffel se Levallois-Perret-staalfabriek aan die stukke gewerk.
  • Tussen 150 en 300 werkers het op die konstruksieterrein gewerk.
  • Ongeveer 2,5 miljoen boute en 7 300 ton yster is gebruik.
  • Die toring is met 60 ton verf geverf.
  • Daar is vyf hysbakke.
  • Die toring het 1 665 trappe en drie platforms.
  • Daar is amper 80 km se elektriese kabels wat in die struktuur gebruik word.
  • Daar is 120 antennas aan die bopunt van die Eiffel-toring.
  • Daar is 20 000 gloeilampe wat dié landmerk elke aand verlig. 6

Woordbank

aërodinamika Die wetenskap van gasse wat beweeg en hul meganiese uitwerking.
antennas Lugdraad vir opvang en uitsaai van elektromagnetiese golwe.
bakens Bekende kenteken.
boute Skroewe met plat koppe en geen punt nie, wat in ‘n moer (’n plat metaalblokkie met ‘n gat in die middel) pas om dinge aan mekaar te heg.
entrepreneur Iemand wat met ’n nuwe onderneming begin.
ingenieur Iemand wat in ’n tegniese veld werk dinge ontwerp, bou en aan die gang hou.
Franse Revolusie Die Franse Revolusie het op 14 Julie 1789 in Frankryk begin. Die monargie is omvergewerp, en die land het ’n republiek geword.
landmerke ’n Opvallende voorwerp waaraan ’n gebied herken word.
okkasie Geleentheid.
replikas Nabootsing van iets.
seeroog Lelike, aanstootlike gebou, plek of voorwerp wat ’n bron van irritasie is.
soewenier Aandenking of memento om jou aan iets/iemand te herinner.
stelte Paal of stok waarop daar blokkies is waarop jou voet kan rus terwyl jy daarop loop.
sweefstokartieste Gimnaste wat in die lug op ’n sweefstok rondswaai, op toue loop en ander toertjies uitvoer.
telegraafstasie Die plek waar ’n telegraaf, ’n elektriese seintoestel waarmee seine of tekens gestuur word, aangetref word.
weerstasie ’n Plek waar die weer bestudeer word.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die storie van dié merkwaardige toring

Hoe lyk die toring van binne?

Een van die bekendste bakens ter wêreld

Foto: iStock
Gepubliseer op: 4 Oktober 2023 | Bygewerk op 20 Februarie 2024