Vinnige feite
- Dit het nege maande geneem om die 1,8 miljoen ton rommel van die Wêreldhandelsentrum in die VSA te verwyder ná die aanval op 11 September 2001. 21
- Agtien mense is lewend uit die puin van die Wêreldhandelsentrum gered ná die aanval op 11 September 2001. 21
- Ná die aanval op die Wêreldhandelsentrum het die perseel 99 dae lank bly brand. Elke keer wat ʼn hyskraan ʼn stuk puin opgetel het, het die brand van voor af suurstof gekry en weer opgevlam. 22
- Google-bomaanvalle is die tegniek waar internetgebruikers Google se soekresultate só manipuleer dat sekere soekterme aan ʼn spesifieke bladsy gekoppel word. In 2005 het die woorde “miserable failure” internetgebruikers na die amptelike webwerf van die Amerikaanse president George W. Bush geneem. 23
- In April 1995 het Terry Lynn Nichols help beplan aan en voorbereidings getref vir ʼn bomaanval op ʼn regeringsgebou in Oklahoma in die VSA. Altesaam 168 mense, waaronder 19 kinders, is dood. Nichols is in 2004 altesaam 161 aaneenlopende lewenslange vonnisse opgelê sonder dat hy ooit ʼn kans op parool sal kry. Hy is die persoon in die wêreld met die meeste lewenslange vonnisse. 24
- Tussen 1968 tot 2006 het mense in Israel die meeste beserings tydens terreuraanvalle opgedoen as in enige ander land. Altesaam 1 165 mense vir elke 1 miljoen mense uit die bevolking was slagoffers van ʼn terreuraanval. Irak was tweede met 706 beserings vir elke 1 miljoen mense. 25
- Volgens die Forbes-tydskrif is die Islamitiese Staat van Irak en Sirië (Isis) die wêreld se rykste terrorismegroep met ʼn geskatte waarde van ongeveer $2 miljard (volgens syfers wat in 2014 gepubliseer is). Die meeste van hierdie geld is ingesamel deur die onwettige verkoop van olie, asook smokkelary, uitbuiting en rooftogte. 26
- Osama bin Laden het 57 boeties en sussies gehad – almal kinders van die konstruksiemagnaat Mohammed bin Awad bin Laden. Osama het self vermoedelik 24 kinders gehad. 27
- Osama bin Laden het sy volgelinge verbied om musiek te luister of gevriesde water te drink. 27
Min mense wat aan die begin van die 21ste eeu geleef het, sal die terreuraanvalle teen die Verenigde State van Amerika (VSA) op 11 September 2001 ooit kan vergeet. Die prentjie van twee vliegtuie wat ʼn halfuur ná mekaar in die Wêreldhandelsentrum (World Trade Center) in New York vasgevlieg het, asook ʼn derde wat die Pentagon in Virginia getref het. Dié bekende geboue wat uiteindelik in ʼn hoop rommel, as en stof op die grond gelê het, sal ons waarskynlik vir altyd onthou. Die mense wat uit die geboue spring en familielede wat in die chaos na geliefdes soek, is iets waaraan ’n mens nie eers wil dink nie.
Al-Kaïda, wat aanspreeklikheid vir dié aanvalle aanvaar het, is beslis nie die enigste terreurgroep wat oor die afgelope dekades vrees by mense ingeboesem (veroorsaak) het nie. Op eie bodem was Suid-Afrikaners veral gedurende die apartheidsjare aan dade van terrorisme blootgestel waartydens baie burgerlikes, soldate en lede van die African National Congress (ANC) en die Pan Africanist Congress (PAC) gesterf het. [Lees hier oor apartheid.]
Wat is terrorisme?
Verskillende lande het uiteenlopende definisies van wat terrorisme is, maar daar is sekere eienskappe waaraan terrorisme uitgeken kan word:
Vrees
Om vrees in te boesem, is die belangrikste kenmerk van terrorisme. Terreurdade word op ʼn groot skaal uitgevoer om soveel as moontlik mense te beïnvloed. Dit is ʼn sielkundige oorlog wat mense intimideer (dwing) om saam te werk uit vrees dat dit weer sal gebeur. 1
Geweld
Terroriste maak van geweld gebruik om vrees in te boesem. [Lees hier oor geweld.] Daar is altyd die moontlikheid van die beskadiging van eiendom of die kans dat iemand of baie mense doodgemaak of ten minste beseer gaan word. 1
Politieke of godsdienstige saak
Terrorisme hou gewoonlik verband met politiek of godsdiens. Terrorisme met ʼn politieke doelwit probeer om die huidige leierskap omver te werp. Terrorisme met ʼn godsdienstige doelwit probeer om mense wat anders as hulle glo, te vernietig. 1 Daar is egter ook terroriste met ander doelwitte. Ekoterroriste is byvoorbeeld ekstremiste wat hulle onder meer beywer vir diereregte en die bewaring van die omgewing. 2
Burgerlike teikens
Anders as met ʼn “gewone” oorlog, is burgerlikes (gewone mense wat nie soldate is nie) die teiken van terreuraanvalle. Die feit dat enigiemand op enige tyd en enige plek ʼn slagoffer van hierdie geweld kan wees, veroorsaak verdere vrees. Die terroriste hoop om met hierdie dade die leiers van ʼn samelewing te dwing om aan die eise van die terrorismeorganisasie te voldoen. 1
Die geskiedenis van terrorisme
Ons kry die woord terreur uit Middel-Frans en gedeeltelik direk van Latyns, terror. Die woord beteken “die toestand om uiters bang te wees” en “die oorsaak van dié toestand”. 3 Die politieke betekenis van die woord dateer egter uit die 1790’s tydens die Franse Revolusie toe die Jakobynse Party duisende mense met ʼn guillotine doodgemaak (onthoof) het. [Lees hier oor die Franse Revolusie.] Hoewel terreur in hierdie geval deur die staat teen sy vyande gepleeg is, verwys “terrorisme” sedert die twintigste eeu eerder na gewelddadige optrede wat direk of indirek op regerings gemik is om dit omver te werp of om beleid te verander. 4
Terrorisme kan basies in vier tydperke ingedeel word:
Anargistiese terrorisme (totale wetteloosheid, wanorde) van 1880 tot 1918 toe die einde van die Eerste Wêreldoorlog dit tot ʼn einde gebring het. Voorbeelde van hierdie soort terreur is die moorde op tsaar Alexander II in 1881 in Rusland en aartshertog Franz Ferdinand van Oostenryk in 1914, in Sarajevo, Bosnië. 5
Die tweede golf wou die koloniale regerings tot ʼn val bring. Dit het tussen 1930 en 1960 plaasgevind en het die Joodse terreurbeweging Irgoen, die Mau-Mau in Kenia, die opstand teen die Britse bewind in Maleia en die Viëtnamese en Algerynse opstande teen Frankryk se bewind in hierdie lande ingesluit. Soos die koloniale moondhede uit hierdie gebiede beweeg het, het dit ʼn einde aan die terrorisme in hierdie gebiede beteken. 5 [Lees hier oor wêreldbekende sluipmoordaanvalle.]
Die derde is die radikale (algehele) linksgesinde terreur soos dié van Viëtnam teen die VSA, die Ierse Republikeinse Leër en die ANC/Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) teen die Suid-Afrikaanse regering. Toe die Sowjetunie (vandag is dit Rusland) tot ʼn val kom en hulle hierdie organisasies nie meer kon steun nie, het die dryfkrag vir terrorisme ook afgeneem. 5
Sedert die begin van die 21ste eeu is Islamitiese terreur teen die VSA en Europa, asook kuberterreur, die algemeenste vorm van terrorisme. 5
Soorte terrorisme
Hoewel alle terreuraanvalle gewelddadig is met die doel om eiendom te beskadig, vrees in te boesem en die dood van gewone mense te veroorsaak, kan daar tussen ses verdere soorte terrorisme onderskei word: 6
Burgerlike onrus
Hierdie soort terrorisme is gewoonlik ʼn gewelddadige manier van protes teen ʼn politieke groep of aksie. Die doel van hierdie protesoptredes is om ʼn boodskap aan ʼn politieke groep bekend te maak dat “die mense” ontevrede is. Dit is dikwels veronderstel om niegewelddadig te wees, maar soms ontaard dit in groot betogings waartydens eiendom beskadig en burgerlikes beseer of doodgemaak word. 6
Politieke terrorisme
Politieke terrorisme word gewoonlik deur een politieke groep gebruik om ʼn ander een te intimideer. Hoewel die boodskappe vir die regering bedoel is, is dit burgerlikes wat met terreuraanvalle geteiken word. 6
Niepolitieke terrorisme
Die doel van niepolitieke terroriste is nie om ʼn politieke stelling te maak nie. Hierdie soort terrorisme het dikwels ʼn godsdienstige doelwit, hoewel dieselfde tegnieke as tydens politieke terrorisme gebruik word om ʼn standpunt te maak. 6 Ekoterroriste wat die omgewing en diere wil beskerm, val ook in hierdie kategorie van niepolitieke terrorisme. 2
Skynterrorisme
Skynterrorisme is ʼn gewelddadige optrede wat dieselfde metodes gebruik as terroriste, maar dit het nie dieselfde doel nie. ʼn Voorbeeld van skynterrorisme is wanneer ʼn misdadiger mense gyselaar hou sodat hy nie deur die polisie gevang word nie. Hoewel hy of sy soos ʼn terroris optree, is die doel nie terrorisme nie. 6
Beperkte politieke terrorisme
Soms is terroriste se doel nie om ʼn regering oor te neem nie, maar eerder om teen ʼn spesifieke beleid of aksie te betoog. Hulle pleeg gewoonlik slegs een keer ʼn daad van terreur om ʼn politieke of ideologiese standpunt te maak. 6
Staatsterrorisme
Hierdie soort terrorisme is enige gewelddadige optrede wat ʼn regering uitvoer om ʼn sekere doel te bereik. Hierdie geweld word dikwels tydens konflik teen ʼn ander land gebruik. 6 [Lees hier oor konflik.]
Terreurtegnieke
Ofskoon verskillende terroristegroepe verskillende doelwitte het, wil almal aandag trek en vrees saai. Die aanvalle kan enige tyd en op enige plek gebeur en dit maak mense bang en onseker. Al is net ʼn paar mense die slagoffers van die aanvalle, boesem die terroriste vrees in by ʼn groter deel van ʼn land se bevolking. 7
Die metodes van terrorisme kan wissel van aanranding (iemand word geslaan en seergemaak), ontvoering, gif, bomme, geweeraanvalle of selfs chemiese en biologiese wapens soos die gasaanval op ʼn moltrein in Tokio, Japan, in 1995. Daar sal altyd ʼn vrees wees dat terroriste wapens soos atoombomme kan gebruik om massaverwoesting te saai. Vliegtuie is as brandbomme (bomme wat brande veroorsaak) gebruik tydens die September-aanvalle in 2001 op die Wêreldhandelsentrum in New York. 7
Terroriste loods dikwels ʼn tweede aanval ʼn kort rukkie ná die eerste een. Nie net trek dit die aandag af van die eerste aanval nie, maar dit kan ook mediese personeel, wat op die eerste aanval gereageer het en die slagoffers wil help, beseer of doodmaak. Indien daar ʼn vermoede is dat ʼn tweede aanval mag plaasvind, kan dit noodhulppersoneel se optrede terughou uit vrees vir nog ʼn aanval. 7
Hierdie taktiek is gebruik tydens ʼn aanval op 1 Desember 2001 in Jerusalem, Israel, waar ʼn tweede motorbom twintig minute ná die eerste een ontplof het. 7 Die terroriste het ook ongeveer op dieselfde tyd hul aanvalle op 11 September 2001 in die VSA geloods. Vier vliegtuie is gekaap, en twee het in twee geboue van die Wêreldhandelsentrum in New York vasgevlieg. Die geboue is heeltemal verwoes. ʼn Derde vliegtuig het in die Pentagon ingevlieg en ʼn vierde het in ʼn veld neergestort ná die passasiers dapper teen die kapers geveg het. Meer as 3 000 mense is dood. 8 In nog ʼn geval het Anders Breivik op 22 Julie 2011 ʼn motorbom in Oslo, Noorweë, laat ontplof. Agt mense is dood. Hy het kort daarna, op dieselfde dag, na die Utøya-eiland gegaan en 69 mense by ʼn kamp vir die Werkers-jeugliga doodgeskiet. 9
Met die koms van die internet het kuberterrorisme ontstaan. Dit word beskryf as ʼn voorafbeplande aanval teen stelsels, programme of data met die doel om vrees in te boesem of infrastruktuur te beskadig. 10 Die gebruik van tegnologie soos hommeltuie en outomatiese motors sonder bestuurders is verdere tegnologie wat terroriste inspan om hul skrikbewind te voer. 11
Groot terreuraanvalle in die geskiedenis
Terreuraanvalle om ʼn politieke standpunt te bewys is niks nuuts nie, maar oor die afgelope dekades het die slagoffers wat geteiken word, verander. Voorheen was die dade gemik op leiers of geboue wat polities of militêr belangrik is, maar intussen het die aanvalle meer gewelddadig geword en massas burgerlikes sterf. Hier is ʼn paar van die grootste terreuraanvalle in menseheugenis: 8
München-slagting (1972)
Vroeg die oggend van 5 September 1972 het agt lede van die Palestynse terroristegroep Black September toegeslaan op die saal waar atlete van Israel tydens die Olimpiese Spele in München, Duitsland, gehuisves is. Die terroriste het twee atlete doodgemaak en nege gyselaar gehou. Die Spele het voortgegaan terwyl onderhandelings deur die dag gevoer is.
Nadat Duitsland ʼn swak beplande poging aangewend het om die gyselaars te bevry, het die dag tragies geëindig toe al nege gyselaars en ʼn Duitse polisielid doodgeskiet is. Die publisiteit wat die aanval gekry het, het mense geskok gelaat oor die gebeure en hulle was gewalg deur die Palestynse terroriste se optrede. Tog het dit ook tot ondersteuning gelei vir die Palestynse ideaal van ʼn eie staat. 8
Aanval op die Amerikaanse barakke (1983)
Die doeltreffendheid van ʼn selfmoordbom is op 23 Oktober 1983 bewys toe ʼn Mercedes-vragmotor in die barak vasgejaag het waar Amerikaanse soldate in Beiroet, Libanon, gebly het. Die vragmotor het ongeveer ses ton springstof bevat wat tydens die botsing met die gebou ontplof het. Die gebou is totaal vernietig en 241 Amerikaanse militêre personeellede het daardie dag gesterf. Twintig sekondes later en agt kilometer daarvandaan het ʼn tweede selfmoordbom ’n gebou, waar Franse valskermsoldate gebly het, vernietig. Altesaam 68 soldate is in dié aanval oorlede.
Die Islamitiese Djihad-organisasie het aan die begin gesê dat hulle verantwoordelik was vir die aanval, maar vandag word daar aanvaar dat Hisbolla, die militante Moslem-groep van Libanon, vir die aanval verantwoordelik was. Die regering van Iran het hierdie aanvalle ondersteun en gehelp om dit uit te voer. Kort hierna het die Amerikaanse regering alle soldate uit Libanon onttrek. 8
9/11 (2001)
Die aanval op die Wêreldhandelsentrum in New York op 11 September 2001 is een van die terroristeaanvalle wat nog baie lank onthou sal word. Negentien terroriste van Osama bin Laden se Al-Kaïda-organisasie het ongeveer op dieselfde tyd vier vliegtuie gekaap. Twee van die vliegtuie het in twee geboue van die Wêreldhandelsentrum vasgevlieg, wat die gebou totaal vernietig het. ʼn Derde vliegtuig het in die Pentagon vasgevlieg en ʼn vierde het in ʼn veld neergestort nadat passasiers dapper teen die terroriste baklei het.
Meer as 3 000 mense is daardie dag dood. ʼn Direkte gevolg was dat die VSA, en ander lande wat hom ondersteun het, Afganistan ingeval het waar Osama bin Laden en Al-Kaïda geskuil het. Twee jaar later het die VSA Irak ingeval as deel van sy oorlog teen terreur (“War on Terrorism”). Die oorlog in hierdie lande het gelei tot onstabiliteit in die groter Midde-Ooste wat tot ʼn toename van terrorisme in daardie deel van die wêreld gelei het. 8
Oslo en Utøya-eiland, Noorweë (2011)
Ongelukkig is kinders soms die slagoffers van terreur en daar is gevalle waar slegs een persoon die aanval van stapel stuur. ʼn Voorbeeld van só ʼn geval is toe Anders Breivik, ʼn regse ekstremis (iemand wat tot die uiterstes sal gaan om idees af te dwing) op 22 Julie 2011 eers ʼn motorbom in Oslo, Noorweë, laat ontplof het. Agt mense is dood. Twee uur ná hierdie bomontploffing het hy – vermom as ʼn polisieman – 69 mense (meestal tieners) wat op ʼn kamp op die Utøya-eiland was, doodgeskiet. Minstens 200 mense is tydens dié aanval beseer. 12 Hy is dieselfde dag in hegtenis geneem. 9
Skaars 90 minute voor die bom ontplof het, het Breivik ʼn versameling tekste (briewe of dokumente) na meer as 1 000 e-posadresse gestuur met die titel 2083: A European Declaration Of Independence. In hierdie dokumente het hy gesê dat hy die aanvalle uitvoer sodat sy manifes gepubliseer kan word.
Met sy eerste hofverskyning het Breivik gesê hy “red Noorweë en Europa van ʼn Moslem-oorname”. Hy het 21 jaar tronkstraf gekry, die maksimum vonnis in Noorweë, waarvan hy ten minste 10 jaar agter tralies moes wees. In Noorweë is daar wel ʼn reël dat, indien ʼn persoon moontlik ʼn bedreiging vir die samelewing is, hulle nie vrygelaat sal word nie. Dit kan dus beteken dat Breivik wel die res van sy lewe in die tronk sal deurbring. 12
Terrorisme in Suid-Afrika
Tydens die apartheidsjare het die Suid-Afrikaanse samelewing onder verskeie terreuraanvalle van verskillende groepe deurgeloop. Aan die een kant was daar die Suid-Afrikaanse regering en aan die ander kant die ANC en die PAC wat deur terrorisme probeer het om die Suid-Afrikaanse regering omver te werp. 13 Die PAC en ANC word ook bevrydingsbewegings genoem, want hulle het vir die vryheid van swart mense en die beëindiging van apartheid geveg. 14
Aan die begin van die ANC se bestaan was dit ʼn niegewelddadige organisasie wat van stakings en betogings gebruik gemaak het om hul ontevredenheid met apartheid te wys. 14
Die 1960’s
Op 21 Maart 1960 vind daar egter ʼn keerpunt in die stryd teen apartheid plaas. Altesaam 69 swart betogers word by die polisiekantoor in Sharpeville in die destydse Transvaal (vandag Gauteng) doodgeskiet tydens ʼn betoging teen die paswette. Die regering kondig ʼn noodtoestand aan en verban die ANC en PAC. Aangesien hulle nie met hul bedrywighede in die openbaar kon voortgaan nie, stig die ANC op 16 Desember 1961 ʼn ondergrondse (geheime) weermag met die naam uMkhonto weSizwe (MK), wat “spies van die nasie” beteken. 15
Die polisie het inligting oor die plaas Liliesleaf van ʼn informant gekry – ʼn plek wat die ondergrondse MK gebruik het om planne te beraam vir die gewapende stryd. Die polisie het op 11 Julie 1963 op Liliesleaf toegeslaan.
Benewens meer as ʼn honderd kaarte van plekke wat MK wou vernietig, is die Mayibuye-dokument ook op die tafel waar die mense vergader het, gevind. In hierdie dokument is daar breedvoerig beskryf hoe die nasionale bevel (die leiers van MK) 210 000 handgranate, 48 000 landmyne en tonne springstof aan die MK-soldate sou verskaf. Die M-plan, of Mandela-plan, soos die dokument ook genoem is, het bepaal dat Liliesleaf die sentrale plek sou wees wat die streekkomitees sou beheer om terreur teen die regering te gebruik as ʼn manier om die regering omver te werp. 16
Met slegs een operasie is die al die topleiers van MK saam-saam aangekeer. 17
Op 11 Junie 1964 is Nelson Mandela, Walter Sisulu, Ahmed Kathrada, Govan Mbeki, Raymond Mhlaba, Denis Goldberg, Elias Motsoaledi en Andrew Mlangeni skuldig bevind aan sabotasie, hoogverraad, pogings om die regering omver te werp en kommunisme in Suid-Afrika te bevorder. Die groep word die volgende dag tot lewenslange tronkstraf gevonnis. As ʼn wit persoon is Goldberg na die Pretoria-tronk gestuur terwyl die ander sewe die volgende twee dekades op Robbeneiland moes deurbring. 18 Lees meer hier oor die Rivonia-verhoor.
Met die belangrikste ANC-leiers in ballingskap oorsee of in die tronk, het die ANC se gewapende stryd ʼn knou gekry. Die Swartbewussynsbeweging was meer daarop gerig om die selfbeeld van swart mense te verbeter as om die regering omver te werp.
Die 1970’s
Alles verander egter tydens die Soweto-opstande in 1976, waar hoërskoolleerders aanvanklik vreedsaam teen onderwys in Afrikaans betoog, want dit eindig uiteindelik in ʼn bloedbad met onluste wat landwyd versprei. As gevolg van die regering se onderdrukking van die opstande blyk alles weer vreedsaam te wees. Hierdie keer het die onderdrukking egter net daartoe gelei dat opstande in die geheim beplan is. Ongeveer 12 000 jongmense het die land verlaat en by MK aangesluit. 15
Nadat die koloniale regerings in Mosambiek, Angola en Zimbabwe oorwin is, kon MK-lede Suid-Afrika maklik binnekom. Die destydse eerste minister, P.W. Botha, het die insypeling van terroriste binne en buite die landsgrense die “totale aanslag” genoem. In 1979 stel Botha die beleid van “totale strategie” in. 15
Die 1980’s
Hoewel die ANC beweer dat hulle met hul terreurdade tydens die 1980’s nie wit mense of burgerlikes wou teiken nie, het die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) bevind dat die meerderheid van die aanvalle wel op burgerlikes was. Sommige slagoffers is doelbewus gekies omdat hulle tydens ANC-verhore informante of getuies was. Hoewel ʼn motorbom buite ʼn gebou ontplof het waar veiligheidspersoneel gewerk het, was dit onskuldige verbygangers wat tydens die aanvalle gesterf het. Kinders het ook slagoffers geword tydens bomaanvalle by restaurante. 19
Tussen 1976 en 1984 was daar 265 voorvalle van gewapende aanvalle wat twee sluipmoorde en aanvalle op polisiekantore ingesluit het. Die getal voorvalle in 1984 was 44, daar was altesaam 136 in 1985, en 228 voorvalle in 1986. Minstens 300 voorvalle is in 1988 aangemeld, maar het in 1989 met byna ʼn derde verminder. Gewapende optredes het voortgeduur ná die verbod op die ANC in Februarie 1990 opgehef is, maar dit was baie minder. 19
Aan die ander kant was die gebruik van geweld die een manier hoe apartheid so lank in Suid-Afrika kon seëvier. Die Wet op Terrorisme het die regering die kans gegee om almal wat teen die rassewet betoog het, in hegtenis te neem en aan te hou. Tussen 1961 en 1989 is 134 politieke gevangenes ter dood veroordeel. 20
Teen die einde van die 1980’s was die internasionale en binnelandse druk op die Suid-Afrikaanse regering só groot dat dit uiteindelik tot die einde van apartheid gelei het. 20 In Suid-Afrika het die gebruik van gewapende verset wel daarin geslaag om vryheid en gelykheid vir almal te bring. 20
Woordbank
aanspreeklikheid | Daarvoor verantwoordelik wees. |
aksie | Handeling; werksaamheid; beweging. |
anargistiese | ʼn Toestand waarin geen gesag geld nie; totale wetteloosheid/wanorde. |
anargis | Iemand wat glo wette/regerings/ens. is onnodig. |
apartheidsjare | Amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering (1948-1994) waarvolgens Suid-Afrikaners in kleurgroepe geskei is. |
atoombomme | Bom van geweldige ontploffingskrag wat op splitsing van atome berus; kernbom. |
ballingskap | Iemand wat uit sy/haar land verban is. |
barak | Eenvoudige gebou wat dien as blyplek vir polisie/soldate. |
beleid | Plan/program vir die bestuur van ʼn groep/onderneming/party/ens. |
biologiese wapens | Wapen/aanval/ens. wat lewende dinge, bv. bakterieë gebruik, om ander lewende dinge kwaad aan te doen of uit te wis. |
brandbomme | Bom gevul met brandbare chemikalieë, afgeskiet met die doel om ʼn brand te laat ontstaan. |
burgerlikes | Lid van ʼn staat/stad. Niemilitêr; siviel. |
betogings | Optog/demonstrasie om ontevredenheid oor ʼn aangeleentheid te toon. |
bomme | Voorwerp gevul met plofstof/ens., bedoel om by ontploffing verwoesting te saai. |
chemiese | Chemiese stof, gewoonlik ʼn gas, in ʼn oorlog as wapen gebruik. |
data | Inligting in ʼn vorm waarin dit bewaar en gebruik kan word, veral in ʼn rekenaar. |
ekstremiste | Iemand wat ʼn uiterste standpunt inneem en tot uiterstes sal gaan – selfs onwettige dinge sal doen – om sy/haar politieke of godsdienstige doelwitte te bereik. |
geweld | Krag wat met hewigheid/onstuimigheid uitgeoefen word. Toepassing van die reg van die sterkste; misbruik van mag; gewelddadigheid. |
getuies | Iemand wat in ʼn hof verskyn om te vertel wat hy/sy van ʼn misdaad of ander gebeurtenis weet. |
godsdiens | Verering/aanbidding van God of ʼn god. |
guillotine | Toestel waarmee ter dood veroordeeldes in Frankryk en België onthoof is en wat bestaan het uit ʼn swaar mes wat in twee oorlangse groewe in die regop style van ʼn kosynagtige konstruksie gly. Soos ʼn valbyl. |
gyselaar | Iemand wat gevange gehou word as borg vir nakoming van sekere eise deur sy/haar gevangenemer(s) gestel. |
hommeltuie | Onbemande (vlieg)tuig wat met behulp van programmatuurbeheerde vlugplanne onafhanklik kan vlieg, onder meer aangewend vir militêre doeleindes, in lugsoektogte en reddingsoperasies, om weerstoestande, veldbrande en verkeersvloei te monitor, ens. |
ideologiese | Idee(s) wat die grondslag vorm van ʼn politieke/ekonomiese teorie/stelsel, veral sulke idees wat tot starheid, onversetlikheid van denke/optrede lei. |
informant | Iemand wat in die geheim aan die polisie/weermag/ens. inligting oor iemand anders gee. |
infrastruktuur | Die basiese strukture en stelsels wat ʼn land of organisasie nodig het om behoorlik te funksioneer, byvoorbeeld paaie, ʼn spoornetwerk, banke, ens. |
insypeling | Stadig/ongesiens/skelm binnekom. |
intimideer | Deur dreigemente of geweld tot een of ander handeling dwing of daarvan weerhou; bang maak. |
Islamitiese | Die godsdiens van die Moslems, wat deur die profeet Mohammed begin is en waarvan die heilige boek die Koran is. |
Jakobyn | Vurige voorstander van die Franse Revolusie. |
gekaap | Met geweld ʼn skip/motor/ens. van die eienaar/bestuurder afneem. |
koloniale | Wanneer ʼn magtige land politieke beheer oor ʼn swakker land verkry en sy eie handel en gemeenskap daar vestig. |
konflik | Stryd/botsing/rusie tussen mense/groepe/lande. |
liberaal | Ten gunste van individuele vryhede en geleidelike sosiale en politieke hervorming en vooruitgang. |
linksgesinde | Wat in die rigting van die sosialisme/kommunisme neig; liberaal. |
manifes | Openbare bekendmaking, bv. van ʼn politieke leier om sy/haar beleid te stel. |
menseheugenis | Die herinnering of gedagtenis van mense; so lank as wat mens jou kan herinner. |
moltrein | Trein wat pendelaars deur ʼn netwerk tonnels onder groot stede soos Londen en Parys vervoer. |
motorbom | Ontplofbare toestel wat in/onder ʼn motor geplaas word met die doel om die insittendes en/of omstanders te beseer of te dood. |
militêr | Wat met die/ʼn weermag en/of oorlogvoering te make het. |
misdadiger | Iemand wat hom/haar aan een of meer misdade skuldig maak. |
noodtoestand | Situasie van chaos, vernietiging en groot onveiligheid in ʼn bepaalde streek of land, veroorsaak deur ʼn natuurramp/epidemie/onlus/ens., wat ʼn owerheid dikwels eers as sodanig moet erken voordat hy hulp van ʼn bepaalde omvang kan verleen. |
omver te werp | Uit ʼn gesagsposisie dwing; omvergooi. |
onderhandelings | Mondeling of skriftelik ʼn bespreking of handeling aangaan met ʼn ander party of partye om tot ʼn ooreenkoms te (probeer) kom. |
parool | Vrylating van ʼn gevangene voor sy/haar vonnis uitgedien is op voorwaarde dat hy/sy hom/haar gereeld aanmeld soos vereis en van oortredings weerhou. |
party | Groep persone wat bepaalde, veral politieke, beginsels voorstaan. |
pas | Amptelike dokument wat jou die reg gee om êrens in te gaan. |
paswette | Wet wat die dra van ʼn pas verplig het, veral (histories) wat in 1952 deur die Suid-Afrikaanse regering ingestel is en tot 1986 die dra van ʼn pas verplig het. |
Pentagon | Vyfhoekige gebou wat in 1943 in Arlington, Virginië, opgerig is as militêre hoofkwartier van die VSA, waar die hoofbevelvoerders van die land se land-, see- en lugmag gevestig is. |
politiek | Idees en aktiwiteite wat verband hou met die verkryging en gebruik van mag, meestal in ʼn land of stad. |
protes | Iets wat jy doen om vir almal te wys jy dink iets is verkeerd en onregverdig, bv. deelneem aan ʼn groot, openbare vergadering, weier om te werk of weier om ʼn bepaalde produk te koop. |
publisiteit | Aandag wat iemand/iets in koerante, oor die radio, op televisie, ens. kry; bekendheid. |
puin | Bakstene/klippe/ens. wat rondlê nadat ’n gebou afgebreek is. |
radikale | Wat tot die uiterste gaan; diep ingrypend; wat die wortel raak; geheel en al; grondig; totaal. |
regse | Polities konserwatief. |
revolusie | Opstand teen die staat wat tot ʼn algehele ommekeer van die stelsel lei; staatsomwenteling. |
samelewing | Groep mense wat ʼn vaster of losser groep vorm; gemeenskap; maatskappy. |
selfmoordbom | Bom wat iemand laat ontplof om ander te dood, maar hom/haar terselfdertyd ook sy/haar eie lewe kos. |
sielkundige | Van of wat betref die sielkunde (leer van die wese en die eienskappe van die menslike gees/siel). |
skyn | Uiterlike wat mislei, wat anders is as die werklikheid; voorwendsel. |
sluipmoorde | (Skielike/verraderlike) moord op ʼn (dikwels belangrike) persoon, in die geheim beplan en dikwels in die openbaar uitgevoer. |
smokkelary | Verbode goedere of belasbare goedere sonder betaling van belasting in die geheim in- en uitvoer. |
springstof | Ontplofbare stof, bv. dinamiet; plofstof. |
standpunt | Houding/posisie wat iemand ten opsigte van ʼn bepaalde saak inneem; uitgangspunt; gesigspunt; opvatting. |
taktiek | Wyse van optrede om ʼn bepaalde doel te bereik; plan; metode. |
terreur | Georganiseerde, skrikaanjaende daad/veldtog van geweldpleging om ʼn politieke doel te bereik; skrikbewind. |
terrorisme | Persoon, dikwels ʼn lid van ʼn militante organisasie, wat onverwags met geweervuur, bomme of ʼn selfmoordvoertuig of -vliegtuig toeslaan op lede van die publiek of op ʼn openbare teiken geassosieer met die staat of korporatiewe wêreld, met die doel om deur vrees, paniek en intimidasie die belange van sy/haar organisasie te bevorder. |
terrorisme | Skrikaanjaging/intimidasie deur dade van geweld; gesamentlike dade deur terroriste gepleeg. |
tydperk | Periode in die geskiedenis; tyd, bv. ʼn aantal jare, as ʼn eenheid beskou, met bepaalde kenmerke; tydvak. |
uitbuiting | Onregverdig en selfsugtig soveel moontlik voordeel uit iemand/iets put. |
verhore | Ondervraging van ʼn beskuldigde in ʼn geregshof. 28 |
Lees dié artikels om meer te leer
- ’n Lys van uMkhonto weSizwe-aanvalle in Suid-Afrika tussen 1960 en 1989
- Hoe om teen terrorisme op te tree
- Afrika suid van die Sahara is op die oomblik die middelpunt van terrorisme
- Lees meer oor ekoterroriste
- Wat is kuberterrorisme?
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Is daar slegs een definisie vir terrorisme?
Die oomblik toe die vliegtuie die Wêreldhandelsentrum in New York getref het
Die Pretoria-bom van 1983 het baie burgerlikes se lewe gekos
Die Suid-Afrikaanse digter Breyten Breytenbach het sewe jaar in die tronk spandeer onder die Wet van Terrorisme. Hier is die gedig wat hy op 26 November 1975, die dag toe hy sy tronkstraf begin uitdien het, geskryf het: