Vinnige feite

  • Gasse het geen vorm nie, maar neem wel ruimte in beslag.
  • Gasse sal nie in ’n oop houer of ruimte bly nie, maar kan wel vasgevang word in ’n geslote ruimte soos binne-in ’n ballon.
  • Wanneer ’n gas verander na ’n vloeistof, word die toestandsverandering kondensasie genoem.
Foto: iStock

Gas is materie in ’n lugagtige toestand sonder ’n bepaalde vorm of volume. 1 Dit het dus nie ’n vaste vorm nie en sal versprei in die ruimte waarin dit is, soos byvoorbeeld die suurstof wat ons inasem. Materiale is oral om ons en bestaan in drie vorme: vaste stowwe, vloeistowwe en gasse. ’n Materiaal sal altyd in een van hierdie drie toestande voorkom. 2

Alle materie bestaan uit baie klein deeltjies wat molekules genoem word. Molekules bestaan uit twee of meer atome wat deur chemiese bindings aanmekaar gehou word. ’n Mens kan nie molekules of atome met die blote oog sien nie – dit is baie klein deeltjies, selfs kleiner as ’n spikkeltjie stof. 2

Wanneer is ’n materiaal ’n gas?

Gasse het geen vorm nie, maar neem wel ruimte in beslag. ’n Gas kan vrylik rondbeweeg en versprei in oop ruimtes. Gasse sal nie in ’n oop houer of ruimte bly nie, maar kan wel vasgevang word in ’n geslote ruimte soos binne-in ’n ballon. Sommige gasse kan geruik, maar nie gesien of gevoel word nie. 3

Die deeltjies van ’n gas beweeg baie vinniger as die deeltjies in vaste stowwe en vloeistowwe en dit besit baie energie. Die aantrekkingskrag tussen die deeltjies is baie swak, wat beteken dat daar groot spasies tussen die deeltjies is. 4

Dit is ook hoekom gasse saamgepers kan word, want hul deeltjies kan gedwing word om nader aan mekaar te kom (soos gas in ’n leë spuit of ’n fietspomp). Voorbeelde van gasse is suurstof (die gas wat mense en diere inasem), koolstofdioksied (die gas wat mense en diere uitasem), heliumgas (die gas in lugballonne) en gas wat gebruik word vir byvoorbeeld ’n gasstoof.

Eienskappe van gasse

In wetenskap gebruik ons die woord “eienskap” om te bepaal in watter vorm of toestand die materie is, genoem materietoestande. ’n Eienskap wat aan ’n materiaal toegeken word, kan help om tussen die verskillende materiale te onderskei. 2

Byvoorbeeld, wanneer ’n mens water in ’n ketel kook, sal die ketel die vaste stof wees – dit het ’n bepaalde, vaste vorm. Die water is die vloeistof, wat die vorm van die ketel aanneem wanneer dit in die ketel gegooi word. Voor dit in die ketel gegooi is, het dit nie ’n vaste vorm gehad nie – dit neem die vorm van die vaste stof waarin dit gegooi is, aan.

Wanneer die ketel kook, sal die waterdamp ontsnap en stoom vorm wanneer die damp begin kondenseer in die koeler lug buite die ketel. Die waterdamp is ’n gas wat geen vorm het nie en versprei in die lug soos wat dit vorm. ’n Eienskap van ’n gas is dus dat dit geen vaste vorm het nie. 5

’n Materiaal wat ’n gas is, sal die volgende eienskappe hê:

Die materiaal het geen definitiewe vorm nie

Byvoorbeeld: Die waterdamp wat uit die ketel kom, het geen vorm nie en versprei in die lug soos dit uit die ketel kom. 2

Dit neem al die ruimte wat beskikbaar is op

Byvoorbeeld: As die ketel wat kook in ’n kombuis staan, sal die waterdamp wyd versprei in die ruimte wat beskikbaar is. Wanneer die ketel in ’n klein, geslote spasie staan terwyl dit kook, sal die waterdamp slegs in daardie geslote area versprei. 2

Dit kan saamgedruk word in ’n kleiner ruimte in

Byvoorbeeld: Gas word saamgepers om ’n gasbottel te vul. Hierdie gasbottel word dan aan ’n gasstoof gekoppel sodat die gas gebruik kan word om kos mee te kook. Gas kan ook in ’n ballon ingeblaas word (byvoorbeeld suurstof of heliumgas) en as die ballon toegeknoop word, kan die gas nie daaruit ontsnap nie behalwe as die ballon ’n gaatjie kry of bars. 2

Dit is vloeibaar

Byvoorbeeld: Gas kan in enige rigting vloei of gestoot word. Wanneer ’n mens jou arm deur die lug swaai, stoot jy eintlik gasse in die rigting waarin jou arm beweeg. Gas kan in ’n vaste houer saamgepers word en ’n vloeistof word. Wanneer dit vrygestel word, word dit gasdampe wat brand om warmte-energie vry te stel. 5

Gasse het ’n lae digtheid

Byvoorbeeld: Gas kan in ’n spuit of ’n fietspomp saamgepers word. Die aantrekkingskrag tussen die deeltjies in gas is baie swak. Die deeltjies in gasse is dus nie netjies gerangskik nie en daar is groot spasies tussen hulle. Hierdie spasies is baie groter as in die vaste- en vloeistoftoestand. 4

Gasse kan verander

Materiale kan verander wanneer dit blootgestel word aan verskillende temperature. Verhitting en verkoeling laat vaste stowwe, vloeistowwe en gasse van toestand verander. Ons noem dit toestandsverandering. 2

’n Vaste stof word ’n vloeistof (smelt) wanneer dit verhit word en die vloeistof word dan ’n gas (verdamp) wanneer dit nog verder verhit word. Net so kan ’n vloeistof in ’n vaste stof verander word wanneer dit aan koue blootgestel word, byvoorbeeld water (vloeistof) wat gevries word om ys (vaste stof) te vorm. 5 ’n Gas kan ook in ’n vloeistof verander.

Wat gebeur met ’n gas indien sy toestand verander?

Toestandsverandering behels energie. Vir materie om van die een toestand na die ander te verander, moet sy deeltjies energie verkry of verloor. ’n Stof moet óf verhit óf afgekoel word om sy toestand te verander. Smelting en verdamping is prosesse wat verhitting vereis, terwyl kondensasie en vriesing prosesse is wat afkoeling vereis.

Wanneer ’n materiaal verhit word, verkry die deeltjies meer energie. Deur aan die vibrerende deeltjies van ’n vloeistof meer energie te gee, sal sommige deeltjies naby die oppervlak genoeg energie hê om uit die vloeistof te ontsnap. Sodra hulle vry is van die kragte wat hulle in die vloeistoftoestand bymekaarhou, gaan hulle oor na ’n gastoestand. Die gastoestand word die dampfase genoem wat vorm wanneer ’n vloeistof verdamp. Daarom word die gastoestand van water soms waterdamp genoem.

Verdamping vind by alle temperature plaas, terwyl iets by ’n spesifieke temperatuur kook, wat die kookpunt genoem word. Wanneer ’n vloeistof tot by sy kookpunt verhit word, vorm borrels in die vloeistof wat na die oppervlak styg.

Wanneer ’n gas verander na ’n vloeistof, word die toestandsverandering kondensasie genoem. Dit is die teenoorgestelde van verdamping. Wanneer die temperatuur van ’n gas verlaag word, word energie van die gasdeeltjies weggeneem. Die beweging van die gasdeeltjies word stadiger soos hul energie afneem en hulle begin om aantrekkingskragte te ondervind. Hierdie kragte laat hulle nader aan mekaar beweeg en hulle keer dan tot die vloeistoftoestand terug. Op hierdie manier kondenseer gasdeeltjies wat afgekoel word en groepeer saam om waterdruppels te vorm. 4

Voorbeelde van kondensasie en verdamping:

  • Wanneer ’n mens ’n glas gevul met koue water op die tafel los, vorm klein druppels (vloeistof) aan die buitekant van die glas. Dit gebeur omdat daar waterdamp (gas) in die lug is wat afkoel as dit naby die glas is. Die waterdamp in die lug rondom die glas kondenseer soos dit vanaf ’n gas na ’n vloeistof verander, en vorm dan klein druppels wat sigbaar is. 5
  • Wanneer ’n ketel kook en die waterdamp (gas) ontsnap, sal dit waterdruppels (vloeistof) vorm teen ’n muur van byvoorbeeld koue teëls. 5

Woordbank

materie Die materiaal/stof waaruit alles (alle vaste stowwe, vloeistowwe en gasse) in die heelal bestaan. 1
atome Die kleinste deeltjie van ’n chemiese element wat chemies kan reageer; ’n bron van baie groot energie. 1
molekules Die kleinste deeltjie van ’n stof wat die chemiese en fisiese eienskappe van dié stof behou en wat bestaan uit twee of meer atome wat deur chemiese bindings aanmekaargehou word. 1

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Wat is gasse

Meer oor materietoestande

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 24 Januarie 2022 | Bygewerk op 15 Maart 2024