Vinnige feite

  • Daar word geglo dat meer as 80% van die wêreld se goud nog ontdek moet word en steeds onder die aardoppervlak begrawe is. En het jy geweet dat suiwer goud so sag is dat dit met eenvoudige handgereedskap gevorm kan word? 9
  • In antieke tye is ʼn ons sout (sowat 28 g) vir ʼn ons goud verruil! 10
  • Aluminium is die algemeenste metaal wat in die aardkors voorkom (amper twee keer so volop soos yster). Benewens yster is daar nie ʼn maklike manier om aluminium uit erts te haal nie, maak nie saak hoeveel jy dit verhit nie. In die 19de eeu was aluminium selfs kosbaarder as goud en silwer, want dit was moeiliker om te bekom. Die kleur en glans daarvan het net soos goud en silwer geskitter. 11
  • Die opgrawing by die Kimberley-mynterrein het in 1871 afgeskop. Teen die tyd wat die myn op 14 Augustus 1914 gesluit het, het die myn 2 722 kg diamante opgelewer, wat uit 22,5 miljoen ton uitgegrawe grond gehaal is. 12
  • Koper word as ’n baie belangrike kommoditeit beskou omdat dit in hernieubare energiestelsels gebruik word. Koper is een van die oudste ontginde minerale. ‘n Koperhangertjie wat in Noord-Irak ontdek is, dateer terug na 8 700 v.C., wat wetenskaplikes laat glo dat dit een van die eerste metale is wat opgegrawe is. Wetenskaplikes het selfs koperpype ontdek wat meer as vyfduisend jaar oud is. Vir byna vyf millennia was koper die enigste metaal wat aan mense bekend was, en is dus vir alle metaaltoepassings gebruik. 12

Foto: iStock

Die aarde se kors bevat ‘n groot hoeveelheid minerale en ander materiale wat baie nuttig vir mense is. Om hierdie waardevolle, natuurlike hulpbronne te bekom, moet mense in die grond delf of myn. Die gate wat hulle grawe, word myne genoem. Mynbou speel ‘n geweldige groot rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie en het in 2022 nagenoeg R200 miljard tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) bygedra. 1

Soorte myne

Daar is drie soorte myne:

  • Oopgroefmyne
  • Ondergrondse myne
  • Onderwatermyne

Sommige myne is groot oop groewe, soos klowe, en word oopgroefmyne genoem. Oopgroefmyne is een van die algemeenste mynmetodes wat gebruik word en begin op die aarde se oppervlak. Die opgrawing het gewoonlik trappe om die veiligheid van die mynwerkers te verseker en ’n wye oprit waar toerusting en voertuie kan beweeg, sodat die minerale waarvoor gemyn word, doeltreffend en veilig verwyder en vervoer kan word. 1

Om in die aarde te boor vir olie of gas, is nog ʼn spesiale vorm van mynbou. In hierdie geval word die gat in die grond ʼn put genoem, nie ʼn myn nie. Hoewel mynwerkers gewoonlik na een soort mineraal of materiaal soek of delf, vind hulle soms ook ander waardevolle hulpbronne.

Ondergrondse myne het weer smal skagte, of tonnels, wat baie diep onder die grond is. Tonnelmyne of myne met skagte (hoë torings met spesiale hysbakke wat diep onder die grond in sak) kan vir kilometers ondergronds strek. Die Mponeng-goudmyn, voorheen Western Deep Levels, in Westonaria, Gauteng is die diepste myn ter wêreld. 2

Soms loop die tonnels in groot vertrekke uit. Mynwerkers wat diep onder die grond in hierdie kamers werk, gebruik groot masjiene om te boor en te delf. Vars lug, water en elektrisiteit moet van bo die grond af tot diep onder die grond – na hierdie sogenaamde vertrekke – gebring word.

Onderwatermyne is nodig as die minerale binne ’n wateromgewing, soos op die seebodem, geleë is. Dit bied ’n unieke uitdaging en vereis ’n verantwoordelike benadering wat die plaaslike ekosisteem deeglik in ag neem. Mynbou onder water word gedoen met doelgemaakte skepe met behulp van óf ‘n afstandbeheerde onderwatervoertuig óf boortegnologie wat diep onder seevlak kan boor.

Soms moet mynwerkers plofstof soos dinamiet gebruik om tonnels te maak of om die harde oppervlak van die aarde oop te breek. Hierdie ontploffings breek ook die materiale in kleiner stukke, sodat dit makliker bymekaar gemaak en vervoer kan word. 3

Die mense wat in myne werk, word mynwerkers genoem. Mense ontwikkel myne om diamante, steenkool, silwer, sout en vele ander minerale te kry. Wanneer klippe uit ʼn myn gehaal word om vir bouwerk te gebruik, word dit ʼn steengroef genoem. 4

Mynwerkers gebruik groot grondverskuiwingsmasjiene om groefmyne te maak. Die masjiene skraap en grawe die grond totdat hulle die minerale ontbloot. Namate die masjiene dieper en dieper grawe, skep dit ʼn groot gat in die grond en kan ʼn mens die verskillende lae van die grond baie mooi onderskei.

Deur die geskiedenis

Mynbou dateer uit die prehistoriese tyd. Duisende jare gelede – gedurende die Steentydperk – het mense in die grond gegrawe om na vuursteen of -klippe te soek. Vuursteen is ʼn klip waarmee wapens en gereedskap vervaardig kan word. 5

Die eerste metaal wat ontgin is, was koper. Die oudste kopermyne was in Egipte. Antieke Egiptenare het hierdie myne ongeveer 7 000 jaar gelede gegrawe. Teen 5 000 jaar gelede het mense ook sink (tin) gemyn en dit met koper gekombineer om brons te skep. Hierdie metaal was belangrik vir die vervaardiging van stewiger wapens en gereedskap. Later het mense yster gemyn om nóg sterker gereedskap en wapens te maak.

Die antieke Grieke het marmer ontgin en in pragtige geboue gebruik. Die Romeine het weer groot mynboubedrywighede gehad, baie in lande wat hulle verower het. Gedurende 1400 en 1500 het die Spanjaarde ryk geword deur goud en silwer in die Amerikas te ontgin.

Die eerste mynbedrywighede in die Verenigde State van Amerika (VSA) het in die 1700’s begin. Intussen het steenkoolmynbou in die Verenigde Koningryk (VK) gehelp om die Industriële Revolusie te begin. Dit was ʼn tyd toe mense masjiene begin gebruik het om goedere te maak. Steenkool is tot vandag toe ʼn belangrike energiebron om masjiene aan te dryf en elektrisiteit op te wek.

In die 1900’s het baie lande begin om mynbou veiliger vir mynwerkers te maak. Vandag is baie mense bekommerd oor besoedeling en ander omgewingskade wat deur mynbou veroorsaak word. 6

Mynbou in Suid-Afrika

Mynbou in Suid-Afrika het begin toe die eerste kopermyn in die vroeë 1850’s in die Noord-Kaap gestig is. In 1867 is die eerste diamant in Hopetown ontdek, waarna diamantmyne in Kimberley – ook in die Noord-Kaap – gevestig is. Teen die einde van 1870 is goud buite Polokwane in Limpopo ontdek.

Steenkoolmynbou in Suid-Afrika het in die 19de eeu aan die Witwatersrand (Gauteng) begin op ongeveer dieselfde tyd as die ontstaan van goudmynbou. Ongeveer 70% van die steenkool wat in Suid-Afrika ontgin word, word gebruik vir plaaslike kragopwekking, en die oorblywende steenkool – wat van hoër gehalte is – word uitgevoer. Die steenkoolmynbedryf verteenwoordig ongeveer 19% van die totale werk in die Suid-Afrikaanse mynbousektor.

Platinum is in 1924 in Suid-Afrika ontdek. Geoloog Hans Merensky het verskeie afsettings gevind, elk ongeveer 100 km lank. Die gebied is die Bosveldstollingskompleks (Bushveld Igneous Complex) genoem. Sedert die Tweede Wêreldoorlog het platinummynbou in Suid-Afrika vinnig gegroei, en sedert 2020 word meer as 75% van die wêreld se platinumproduksie hier gedoen.

Die ontdekking van goud in Suid-Afrika in die 19de eeu het die ontwikkeling van Egoli (die Zoeloe-naam vir Johannesburg wat “plek van goud” beteken) aangewakker. Hoewel Suid-Afrikaanse goud slegs 4,2% van die wêreldwye goudproduksie uitmaak, is dit steeds die tuiste van die grootste goudbron ter wêreld – die Witwatersrand-bekken, wat oor ʼn boog van ongeveer 400 km oor drie van Suid-Afrika se provinsies strek.

Die heel eerste diamant wat in Suid-Afrika ontdek is, is in Hopetown aan die oewer van die Oranjerivier gevind, en diamante is aanvanklik ontgin uit alluviale afsettings wat in riviergebiede gevind is. Later jare het ondergrondse ontginning en herwinning van diamante die algemeenste metode vir diamantontginning geword. In 2019 het Suid-Afrika 7,2 miljoen karaat diamante ontgin. De Beers, wat die diamantbedryf reg oor die hele wêreld oorheers, is oorspronklik in 1888 deur Cecil John Rhodes in Suid-Afrika gestig. 7

Gevare en onwettige delwery

Mynbou is gevaarlike werk. Tonnelmyne kan inmekaar stort of vinnig met water oorstroom. As sulke rampe plaasvind, kan mynwerkers ondergronds vasgekeer wees. Die ontploffings wat in mynbou gebruik word, kan ook giftige gasse vrystel.

ʼn Groot probleem, veral in Suid-Afrika, is onwettige mynwerkers (hulle word ook Zama Zamas genoem) wat myne op skelm en gevaarlike maniere binnekom. Daar word geraam dat Zama Zamas die Suid-Afrikaanse ekonomie van R7 miljard se inkomste beroof. Hulle beskik egter dikwels nie oor die regte toerusting nie en word dan ondergronds vasgekeer en sterf. 8

Woordbank

dinamiet Ontplofbare stof, springstof, onder meer gebruik om rotse stukkend te skiet.
hulpbronne Enigiets wat tot nut van die mens is, veral met betrekking tot bestaansmiddele.
mynbou
Opsporing en ontginning van delfstowwe.
ontgin
Begin exploiteer/bewerk/ontwikkel; begin om produktief te maak; uit die grond haal.
rampe Ernstige ongeluk wat ‘n groot invloed het.
skagte Vertikale put/tonnel wat toegang gee tot ‘n myn.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Hoekom is mynbou belangrik?

Wat is mynbou?

Industriële Revolusie: steenkoolmynbou

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 Augustus 2021 | Bygewerk op 3 April 2024