Vinnige feite

  • Die dorpie Caprese, waar Michelangelo gebore is, staan vandag as Caprese Michelangelo bekend. 3
  • Toe Michelangelo ’n tiener was, het een van sy vyande – wat waarskynlik jaloers was op sy talent en ook nie van sy skerp tong gehou het nie – hom só hard geslaan dat sy neus gebreek het. Sy neus was vir die res van sy lewe skeef. 8
  • Michelangelo het soms sy eie gesig in sy kunswerke ingewerk. In Die Laatse Oordeel is sy gesig op die stuk vel wat Sint Bartholomeus vashou. 8
  • In 1991 het ’n vandaal ’n deeltjie van ’n toon van die Dawid-beeld se linkervoet met ’n beitel afgeslaan. 8
  • Michelangelo was een van die eerste mense oor wie daar ’n biografie gepubliseer is terwyl hy nog gelewe en gewerk het. Die skrywer was Giorgio Vasari, die beroemde Renaissance-biograaf. 3
  • Meer as 25 000 mense per dag staan in toue om die plafon van die Sistynse Kapel te bewonder. 9
  • Volgens oorlewering het Michelangelo ’n groep mense hoor sê dat die Pietà eintlik deur iemand anders gemaak is. Hy het daardie aand in die kerk ingesluip waar die beeld gestaan het en sy handtekening op die figuur gegraveer. Dit was die enigste standbeeld wat hy geteken het. 1
  • Die bekendste standbeeld van Michelangelo is waarskynlik ’n brons borsbeeld deur Daniele da Volterra. 5
  • Michelangelo se drie belangrike kunswerke, naamlik die majestueuse skildery van die Bybelse vertellings teen die plafon van die Sistynse Kapel, die meer as 5 meter hoë en anatomies foutlose Dawid, en die aangrypend-egte Pietà, word beskou as van die grootste prestasies in die menslike geskiedenis. Toeriste stroom na Rome en Florence om voor hulle te staan. 12

Die Dawid-standbeeld, die plafon van die Sistynse Kapel, die koepel van die Sint-Pieterskerk. Drie van die bekendste kunswerke in die geskiedenis, uit drie verskillende kunsvorme: beeldhouwerk, skilderkuns en argitektuur. En al drie is geskep deur dieselfde mens: Michelangelo.

Michelangelo word as een van die beste kunstenaars van alle tye beskou en het in sy leeftyd as Il Divino bekend gestaan. Dit beteken die “Heilige Een” omdat mense tóé al gedink het sy kuns is bykans perfek. 1

Grootwordjare

Michelangelo di Lodovico Buonarroti Simoni is op 6 Maart 1475 in die dorpie Caprese, naby Florence in Italië, gebore. 2 Sy pa was Ludovico di Leonardo di Buonarotto Simoni, ’n bankier, en sy ma Francesca di Neri del Miniato di Siena. 2

Toe Michelangelo ses jaar oud was, is sy ma ná ’n lang siekte oorlede. 3 Hy is daarna grootliks deur ’n kinderoppasser grootgemaak. Dié was getroud met ’n messelaar, en volgens Michelangelo het sy kontak met dié messelaar die grondslag vir sy liefde vir marmer en beeldhouwerk gevorm. 4

Die Florence-katedraal.

Jare as vakleerling

Michelangelo se pa het gehoop dat hy ook ’n bankier sou word, maar op 13-jarige ouderdom was dit reeds duidelik dat Michelangelo nie in sy pa se voetspore sou volg nie. 2

Sy pa het toegelaat dat Michelangelo na Florence trek om as vakleerling by ’n bekende kunstenaar, Domenico Ghirlandaio, aan te sluit. 2 Michelangelo het daar kunstegnieke bemeester 3 en die kans aangegryp om Florence te deurkruis om kunswerke te bestudeer. 5 Hy en Ghirlandaio het egter nie oor die weg gekom nie. 2

Die kunstenaar Domenico Ghirlandaio.

Ná ’n jaar by Ghirlandaio is Michelangelo deur Lorenzo de Medici, die hoof van die magtige Medici-familie, genooi om in hul werkswinkel te kom werk. 2 In die De Medici’s se standbeeldtuin is standbeelde van vroeë Renaissance-beeldhouers, soos die beroemde Donatello, uitgestal. Michelangelo het die kans benut om hul werke te bestudeer. 3

Lorenzo de Medici, hoof van die magtige Medici-familie.

Kunsloopbaan

Toe Michelangelo 17 jaar oud was, het Lorenzo de Medici gesterf, en Michelangelo moes die De Medici-werkswinkel verlaat. 4

In daardie jare het kunstenaars hoofsaaklik op kommissie gewerk, waar ryk beskermhere of organisasies kunstenaars aangestel, oftewel ’n kommissie (opdrag) gegee het om vir hulle kunswerke te maak.

Michelangelo se eerste opdragwerk was vir Giovan Francesco Aldrovandi, ’n ryk politikus van Bologna. Michelangelo het drie klein beeldhouwerke (Sint Petronius, Sint Proclus en ’n engel wat ’n fakkel vashou) vir die Arca di San Domenico (Ark van Sint Dominic) gemaak – die monumentale grafkelder wat die oorblyfsels van Sint Dominic bevat. Die monument is een van Bologna se belangrikste kunsstukke, en dit is hoe Bologna ook met ‘n bietjie kuns van Michelangelo kan spog. 6

Ark van Sint Dominic, die monumentale grafkelder wat die oorblyfsels van Sint Dominic bevat.

Hierna het hy na Florence teruggekeer en ’n standbeeld van Johannes die Doper gemaak. Dié is deur kardinaal Riario van die Rooms-Katolieke Kerk gekoop, wat hom Rome toe genooi het. Michelangelo het vir hom ’n standbeeld van Bacchus, die Romeinse god van wyn, gemaak. Ná Bacchus in 1497 voltooi is, het Riario die standbeeld verwerp omdat Bacchus naak was. Michelangelo het dit toe aan iemand anders verkoop. 4

Sy volgende groot opdragwerk was die Pietà-beeld vir ’n katedraal van die koning van Frankryk. Hy het dit voltooi toe hy 25 jaar oud was, en dit het hom beroemdheid in Rome besorg. 7

Pietà, ‘n beeldhouwerk wat Michelangelo op 25 voltooi het.

In 1500 het hy teruggekeer Florence toe en kort daarna die kommissie vir sy bekenste kunswerk, die Dawid-beeld, gekry. Hy het dié werk in 1504 voltooi. Rondom hierdie tyd het hy en Leonardo da Vinci, die beroemde Renaissance-kunstenaar, albei kommissies gekry om fresko’s in dieselfde gebou te skep. Dít is egter kortgeknip toe hul kommissies gekanselleer is. 4

Sy volgende groot kommissie het gekom van pous Julius II, die hoof van die Rooms-Katolieke Kerk, wat hom gevra het om die plafon van die Sistynse Kapel in die Vatikaanstad te skilder. Hierdie werk het hy in 1512 voltooi. 4

Michelangelo het die skilderwerk van die Sistynse Kapel se plafon in opdrag van pous Julius II gedoen.

Michelangelo het in die jare hierna vir ander pouse ook gewerk: in sy leeftyd het hy vir nege pouse in ’n ry kunswerke voltooi! 8 Buiten die Sistynse Kapel is die ander noemenswaardige kommissie toe pous Paul III hom aangestel het om Die Laaste Oordeel op ’n altaarmuur in die Sistynse Kapel te skilder. 3

Die Laaste Oordeel is op ’n altaarmuur in die Sistynse Kapel geskilder.

Ná hy in 1534 Rome toe getrek het om Die Laaste Oordeel te skilder, het Michelangelo vir die res van sy lewe in Rome gewoon. In later jare het hy ook argitektuur beoefen. Hy het onder meer planne vir die Sint-Pieterskerk, en veral die beroemde koepel, opgetrek. 1

Michelangelo as kunstenaar

Michelangelo het in Renaissance-Italië gewoon, en sy geboortestad, Florence, was die middelpunt van die Renaissance-tydperk. Dit was ’n goue era vir kunstenaars. Hulle het inspirasie geput uit klassieke kuns, en humanistiese ideale gevier. 3

Michelangelo was ’n tipiese Renaissance-kunstenaar. Hy wou sy voorgangers oortref. Sy kuns was driedimensioneel en geloofwaardig. 1 Die grootte en gehalte van sy kuns is sonder twyfel meesterlik. 2

Sy belangstelling in die mens se anatomie was tipies van ’n Renaissance-kunstenaar. 1 Hy was egter nie tevrede om slegs oor die mens se anatomie te leer vanaf antieke beelde of lewende modelle nie. 3 Hy het by die monnike van die Santo Spirito-kerk toestemming gekry om die lyke in hul hospitaal te ondersoek. 4 Deur lyke te bestudeer, het hy ’n chirurgiese kennis van die menslike liggaam opgebou. Dit is een van die redes waarom die mense in sy standbeelde so realisties lyk. 3

Mense vergelyk Michelangelo en Leonardo da Vinci dikwels met mekaar. Da Vinci het ook die menslike liggaam bestudeer, maar vir hom was dit net nóg iets om oor te leer. Vir Michelangelo was dit ’n lewenslange obsessie om die menslike liggaam perfek uit te beeld. 3

Die tegniek wat Michelangelo gebruik het, staan as disegno bekend: die kunstenaar vang die vorm, spiere en houdings van liggame op sketse vas, en skep dan die beeld van die sketse af. 5

Marcus Aurelius

Michelangelo se standbeelde is kolossaal. Hy het juis beeldhouwerk bo skilder verkies omdat dit hom toegelaat het om sulke groot uitbeeldings te maak. 5 Sy vermoë om ’n hele standbeeld uit ’n enkele stuk marmer te kerf, is waarskynlik ongeëwenaard. In sy tyd al het mense gepraat oor sy vermoë om iets lewends uit steen op te roep. Hy het self hieroor gesê: “Ek het ’n engel in die marmer gesien, en gekerf tot ek hom vry gemaak het.” 3

Omdat hy so perfeksionisties was, het hy werke onvoltooid gelaat as dit nie vir hom goed genoeg was nie. 1

Michelangelo was vaardig in ’n aantal kunsvorme – van skilder tot poësie. 1 Hy het homself egter in die eerste plek as ’n beeldhouer beskou. 2

Kunswerke

Ons weet vandag van om en by 200 kunswerke wat Michelangelo in sy leeftyd voltooi het. 1

Sy beroemdste kunswerke wat hier onder bespreek word, is die Dawid-beeld, die plafon van die Sistynse Kapel, Die Laaste Oordeel (skildery) en die koepel van die Sint-Pieterskerk.

Die Sint-Pieterskerk in die Vatikaanstad.

Die Dawid-beeld (1500-1504)

Die Dawid-beeld is ’n uitbeelding van die Bybelkarakter Dawid, met die slingervel waarmee hy vir Goliat doodgemaak het oor sy skouer. 3

Die Dawid-beeld is 5,2 meter hoog. Dit was te groot vir die plek waar dit oorspronklik moes staan, en hulle moes dit êrens anders uitstal. 5

Die stuk marmer wat Michelangelo gebruik het om die beeld uit te kerf, was 40 jaar vantevore uitgegrawe. Dit het as “Die reus” bekendgestaan. ’n Paar mense het voor hom daarmee gewerk, maar hulle het hul pogings laat vaar. 8 Waarom hy daardie stuk marmer gekies het, is ’n raaisel, want hy was gewoonlik baie kieskeurig. 8 Die marmer se gehalte is redelik swak, en dit verweer vandag vinniger as ander beeldhouwerke. 9

Michelangelo het in die geheim aan dié beeld gewerk. Die standbeeld het in ʼn oop binnehof gestaan, en hy het baie keer natgereën terwyl hy gewerk het. Michelangelo was so verdiep in sy werk dat hy soms vergeet het om te eet en sommer met sy skoene en klere aan geslaap het.

Die detail en realisme van die standbeeld is uitsonderlik. Omdat die plan was dat die beeld van onder af beskou moet word, het hy die bokant groter as die onderkant gemaak. Dawid staan met sy gewig op die een been, sodat die spiere meer opmerklik kan wees.

Omdat Dawid kaal uitgebeeld word, was baie mense in Michelangelo sy tyd (en ook later) hewig ontsteld oor hoe eksplisiet dit was. 3

Die beeld staan vandag in die Galleria Dell’Accademia di Firenze, oftewel die Akademie vir Beeldende Kunste, in Florence.

Die Dawid-beeld staan vandag in die Akademie vir Beeldende Kunste in Florence.

Die plafon van die Sistynse Kapel (1508-1512)

Die skildery wat Michelangelo teen die plafon geverf het, is ’n fresko wat die skepping van Adam in Genesis uitbeeld. 1

Die Sistynse Kapel se plafon is oorspronklik blou geverf en met goue sterre bedek. Pous Julius II het Michelangelo in 1508 opdrag gegee om die plafon te skilder. Hy het nege prente uit die boek Genesis en 12 Bybelse figure op die kapelmure geskilder. ’n Bykomende 20 pragtige jong mans is ook op die plafon geverf. 10

Dit is ’n massiewe kunswerk – omtrent 40 meter lank en 13 meter wyd! 11 Hy het wat bekend staan as een van die grootste kunswerke van die Westerse kunsgeskiedenis met sy eie twee hande geskilder. Hy het wel assistente gehad wat hom gehelp het om agtergronde teen die plafon te skilder. 10

Die middelpunt van die skildery is die hande van Adam en God. Adam lê op sy linkersy en strek sy hand na God toe uit. Albei is op ’n gekleurde agtergrond geskilder, maar hul hande wat na mekaar toe uitstrek is op ’n wit agtergrond en vang dus die oog. 3

Soos altyd was daar ontevredenheid oor die naaktheid in die skildery. 5

Michelangelo was nie die eerste kunstenaar wat gekies is om die plafon te verf nie. Historici vermoed dat sy vyande hom aanbeveel het omdat hulle gedink het hy gaan misluk. Indien dit waar is, was hulle jammerlik verkeerd. 9

Michelangelo wou nie eintlik dié opdragwerk aanvaar nie. Hy het homself nie as ʼn skilder beskou nie, en het vir die hele vier jaar wat hy aan die fresco gewerk het, gekla. 2 Dit was fisiek baie uitputtend. Hy moes in ongemaklike, beknopte posisies bo-op stellasies werk – vir baie ure op sy rug. Hy het hieroor aan ’n vriend geskryf: “My skildklier is geswel as gevolg van hierdie marteling … my maag is onder my ken ingedruk … my kwas wat heeltyd bokant my is, drup die verf in my gesig … my vel hang los onder my, en my ruggraat is geknoop soos wat ek myself moet vou … Ek is nie op die regte plek nie – ek is nie ’n skilder nie.” 3

Dit is ironies dat Michelangelo, wat homself nie as skilder gesien het nie, waarskynlik die bekendste fresko in die geskiedenis geverf het.

Die Laaste Oordeel (1534-1541)

Michelangelo se ander bekende skildery is die Die Laaste Oordeel, wat hy jare later teen die altaarmuur van dieselfde Sistynse Kapel geverf het. 2 Dit het hom vyf jaar geneem om te voltooi. Die middelpunt van die skildery is Jesus. Rondom Jesus is daar 300 ander figure, onder andere Johannes die Doper. 3

Soos altyd was daar kritiek oor sy werk. Sommige mense was ongelukkig oor hoe jonk Jesus gelyk het, ander was weer omgekrap omdat hy nie met ’n baard uitgebeeld is nie. 5 Daar was ook mense wat ontsteld was oor die naaktheid. In die 1560’s het die Katolieke Kerk besluit dat Michelangelo se uitbeeldings te eksplisiet was, en hulle het iemand aangewys om klere oor die naakte dele te verf. Die skildery is eers in die 1990’s gerestoureer en lyk vandag weer soos die oorspronklike skildery wat Michelangelo geverf het. 3

‘n Gedeelte van Die Laaste Oordeel.

Die koepel van die Sint-Pieterskerk in Rome

Michelangelo was reeds op gevorderde ouderdom toe pous Julius II hom gevra het om verdere planne op te trek vir die onvoltooide Sint-Pieterskerk. Nie al sy planne is gebruik nie, en dis eers ná sy dood voltooi. 2 Sy belangrikste bydrae was die kenmerkende koepel. 4

Poësie

Michelangelo het so tussen die beeldhouwerk en skilder ook gedigte geskryf. Hy het waarskynlik honderde gedigte geskryf, maar net omtrent 300 het tot vandag oorleef. 9

Hy het sy gedigte meestal vir homself geskryf. Dit was dan ook nie so groots soos sy ander kuns nie. 2 Hy het oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe geskryf. Sommige was baie eenvoudig – soos hoe klein sy blaas was! 8 Ander weer het gehandel oor dieper dinge soos liefde en lojaliteit. 9

Sy digkuns is nie in sy leeftyd gepubliseer nie, maar ons weet dit was in omgang, want dit is deur komponiste getoonset. 8

Persoonlikheid en persoonlike lewe

Michelangelo het in Florence, Bologna en Rome gewoon, maar in sy hart ’n Florentyn gebly. In sy later jare het hy in Rome gewoon en daar gesterf. 3

Michelangelo het glo nie ’n baie aangename persoonlikheid gehad nie. Hy is beskryf as kriewelrig, agterdogtig 2 driftig, 3 liggeraak en misnoegd, 9 en het gesukkel om met mense oor die weg te kom. Hoe bekender hy geword het, hoe meer onvriendelik en sarkasties het hy geword. 4

Hy was berug vir sy geheimsinnigheid. Hy het byvoorbeeld van sy sketse verbrand sodat ander kunstenaars nie kon sien hoe hy kuns gemaak het nie. 1 Hy het geglo, waarskynlik met goeie rede, dat daar mense was wat sy loopbaan wou vernietig. Hy het een maal ’n pous, wat verby hom geloop het terwyl hy gewerk het, met houtplanke gegooi omdat hy gedink het die pous is ’n spioen. 4

Michelangelo het dwarsdeur sy loopbaan kritiek oor die naaktheid in sy kuns gekry. In later jare het hy daaroor gewroeg en gewonder of sy werk werklik so sondig was soos mense gesê het. 4

Op sy oudag was hy ’n kluisenaar. 4 Hy het slegs met ander mense kontak gehad as hy dit nie kon vermy nie. Hy was baie ryk, maar het soos ’n arm mens geleef. Sy klere is so ongereeld gewas dat dit aan sy lyf vasgesit het. Toe hy gesterf het, moes hulle dit van hom afsny! 9

Michelangelo het nooit getrou nie. Hy het waarskynlik verhoudings met mans en vroue gehad. Sy nouste vriendskappe was met Tomasso dei Cavalieri, ’n jong Italiaanse adellike, en Vittoria Colonna, ’n digter. 3

Michelangelo het nog in die week wat hy gesterf het, gewerk. Hy is op 18 Februarie 1564, in die ouderdom van 88, in Rome oorlede. 2

Nalatenskap

Ten spyte van sy onvriendelike persoonlikheid het Italianers baie hoë agting vir hom gehad. Hulle wou alles oor sy lewe weet. Hy het biografieë laat publiseer om inligting oor homself te versprei. Daarom weet ons ook meer oor hom as ander kunstenaars van sy tyd. 9

Miljoene mense stroom elke jaar na Rome en Florence om sy kuns te bewonder. 3

Hy het ander kunsmeesters soos Peter Paul Rubens, Raphael, Gian Lorenzo Bernini en Auguste Rodin beïnvloed. 4

Michelangelo was die voorste kunstenaar van sy tyd, 5 en baie mense beskou sy werk as die hoogtepunt van die Renaissance. Hy was sentraal tot the herlewing van klassieke kuns. 1 Sy bydrae tot die Renaissance is egter meer as net ’n nabootsing van die klassieke. Die figure in sy beeldhouwerk en skilderkuns beeld diep emosie uit. Die realisme van hierdie emosies het ’n nuwe standaard vir uitnemendheid gestel. 2

Michelangelo is in dieselfde groep as ander meesters soos Beethoven en Shakespeare. Soos hulle het hy in sy kuns die diepste en tragiesste menslike emosie só uitgebeeld dat enigiemand dit kan verstaan en waardeer. 4

Woordbank

adellike Mense wat tot die hoogste sosiale stand behoort.
hoë agting Om respek of eerbied vir iemand hê en hom of haar te waardeer.
anatomie Studie van die liggaam.
berug Ongunstig bekend; met ʼn slegte reputasie.
binnehof ’n Stuk grond sonder ’n dak wat deur mure omring word, gewoonlik binne-in ’n huis.
biografie Lewensverhaal.
chirurgiese Soos ’n dokter wat lank gestudeer het.
disegno ’n Kunsvorm waar jy eers sketse maak en dan van die sketse af jou kuns skep.
driedimensioneel Iets wat lengte, breedte en diepte het en wat heeltemal realisties lyk.
eksplisiet Iets wat in soveel detail gemaak is dat dit daar geen twyfel is wat jy sien nie.
fresko Muurskildery wat gemaak is terwyl die muur se pleister nog nat was.
getoonset Om musiek by ’n gedig te voeg.
gewroeg Om jou vir lank oor iets te bekommer.
humanistiese Die idee dat die mens in die middelpunt van die skepping staan.
ironies Bedekte spot waar die teenoorgestelde gesê word van wat bedoel word.
voetspore Om iemand na te doen.
kapel Plek van aanbidding/kerk.
klassieke Tydperk van antieke Rome en Griekeland.
kluisenaar Iemand wat eensaam en weg van ander mense af woon.
koepel Halfbolvormige dak.
kommissie Opdrag om iets te doen.
komponiste Mense wat musiek skryf.
kortgeknip Gestop.
marmer ’n Soort klip, gewoonlik wit, wat gebruik kan word in beeldhouwerk en argitektuur.
messelaar Iemand wie se werk dit is om met bakstene/klip en sement of klei te bou.
misnoegd Om met alles ontevrede te wees.
monnike Mans wat in ’n klooster woon en al hul tyd aan geloofsake spandeer.
omgang Die publiek het daarvan geweet.
ongeëwenaard Beter as enigiemand anders.
perfeksionisties Om alles volmaak te wil doen.
publiseer Om ’n boek te laat druk.
gerestoureer Om iets terug te verander in die manier hoe dit gelyk het toe dit gemaak is.
sarkasties ’n Manier van praat of skryf waarby jy die teenoorgestelde sê van wat jy regtig bedoel – as ‘n onvriendelike grap of om te wys dat jy ontevrede of kwaad is.
stellasies Tydelike strukture gebou uit planke en pale waarop mens kan klim as jy aan ’n hoë gebou werk.
vakleerling Iemand wat by ’n meester ’n sekere vaardigheid leer.
vandaal Vernieler, afbreker; barbaarse kunsvernietiger.

Lees dié artikels om meer te leer

Video’s oor Michelangelo, die meester

Wat was die Italiaanse Renaissance?

Meer oor die Dawid-beeld

Bekende kunstenaars: Michelangelo

Gepubliseer op: 8 November 2023 | Bygewerk op 12 Februarie 2024