Vinnige feite

  • Die groot beskawing van antieke Egipte het ongeveer vyfduisend jaar gelede ontstaan.
  • Die Nylrivier is ongeveer 6 600 km lank.
  • Dit het 20 jaar geneem om die Groot Piramide in Egipte te bou en 5 000 mense het daaraan gehelp bou.
  • Meeste piramides is gebou as grafte vir konings.
Foto: iStock

Die groot beskawing van antieke Egipte het ongeveer vyfduisend jaar gelede in die vallei van die Nylrivier ontstaan. Dit was naastenby in die jaar 3100 v.C. Hierdie beskawing het vir meer as tweeduisend jaar lank bestaan en goed gefunksioneer totdat dit ongeveer teen die jaar 30 geëindig het. In die hele menslike geskiedenis was die antieke Egiptiese beskawing die een wat die langste bestaan het. 1

Vier hooftydperke

Die geskiedenis van ou Egipte word in vier hooftydperke ingedeel. Sommige bronne noem net drie hooftydperke en verwys nie na die Vroeë Periode as ’n afsonderlike tydperk nie.

Die Vroeë Periode het ongeveer vierhonderd jaar geduur. In hierdie tyd is tempels en paleise gebou. Daar is besproeiingstelsels en ’n vroeë soort skrif (hiërogliewe) ontwikkel. Daar is ook begin om ploeë wat deur osse getrek is, te gebruik. 1

Die Ou Ryk word ook die Piramidetyd genoem omdat baie piramides in hierdie tyd gebou is. Hierdie tydperk het ongeveer 500 jaar geduur. 1

Die Middelryk het 200 jaar geduur. In hierdie tydperk het kunsvorme soos letterkunde en argitektuur ontwikkel. 1

Die Nuwe Ryk was die tydperk waarin Egipte tot die wêreld se magtigste land ontwikkel het. Hierdie tydperk het ongeveer 500 jaar geduur. In hierdie tyd het die grondgebied baie groter geword omdat baie ander gebiede verower is en in sommige gevalle kolonies van Egipte gemaak is. 1

Koninkryke

Egipte het teen die jaar 3400 v.C. twee hoofkoninkryke gehad: Opper- en Benede-Egipte. Dit het vir ongeveer driehonderd jaar geduur. Daarna het koning Menes Benede-Egipte verower en die twee koninkryke verenig. 1

Menes was die eerste in ’n lang lys van farao’s wat in Egipte geregeer het. Hy het ook die eerste dinastie (vorstehuis of regerende familie) in Egipte gevestig. Ná hom het daar uiteindelik meer as dertig dinastieë gevolg. 1

Ramses II het vanaf 1290 tot 1224 v.C. in Egipte geheers. Dit is waarskynlik in die tyd toe Ramses II koning was dat die Israeliete onder leiding van Moses uit Egipte getrek het. 2

Die Egiptiese koning of farao was vir die Egiptenare tegelykertyd god en mens. 2

Belangrike rol van die Nyl

Egipte is ’n baie groot woestynland met die Nyl wat regdeur die land loop. Die Nyl is die langste rivier in Afrika en is ongeveer 6 600 km lank.

Vroeër jare het die rivier een keer per jaar sy walle oorstroom nadat daar baie reën in die opvanggebied geval het. Van hierdie water was ook gesmelte sneeu wat op die berge van Oos-Afrika geval het. 1 2

Landbou

Baie grond het saam met die vloedwater in die rivier afgestroom en wanneer die water opgedroog het, het daar vrugbare grond op die oewer agtergebly. Hierdie grond het vir ongeveer 10 km weerskante van die rivier gelê en was baie goeie landbougrond. Boere langs die Nyl kon elke jaar ’n goeie oes kry omdat hulle hul gewasse in hierdie goeie, vrugbare grond kon plant. Hulle het ook kanale gegrawe om die water van die Nyl na hul landerye te lei. 1

Watervervoer

Goedere is met die Nyl langs vervoer. Dit het baie beter en vinniger gewerk as om dit met kamele te vervoer. Dit het ook veroorsaak dat die Egiptenare skepe gebou het om goedere mee te vervoer. 1

Groot stede en hawens

Daar is groot stede soos Thebes en Memphis al langs die rivier gebou en daar is ook hawens soos Rosetta en Alexandrië gebou. 1

Piramides

Die eerste piramides is ongeveer 5 000 jaar gelede gebou. 1 In Giza wat naby Kaïro is, is daar tien afsonderlike piramides. Drie hiervan is die grootste piramides in Egipte. 1 Daar is baie dinge wat verstommend is oor hierdie piramides – vrae wat navorsers nog nooit kon beantwoord nie.  Die grootste raaisel is hoe die Egiptenare dit reggekry het om sonder moderne toerusting die groot blokke waarmee die piramides gebou is, te beweeg.

Net ’n voorbeeld: Die Groot Piramide is ongeveer 2 450 v.C. by Giza gebou. Dit is 146 meter hoog en is gebou uit ongeveer 2,3 miljoen klipblokke wat elkeen 2,5 ton weeg. Dit is naastenby so swaar soos ’n groot vragmotor! Dit het 20 jaar geneem om hierdie piramide te bou en sowat 5 000 mense het gehelp bou. 3

Piramides het ook deel gevorm van die godsdiensbeoefening aangesien die liggame van konings (wat as gode beskou is) ná hul dood in die piramides bewaar is. In die piramides was daar geheime kamers vol skatte wat saam met die gebalsemde lyk (mummie) van die koning bewaar is. Omdat die Egiptenare geglo het dat besittings ná die dood deur die gestorwe persoon gebruik kon word, het hulle dinge soos kos, drank, juwele en klere saam met die liggame van oorledenes in die grafkelders gelaat. 1

Rede waarom piramides en ander bouwerk so lank gehou het

Baie oud-Egiptiese artefakte het deur die jare in lande buite Egipte beland. ’n Obelisk, wat Cleopatra se Naald genoem word, is in 1881 aan die VSA geskenk en in New York opgerig. Hierdie obelisk het in ongeveer 3 000 jaar, terwyl dit in die droë en warm Egiptiese woestyn gelê het, byna glad nie verweer nie. Vandat dit in New York opgerig is, het dit baie verweer sodat die hiërogliewe op die stuk rooi graniet al byna onleesbaar geword het. Die rede is waarskynlik, onder meer, die New Yorkse klimaat en besoedeling. 1

Cleopatra se Naald

Godsdiens en gode

Die godsdiens van die Egiptenare was die mees opvallende aspek van hul beskawing. Vir vandag se moderne mense lyk hul godsdiens dikwels vreemd en vol geheime. 1

Die Egiptenare het tempels, piramides, grafkelders en monumente gebou om hul gode te vereer. Die grootste tempel in die land is by Karnak. Hierdie tempel is ter ere van die songod Ra gebou. Dit is 24 meter hoog en het meer as 130 suile. 1

Daar is honderde konings of farao’s in versierde grafkelders begrawe. Hoewel baie van hierdie grafkelders deur die eeue vervalle geraak het, het ’n paar behoue gebly. Een daarvan is die grafkelder van die bekende Toetankamen (Tutankhamun is die Engelse spelling van die naam). Hy het geleef van ongeveer 1346 tot 1328 v.C. Hy staan ook bekend as die seun-farao, omdat hy slegs omtrent nege jaar oud was toe hy koning geword het.

Die graf van Toetankamen is in 1922 deur die Britse argeoloë Howard Carter en George Carnarvon opgegrawe. Daar was ook ’n groot hoeveelheid skatte in die graf en hierdie ontdekking word beskou as een van die belangrikste argeologiese ontdekkings in die geskiedenis. 1  4 Omdat Egiptenare se siening oor godsdiens en siektes nou aan mekaar verbind was, het baie gode ook iets met een of ander siekte of met gesondheid te doen gehad. 1

Die Egiptenare het geglo dat ’n mens ná jou dood jou aardse lewe voortsit. Daarom is ’n liggaam ná die dood gebalsem, gedroog en in linne toegedraai. Dit is hoe ’n mummie gemaak is. Die liggaam is dan in ’n doodskis in ’n grafkelder geplaas. Navorsers wat duisende jare later hierdie mummies bestudeer het, het deur hierdie studies baie geleer oor die voedsel wat die Egiptenare geëet het en ook aan watter siektes hulle gelei het. 1

Die Egiptenare het hul konings – die farao’s – as gode beskou, maar hulle het ook baie ander gode en godinne gehad. 5

Enkele voorbeelde van hierdie gode en die funksies wat hulle gehad het, is die volgende:

  • Horus is die farao se beskermer en ook beskermheer van jong mans.
  • Nut is die Egiptiese godin van die uitspansel.
  • Re (of Ra) is die Egiptiese songod, die heerser van alles.
  • Set (of Seti) is die Egiptiese god van chaos, boosheid, oorlog, storms, woestyne en vreemde lande.
  • Tefnut is die Egiptiese godin van vog of water. 4

Kultuur

Posisie van die vrou

Die huwelik in Antieke Egipte was monogaam, dit wil sê een man het met net een vrou getrou. Slegs die koning was ʼn uitsondering en hy het soms ʼn harem aangehou (hy het baie vroue gehad). Die vrou was in baie opsigte die gelyke van die man. Sy kon handel dryf en kon ook as die woordvoerder van haar familie optree.

Die vrou kon selfs hoë posisies beklee, en veral ’n priesteres het ’n belangrike posisie in die samelewing gehad.

Die koningin het dikwels baie invloed gehad en kon selfs die mag van die farao oorneem. Koningin Hatsjepsoet wat gedurende die 18de dinastie regeer het, was so ʼn voorbeeld. 2

Wetenskap

Die Egiptenare het baie tegniese prestasies behaal, soos die bou van die piramides, die maak van obeliske, mummifikasie en die besproeiingstelsel. Hul wiskundige kennis moes goed gewees het – dit is duidelik uit die afmetings en verhoudings van die tempels en piramides. Die Egiptenare het ook sterrekunde beoefen en die almanak wat hulle gebruik het, is ook die model waarop ons eie almanakke gebaseer is. 2

Laat in die negentiende eeu is die inligting op sewe papirusgeskrifte deur navorsers ontsyfer. Hieruit het hulle die eerste kennis gekry van die geneeskundige gebruike wat in oud-Egipte gebruik is. Twee van hierdie geskrifte wat in 1600 v.C. geskryf is, bevat inligting uit bronne van vermoedelik so ver terug as 2500 v.C. Dit bevat selfs beskrywings van kanker – die vroegste bekende geskrewe inligting oor dié siekte. 1

Mummies

Die Egiptenare het ʼn uitstekende tegniek ontwikkel vir die bewaring van sowel menslike liggame as liggame van diere. Hul tegniek van balseming of mummifisering is waarskynlik ontwikkel omdat hulle geweet het dat gestorwe liggame langer ongeskonde (behoue) bly in die droë woestynsand en Nyl-moerasse as in omgewings waar dit meer aan die buitelug blootgestel is. 1

Liggame van mense wat gesterf het, is reeds in die predinastieke tyd in doeke toegewikkel. Later is die doeke vooraf behandel met middels soos natronloog (ʼn bytsoda-oplossing) en pik wat dit sou bewaar. Later is daar ook ʼn beskermende laag van modder en sand tussen die liggaam en die doeke aangebring. Die mummies is daarna in ʼn kis van kalksteen of graniet geplaas. 2

Mummies kon vir eeue lank bewaar gebly. Daar is selfs mummies uit die 2de dinastie gevind. 1

Einde van die Egiptiese kultuur

In die sewehonderd jaar ná die tydperk van die Nuwe Ryk, het die land ál hoe vinniger agteruitgegaan en is dit deur vreemde dinastieë (koninkryke) soos dié van Nubië, Assirië en Persië oorheers. 1

In 332 v.C. is Egipte deur Alexander die Grote van Macedonië verower. Hierna het die Griekse kultuur al hoe belangriker geword in Egipte. Met die koms van die Christendom het die Egiptiese kultuur verdwyn. In hierdie tyd is antieke tempels en grafkelders ook verwaarloos. Al hierdie faktore het uiteindelik veroorsaak dat die eiesoortige beskawing wat vir so lank rondom die Nyl bestaan het, verdwyn het. 1

Woordbank

artefakte Kunsprodukte
harem ’n Groep vroue van een man.
hiërogliewe Tekeninge of beelde wat sommige antieke volke, veral die Egiptenare, as skryftekens gebruik het.
monogaam Die gebruik dat een man met een vrou trou.
mummies Gebalsemde, uitgedroogde lyk, veral van ’n mens uit ou Egipte.
mummifikasie Uitdroging van ’n liggaam ná die dood.
obelisk Spits suil (amper soos ’n pilaar).
opvanggebied Gebied van waar reënwater in ’n rivier of dam inloop.
papirusgeskrifte Grassoort in Afrika en Klein-Asië waaruit lank gelede ’n soort papier gemaak is.
piramides Grafmonument van Egiptiese konings wat spits na bo loop.

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Egiptiese gode

Interessante brokkies inligting oor Antieke Egipte

 

Grafika: Sandra AdendorffFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 Januarie 2022 | Bygewerk op 15 Maart 2024