Vinnige feite

  • ’n Goeie of sterk selfbeeld gee jou die moed om nuwe dinge te probeer en nuwe vriendskapsbande te smee.
  • ’n Goeie selfbeeld laat jou in jouself glo.
  • Jy weet dat jy sukses sal behaal as jy hard werk, selfs al verloop dinge nie altyd volgens plan nie. Jy spog egter nie en loop nie te koop met jou welslae of talente nie. Jy aanvaar dit as jy foute maak, probeer weer, en vind maniere om dinge anders aan te pak.
Foto: iStock

Het jy al vir jouself in die spieël gekyk en gedink: sjoe, my vel lyk lelik! Of het jou ouers dalk al gesê jy moet meer oefening doen om ’n bietjie gewig te verloor? Moontlik het jou vriende al opmerkings oor jou hare of kleredrag gemaak.

Dit maak ’n mens seer as iemand opmerkings oor jou maak (reguit óf agteraf) en dit is ook nie lekker as ’n mens sélf nie goed voel oor jouself nie. Net so is dit baie lekker as iemand vir jou sê jy lyk mooi, of as jou ouers of onderwysers trots is op jou prestasies in akademie of op sport- en kultuurgebied. Dit laat ’n mens sommer warm in jou hart voel! 1

Hierdie is alles voorbeelde van dinge wat ’n invloed op ’n mens se selfbeeld kan hê. ’n Selfbeeld is presies wat die woord sê: die beeld (of prentjie) wat jy van jouself het. Dit is soos om in ’n denkbeeldige spieël na jou binnekant te kyk.

Selfbeeld is grootliks gegrond op uiterlike eienskappe, soos lengte, gewig, vel- en haarkleur. Ander faktore wat ’n invloed op ’n persoon se selfbeeld kan hê, is hoe die persoon dink ander mense hom of haar ervaar (of sien).

Selfbeeld word dus aan die hand van drie faktoregevorm:

  • hoe jy jouself sien;
  • hoe ander mense jou sien of ervaar; en
  • hoe jy dink ander mense jou sien of ervaar.

In die meeste gevalle word ’n persoon se selfbeeld beïnvloed deur ’n kombinasie van dié drie faktore, asook dinge soos ouderdom, geslag en sosiale status.

Selfbeeld is nie iets wat noodwendig altyd konstant (dieselfde) bly nie. Soos ’n mens deur verskillende lewensfases gaan of sekere dinge gebeur, verander ’n mens se selfbeeld van goed na swak of andersom. Kinders én volwassenes kan met ’n swak selfbeeld sukkel.

Onthou: As jy soms hartseer of “af” voel, beteken dit nie jy het ’n swak selfbeeld nie. Net so is ’n goeie selfbeeld nié om voorbarig, trots of grootpraterig te wees nie – ’n mens noem dit sommer windmakerigheid!

Wat is ’n goeie selfbeeld?

’n Goeie of sterk selfbeeld gee jou die moed om nuwe dinge te probeer en nuwe vriendskapsbande te smee. ’n Goeie selfbeeld laat jou in jouself glo. Jy weet dat jy sukses sal behaal as jy hard werk, selfs al verloop dinge nie altyd volgens plan nie. Jy spog egter nie en loop nie te koop met jou welslae of talente nie. Jy aanvaar dit as jy foute maak, probeer weer, en vind maniere om dinge anders aan te pak. 2

Iemand wat oor ’n goeie selfbeeld beskik:

  • voel trots op wat hulle (kan) doen;
  • sien die goeie dinge oor hulself raak;
  • glo in hulself, selfs al presteer hulle nie altyd goed nie;
  • voel geliefd en dat hulle aanvaar word;
  • is nederig en gee erkenning aan ander; en
  • aanvaar hulself, selfs al maak hulle soms foute.

Wat is ’n swak selfbeeld?

’n Swak of lae selfbeeld beteken dat jy nie goed oor jouself voel nie. Jy voel hartseer, onseker en selfbewus. ’n Swak selfbeeld keer jou om doelwitte vir jouself te stel en dié doelwitte na te jaag (byvoorbeeld om beter in wiskunde te presteer of dalk van die B- na die A-span op te skuif).

Iemand met ’n lae selfbeeld sal só bang wees vir mislukking dat hulle eerder glad nie iets aanpak of iets nuuts probeer nie. Pleks van om weer te probeer, gooi dié persoon sommer gou handdoek in. ’n Mens sukkel om vriende te behou of nuwe vriende te maak en verkies om eerder eenkant te sit.

Mense met ’n lae selfbeeld is dikwels die teiken van boelies of hulle maak hulself skuldig aan boeliegedrag in ’n poging om aanvaar te word of beter oor hulself te voel.

Iemand met ’n swak selfbeeld:

  • dink hulle is nie so goed soos ander nie;
  • voel hulle word nie deur ander aanvaar nie of aanvaar nie hulself nie;
  • dink meer oor die tye wat hulle misluk as die tye wat hulle (iets) goed doen of regkry;
  • sien nie hul eie goeie eienskappe en unieke talente raak nie; en
  • plaas baie druk op hulself en gee maklik moed op.

Bou jou selfbeeld

Kan ’n mens aan jou selfbeeld bou? Natuurlik kan ’n mens jou selfbeeld verbeter!

Of jy nou ’n uitstekende selfbeeld het of dalk sukkel om vir die persoon in die spieël lief te wees, probeer gerus dié nuttige wenke:

  • Maak ’n lys van die dinge waarmee jy goed is. Kan jy mooi teken of sing? Is jy lief vir lees of blink jy uit in ’n sekere sportsoort? Hou jy daarvan om grappe te vertel? Vra jou ouers, familie en vriende om jou te help om jou sterkpunte te identifiseer, skryf dit in ’n dagboek of sakboekie neer en kyk gereeld daarna as jy in jouself begin twyfel.
  • Oefen dié dinge waarin jy goed is. As jy lief is vir wiskunde, vra jou onderwyser of ouer om vir jou ekstra, moeiliker somme te gee om tuis te doen. As jy lief is vir lees, neem sommer ’n klomp boeke by die biblioteek uit. Onthou: hoe meer jy lees, hoe beter sal jy kan skryf en niemand kan ooit kennis van jou af wegvat nie!
  • Leer ’n nuwe vaardigheid aan. Is daar iets wat jy nog altyd wou doen, maar te bang was om aan te pak? Gryp die kans aan om uit jou gemaksone te breek. Of dit nou kosmaak, tuinmaak, om ’n musiekinstrument te bespeel of ’n sportsoort is – vra iemand wat jy vertrou om jou touwys te maak. Om ’n regmerkie in dié nuwe boksie te kan maak, sal jou selfbeeld en selfvertroue ’n reuse-hupstoot gee.
  • Verander “ek kan nie” in “ek kan!”. Sê die stemmetjie in jou kop dalk: “Ek is nie goed daarmee nie”, “ek kan dit nie doen nie”, of “dit is te moeilik vir my”? Besluit daar en dan om dié stemmetjie stil te maak en sê vir jouself: “Ek kán probeer”, “ek kán dit hanteer”, “ek sál my bes doen”, of “ek sál iemand vra om my te help as ek sukkel”.
  • Fokus meer op jou insette (die tyd en energie wat jy insit of aan iets bestee) as jou uitsette (dít wat jy ontvang of jou resultate). Al kry jy dalk nie 80% in al jou vakke nie, maar jy het baie hard gewerk en jou bes gedoen, is dit steeds ’n groot prestasie. Klop jouself elke keer op die skouer as jy hard gewerk het, ondanks die resultaat.
  • Stel realistiese en bereikbare doelwitte. As jy nou dalk 65% vir ’n vak op jou rapport het, werk om 70% te behaal, pleks van om na 80% te mik. As jy te hoog mik en dit nie bereik nie, sal jy baie teleurgesteld wees. As jy egter realisties is en jou doelwit bereik, sal dit jou aanspoor om nóg harder te werk om elke kwartaal ’n bietjie nader aan 80% te kom. Dit is net soos ’n atleet wat hard oefen om elke keer sy tyd of afstand te verbeter.
  • Omring jou met mense wat jou liefhet, vir jou omgee en jou aanvaar. Dit is baie lekker om tussen familie en vriende te wees wat jou laat voel dat jy behoort, wat jou onvoorwaardelik aanvaar en wat lekker dinge saam met jou doen. As jou vriende jou sleg of ongemaklik laat voel (en jou selfbeeld beïnvloed), maak spore!
  • Deel jou hart. Maak ’n verskil in iemand anders se lewe: help jou ouers, onderwysers en vriende. Sit hand by met maaltye tuis, vee die klas uit of pluk ’n blom uit die tuin vir ’n vriend of vriendin. As ’n mens goeie dinge doen en sien wat dit vir ander beteken, voel jy nie net goed oor jouself nie, jy maak ook die wêreld ’n beter plek vir almal. 3

Oppas vir dié selfbeeldslaggate

Soms vergelyk ons onsself met hoe ander mense (byvoorbeeld bekendes op sosiale media) lyk of wat hulle besit (mooi klere, duur motors, groot huise) of doen (hulle gaan dalk glad nie skool toe nie en speel heeldag aanlyn speletjies, hou uitspattige partytjies, of besoek eksotiese vakansiebestemmings). 4

Onthou dat dít wat op platforms soos YouTube, Instagram, Facebook en TikTok verskyn, dikwels nie ’n weerspieëling van die werklikheid of die waarheid is nie. Dié mense plaas gewoonlik net die beste en mooiste foto’s (geneem met ’n filter) van hulself en doen dit dalk net om te spog (en miskien betaling daarvoor te ontvang).

Net omdat hulle hulself meet aan hoeveel volgelinge of “likes” hulle het, beteken nie jy moet jouself só meet of beoordeel nie. Advertensies op televisie het altyd die mooiste, maerste óf friste modelle en laat ’n mens oor jouself en hoe jy lyk twyfel. 5

As ons onsself voortdurend aan ander meet, sal dit altyd voel of ons nie die paal haal of goed genoeg is nie. Jou selfwaarde en identiteit moet en kan nooit van ander mense afhang nie (’n mens noem dit jou eksterne lokus van beheer); dit is binne-in jouself geplant, moet baie water kry en blom (jou interne lokus van beheer). 6

Wees net die beste weergawe van jouself. Net soos jou vingerafdrukke uniek is, is jy ’n unieke skepping (daar is net een soos jy!). Jou binnekant is beeldskoon en besonders – maak nie saak hoe jou uiterlike lyk nie. Jy is méér as net “likes”. Jy is jy, en dis oukei! 7

Woordbank

denkbeeldige Wat nie werklik bestaan nie; slegs in die verbeelding.
identiteit Wie jy is; persoonlikheid; individualiteit.
opmerkings Mening; kort, mondelinge/skriftelike mededeling van wat waargeneem is, onder die aandag gekom het. Kan positief of negatief wees.
selfbewus Verleë omdat dit vir jou voel asof ander mense jou in ‘n negatiewe lig sien.
uitspattige Oordadig; buitensporig; oordrewe.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die welstand van kinders: Selfvertroue en selfbeeld

Hoe om fantasties oor jouself te voel

Selfbeeld verduidelik in 2 minute

Wenke om aan ’n beter selfbeeld te bou

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 3 Desember 2021 | Bygewerk op 3 September 2024