Vinnige feite

  • Antieke Egipte het sowat 5 000 jaar gelede (oftewel 3100 v.C.) in die Nylriviervallei in Egipte ontstaan. Dit was een van die wêreld se vroegste beskawings.
  • Die antieke Egiptenare is baie bekend vir hul piramides, tempels, paleise en graftombes.
  • In die koning se grafkamer is daar ’n groot stuk graniet wat nie deur die deure kon gaan nie! Is die piramide rondom dit gebou of hoe het hulle gemaak? Ons sal nooit weet nie! 9
  • In 1925 is daar ’n graftombe vir koning Khufu se ma koningin Hetepheres ontdek. Haar mummie was nie meer daar nie, maar wel ’n leë sarkofaag en juwele en meubels!
  • Die Giza-piramides kan van 07:00 tot 18:00 van April tot September besoek word en van 08:00 tot 16:00 van Oktober tot Maart. Die piramides staan aan die buitewyke van die stad Kaïro in Egipte. 10
  • Meer as 14 miljoen mense besoek jaarliks die piramides.
  • Daar is in die jare tagtig en negentig groot uitgrawings rondom die piramides gedoen en klomp ontdekkings is gemaak, soos dat daar in die arbeiders se woonbuurte bakkerye, store, werkswinkels en klein tombes was. Die tombes was eenvoudige koepels wat van modder en bakstene gebou is en daar was ook klipmonumente. Standbeelde is ook binne-in hierdie strukture gevind, asook inskripsies in hiërogliewe.

 

Lank, lank gelede het die antieke Egiptenare drie massiewe piramides gebou. Ons weet nou nog nie eintlik presies hoe nie, want dis nie asof hulle hyskrane, groot vervoertrokke of enige hedendaagse tegnologie gehad het nie. Dit moes ’n enorme taak gewees het!

Die piramides is in ongeveer 2575 tot 2465 v.C. op die westelike oewer van die Nylrivier naby Giza in noordelike Egipte gebou. Die piramides se Arabiese naam is Ahramat Al-Jizah. Dit was eens op ’n tyd een van die Sewe Wonders van die Wêreld.

Vandag praat ons van daardie wonders as die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld. Dit word ook die Klassieke Wonders genoem. Van hierdie wonders bestaan daar vandag nog net een, en dis die Groot Piramides van Giza. 1

Die Giza-piramidekompleks word ook die Giza-nekropolis of die Dodeakker van Giza genoem. Dis ’n kompleks in Egipte waar ’n mens die drie groot piramides, die Groot Sfinks en kleiner piramides kan besoek. Die piramides word ook deur mastabas omring. Dit is in ’n patroon gerangskik en is gebruik om familielede of hoë amptenare van die konings te begrawe. 2

Die Giza-piramides het in 1979 ’n Unesco-wêrelderfenisgebied geword en die piramides is een van die landmerke waarvoor Egipte bekend is. 3 [Lees meer hier oor landmerke.]

Meer oor die piramides

Die drie piramides is na drie Egiptiese konings vernoem wat duisende jare terug geleef het. Die name is Khufu, Khafre en Menkaure. Khufu was die oupa, Khafre, sy seun, en Menkaure die kleinseun.

Die Egiptenare het piramides gebou om as graftombes vir hul farao’s te dien. Die konings is as gode gesien en daar is geglo dat die konings ná hul dood weer sou leef. Hul lyke is nie begrawe of veras nie.

Die ou Egiptenare het die liggame gebalsem en hierdie gebalsemde lyke word mummies genoem. Dit is gedoen deur die liggame se interne organe te verwyder en dan die liggaam met sout en ander chemikalieë te behandel. Die Egiptenare het ook modder en sand tussen die liggame en die doeke geplaas en daar is ook spesifieke kiste gebruik om die liggame nog langer te bewaar. Belangrike mense, soos die konings, se liggame is in versierde kiste (selfs goue kiste!) geplaas, wat sarkofae genoem is.

‘n Voorbeeld van sarkofaag.

Die mummies is in graftombes binne-in vertrekke in die piramides geplaas, maar hulle het ook allerlei dinge daarin geplaas wat die konings weer in ’n ander lewe sou nodig kry. Daar was byvoorbeeld kos en drank, klere, meubels en kosbare skatte! Die piramides is juis gebou om die liggame en skatte te bewaar, maar ongelukkig is die piramides deur die jare geplunder en geen skatte is meer daarin nie. 4

Kleiner piramides is ook gebou as graftombes vir ander lede van die koninklike familie, terwyl minder belangrike familielede en amptenare van die konings in eenvoudige graftombes, wat mastabas genoem is, begrawe is. Die piramides se bou is deur mastabas geïnspireer. Die mastabas was net vierkantige tombes met plat dakke. In ongeveer 2650 v.C. het farao Djoser sy argitek Imhotep gevra om ’n nuwe tipe graftombe te bou. Die argitek het ses mastabas bo-op mekaar geplaas met die grootste een wat heel onder was en dan het hulle kleiner na bo geword. En so is die piramide gevorm! 2

Die eerste piramide (Groot Piramide van Giza)

Die oudste piramide in die kompleks is heel eerste vir die farao bekend as Khufu gebou. Sy naam in Grieks is Cheops. Die piramide staan dus as die Piramide van Khufu, die Piramide van Cheops, of die Groot Piramide van Giza bekend. Khufu was die tweede regeerder van Egipte se koninklike vierde dinastie. Sy ouers was die farao Sneferu en koningin Hetepheres. Sneferu het glo die eerste ware piramide laat bou, dit is die Rooi Piramide by Dashur in Egipte.

Khufu het meer as 20 jaar lank geregeer en daar is met die bou van sy piramide begin net nadat hy die troon bestyg het.

Daar word geglo dat Khufu se neef, Hemiunu, die argitek van hierdie piramide was en dat dit teen 2560 v.C. klaar gebou was. Dit was vir meer as 3 800 jaar lank die hoogste mensgemaakte struktuur ter wêreld. 5

Hierdie is die grootste van die piramides met ’n basis van 5,3 ha groot. Elke kant van die basis is ongeveer 230 m lank. Die oorspronklike hoogte van die piramide was ongeveer 147 m, maar omdat die wit kalksteen daarop beskadig, afgehaal of geplunder is, is dit vandag nie meer so hoog nie. Al drie piramides was met wit kalksteen bedek, maar dis nie meer vandag daar nie. Die kalksteen het glo geskitter in die son en mense kon die piramides van baie ver af sien. Ongelukkig het aardbewings dit verwoes en dis ook afgesteel. Daar is ook mense wat dit afgehaal het om ander geboue mee te bou.

Die vertrekke binne-in die piramide is van rooi granietblokke gemaak, terwyl die buitenste gedeelte uit geel sandsteen gebou is.

Die grafkelder bestaan uit groot blokke graniet. Ongeveer 2,3 miljoen blokke is uit klip gekap, vervoer en opmekaar geplaas om hierdie piramide te bou. Dit weeg ’n verstommende 5,75 miljoen ton. Wat regtig merkwaardig is, is dat elke klipblok minstens 2,5 ton weeg en werkers moes hierdie enorme blokke optrek en dit dan opmekaar vassit!

Die Griekse historikus Herodotus het geskryf dat dit 100 000 mans 20 jaar geneem het om die Groot Piramide te bou. Argeoloë beraam egter intussen dat sowat 20 000 werkers daaraan gewerk het. Die werkers het op die perseel gebly en daar is vir meer as 20 jaar lank aan die piramide gebou.  Baie van die graniet en klip is met bote op die Nyl vervoer en van daar af na die perseel geneem. 2

Middelste piramide

Hierdie piramide is vir Khafre gebou. Hy is in Grieks Chephren genoem en was die vierde van die agt konings van die vierde dinastie. Khafre (2558-2532 v.C.) was een van Khufu se seuns en het sy broer, Djedefre, op die troon opgevolg.

Khafre het die tweede grootste piramide in Giza laat bou, maar daar is nie veel oor hierdie farao bekend nie. Hy het die piramide natuurlik laat bou sodat sy liggaam ná sy dood daar bewaar kon word. Dit lyk glo eintlik groter as Khufu se piramide, maar dis net omdat dit op hoër grond staan. Die spits van die piramide bevat ook nog ’n stuk van die oorspronklike kalksteen en daarom lyk dit ook hoër.

Daar het glo sowat 20 000 werkers daaraan gebou en miljoene blokke kalksteen en graniet is gebruik. Dié piramide is in 2570 v.C. voltooi. Die kante is 216 m lank en dit was oorspronklik 143 m hoog. 6

Laaste piramide

Die suidelikste en laaste piramide wat gebou is, was Menkaure s’n. Die koning is in Grieks Mykerinus genoem en hy was die vyfde regeerder van die vierde dinastie.

Menkaure se ouers was Khafre en koningin Khamerernebty I en hy het sy pa opgevolg nadat hy gesterf het. Net soos oor die ander farao’s van daardie tyd, is daar nie baie inligting oor hom bekend nie, maar hy het glo minstens twee vroue gehad: koningin Khamerernebty II en koningin Rekhetre.

Sy piramide was die laaste van die groot piramides van die kompleks om gebou te word. Die sye is 109 m lank en die oorspronklike hoogte was 66 m. Dit is omtrent in 2510 v.C. voltooi en argeoloë glo dat die farao dalk dood is voor die piramide klaar gebou is omdat sekere gedeeltes nog nie afgerond was nie. 7

Die Groot Sfinks

Net suid van die Groot Piramide naby ’n tempel wat vir Khafre gebou is, word die Groot Sfinks gevind. Die sfinks is uit ’n massiewe stuk kalksteen gesny en het die gesig van ’n man, maar die lyf van ’n leeu. Die kop dra ’n koninklike hoofbedekking soos wat die antieke Egiptenare gedra het. Die sfinks is ongeveer 73 m lank en 20 m hoog.

Daar word geglo dat die Groot Sfinks in die vierde dinastie gebou is en dat die farao Khafre mense aangesê het om dit te bou. Daar is egter geskiedkundiges wat nie daarmee saamstem nie. Hulle meen weer dis Khafre se ouer broer wat dit as ’n eerbetoon aan hul pa, Khufu, laat bou het. Daar word gesê dat die gesig van die Groot sfinks meer na Khufu as na Khafre lyk. Daar is egter geskiedkundiges wat spekuleer dat dit juis die rede was dat Khufu sy eie standbeeld laat bou het.

Ongelukkig het die sfinks deur die jare baie skade gely en ’n groot deel daarvan is weg as gevolg van erosie. [Lees meer hier oor erosie.] Die neus is byvoorbeeld nie meer daar nie en daar is daar allerlei gerugte oor hoekom die neus weg is. Party mense glo dat die Franse keiser Napoleon se troepe die neus met ’n kanon afgeskiet het, terwyl ander mense weer sê die neus was al weg voor Napoleon in daardie geweste gekom het. Nog ’n teorie is dat iemand in die 14de eeu teen afgode gekant was en die neus in protes afgebreek het.

Die klip wat gebruik is om die sfinks te bou, is ook gebruik om die Tempel van die Sfinks te bou. Die tempel is aan die god Ra, die Egiptenare se songod, opgedra.

Daar was ’n tyd in antieke Egipte wat die sfinks deur die mense aanbid is. 8 Kan jy glo?

Agteruitgang van die piramide-kompleks

Binne 500 jaar vandat die Giza-piramides verseël is, is die piramides rot en kaal besteel.

Tydens die 12de eeu was daar ’n sultan met die naam van Al-Aziz Uthman wat probeer het om die piramides te vernietig. Hy het ’n massiewe arbeidsmag aangestel om Menkaure se piramide af te breek, maar gelukkig was die werk net te enorm en hulle het ná ’n jaar opgehou. ’n Mens kan egter steeds die skade daarvan in een van die kante van die piramide sien!

Woordbank

afstammelinge Nageslag.
beskawings Samelewings.
dinastie ’n Regerende stamhuis.
dodeakker Plek waar baie dooies rus.
enorm Baie groot/moeilik.
erosie Die verbrokkeling as gevolg van toestande, soos wind, ys en water.
farao’s Egiptiese konings.
gebalsem Die proses om ’n liggaam met die gebruik van chemikalieë te bewaar.
geplunder Gestroop of geroof.
gerugte Onbevestigde stories; praatjies.
geweste ʼn Landstreek.
graftombes Grafmonumente wat van steen gemaak is.
hiërogliewe Die Egiptenare se skrifstelsel wat uit tekeninge en beelde bestaan het.
historikus Iemand wat geskiedenis bestudeer.
huldeblyk ’n Eerbetoon aan iemand.
inskripsies Woorde wat op ʼn monument ingebeitel of gegraveer is.
interne organe Ingewande (soos die hart, brein, lewer, nier, ens.); al die organe wat by mens en dier in die liggaamsholtes lê.
koepels Halfbolvormige dak.
landmerke ’n Opvallende voorwerp waaraan ’n gebied herken word.
mastabas Grafkelders/grafmonumente van die Ou Egiptiese adel in ’n bepaalde boustyl.
mummies Gebalsemde lyke.
nekropolis ’n Baie groot kerkhof (waar baie lyke is).
piramiedes ’n Grafmonument van Egiptiese konings wat spits na bo loop.
protes Beswaar, teenkanting.
rot en kaal besteel Alles steel of plunder.
sarkofae Versierde kiste wat vir farao’s gebruik is.
sterrekonstellasie ’n Groep sterre wat ’n denkbeeldige vorm in die naghemel maak.
wonders Iets buitengewoons.

Lees dié artikels om meer te leer 

Kyk dié video’s oor meer te wete te kom

Hoe is die piramides gebou?

Vind meer uit oor piramides

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 3 November 2023 | Bygewerk op 13 September 2024