Vinnige feite
- Toe Page met sy studies besig was, was sy idee nooit om ’n soekenjin te bou nie. Dit het nie eens by hom opgekom nie. Hy wou bloot ’n diagram of uitleg van die internet se struktuur gebou het. 1
- Google se naam is gebaseer op die wiskundige term “googol” – ’n een gevolg deur honderd nulle (1×10 100). 4 Die maatskappy se naam – Google – was eintlik ’n spelfout: Page wou dit graag Googol genoem het. 6 Die naam van die maatskappy se kantore, Googleplex, kom van die nommer googolplex, wat ’n een is gevolg deur ’n googol nulle, (1×10 google of 1×1010^100.). 12
- Google se eerste twiet op Twitter was: “I’m 0110011001100101 01100101 01101100 01101001 01101110 01100111 00100000 01101100 0111010101100011 01101011 01111001 00001010.” Dit beteken “I’m feeling lucky” in die binêre getallestelsel. 5
- Op 8 Julie 1998 het Page op ’n e-poslys geskryf: “Have fun and keep googling!” Dit was die eerste keer wat iemand die woord “google” as ’n werkwoord gebruik het. 13 Google is die naam van die maatskappy, maar die woord “google” beteken om iets op die internet te soek, of jy Google daarvoor gebruik of nie. Jy kan dus iets “google” op Google, maar jy ook “google” op ander soekenjins!
- Al is daar vandag ander soekenjins, word meer as helfte van die soektogte op die internet op Google Chrome gedoen. 14
Daar is min dinge wat ons wêreld in die afgelope twintig jaar soveel verander het as die internet. En een maatskappy het ’n groter impak gehad as enige ander om die internet te maak soos wat ons dit vandag ken: Google!
Die stigters van Google was Sergey Brin en Larry Page. Hulle het nie soos die res van ons belanggestel in wat op die internet is nie. Hulle wou nie inligting hê of iets daarop koop op verkoop nie.
Waarin hulle wél belang gestel het, was die vorm van die internet, met ander woorde hoe die internet gestruktureer was. 1
Die begin van soekenjins
Om Google te verstaan, moet ons eers verstaan hoe soekenjins onstaan het en hoe dit werk.
Teen 1993 was daar so om en by 100 webwerwe op die internet, en die jare daarna het dit vinnig vermeerder. As jy in daardie stadium iets gesoek het, moes jy óf presies geweet het waar dit is óf moes deur elke webblad gegaan het tot jy dit kry! 2
Internetgebruikers het gevoel dat daar ‘n makliker manier moes wees om toegang tot koppelvlakke (in Engels: interfaces) te hê. Teen 1994 het die eerste soekenjins, soos Yahoo, ontstaan. Hierdie vroeë soekenjins was egter glad nie soos ons dit vandag ken nie. Dit was eerder soos ’n indeks van webtuistes. Bowendien het nuwe webtuistes nie outomaties op die soekenjins verskyn nie: iemand moes elke webblad en sy inligting een vir een by die indeks voeg. 2
Kort hierna het daar soekenjins soos Lycos en WebCrawler onstaan wat indekse outomaties bygewerk het. 2
Wat presies is ’n soekenjin, en hoe werk dit?
’n Soekenjin soek iets op die internet gebaseer op die soekterme of -woorde wat jy intik.
Dit bestaan uit verskillende dele.
Eerstens is daar die programmatuur of (sagteware). Dit is die instruksies, data of programme wat gebruik word om rekenaars te bedryf en spesifieke take uit te voer. Dit is die teenoorgestelde van hardeware, wat die fisiese komponente van ’n rekenaar, soos die hardeskyf, sleutelbord, skerm en battery, beskryf. Sagteware is ’n generiese term wat gebruik word om te verwys na toepassings, inhoud (teks) en programme wat op ’n toestel loop. 3 In rekenaarprogrammering is “teks” ’n program of volgorde van instruksies wat geïnterpreteer word. 4
Tweedens is daar ’n kruiper (in Engels: crawler) ‘n program wat webblaaie lees. Soekenjins gebruik kruipers om data van die internet af in te samel. Wanneer ’n kruiper ’n webtuiste besoek, laai dit die webtuiste se volledige inhoud, die teks, asook interne en eksterne skakels af en stoor dit in ’n databank.
WebCrawler is ‘n voorbeeld van ‘n kruiper. Dit gaan so te werk: dit laai ’n webblad af, soek alle hiperskakels op daardie blad (in Engels hyperlinks, met ander woorde al die woorde of knoppies op ’n webblad waarop jy kan klik wat jou na ’n ander webblad neem), maak hulle oop, en herhaal dan die proses vir elke nuwe blad wat oopgemaak word. 1 Daarna skep die kruiper ‘n indeks van die resultate.
Daar is egter nog ’n komponent aan ’n soekenjin: die algoritme wat die resultate klassifiseer, met ander woorde rangskik volgens hoe relevant dit vir die soeker is. 5 Die algoritme is dus dié ding wat maak dat jy (meestal) slegs die resultate kry wat jy wil hê as jy iets op die internet soek, en nie elke liewe bladsy waarin jou soekterm of -woord voorkom nie.
Geen van die vroeë soekenjins kon ’n effektiewe manier kry om hierdie laaste komponent – die algoritme – beter te laat werk nie. Resultate is dus bloot geklassifiseer volgens hoe gereeld jou soekterm op ’n webblad verskyn het. 3
Larry Page en Sergey Brin
Larry Page en Sergey Brin was studente aan die Universiteit van Stanford, Kalifornië, wat besig was met hul doktorsgrade in rekenaarwetenskap. Hulle het mekaar in 1995 ontmoet. 1
Page het begin besef dat internetgebruikers eintlik alreeds self besig was om webwerwe te klassifiseer. Hulle het dit gedoen deur middel van die hiperskakels wat hulle gebruik het.
’n Hiperskakel is ’n bietjie teks, ’n prent of ’n aanduider in ’n hiperteksdokument waarop jy kan klik. ’n Hiperskakel kan ’n skakel na ’n ander dokument, of na ’n ander deel van die huidige bladsy wees.
Hiperskakels word op feitlik elke webblad gevind om lesers te help om na ander bladsye en webtuistes te navigeer.
Wanneer jy ’n hiperskakel op jou eie tuisblad plaas, besluit jy self oor die kwaliteit van die webwerwe waarna jy skakel. (Mens gaan mos nie ’n skakel insit van jou eie webblad na swak webblaaie toe nie!) As baie mense dus hiperskakels na ’n sekere webblad toe gee, is dit ’n goeie aanduiding dat daardie ’n hoë kwaliteit webblad is. 2
In 1996 het Page en Brin saam aan ’n program genaamd BackRub begin werk. 3 BackRub was ’n kruiper wat van webblad na webblad gekruip het deur die hiperskakels te volg. Dit het nie net ’n indeks opgestel nie, maar ook ’n soort familiestamboom wat skakels tussen verskillende bladsye gereflekteer het. 2 BackRub is in 1996 op die Universiteit van Stanford se privaat netwerk bekendgestel en was ’n vroeë sukses. 6
Aanvanklik het BackRub net na die titels van webwerwe gekyk. Nóg ’n medewerker, Scott Hassan, het met die idee vorendag gekom om ’n volledige soekenjin te maak wat ook die inligting op die bladsye binne ’n webwerf insluit. 1
PageRank
Om die probleem op te los van die laaste komponent van ’n soekenjin, naamlik die klassifikasie van resultate, het Page en Brin PageRank, vernoem na Page, ontwikkel. 7 PageRank is ’n algoritme wat, volgens Page se oorspronklike idee, soekresultate volgens die hoeveelheid hiperskakels geklassifiseer. 4 Kortom, PageRank se klassifikasie van jou webwerf word gebaseer op hoeveel hiperskakels daar na jou bladsy is. Maar dis nie al nie. Hoe hoër geklassifiseer die blaaie is wat na jou webtuiste skakel, hoe hoër word jou eie klassifikasie. En hoe hoër jou webtuiste se klassifikasie is, hoe hoër word die ander blaaie waarna jy skakel, geklassifiseer. 2
Met ander woorde, ’n webtuiste met duisende skakels na hom toe is baie beter as een met net ’n paar skakels en word dus hoër op ’n lys van soekresultate geplaas. En bladsye met baie skakels is ook ’n beter “stem” vir ’n ander webtuiste as een met min skakels. 8
PageRank was Page en Brin se groot deurbraak. Dít is wat hulle uniek gemaak het en PageRank bo die ander soekenjins laat uitstyg het. 1
Die begin van Google
Toe hulle hierdie programme geskryf het, het Brin en Page nog in hul koshuis in Stanford gewoon en gewerk. Hulle het ook hul eie besigheid befonds. Hulle het goedkoop ou rekenaars en onderdele gekoop om hul eie bedieners (in Engels: servers) te bou en geld geleen om skywe (in Engels: disks) te koop om inligting op te stoor. 3
Teen die einde van 1997 was daar ’n “ontploffing” ten opsigte van die hoeveelheid webtuistes op die internet. Waar baie ander soekenjins gevou het, was dit duidelik dat BackRub en PageRank die groter hoeveelheid verkeer (mense wat dit gebruik) kon hanteer. Dit was dus ’n werkbare program vir die toekoms. 2
Hulle het ’n vergadering gereël met ’n belegger, Andy Bechtolsteim. Ná ’n vinnige demonstrasie was Bechtolsteim só beïndruk dat hy hulle onderbreek het met die woorde: “In plaas daarvan om al die details te bespreek, hoekom skryf ek nie net vir julle ’n tjek nie?” Hy het daar en dan vir hulle ’n tjek van $100 000 uitgeskryf. 3 Dis meer as R3,5 miljoen in 2023! 9
Page se idee vir die naam van hul finale program was Google. Bechtolsteim het dus die tjek uitgeskryf aan Google, maar die maatskappy het nog nie bestaan nie! 3 Die tjek het eers vir ’n paar weke in hul kantoor rondgelê voor hulle kans gekry het om die maatskappy te registreer, sodat hulle die tjek kon bank. 10
Google is op 4 September 1998 as maatskappy geregistreer. 3 Google se doel was eenvoudig: Om die wêreld se inligting só te organiseer dat dit vir almal toeganklik en bruikbaar is. 8
Daarna het hulle nóg beleggers gekry. Een van dié beleggers wat hulle befonds het, was Jeff Bezos, vandag bekend as die stigter van Amazon. 3 Op die ou end het hulle $1 miljoen (of omtrent R38 miljoen in 2023) befondsing gekry waarmee hulle die maatskappy kon laat groei – en dit was jare voor Google bekend was! 6
Google groei
Die nuwe maatskappy se kantore was in ’n vriendin, Susan Wojcicki, se huis in Menlo Park, Kalifornië. Wojcicki was later die uitvoerende hoof van YouTube. 4 Die maatskappy het daarna ’n paar keer getrek – elke keer omdat dit só gegroei het dat die kantore te klein geword het. In 2003 het Google kantore oopgemaak in Mountain View, Kalifornië, wat vandag bekend staan as Googleplex.
In 2004 het Google ’n publieke maatskappy geword, met ander woorde enigiemand kon aandele koop. 4 Die aandele het $85 per aandeel gekos en daar is aanvanklik $1,66 miljard se aandele verkoop. 6 Dit het die maatskappy $27 miljard werd gemaak. 4 Dit is in vandag se geld (2023) meer as R800 miljard rand, amper dubbeld wat Suid-Afrika se regering in 2023 aan onderwys spandeer het. 11
Google-produkte
Google het vinnig uitgebrei en nuwe produkte bygevoeg. Buiten die soekenjin Google is die belangrikste waarskynlik AdWords, wat in 2002 van stapel gestuur is. Dit is ’n betaal-per-klik-advertensieplatform. Dit kom basies daarop neer dat ’n webtuiste by Google sleutelwoorde “koop”. Indien hierdie sleutelwoorde op Google gesoek word, word ’n skakel na daardie maatskappy se webtuiste boaan die lys van soekresultate geplaas. 8
Google is vandag ’n massiewe maatskappy met honderde produkte en afdelings.
Sommige bekende Google-produkte is: Gmail, Google Docs, Google Drive, Google Maps, Google Chrome (die soekenjin se huidige naam), YouTube, Android (die bedryfstelsel van slimfone, in Engels operating system/OS), Chromebooks (skootrekenaars), en vele meer. 3
Buiten Google Chrome is Gmail waarskynlik Google se bekendste produk. Dit is in 2004 deur Paul Buchheit geskep, en is op 1 April 2004 aan die publiek bekendgestel. Daar was reeds ander maatskappye wat gratis e-posrekeninge beskikbaar gehad het, maar hulle het slegs ’n paar megagrepe (in Engels: megabytes) se stoorplek gehad. Gmail het vir verbruikers 1 gigagreep se stoorplek gegee. Dit het sóveel meer as die ander maatskappye gebied, dat baie mense gedink het Google is besig met ’n Gekkedag-grap! 4
Alphabet
In 2015 het Page en Brin Google geherstruktureer en ’n nuwe maatskappy, Alphabet, gestig. Alphabet is ’n tegnologiekonglomeraat waarvan Google een van die filiale is. 4
Brin was die president en Page die uitvoerende hoof van Alphabet. Sundar Pichai is aangestel as die uitvoerende hoof van Google. 3
Alphabet is tans op die lys van tien mees waardevolle maatskappye in die wêreld. 3
Woordbank
aandele | Een van ’n aantal gelyke dele van die geld wat in ’n maatskappy belê is. |
algoritme | ‘n Stapsgewyse metode om berekeninge in wiskunde en rekenaarwetenskap te doen en data te prosesseer. |
binêre getallestelsel | Stelsel waarin elke getal voorgestel word deur ’n rytjie van twee simbole, gewoonlik nulle en ene. |
deurbraak | Sukses, welslae, triomf, oorwinning, vordering. |
filiale | Tak van ’n onderneming; dogtermaatskappy. |
generiese | Algemeen; kenmerkend/tipies. |
indeks | Opgawe van die inhoud van iets. |
klassifiseer | ’n Proses waardeur jy iets sit in die groep/klas waar dit hoort. |
tegnologiekonglomeraat | Groot organisasie wat bestaan uit verskillende afdelings/maatskappye wat saamgevoeg is. 15 |
koppelvlakke | Die manier hoe twee webblaaie aan mekaar koppel. 16 |
programmatuur | Geheel van alle rekenaarprogramme wat noodsaaklik is vir die gebruik van rekenaars. |
reflekteer | Wys of weergee. |
relevant | Van belang/betekenis. |
sagteware | ’n Stel instruksies, data of programme wat gebruik word om rekenaars te bedryf en spesifieke take uit te voer. |
gestruktureer | Die manier waarop die dele van iets saam ’n geheel vorm. 13 |
tjek | ’n Gedrukte papiertjie wat in plaas van kontantnote gebruik is om ’n uitbetaling vanuit ’n bankrekening te maak. Tjeks (waarvan ’n klompie saam in ’n boekie verskyn het, ’n tjekboek) het in onbruik geraak omdat kredietkaarte die plek daarvan ingeneem het. |
gevou | As ʼn onderneming/besigheid “vou”, is dit besig om tot niet te gaan/te misluk. |
komponente |
Een van verskillende onderdele wat saam ʼn masjien/stelsel/ens. vorm. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Google
Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Google
Hoe soek mens op die internet? (Laat jou ouers of onderwyser jou help om hierdie skakel te gebruik)
Die geskiedenis van Google – Larry Page en Sergey Brin
Meer oor die internet en sy soekenjins
Die geskiedenis van Google