Vinnige feite

Paul Kruger-standbeeld
  • ’n Baie groot verskeidenheid materiale kan in die beeldhoukuns gebruik word – van klip tot sneeu.
  • Anton van Wouw het die standbeeld van Paul Kruger, wat op Kerkplein in Pretoria staan, gemaak.
  • Naby Howick in Suid-Afrika is die beeldhouwerk Nelson Mandela. Dit staan langs die pad op die plek waar oudpresident Nelson Mandela in 1962 in hegtenis geneem is.
  • In ’n grot in Duitsland is ’n beeldhouwerk ontdek wat ongeveer 30 000 v.C. reeds gemaak is.
  • Suid-Afrika kan ook spog met ’n voorbeeld van baie ou beeldhoukuns. In die Blombosgrot naby Stilbaai in die Wes-Kaap is ’n stuk beeldhoukuns ontdek wat 77 000 tot 75 000 jaar gelede gemaak is.

 

Foto: iStock

Een van die belangrike maniere hoe beeldhoukuns van die meeste ander kunsvorme verskil, is dat beelde op byna enige plek gesien kan word – binne-in geboue, vas aan die buitekant van geboue en sommer enige plek buite in die natuur. Die belangrikste rede hiervoor is omdat beelde van so ’n groot verskeidenheid materiaal gemaak kan word. Baie van dié soorte materiaal word nie maklik deur wind en weer verniel nie en daarom kan beeldhoukuns sonder probleme buite staan.

Beeldhoukuns is ook die een kunsvorm wat deur mense wat blind is waardeer kan word omdat hulle kan voel hoe die kunswerk lyk. 1

Verskillende soorte beeldhouwerk

Beelde wat los staan:
Hieronder val standbeelde wat los staan en só geplaas is dat ’n mens rondom die beeld kan loop.

Beelde wat net van een kant bekyk kan word:
Hierdie beelde word gewoonlik in ’n holte of ruimte in ’n muur ingebou. Goeie voorbeelde is beelde van Christus aan die kruis.

Reliëfwerk:
Hierdie beelde word gewoonlik gebruik om geboue mee te versier en word teen die muur van ’n gebou vasgesit. Die gewels waarmee geboue versier word, val ook in dié kategorie.

Materiaal vir beeldhoukuns

Daar is omtrent geen materiaal wat nié in beeldhouwerk gebruik kan word nie. Kyk na hierdie lys: Hout, yster, gips, klip, klei, ivoor, kerswas, goud, silwer, brons, marmer, draad, graniet, been, horing, plastiek en sandsteen.

Beeldhoukuns uit die materiale wat hierbo genoem is, hou meestal nogal lank, sommige daarvan vir honderde of duisende jare.

Maar beeldhouwerk kan ook gemaak word uit materiaal wat juis nie lank hou nie, soos sand. Dikwels sien ’n mens kunstenaars wat pragtige beelde op strande maak en byna al wat hulle gebruik, is sand. Hierdie kunswerke hou natuurlik net totdat die seewater daaroor spoel of die wind lank genoeg daaroor waai. Nog beeldhoukuns wat nie lank hou nie, is wanneer ys of sneeu gebruik word om ’n voorwerp mee te vorm. Tensy dit op ’n plek gedoen word wat baie koud is, sal so ’n kunswerk smelt sodra die son te warm daarop begin skyn. 2

Doel van beeldhoukuns

Beeldhouwerk word natuurlik gebruik om kuns te skep en dit is ook die belangrikste funksie van hierdie kunsvorm. Maar dit kan ook op ander maniere gebruik word.

Dit kan gebruik word om die geskiedenis van ’n land uit te beeld. Só kan ’n mens uit standbeelde en monumente eintlik “lees” wat in die geskiedenis van ’n land gebeur het. In Suid-Afrika het Anton van Wouw met sy baie bekende standbeelde op ’n manier die geskiedenis van die land “geskryf”. (Kyk verder hieroor onder “Suid-Afrikaanse beeldhouers”). 3

Beeldhoukuns kan ook gebruik word om ’n stelling te maak, ’n boodskap oor te dra of selfs om mense te laat glimlag. In Waller Beach in Austin het die beeldhouer Ai Weiwei ʼn kunswerk, Forever Bicycles, gemaak waarin hy 1 200 fietse gebruik het om kindwees en vryheid uit te beeld. Ongelukkig moes dit in 2017 afgebreek word omdat die stadsraad nie meer die onderhoud van die beeld kon bekostig nie.

Die Singing Ringing Tree in Engeland boots ʼn groot boom na en as die wind waai, kan ’n mens klanke hoor. 4

The Shoes on the Danube Bank in Boedapest is in 2005 voltooi. Hierdie kunswerk is ʼn uitbeelding van die honderde Hongare wat aangesê is om hul skoene aan die oewer van die rivier uit te trek net voordat hulle geskiet is tydens die volkslagting van die Jode in die Tweede Wêreldoorlog.

Naby Howick in Suid-Afrika is die beeldhouwerk Nelson Mandela. Dit staan langs die pad op die plek waar oudpresident Nelson Mandela in 1962 in hegtenis geneem is.

Die geskiedenis van beeldhoukuns

Prehistories

Een van die oudste beeldhouwerke is ’n klein ivoorstandbeeld wat in ongeveer 30 000 v.C. gemaak is. Dit is in ’n grot in Duitsland gevind.

Suid-Afrika kan ook spog met ’n voorbeeld van baie ou beeldhoukuns. In die Blombosgrot naby Stilbaai in die Wes-Kaap is ’n stuk beeldhoukuns ontdek wat 75 000 tot 77 000 jaar gelede gemaak is.

Antieke Tye

Die Antieke Tye het geduur vanaf ongeveer 3000 v.C. tot 400 n.C. Verskillende groot kulture wat elk sy eie soort kuns gehad het, het in Egipte, Mesopotamië, Griekeland en Italië ontstaan. Uit hierdie tydperk het gedeeltes van geboue, grafmonumente en beelde bewaar gebly.

Oud-Egipte

Die Egiptiese Ryk het teen ongeveer 3000 v.C. tot stand gekom. Baie beelde uit die grafte van konings uit hierdie tyd het behoue gebly.

Die Egiptenare se kultuur is oorheers deur hul geloof in die lewe ná die dood en beelde wat in die grafte van konings gevind is, het dit gewys. Hulle het geglo dat ’n beeld wat presies soos die afgestorwe koning lyk, die koning sal help om ná die dood aan te hou leef. Een van die Egiptiese woorde vir ʼn beeldhouer beteken juis “hy wat lewend hou”. Egiptiese beelde uit hierdie tydperk was feitlik altyd blokvormig, en moet van al vier kante bekyk word. 5

Oud-Griekeland

Die bloeitydperk van die antieke Griekse kuns was tussen 500 en 350 v.C. Beelde uit hierdie periode was vir latere beeldhouers voorbeelde van skoonheid en perfeksie.

Phidias (445 v.C.), die skepper van die beeld van Zeus wat in die Antieke Tyd as een van die sewe wêreldwonders beskou is, was een van die bekendste beeldhouers uit hierdie tyd. Ongelukkig het die meeste oorspronklike Griekse beeldhouwerke uit hierdie tyd verlore gegaan.

Oud-Italië

In hierdie tydperk het daar ’n bevolkingsgroep, die Etruskiërs, in Italië gewoon wat beelde van terracotta (gebakte klei) gemaak het. Soms was so ʼn beeld meters hoog en om dit te kon bak, moes ʼn spesiale oond rondom die beeld gebou word.

Middeleeue

Die lewe van Christus en die skeppingsverhaal is dikwels met beelde by kerke uitgebeeld.

Uit Skandinawië, maar ook ander dele van Europa, het houtbeelde bewaar gebly. Hierdie beelde was meestal met goud oorgetrek of gekleur. Min name van kunstenaars van hierdie tyd is vandag bekend omdat die meeste werke sonder handtekening was. Beeldhouers het eers teen 1300 in Italië begin om hul name by kunswerke te voeg.

Die geskiedenis van beeldhoukuns in verskillende style

Die styl van beeldhoukuns het deur die eeue verander en hierdie verskillende style vertel ook van die geskiedenis van die kuns. 6

Renaissance

Teen ongeveer 1400 was daar in Italië ʼn groot oplewing op alle gebiede van kuns en kultuur. Hierdie tydperk word die Renaissance genoem en die oplewing het gou na die res van Europa versprei. Die beeldhouers van hierdie tyd se ideaal was om die werklikheid uit te beeld presies soos dit gelyk het.

Die eerste bekende beeldhouer uit dié tydperk was Donatello (1386-1466), wat uit klip, brons en hout beroemde beelde geskep het. Die bekendste kunstenaar van die Renaissance was Michelangelo Buonarotti (1476-1664). Van sy bekendste werke is die wêreldberoemde beelde van Moses en Dawid.

Barok

Die Barok is ʼn kunsstyl van die 17de eeu wat tot in die 18de eeu voortgeduur het. Dit het veral in Suid-Europa, Italië en Duitsland voorgekom. Die figure wat uitgebeeld is, was swaarder en hul houding teatraal. Die belangrikste Barok-beeldhouer was Giovanni Lorenzo Bernini (1598-1680).

18de en 19de eeu

Die Rococostyl van die eerste helfte van die 18de eeu het nie belangrike beeldhouwerke opgelewer nie. Die kunsstyl wat gevolg het, was die Neo-Klassisisme en dit het beeldhouers opgelewer wat oor die hele Europa bekend was, soos die Italianer Antonio Canova (1757-1822) en die Deen Bertel Thorvaldsen (1768-1844).

Die Fransman Auguste Rodin (1840-1917) was die eerste beeldhouer wat in die styl van die Impressionisme gewerk het. Hy het aan sy werke ʼn onreëlmatige oppervlak gegee. Beelde wat baie bekend geword het, is Die Denker (1889) en die beeldegroep Die Burgers van Calais (1884-1888).

20ste eeu

Abstrakte kuns het in hierdie tyd na vore gekom, maar beeldhouers het ook ’n groot aantal ander rigtings gevolg. Beeldhouers het ook nuwe materiaal soos yster, staal, kunsstowwe en allerhande soort afval soos skroot begin gebruik.

Belangrike beeldhouers in hierdie eeu is die Brit Henry Moore (geb.1898), wie se lêende vrouefigure – van klip of brons – baie bekend is. Ander bekende beeldhouers is Constantin Braucusi (1876-1957), wat as die grondlegger van die abstrakte beeldhoukuns beskou word, en Alberto Giacometti (1901-1966), bekend om sy uitgerekte figure uit staal en brons.

Suid-Afrikaanse beeldhouers

Suid-Afrika het heelwat bekende beeldhouers opgelewer wat plaaslik en dikwels ook in die buiteland bekend geword het. Kunstenaars soos Anton van Wouw, Coert Steynberg, Eduardo Villa en vele ander se werk kan oral in die land gesien word. 7

Anton Van Wouw (1862-1945)

Baie van sy kunswerke is groot beelde en beeldgroepe wat die storie van die land se geskiedenis vertel.

Hy het onder meer hierdie bekende beeldhouwerke gemaak:
President Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria met die vier Boerewagte wat hom bewaak.
Die bronsfigure vir die Vrouemonument in Bloemfontein. Dit bestaan uit ’n vrouefiguur met ’n sterwende kind in haar arms. Hierdie beeld is in 1912 opgerig om die vroue en kinders te gedenk wat gedurende die Anglo-Boereoorlog gesterf het.

Borsbeelde van Boerepresidente en Boeregeneraals soos generaals Christiaan de Wet, Koos de la Rey en C.F. Beyers, en President M.T. Steyn. 8

Anton van Wouw

Coert Steynberg (1905-1982)

Hy was nog ’n baie bekende beeldhouer wat onder meer beelde uit klip, marmer, brons en hout gemaak het. Hy het die bekende standbeeld van Paul Kruger gemaak wat by die Krugerhek van die Nasionale Krugerwildtuin staan, asook die springbok wat op die goue Krugerrande verskyn.

Coert Steynberg

Een van sy bekendste beelde is die ruiter­beeld van genl. Louis Botha, die eerste premier van die Unie van Suid-Afrika, by die Uniegebou in Pretoria. Die beeld is meer as 5 meter hoog en is uit vier ton brons gegiet. 9

Eduardo Villa (1915-2011)

Hy is in Italië gebore en was ook in die buiteland baie bekend. Hy het veral met staal en brons gewerk en het meer as ’n duisend beelde gemaak. Hy is in 2011 in die ouderdom van 95 oorlede.

Hier is nog ’n aantal Suid-Afrikaanse beeldhouers (slegs enkele name word hier genoem):

Phil Minnaar: Hy het ongeveer 170 borsbeelde van bekende Suid-Afrikaners, 90 monumente asook talle beelde van diere gemaak.

Tienie Pritchard: Groot bronsfigure, onder meer in parke, is sy hooffokus.

Sydney Alex Khumalo: Sy werk kan gesien word in onder meer die Durban Kunsmuseum, die Johannesburg Kunsgalery en by die Universiteit van die Witwatersrand. 10

Frans Boekkooi: Hy is bekend om abstrakte werk in staal en brons en woon in Nieu-Bethesda.

Keith Calder: Hy spesialiseer in bronsbeelde van mense en diere.

Gordon Hayward: Hy maak beelde in opdrag van kliënte, onder meer uit klei.

Barry Jackson: Hy werk in brons en woon in Kaapstad.

Marke Meyer: Hy maak beelde van mensfigure.

Anton Smit: Hy is bekend vir sy reusebeelde van koppe en bronsbeelde.

Woordbank

prehistories Dit beteken letterlik “voor geskiedenis”, uit ’n tyd waarvan daar nie geskrewe rekords is nie. Daar word algemeen aanvaar dat “geskiedenis” eers begin het toe dit met skrif beskryf kon word.

Kyk na hierdie video’s en foto’s om meer te leer

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Desember 2021 | Bygewerk op 5 Maart 2024